Working Group Minutes / Archives / Soy / 6 Mei 2008

Notule

Sojawerkgroepvergadering

gehou om 10h00 op 6 Mei 2008 in die Raadsaal van die Proteïennavorsingstigting, Rivonia



  1. Opening

    Die vergadering word met gebed geopen deur Mnr Jannie Botma.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemeijer, heet almal welkom by die vergadering van die Sojawerkgroep. 'n Besondere woord van verwelkoming word gerig aan Mnre Leon Weber en Wessel Lemmer, wat beide vir die eerste keer 'n vergadering van die Sojawerkgroep bywoon.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer Voorsitter
    Mnr P Botha GraanSA
    Mnr J Botma Produsent: Noord Vrystaat
    Mnr AC Cronjé Produsent: Mpumalanga
    Mnr B de Klerk Senwes
    Dr J de Kock PNS
    Mnr CJ du Plessis Produsent: KZN
    Mnr J Erasmus LNR-IGG
    Dr M Griessel PNS
    Mnr C Havenga PNS-Kontrakteur
    Mnr W Lemmer GraanSA
    Mnr E Maree PNS-Kontrakteur
    Mnr FAS Potgieter PNS / GraanSA
    Me M Scheepers NDL
    Mnr WF van Wyk PNS-Kontrakteur
    Mnr L Weber PNS-Kontrakteur
    Mnr G Keun Hoof Uitvoerende Beampte
    Me E Harmse Sekretariaat

    Verskonings

    Dr H du Plessis LNR-IGG
    Me A Enslin SAGIS
    Mnr ID Lamprecht Departement Landbou: Mpuma­langa
    Mnr W Loubser SANSOR
    Mnr P Lübbe Agriocare
    Mnr A Mostert SASOL
    Mnr AJ van Vuuren NWK

  4. Personalia

    Dr Griessel word sterkte toegewens met die oogoperasies wat vir hom voorlê, en word die wens uitgespreek dat die behandeling glad sal verloop en dat volkome herstel hierop sal volg.

  5. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar, sonder enige wysigings of toe­voegings.

  6. Goedkeuring van notule

    1. Notule van die Sojawerkgroepvergadering van 29 Januarie 2008

      Besluit:

      1. Dat die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 29 Januarie 2008 goedgekeur word.
  7. Algemene oorsig

    1. Oesskatting

      Die Voorsitter verwys die vergadering na Bylae B, waarin die oppervlak en tweede produksieskatting van somer­gewasse vir die 2007/2008-seisoen vervat is. Hy neem die tabel waarin die oppervlak- en derde produksieskatting vir die 2007/2008-seisoen ten opsigte van sojabone vir die onderskeie provinsies uiteengesit is, ter tafel, en stel Me Scheepers aan die woord.

      Me Scheepers wys daarop dat sekere aanpassings ge­reflekteer word in die derde produksieskatting wat op 24 April vrygestel is. Sy sê die aanpassing in die oppervlakteskatting van 50 000 na 52 000 hektaar in die Vrystaat, en 6 900 na 7 500 hektaar in Limpopo, het teweeggebring dat die produksieskatting met 5 000 ton toegeneem het in vergelyking met die tweede skatting. Sy meld dat die 1,7% toename in die produksieskatting op 'n opbrengs van nagenoeg 1,73 ton per hektaar dui. Sy verduidelik dat die verhoging in hektare in dié laat stadium toegeskryf kan word aan die vliegtuigongeluk waarin die konsortium, wat met die oesskatting behulpsaam is, vroeër in betrokke was. Sy rapporteer dat die vliegprogram ook beïnvloed is deur die reën, wat in die laaste deel van Maart voorgekom het. Sy noem aan die hand van 'n grafiek, wat 'n historiese beeld van beide die oppervlakte en produksie van plaaslike kommersiële sojaboonaanplantings oor twintig plantseisoene weergee, dat beide die oppervlakte en produksie van sojabone 'n stygende tendens toon, met die steeds groeiende gaping tussen oppervlakte en pro­duksie oor tyd wat hoofsaaklik aan verbeterde opbrengste toegeskryf kan word.

      Die Voorsitter bedank Me Scheepers vir dié inligting, en vra of die oesskatting beïnvloed is deur die koue en ryp, wat tydens die tweede week van April voorgekom het. Me Scheepers rapporteer dat daar nie 'n noemenswaardige verswakking in opbrengste was nie, volgens inligting ontvang van medewerkers, en sê hoewel die oesskatting gebaseer is op toestande soos aan die einde van Maart, die sperdatum vir die ontvangs van inligting vanaf mede­werkers middel April is. Mnr Potgieter berig dat Dr Dreyer van die LNR-IGG dit betwyfel dat die ryp veel skade aan mielies sou veroorsaak op só 'n laat stadium, maar meld dat hy wél waargeneem het dat sojabone wat laat aangeplant is, en reeds peule gevorm het, plek-plek totaal doodgeryp het, met groenkleurige, kleiner pitjies, wat wél die opbrengs sal beïnvloed.

