Notule

Canolawerkgroepvergadering

gehou op 2 Desember 2010 te Elsenburg



  1. Opening en verwelkoming

    Die vergadering word met gebed deur Mnr Theron geopen. Die Voorsitter verwelkom almal teenwoordig, veral Mnr J Diekmann en prof RM Gous.

  2. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Dr M Griessel PNS
    Dr J de Kock PNS
    Mnr D Joubert PNS
    Mnr AP Theron PNS
    Mnr FAS Potgieter PNS
    Mnr J Diekman PNS
    Prof RM Gous PNS
    Mnr JG Loubser PNS
    Dr J Strauss DLWK
    Dr H Cerfonteyn DLWK
    Dr P Lombard DLWK
    Dr J Labuscagne DLWK
    Me L Smorenburg DLWK
    Mnr I Slabbert DLWK Moorreesburg
    Mnr J Bruwer SSK
    Mnr J Smuts CBK
    Mnr JJ Bester Produsente
    Mnr C Cumming Bayer Crop Science
    Mnr J Lusse Overberg Agri
    Mnr P Laubscher Overberg Agri
    Mnr H van Vuuren Kaap Agri
    Dr E Hough MKB
    Dr N Kotzé Agricol
    Prof A Agenbag US
    Dr GB Tribe LNR-NIPB
    Dr S Lamprecht LNR-NIPB
    Me E Harmse PNS
    Me M du Preez PNS
    Me L van Zyl Sekretariaat

    Verskonings

    Dr I Trautmann DLWK
    Dr T Brand DLWK
    Mnr PS Uys CBK
    Mnr J McDermott Du Pont
    Mnr JCG van Niekerk MKB
    Mnr K Becker SOILL
    Mnr G Conradie DLWK/SKOG
    Dr M Hardy DLWK
    Mnr G Keun PNS
    Mnr G Els KsAgri
    Me A Swanepoel DLWK
  3. Personalia

    Neem kennis dat

    • Mnr Kobus van Niekerk herstel na 'n ernstige motor­
    • Mnr Joubert met sy verjaardag op 3 Desember geluk gewens word;
    • Prof Gous as die Landbouskrywersvereniging se Navorser van die Jaar 2010 aangewys is;
    • Prof Agenbag as lid van die PNS Tegniese Komitee aangestel is; en
    • Mnr Pien Bester en Seuns as die GSA Nasionale Graanboer van die Jaar aangewys is.
  4. Vasstelling van sakelys

    • 11.2.5Inkomste- en Kosteberaming
  5. Notule van die vorige vergadering

    Die notule van die vergadering gehou op 26 Augustus 2010 word as gelese beskou en goedgekeur.

    Daar word besluit dat die notule van die Canolawerkgroep gehou op 26 Augustus 2010 na die Bemarkingskomitee verwys word vir plasing op die webblad.

    Mev Du Preez

  6. Algemene oorsig

    1. Winterreënstreek: canola

      Swartland / Suid-Kaap

      Neem kennis dat daar soos volg rapporteer word:

      • Gemiddelde opbrengs in MKB gebied was 1,4 ton/ha;
      • In die Kaap Agri gebied was die reënval gedurende September 30% laer as die vorige jaar, maar oor die algemeen is 'n gemiddelde oes gerealiseer (gemiddeld 1 ton to 1,3 ton/ha);
      • Canola wat in die Kaap Agri gebied geoes word, word direk na SOILL vervoer of by MKB opgeberg;
      • Die stande en opbrengs in die Eendekuil area was nie goed nie;
      • Canola kan weens 'n ander groei patroon die vog­stremming beter as koring hanteer;
      • Die oes was ten spyte van droë seisoen in die Suid-Kaap verbasend goed;
      • 'n gemiddelde opbrengs van 1,1 ton/ha het in die SSK gebied gerealiseer;
      • 'n gemiddelde opbrengs van 1 ton/ha het in die Overberg Agri gebied gerealiseer;
      • In die Suid-Kaap was daar min slakke; hier en daar het snywurm, ruitrugmot en isopoda voorgekom;
      • Plae word deurlopend gemonitor en betyds behandel;
      • Goeie vestiging en goeie stande bly 'n groot uitdaging vir die Suid-Kaap gebiede en daar word voorgestel dat proewe ook in die laer reënvalgebiede gedoen moet word.
    2. Somerreënvalstreek

      Daar word rapporteer dat daar hernude belangstelling in oliesade in die somerreënval areas is. Cultivar­evaluasie­proewe by Vaalharts, Groblersdal en Beestekraal word beplan. By Vaalharts is 400 hektaar kommersiële aan­plantings gedoen. Die oes word by SOILL gelewer.