      Die Voorsitter verwys na die tweede oppervlakteskatting, wat daarop dui dat die aantal hektare onder mielies en sonneblom in die 2007/2008-seisoen onderskeidelik met meer as 230 000 hektare elk toegeneem het, teenoor die vorige seisoen. Hy wys daarop dat daar hektare moes wees wat braak gelê het, of nie beplant kon word nie, en opper die moontlikheid dat koringgronde bygekom het. Mnr Botha sê hoewel hy nie oor presiese inligting oor hektare wat terugkom beskik nie, voel hy dat die oorlêlande, veral in die Vrystaat, na koring eerder as na mielies toe sal gaan, weens die prysskommelings vroeër in die jaar. Me Scheepers rapporteer dat die eerste opname van die voorneme om koring te plant in die nuwe seisoen, aandui dat 'n totaal van 750 000 hektaar in die somer- en in die winterreënseisoen onder koring geplant sal word, teenoor die 632 000 hektaar van die vorige seisoen.

      Die Voorsitter reël dat die algemene oorsig aan die hand van die onderskeie provinsies bespreek word, en doen aan die hand dat daar terselfdertyd berig gelewer word oor die algemene toestande wat in die provinsies ervaar word. Die lede is, na afloop van die bespreking van die toestande in die onderskeie provinsies, in ooreenstemming dat die tweede en derde oppervlak- en produksie­skatting vir die 2007/2008 seisoen bevredigend en aanvaarbaar is.

      Besluit:

      1. Dat die tweede en derde oppervlak- en produksieskatting vir sojabone ten opsigte van die 2007/2008 seisoen bevredigend en aanvaarbaar is.

        Lede

    2. Provinsies

      1. KwaZulu-Natal

        Die Voorsitter spreek sy teleurstelling uit met die vermindering in die aantal hektare sojabone aangeplant in KwaZulu-Natal, wat volgens 'n vorige waarneming oor 'n potensiaal van tussen 80 000 en 100 000 hektare sojabone beskik. Mnr Du Plessis is die mening toegedaan dat die sojaboonprys met planttyd tot hierdie daling aanleiding gegee het, en sê die mielieprys was in verhouding op daardie stadium meer gunstig, en het 'n swaai van sojas na mielies veroorsaak. Hy noem dat dit tans moeilik is om mielies in KwaZulu-Natal te bekom, en dat stygende vervoerkostes 'n bykomende oorwegingsrede vir die aanplant van mielies was.

        Mnr Du Plessis rapporteer dat daar nog nie ryp voorgekom het in KwaZulu-Natal nie. Hy sê die buitengewoon-hoë reënval van die afgelope paar weke veroorsaak heelwat probleme vir produsente wat nog nie gestroop het nie. Hy rapporteer egter dat 'n groot gedeelte van die oes reeds gestroop is, met die produsente in die omgewing van Piet Retief, met 'n oesgemiddeld van meer as drie ton per hektaar, en Bergville, wat klaar geoes het. Hy sê die produsente in Normandien en Newcastle, wat bietjie later geplant het, ervaar hoofbrekens met die stroopproses. Hy noem dat die noordelike gebiede, soos Paulpietersburg en Vryheid, heelwat opbrengsskade aan veral die mielie-oes, maar ook tot 'n mindere mate aan die soja-oes gehad het, as gevolg van die droë termyn in Januarie. Hy rapporteer voorts dat goeie oeste ook in die omgewing van Bergville en Winterton behaal is, hoewel daar minder sojas in dié gebiede geplant is. Hy sê die produsente is dit eens dat insetkoste 'n rede tot kommer is, en noem dat die gelykbreekpunt vir mielies in KwaZulu-Natal drasties toegeneem het, van sewe ton tot nagenoeg nege ton per hektaar. Hy berig dat daar, benewens een waarneming van 'n geringe mate van sclerotinia-besmetting, geen siektes voorgekom het op sojabone in KwaZulu-Natal die afgelope seisoen nie.

        Mnr Du Plessis noem in antwoord op 'n vraag van Dr De Kock oor die mate waartoe sojaboonroes as 'n probleem ervaar word in KwaZulu-Natal, dat die meeste produsente in gebiede waar roes in die verlede voorgekom het, voorkomend eerder as korrektief spuit, as deel van hulle program. Hy sê die produsente het besef dat dit te laat is om te spuit wanneer roes reeds op kommersiële aanplantings waargeneem kan word, en benadruk die waarde van die inligting oor die voorkoms van roes op die vangerproewe, wat die Proteïennavorsingstigting en GraanSA deurgee. Hy sê die produsente let noukeurig op hierdie waarskuwings, sodat hulle voortydig teen roes kan spuit.

        Mnr Havenga berig dat van die produsente in die Winterton-Bergville gebied reken dat hulle in die huidige seisoen die beste opbrengs per hektaar vir die afgelope twaalf jaar behaal het, met 'n gemiddeld van 3 ton tot 3,5 ton per hektaar, op beide droëland en onder besproeiing. Hy sê produsente in Normandien, waar baie goeie reëns van tussen 200mm en 300mm tydens April neergesak het, ervaar stroopprobleme, en word sekere lande ongestroop gelaat. Hy is die mening toegedaan dat vyf ton per hektaar onder besproeiing in die huidige seisoen behaal kan word, maar meld dat hy nog nie oor bevestigende syfers beskik nie. Hy rapporteer dat die reën baie wisselvallig voorgekom het hoe verder oos van die Berg beweeg word, in gebiede soos Vryheid en Paulpietersburg, en noem dat daar op 'n plaas in die Vryheid-gebied, waar een van die proewe aangeplant is, tot en met die helfte van Maart minder reën as in 1983 aangeteken is, toe 'n algehele misoes opgelewer is. Hy meld dat minder goeie opbrengste in die Vryheid-omgewing en in gedeeltes van Dundee verwag word.

        Mnr Du Plessis sê hy is in gesprekke met assuransie-agente attent gemaak op 'n opwaartse tendens in voorvalle van storms, met gepaardgaande hael- en windskade. Hy opper die moontlikheid dat die meer wisselvallige weer 'n gevolg van aard­verhitting kan wees. Die Voorsitter reël dat dié kwessie verder bespreek word onder besprekingspunt 7.3.

      2. Mpumalanga

        Mnr Cronjé rapporteer dat produsente in Mpumalanga ook 'n vreemde seisoen beleef, met die koelste somer sedert die sewentigerjare. Hy sê die gemiddelde minimum nagtemperatuur was in die middel van Desember 10 grade laer as die gemiddeld van die afgelope twintig jaar. Hy is die mening toegedaan dat hierdie uiterstes nie bevorderlik is vir sojabone nie. Hy meld dat daar, afgesien van die ongewone temperature, ook geweldige swaar reëns neergesak het, en sê hy het vanaf die eerste Oktober tot op hede 1 340mm reën gemeet op sy plaas in die Bethal-distrik. Hy sê die reënval was ook wisselvallig, met 'n gemete reënval vanaf die eerste Oktober tot die huidige van 1 000mm op sy plaas by Ogies, terwyl daar vir dieselfde tydperk slegs 500mm gemeet is op die buurplaas 2 km daarvandaan. Hy berig voorts dat dit gehael het op plekke waar dit nooit in die verlede gehael het nie, en nie gehael het op plekke waar daar wél in die verlede hael geval het.

        Mnr Cronjé sê die soja-opbrengste in Mpumalanga was wisselvallig, met sclerotinia wat produsente in die omgewing van Kinross, Kriel en Ogies op groot skaal geknou het. Hy berig van Mnr De Vos, 'n produsent wat nie soveel as 'n halwe ton sojabone per hektaar kon oes in 'n groot blok van 100 hektaar nie, as gevolg van sclerotinia-besmetting. Hy bevestig dat Mnr De Vos nuut-aangekoopte saad gebruik het, en sê dié produsent beoefen wisselbou met mielies wat twee jaar, en sojas wat een jaar geplant word. Mnr Van Wyk bevestig dat die spesifieke plaas reeds vir 'n paar jaar probleme oplewer. Hy sê daar was selfs tydens die goeie seisoen twee jaar gelede skade op die plaas, maar dat die skade hierdie seisoen besonder erg was, met tot 70% sclerotinia wat op plekke in die lande gemeet is. Hy rapporteer dat 'n gedeelte van die sclerotinia-besmetting redelik laat in die seisoen posgevat het, met die gevolg dat peule wél onderlangs gevorm het, met baie kleiner pitte boontoe en uiteindelik dowwe punte bo. Mnr Cronjé bevestig dat Mnr De Vos nie teen sclerotinia gespuit het nie, en meld dat meer as drie ton sojabone per hektaar geoes is op die buurplaas, waar wél gespuit is, met 'n ongeregistreerde maar effektiewe mengsel.