      Besluit dat Saadmaatskappye versoek word om aan te dui wanneer saad vir aanplantings in die somerreënval gebiede verkoop word, sodat die opname van aanplantings so noukeurig moontlik gedoen kan word.

      Saadmaatskappye

    3. Weervooruitskatting

      Mnr Cerfonteyn gee 'n oorsig van die afgelope maande se reënval en gee 'n vooruitskouing vir die komende maande. Daar het ondernormale seetemperature gedurende die hele Oktober voorgekom. Die reënvalvoorspelling vir die Wes- en Suid-Kaap behoort volgens weerkundiges normaal te wees vir die tydperk Desember tot Februarie. Daar word voorsien dat La Nina toestande sal voortduur tot herfs 2011.

      Mnr Cerfonteyn

    4. Oesskatting

      1. Canola

        Volgens die NOK se Oktober opname word canola aanplantings vir 2010 op 34 820ha geskat en die opbrengs op 39 650 ton geskat. SOILL het reeds 30 000 ton ontvang.

        Mnr Cerfonteyn

      2. Lupiene

        Volgens landboubesighede en produsente is daar ongeveer 12 000ha soet lupiene gesaai, maar min daarvan is gelewer. Lupiene wat nie gelewer word nie word egter as weiding (dus ook veevoer) gebruik. MKB het 'n buis beskikbaar gestel en tot op datum is 1 500 ton lupiene ontvang.

        Neem kennis dat die NOK aangedui het dat hulle weens die beperkte omvang van die oes nie die gegewens ten opsigte van soet lupiene in die oesskatting kan akkommodeer nie.

        Mnr Cerfonteyn

    5. SAGIS Inligting

      Daar word besluit dat die jongste inligting (November 2010) soos deur SAGIS verskaf en ter inligting by die sakelys aangeheg is, aanvaar word, naamlik:

      • die jongste markinligting
      • die weeklikse bulletin
      • die maandelikse bulletin
    6. Prysvooruitskatting en Internasionale Mark­inligting

      Dr Griessel rapporteer oor die internasionale mark en gee prysvooruitskouings ten opsigte van die pryse wat vee­voervervaardigers bereid sal wees om te betaal.

      Daar was die afgelope tyd 'n redelike prys volitaliteit wat toegeskryf word aan onsekere weersomstandighede, wissel­koers veranderings en politieke risikos. Die verbruik van oliesade neem toe en indien normale weers­omstandighede in Suid-Amerika ondervind word, sal die totale produksie vir 2010/2011 433,2 miljoen ton wees.

      Daarvan sal 258,8m ton sojabone wees, 32,0m ton sonne­blom en 57,2m ton canola/raapsaad. Die totale produksie vir die 2009/2010 jaar was 432,9m ton.

      Die verwagte verbruik vir 2010/2011 word op 434,8m ton geraam teenoor 412,9m ton die vorige jaar.

      Ons haal aan uit Oil World "This assumes normal weather conditions from now on in South America. But developments must be observed closely because of a higher than normal risk of below-average rainfall in December/March 2010/2011 which could reduce South American Oil Seed production below the current estimates."

      Die jongste gelande prys van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) in Kaapstad op 29 November 2010, beloop R3 519. Wisselkoers = R7,12.

      1. Canola

        Die afgeleide waarde van volvet canola (teenoor sojabone) is soos volg:

        Pluimvee (94%) R3 308
        Varke (100%) R3 519
        Suiwel (58%) R2 041

        Die relatiewe waarde van canola oliekoek (met minder as 1% vet) is dus soos volg:

        Pluimvee (53%) R1 865
        Varke (65%) R2 287
        Suiwel (60%) R2 111
      2. Produsentepryse vir canola

        SOILL het die volgende pryse realiseer:

        Finale prys R3 450
        Minimumprys R3 250

        'n Agterskot vir 2009 is in September uitbetaal.

  7. Navorsing

    1. Nasionale Cultivarproewe

      1. Aanplantings 2010

        Neem kennis dat die voorlopige opbrengsresultate van die 2010 proewe voorgelê en toegelig word (onderskeidelik konvensioneel, Clearfield en TT cultivars).

        Die volgende waarnemings kan gemaak word:

        • baster cultivars in al drie groepe het beter presteer;
        • baster cultivars vertak beter as oop bestuifde cultivars;
        • cultivars is soms streeksgebonde en daar moet bepaal word watter cultivar die beste by watter area aanpas, insluitend laer reënval gebiede.