        Mnr Cronjé rapporteer dat goeie opbrengste van ongeveer 2 ton per hektaar behaal is in die weste van Mpumalanga, ongeag die probleme wat veroorsaak is deur die hael, en opbrengste van meer as drie ton, in die gebiede waar daar nie haelskade was nie. Mnr Van Wyk sê in aansluiting hierby, dat hy berig ontvang het van 'n produsent wat op 740 hektaar gemiddeld 2,94 ton sojabone per hektaar gestroop het, en van 'n ander produsent, wat op 180 hektaar 3,5 ton sojabone per hektaar gestroop het. Hy wys daarop dat Mnr De Vos se 100 hektaar sojaboon­aanplanting, wat as gevolg van sclerotinia-besmetting 'n swak opbrengs van 'n halwe ton per hektaar gelewer het, oor 'n potensiaal van 3,5 ton per hektaar beskik het. Hy sê produsente op Wonderfontein behaal ook goeie opbrengste, nieteenstaande haelskade. Mnr Cronjé is die mening toegedaan dat die oesskatting van gemiddeld 1,8 ton per hektaar vir Mpumalanga in die kol en haalbaar is.

        Mnr Potgieter stel voor dat die kwessie rakende die gebruik van 'n ongeregistreerde maar effektiewe mengsel wat teen sclerotinia gespuit is, verder ondersoek word. Dr De Kock bevestig dat die kwessie na die sclerotinia-werkgroep verwys sal word vir bespreking. Mnr Cronjé noem dat hy verdere waarnemings oor sclerotinia sal bespreek tydens die besprekingspunt rakende produsente-aangeleenthede in Mpumalanga met betrekking tot navorsing. Mnr Van Wyk verwys na die twee aanliggende lande waar een produsent gespuit het en die ander nie, met 'n verskil in opbrengs van drie ton per hektaar teenoor 'n halwe ton per hektaar, en maan dat twee ander belangrike verskille nie uit die gedagte gelaat moet word nie. Hy noem dat die twee produsente rywydtes van onderskeidelik 90cm en 76cm gebruik het, en ook hoogs verskillende cultivars geplant het, waarvan die een 'n bostipe is, en die ander 'n regopgroeier, wat nie rye toemaak nie. Hy sê die gebruik van mengsels moet nie as die alfa en omega van sclerotinia-beheer beskou word nie, en wys daarop dat die lande wat nie besmet is met sclerotinia nie, nog nooit 'n geskiedenis van sclerotinia gehad nie.

        Besluit:

        1. Dat die gebruik van 'n ongeregistreerde maar effektiewe mengsel vir die beheer van sclerotinia na die Sclerotinia-werkgroep verwys word vir bespreking.

          Mnr Keun

      3. Noordwesprovinsie

        Die Voorsitter wys daarop dat Noordwesprovinsie nie 'n groot sojaboonproduserende gebied is nie, met 'n verwagte produksie van slegs 14 700 ton, volgens die derde produksieskatting. In antwoord op Dr Griessel se vraag na die moont­likheid van verhoogde aanplanting van sojabone in Noordwes, waar 200 000 hektaar sonneblom aangeplant is, volgens die tweede oppervlak- en produksieskatting vir die 2007/2008-seisoen, teenoor die 6 000 hektaar wat met sojabone beplant is, meld Mnr Weber dat slegs die oostelike deel van dié provinsie, in die omgewing van Magaliesberg, genoeg reën ontvang vir sojaboonproduksie. Mnr Weber sê heelwat sojabone is 25 jaar gelede geplant vanaf Magaliesberg regoor die berg tot by Marikana. Hy rapporteer dat MGK op daardie stadium die helfte van die land se sojaboonopbrengs geproduseer het, waarvan die helfte van die produksie van droëland gekom het. Hy sê oor die jare is sojaboonaanplantings in die Marikana-gebied egter uitgefaseer, en vervang met sonneblom en graansorghum, wat baie goed presteer in dié gebied.

      4. Limpopo

        Benewens die Voorsitter se opmerking dat die produk­sieskatting opwaarts aangepas is vanaf 'n verwagte opbrengs van 20 700 ton sojabone na 22 500 ton, is daar geen verdere verslaggewing ten opsigte van die Limpopoprovinsie nie.

      5. Noord-Kaap

        Die Voorsitter wys daarop dat Noord-Kaap se produk­sieskatting konstant gebly het op 'n verwagte 1 525 ton sojabone.

      6. Vrystaat

        Die Voorsitter sê die Vrystaat is tans 'n baie groot sojaproduserende streek, en dat die aandag op hierdie gebied gespits moet word, ook in die lig van die dramatiese groei in sojaboonproduksie die afgelope vier tot vyf jaar in hierdie provinsie.

        Mnr Maree rapporteer dat sojaboonproduksie in die Vrystaat oor die algemeen goed lyk, nieteenstaande die voorkoms van haelbuie en geringe rypskade. Hy sê opbrengste wissel tot dusver tussen 2,5 en 3 ton/hektaar, met laat aanplantings wat nog nie stroopryp is nie. Hy meld dat wisselende oesryp-situasies op dieselfde land probleme veroorsaak, met dié dele wat in water gestaan het, wat nog groen staan. Hy noem dat die groen peule wat op ryp plante voorkom op Sandstone Estates, ongeveer 16 km van Ficksburg op die Fouriesburg-pad, waar 900 hektaar sojabone geplant is, as 'n algemene probleem ervaar word. Hy sê die verhoogde aantal hektare wat volgens die Oesskattingskomitee in die Vrystaat aange­plant is, verwys waarskynlik na aanplantings op Harrismith en Verkykerskop, aangesien daar minder hektare beplant is in Reitz. Hy rap­porteer dat Sandstone Estates beplan om 1 000 hektare met sojas te beplant in die volgende seisoen, en tans baie tevrede is met opbrengste. Hy is die mening toegedaan dat die bewering dat baie produsente in die Oos-Vrystaat totaal oningelig is oor sojaboonproduksie, nie juis is nie, en noem dat meeste van die werknemers van VKB op hoogte van sake is. Hy noem egter dat daar wél 'n behoefte aan meerdere inligting oor sojaboonproduksie bestaan onder opkomende landbouers.

        Mnr Botma rapporteer ten opsigte van die westelike deel van die Vrystaat, en noem dat hael wat vroeg in die seisoen voorgekom het, redelik skade aangerig het aan soja-aanplantings, maar dat daar nie veel rypskade aangerig is nie, omdat produsente reeds in Oktober kon begin plant. Hy meld dat wisselvallige rypwording ook opgemerk is, met droë peule op groen plante, veral waar teruggehoude saad geplant is. Hy noem dat die ryp 'n positiewe uitwerking gehad het, en die groen plante vinnig doodgemaak het, toe die peule nog nie begin oopspring het nie. Hy rapporteer dat die beste opbrengs van 2,2 ton/hektaar behaal is met 'n nie-geneties gemanipuleerde cultivar van die LNR, op 'n land wat swaar bemes is. Hy noem dat 'n opbrengs van nagenoeg 'n ton minder behaal is met RoundUpReady-cultivars op dieselfde plaas, maar dat dié land nie tot dieselfde mate bemes is nie. Hy sê hoewel hy tot 2,7 ton/hektaar stroop op dele waar pannetjies is en daar taamlik vog voorkom, die vog nie deurgaans konstant voorkom nie, al het dié gebied goeie reënval gehad. Hy rapporteer dat produsente beter resultate behaal het op sandgrond met 'n dieper watertafel. Hy sê 95% van die oes in daardie deel van die Vrystaat is reeds gestroop.

        Mnr Botma spreek sy kommer uit oor 'n verwagte groot skuif van sojas na sonneblom in die westelike Vrystaat, weens die goeie opbrengste van drie ton en meer per hektaar wat die afgelope seisoen met sonneblom behaal is. Hy rapporteer dat swaar bemesting 'n rol gespeel het, en sê produsente staar hulle blind teen die syfers, en hou nie faktore soos oordragvog en -stikstof in gedagte nie. Hy stel voor dat insette en uitsette op sojas en mielies, of sojas en 'n ander gewas, oor 'n tydperk van twee jaar bereken word en die inligting beskikbaar gestel word aan produsente met die oog daarop om sojaboonproduksie te bevorder. Hy spreek die gedagte uit dat die hoë kuns­misprys gunstig kan wees vir die produksie van sojabone.

        Mnr Potgieter noem dat etlike produsente besorg is oor die moontlikheid van 'n mielie-oorskot. Hy maan dat pro­dusente markgerig moet plant, met 'n gebalanseerde program en gewasse soos sonneblom en sojabone in 'n wisselbouprogram. Hy sê hoewel sojabone uiters geskik is vir wisselbou-verbouing in die Vrystaat, hy tóg die indruk kry dat produsente nie na behore ingelig is oor dié gewas nie, en reken dat hulle nie die gewenste opbrengs en inkomste sal behaal met sojas, as wat die geval is met byvoorbeeld sonneblom nie. Hy doen aan die hand dat sojabone tot 'n meerdere mate bevorder moet word in die Vrystaat, weens die mate van negatiwiteit by produsente.