        Daar word besluit dat

        • die voorlopige resultate verder verwerk sal word en die verslag by die volgende vergadering se sakelys aan­geheg moet word;
        • die navorsers versoek word dat alle addisionele inligting / waarnemings wat hulle uit die proewe versamel as verduidelikende aantekeninge by die verslag ingesluit moet word, onder andere plant­datums, bewerkingspraktyke, rypwordingskultuur sodat die werkgroeplede en produsente dit meer sinvol kan interpreteer;
        • die huidige resultate met die voorafgaande jare se data vergelyk moet word en afleidings daaruit gemaak moet word;
        • die praktyke wat in die proewe gebruik word so ver­teenwoordigend moontlik van die praktyke op die plase moet wees en die lokaliteite die streke van die Wes-Kaap moet verteenwoordig;
        • daar by navorsers aanbeveel word dat die duisend­korrelmassa van saad in ag geneem moet word wanneer gesaai word en dat TT cultivars verkieslik apart van ander cultivars wat ander behandeling nodig het, gesaai moet word; en
        • produsente aangemoedig word om meer faktore as net opbrengs in ag te neem wanneer cultivarkeuses gemaak word byvoorbeeld die grondtipe en onkruid­beheer strategie.

        Daar word navraag gedoen oor die effek wat verskillende planttye en verskillende rypwordtye asook stadiger en vinniger groeiers wat dan almal dieselfde tyd geoes word (cultivar-proewe) op die opbrengs en olie-inhoud van die gewas kan hê. Die vergadering word daarop gewys dat daar slegs agt dae verskil is in blomtyd tussen die stadige en vinnige groeiers.

        Mnr Lombard

        Daar word kennis geneem dat die lokaliteite vir die 2011 seisoen reeds identifiseer is en daar persele by Hermon/Gouda en Napier sal bykom. Die Elsenburg proef word na Philadelphia verskuif en die Malgas perseel na die Witsand area.

        Uit die olie-ontledings was dit duidelik dat olie produksie van die TT cultivars (gemiddeld oor alle lokaliteite slegs 596.8kg/ha) minder was as die van konvensionele (32,1% laer) en Cl cultivars (21,6% laer). Daar word beklemtoon dat TT cultivars swakker presteer in 'n onkruidvrye omgewing as konvensionele of Cl cultivars. Dit is dus belangrik om te onthou dat TT cultivars slegs geplant moet word waar die onkruidbesmetting sodanig is dat dit die gebruik van triasien-onkruiddoders vereis.

      2. Effek van saadgrootte op olie-inhoud van die saad

        Die Werkgroep aanvaar dat die groeikrag van 'n groter saad (wat geplant word) beter as die van 'n kleiner saad moet wees en dat groter sade/pitte (wat geoes word) 'n groter persentasie olie-inhoud as kleiner sade moet hê. Saadhandelaars het beklemtoon dat hulle net goeie kwaliteit saad met die vereiste grootte invoer en aan plaaslike produsente beskikbaar stel.

        Verwys ook Canolafokus van Junie 2010: Invloed van saadgrootte en groeikragtigheid op die ontkieming en vestiging van canola – PJA Lombard en J Strauss.

        Besluit dat die saak daar gelaat word.

    2. Bemesting

      1. "N-bemesting van canola gebaseer op N-mineralisasie en loging"

        Die vorderingsverslag oor N-bemesting van canola gebaseer op N-mineralisasie en loging van Prof Agenbag is by die sakelys aangeheg. Die doel van die studie is om N-reaksie van canola te bepaal op gronde met verskillende N-mineralisasie en logingspotensiale asook op verskil­lende lokaliteite en reënval situasies Konvensionele bewerkingstelsels is gebruik. Op alle lokaliteite het die relatiewe opbrengste met geen N-bemesting 'n goeie verband getoon met N-lewering deur die grond. Jare met die hoogste N-lewering het dus die hoogste opbrengste met geen N-bemesting gelewer.

        Daar word deur die tegniese adviseurs aanbeveel dat daar nie meer bemesting as wat die grond/plant se behoeftes is, toegedien moet word nie. Byvoorbeeld moenie vir 1,6 ton/ha opbrengs bemes indien bewys is dat daar nie meer as 1,2 ton/ha realiseer nie. Die effektiwiteit van benutting moet nie uit die oog verloor word nie.

        Besluit dat die ekonomiese waarde (finansiële voordeel) wat die navorsingsresultate vir die produsente sal inhou, by die verslag ingesluit moet word.