        Mnr Botma noem in antwoord op 'n vraag van Mnr Weber dat die produsent wat 'n opbrengs van 2,2 ton sojabone per hektaar behaal het, swaar bemes het met 'n mengsel van 2:3:2, 'n Atlasproduk wat hy getoets het.

        Mnr Weber noem die moontlikheid dat duiweskade op sonneblom die skuif van sojas na sonneblom negatief mag beïnvloed. Mnr Botma rapporteer dat daar nie veel klagtes van duiweskade op sonneblom in die Noord-Vrystaat was nie. Mnr Botha meld dat daar na berig word steeds probleme met duiweskade in die gebied rondom Welkom voorkom, en dat berig ook ontvang is dat kwêlavoëls in die gebied sonneblom gevreet het. Die Voorsitter rapporteer dat Mnr Gert Pretorius tydens die Sonneblom- en Soja­boonforum sy kommer uitgespreek het oor die verskynsel dat duiwepopulasies klaarblyklik toeneem namate sonneblomaanplantings toeneem. Mnr Erasmus berig dat soveel as 4 000 duiwe op 'n perseel by Potchefstroom voorkom, en ook begin het om sojaboonpeule oop te pik. Mnr Van Wyk rapporteer dat hy ook op die proefplaas te Hatfield probleme het met duiwe wat sojaboonpeule ooppik, maar dat die duiwe vrek omdat die sojabone in die duiwe se kroppe ophoop. Die lede neem kennis dat duiwe slegs met opkoms van sojabone 'n probleem is, en dat duiwe nie tot dieselfde mate skade op sojabone as op sonneblom aanrig nie.

        Mnr Weber opper die moontlikheid dat die westelike gedeelte van die Vrystaat moontlik 'n té-lae reënval het vir sojaboon­produksie, soos in die geval van dele van die Noordwesprovinsie. Die Voorsitter maan teen veral­gemening, en sê groot mielie-opbrengste word behaal in die noordwestelike gedeeltes van die Vrystaat. Mnr Botma sê hoewel die noordwestelike deel van die Vrystaat die afgelope tyd goeie reënval gehad het, bly dit problematies om opbrengste van meer as 2,2 ton tot 2,5 ton per hektaar te behaal. Hy opper die moontlikheid dat die plant­populasie in die rye te hoog mag wees, en noem dat hy dit oorweeg om wyer rye te plant.

        Mnr De Klerk rapporteer dat Senwes in Klerksdorp samesprekings gevoer het met verteenwoordigers van Rainbow Nation Renewable Fuels (RNRF). Hy sê die prysverhouding tussen sojas en mielies is as die grootste enkele faktor uitgewys waarom mielies eerder as sojas in die noordwestelike gedeeltes van die Vrystaat aangeplant word. Hierbenewens word windskade by opkoms, en probleme met toerusting as die belangrikste faktore wat sojaboonaanplantings kan beperk beskou. Hy sê groot­skaalse bevordering van sojaboonproduksie word in die vooruitsig gestel vir die gebied.

        Dr De Kock wys daarop dat die noordwestelike Vrystaat heeltemal geskik behoort te wees vir goeie sojaboon­verbouing, weens die watertafel wat in die gebied voorkom. Hy meld egter dat sojabone baie gevoelig is vir aalwurm, wat meer algemeen in sandgronde voorkom, en sê die korrekte cultivarkeuse is gevolglik noodsaaklik. Mnr Botma rapporteer dat hy en ander produsente tydens 'n LNR-aanbieding oor aalwurms besef het hoe onkundig hulle is oor aalwurms, en die korrekte bestuur van die plaag. Hy noem dat meer aanbiedings van hierdie aard gewens sal wees. Hy is in ooreenstemming met Mnr De Klerk oor die probleme wat toerusting veroorsaak. Hy berig dat die meeste kontrakteurs in die gebied nie daarvoor ingerig is om sojabone te stroop nie. Hy benadruk dat sojabone vinnig gestroop moet word, terwyl mielies oor 'n lang tyd gestroop kan word, en opper die moontlikheid dat dit meer gerieflik is om mielies te plant.

        Die Voorsitter verwys na 'n vroeër opmerking wat Mnr Botma gemaak het oor die relatief-beperkte opbergings­fasiliteite vir sojabone in die noordwestelike deel van die Vrystaat. Hy sê Sentraalwes beskik by sekere dorpe oor koringsilo's, met kleiner buise, wat aangewend kan word vir die opberging van sojas, wanneer sojaboonverbouing uitbrei in hierdie gebied.