        Daar word voorgestel dat aangesien daar in die literatuur beweer word dat Na 'n effek op pitvastheid van peule het (hoër inhoud veroorsaak meer oopspring) meer inligting in hierdie verband verkry moet word.

        Interaksie van mikro-elemente kan 'n kritiese rol speel in N en S benutting. Mikro-elemente kan ook 'n rol in plante se siekteweerstand speel.

        Besluit dat Prof Agenbag sal ondersoek instel na die rol van mikro-elemente en die effektiwiteit van benutting van voedingstowwe (bemesting) en aanbevelings vir verdere optrede maak.

        Prof Agenbag

      2. "S-bemestingsbehoeftes van canola in die produksiegebiede van die Wes-Kaap"

        Die vorderingsverslag deur prof A Agenbag oor S-bemestingsbehoeftes van canola in die Wes-Kaap is by die sakelys aangeheg. Die doel van die studie is om die graanopbrengs en kwaliteit van canola te verbeter deur swael (S) en Stikstof (N) bemestingsreaksies van canola na te vors. Alhoewel dit slegs een jaar se resultate is, toon dit dat S-bemesting wel belangrik is vir hoër opbrengste van canola in die Wes- en Suid-Kaap. S-toediening het ook veroorsaak dat die agronomiese effektiwiteit van die N-bemesting toegeneem het.

        Besluit dat die ekonomiese waarde (finansiële voordeel) wat die navorsingsresultate vir produsente sal inhou by die verslag ingesluit moet word.

        Prof Agenbag

    3. Pes- en Plaagbeheer

      1. Monitering van insekte op canola

        Dr Tribe rapporteer terugvoering oor die afgelope seisoen se waarnemings. Produsente is aangeraai om reeds met saaityd slakpille te strooi. In die Swartland is net een spesie slak waargeneem terwyl daar in die Suid-Kaap meer spesies voorkom. Dr Tribe en sy span gaan voort met monitering van die voorkoms en gewoontes van die slakke.

        Daar word navraag gedoen oor die moontlikheid dat die natuurlike vyand (parasiete) van slakke deur 'n ander chemiese middel soos onkruiddoders gedood kan word, wat die slakke dan die geleentheid gee om makliker te oorleef en aan te teel.

        Dr Tribe

      2. Artikel: "Post-Sclerotinia recommendations"

        Neem kennis van die artikel uit die National Sunflower Association tydskrif. Sclerotinia is nie 'n algemene siektetoestand by canola nie. Daar is egter die afgelope seisoen 'n voorval van Sclerotinia in die SSK gebied aangemeld.

        Mnr Bruwer onderneem om verdere ondersoek na die omvang van die skade in te stel en terug te rapporteer.

        Mnr Bruwer

  8. Tegnologie-oordrag

    1. Canolafokus

      Neem kennis dat afskrifte van die Junie en September uitgawes van die Canaolafokus by die sakelys aangeheg is.

      Redaksie

    2. Inligtingsdae 2011

      Datums vir 2011 byeenkomste word nog afgewag.

      Almal

    3. Saadbehandeling teen swamme en insekte by canola – gebruik van Cruiser op canola

      'n Afskrif van Dr Lamprecht se voorlegging oor saad­behandeling is nog uitstaande.

      Daar word kennis geneem dat aangesien Agricol op die oomblik die enigste saadmaatskappy is wat die regte toerusting het om Cruiser as saadbehandeling (vir canola) volgens Syngenta se vereistes toe te dien, die middel tans net deur Agricol toegedien kan word.

  9. Behoeftes van

    1. Mark – Canola

      1. Generiese reklame

        Daar word gerapporteer dat 'n daadwerklike generiese reklame veldtog om die produksie en gebruik van canola te stimuleer, in proses is. Persartikels in hierdie verband is ter inligting by die sakelys aangeheg. Die Canola Produk­siekalender is ook onlangs beskikbaar gestel

        Prof Agenbag

    2. Produsente – Canola

      1. Canola oesverliese

        Die voorlopige verslag van Dr Strauss se navorsingsprojek oor oesverliese is in die Canolafokus van September 2010 vervat. Volgens Dr Strauss blyk platsny die beste opsie te wees, veral in areas waar daar baie wind in oestyd voorkom (of wanneer stande oneweredig is). In die Swartland gebruik min boere platsnyers, aangesien dit nie ekonomies regverdigbaar is vir die hoeveelheid canola wat geoes word nie.

        Daar moet egalig platgesny word, dit moet op die regte hoogte gedoen word en op die regte stadium van verkleuring (40-70% van die saad). Die voginhoud sal dan ongeveer 30 tot 40% wees.

        Daar word aanbeveel dat canola vanaf 12% vog in die saad geoes moet word indien drogingsfasiliteite beskikbaar is. Meer verliese kan voorkom hoe droër die plante en laer die voginhoud is.

        Wanneer die gewas doodgespuit word met 'n skroeimiddel moet dit gedoen word nadat die sade reeds fisiologies ryp is, ongeveer 7 dae nadat daar platgesny sou word.

        Besluit dat die finale verslag van Dr Strauss afgewag word.

        Dr Strauss

      2. Verslag van reis na Australië (1)

        Neem kennis dat die verslag van Mnre Bruwer en Laubscher se toer na Australië is ter inligting by die sakelys aangeheg.

      3. Verslag van reis na Australië (2)

        Neem kennis dat die verslag van Mnr Scholtemeijer en Dr De Kock se toer na Australië by die sakelys aangeheg is.

      4. Verslag Mnr Trent Potter

        Die terugvoering en aanbevelings deur Mnr Potter na afloop van sy besoek aan Suid-Afrika is ter inligting by die sakelys aangeheg.

      5. Inkomste- en kosteramings

        Neem kennis dat die kosteramingsvorm nou op die webblad onder "statistics" beskikbaar is. Produsente kan dit voltooi en na hul eie e-pos adresse versend.

        Almal

  10. Saad

    1. Saad – Canola

      Die Artikel deur Agricol in die Farmers Weekly van 16 November verwys, naamlik "Healthy Monola a Winner".

      Dr Kotzé reageer op navraag deur die PNS Raad oor die beter kwaliteit olie uit Monola wat sonder die PNS se medewete deur Agricol ingevoer is en waarvan 1400 ha die komende seisoen aangeplant sal word. Aangesien die gewas nog nie in Suid-Afrika evalueer is nie, sal dit aanvanklik "closed loop marketing" wees waaraan slegs geselekteerde produsente sal deelneem.

      Neem kennis dat die PNS Raad besluit het dat die Raad slegs proewe wat met hulle medewete uitgevoer word vir befondsing sal oorweeg.

      Besluit dat Dr Kotzé verdere inligting oor Monola asook Agricol se beplanning vir publikasie beskikbaar moet stel.

      Dr Kotzé
      Voorsitter

  11. Ander sake

    1. Inligting vir plasing op die PNS webtuiste en nuusbrokkies

      Daar word versoek dat lede goeie kleurfoto's vir plasing op die webtuiste aan die kantoor beskikbaar moet stel.

      Almal

    2. Projeksies van Oliekoekbehoeftes vir Diere­verbruik 2010, 2015, 2020

      Die inligting van Mnr JSG Joubert van die PNS oor oliekoekbehoeftes vir diereverbruik is by die sakelys aangeheg en word verder deur hom toegelig (soja oliekoek is 67% van die totale oliekoek produksie). Voorlopige syfers dui daarop dat die oliekoekverbruik in Suid-Afrika in die 2009/2010 jaar 1 743 137 ton was. Die projeksie vir 2010/2011 jaar kom te staan op 1 767 952ton oliekoek.

      Dit is PNS se doelwit om deur middel van sy aksies ingevoerde olie-koek te vervang met plaaslike gepro­duseerde oliekoek. In 2009/2010 was slegs 40,2% van die totale verbruik van alle oliekoek in Suid-Afrika (1 743 137 ton) plaaslik geproduseer.

      Almal

    3. "Australian Oilseeds Federation Crop Report"

      Neem kennis van die inligting soos by die sakelys aangeheg.

    4. Artikel: Meer canola in die visier

      Neem kennis dat die artikel in die Landbouweekblad, 29 Oktober 2010 by die sakelys aangeheg is.

    5. Artikel: Meer inligting kan canolaproduksie verhoog

      Neem kennis dat die artikel in die Landbouweekblad, 5 November 2010 ter inligting by die sakelys aangeheg is.

    6. Canola webtuiste

      Die opgedateerde dokument met alle inligting oor doku­mentasie rakende canola navorsing wat op webblaaie beskikbaar is, is ter inligting by die sakelys aangeheg.

      Almal

  12. Datum van 2011 vergaderings

    • 14 April 2011
    • 14 Junie 2011
    • 25 Augustus 2011
    • 30 and 31 Augustus 2011 – Proewe besoek
    • 30 November 2011 – Afsluitingsfunksie
    • 1 Desember 2011
  13. Afsluiting

    Die vergadering word na 'n woord van dank aan elkeen afgesluit en verdaag.