      7. Oos-Kaap

        Geen rapportering ten opsigte van die Oos-Kaap.

      8. Suidwestelike Distrikte

        Geen rapportering ten opsigte van die Oos-Kaap.

      9. Gauteng

        Mnr van Wyk rapporteer dat omstandighede in Gauteng dieselfde is as dié in Mpumalanga.

    3. Weer- en klimaatsvooruitskouing

      Die Voorsitter stel Mnr Du Plessis aan die woord, na aanleiding van die vroeëre opmerking wat hy oor ver­anderende weerpatrone gemaak het. Mnr Du Plessis rapporteer dat die kwessie van wisselende weerpatrone te berde gebring is na aanleiding van 'n gesprek oor die wenslikheid om versekering uit te neem al dan nie. Hy sê sekere streke, wat bekend is as gebiede wat heelwat hael kry, word weens 'n swak eise/premie verhouding belaai in die portefeuljes van versekeraars. Hy noem dat hael ook nou voorkom in gebiede wat nie voorheen hael gekry het nie, en sê hy vind dit onrusbarend omdat dit noodwendig 'n verhoging in insetkoste vir die produsent sal meebring. Hy sê hy het 'n definitiewe verandering in die weersom­standighede in KwaZulu-Natal gemerk, met swaar hael wat op plekke tot 'n voet diep gelê het, en windstorms wat die mielieplante omgewaai het.

      Mnr Botha berig dat versekeraars aangedui het dat daar die afgelope vyf jaar hektaargewys 'n daling was in eise wat as gevolg van hael uitbetaal is, maar dat daar vanjaar 'n 5% verhoging was op die laaste vyf jaar se gemiddelde syfer. Hy wys daarop dat vanjaar se eise presies op die langtermyngemiddeld val. Mnr Potgieter sê hy vind die huidige weerstoestande nie uitermatig anders as vorige jare nie, en wys daarop dat die weer van tyd tot tyd afwyk van die normale. Hy noem dat weersaktiwiteit in die Mosambiek-kanaal ook dikwels 'n rol speel in Suid-Afrikaanse weersomstandighede. Dr Griessel wys daarop dat versekeraars op 'n skuiwende gemiddelde werk, en sê die styging in versekering sal nie só dramaties wees na daar in een seisoen meer hael as gewoonlik geval het nie. Mnr du Plessis is in ooreenstemming hiermee, en sê versekeraars gebruik 'n vier-jaar skuiwende gemiddeld oor die eise/premie gemiddeld, wat aandui wat die premie sal wees. Hy rapporteer dat hierdie maar die tweede keer in twintig jaar was wat hy haelskade op sy plaas gehad het. Die Voorsitter noem dat Prof Schultze, verbonde aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, genooi gaan word om per geleentheid 'n voorlegging oor klimaatsake aan die PNS-Raad te doen, en onderneem om die lesing beskikbaar te stel aan die lede van die Sojawerkgroep.

    4. Mikpunte: 2010 en 2020

      1. Driejaarvooruitskatting

        Die Voorsitter vestig die aandag op die dramatiese toename in die prys van sojabone die afgelope jaar. Hy sê RNRF het na aanleiding van hulle besluit om voort te gaan met die sojaboonprosesseringsaanleg by Coega, die Proteïennavorsingstigting (PNS) genader met die oog daarop om die PNS se NAMPO-stalletjie te benut om reeds tydens die NAMPO-Oesdag sojabone vanaf produsente te begin kontrakteer. Hy meld dat die vordering van hierdie inisiatief nie gekortwiek sal word indien die regering besluit om nie 'n biobrandstofproduksie-lisensie uit te reik aan RNRF nie. Hy dui aan dat daar beoog word om plaaslike sojaboonhektare in die mediumtermyn op te skuif na 400 000 hektaar, vir 'n wegtrekpunt, en vra na die vergadering se inset oor die tydsduur om hierdie doelwit te bereik.

        Mnr De Klerk sê daar is ten opsigte van prysvasstelling beweeg van 'n volvetprysbasis na 'n soja-olie en -oliekoekbasis. Hy is die mening toegedaan dat die suksesvolle inwerkingstel van biobrandstofproduksie by Coega, waarskynlik tot gevolg sal hê dat die toekomstige prysbasis gelewer Coega sal wees, op 'n olie en 'n oliekoekbasis. Dr Griessel sê die geleentheid begin homself nou voordoen om geld te maak uit soja-olie, terwyl daar terseldertyd baie waardevolle oliekoek beskikbaar gestel word. Hy meen dis onvermydelik dat sojabone in die langer termyn gaan groei, met die hoë oliepryse en hoë oliekoekwaarde in gedagte gehou. Die Voorsitter wys op die hoë koste verbonde aan vervoer, en noem dat die kostevoordele grootliks ten gunste van sojabone sal wees.

        Mnr Du Plessis is van mening dat sojaboonproduksie sal groei, en daar 'n noemenswaardige swaai na sojabone sal wees, as gevolg van ekonomiese faktore. Hy is egter nie oortuig dat 400 000 hektaar gerealiseer sal word nie. Hy stem egter saam met die Voorsitter se stelling dat dit 'n kwessie van tyd sal wees voor die 400 000 hektaar realiseer, maar sê daarop dat die mark steeds bepalend sal wees. Die Voorsitter sê dat die hektare dáár is, en voeg by dat sekere aspekte egter aandag moet geniet. Hy sê KwaZulu-Natal moet meer betrokke raak by sojaboon­produksie, aanplantings in Mpumalanga en die Vrystaat moet uitgebrei word, en dat Limpopo en die Noordwes­provinsie tot 'n groter mate 'n bydrae tot verhoogde sojaboonproduksie kan lewer. Hy sluit af met die aanhaling 'where you can plant good maize, you can plant good soya'.

    5. SAGIS

      Die vergadering neem kennis van die SAGIS-markinligting gedateer 22 April, die Weeklikse Bulletin gedateer 15 April, en die Maande­likse Bulletin, gedateer 27 Maart, soos vervat in Bylae C.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word van die inligting vervat in die SAGIS-dokumentasie.

        Lede

  8. Markaangeleenthede

    1. Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik

      Die Voorsitter stel Dr Griessel aan die woord om 'n oorsig oor die sojamark en huidige prysaanduidings te verskaf. Dr Griessel rapporteer dat die prys van sojabone geland Durban sedert 28 Januarie gestyg het van R3 657 tot R3 844 op 5 Mei, toe die wisselkoers op R7,60 te staan gekom het.

      Dr Griessel sê die skerp styging in sojaboonpryse die afgelope aantal weke is te wyte aan 'n afname van 15 miljoen ton in die wêreldproduksie van sojabone gedu­rende 2007/2008 in vergelyking met die produksiesyfer van 2006/2007. Wêreldproduksie van sojabone, wat die vorige jaar 237 miljoen ton beloop het, het gedaal na 222 miljoen ton, hoofsaaklik weens 'n verminderde Ameri­kaanse produksie van 14 miljoen ton. Hy berig dat Amerika hierdie jaar 72 miljoen ton sojabone geproduseer het, teenoor die 86 miljoen ton wat in 2006/2007 geproduseer is. Met verwysing na die wêreldproduksie en -verbruik van die sewe belangrikste oliesade, rapporteer Dr Griessel dat verbruik toegeneem het met 14 miljoen ton, en wél vanaf 387 miljoen ton in 2006/2007 tot 401 miljoen ton in 2007/2008. Hierteenoor was daar 'n 14 miljoen ton afname in produksie, vanaf die 397 miljoen ton wat in 2006/2007 geproduseer is, na die produksie van 383 miljoen ton in 2007/2008. Hy sê die wêreldeindvoorraad het gedaal met 18 miljoen ton, instede van die verwagte 28 miljoen ton, aangesien die beginvoorraad op 83 miljoen ton te staan gekom het, teenoor die vorige jaar se 73 miljoen ton. Hy berig dat die wêreldeindvoorraad in 2007/2008 op 65 miljoen ton te staan gekom het, teenoor die 83 miljoen ton van 2006/2007.

      Dr Griessel sê Mnr Mielke van Oil World voorspel 'n toename van 11 miljoen hektaar in aanplantings van die sewe belangrikste oliesade gedurende 2008 en 2009, waarvan 6,7 miljoen hektare met sojabone beplant sal word. Hy sê 231 miljoen hektaar sal met die sewe belangrikste oliesade beplant word, teenoor die 220 miljoen hektaar van 2006/2007. Hy noem dat sojaboon­hektare van 91 miljoen hektaar na 97,7 miljoen hektaar sal toeneem, waarvan die meeste hektare in die VSA, met 3,7 miljoen hektaar, en Suid-Amerika, met 2 miljoen hektaar, sal wees. Hy wys op mnr Mielke se vooruitskatting dat die sojaboonopbrengs in 2008/2009 'n toename van 20 miljoen ton behoort te toon, wat 'n opbrengs van nagenoeg 3 ton per hektaar beloop, indien goeie weerstoestande heers en Suid-Amerikaanse regerings nie inmeng by verdere ontbossing nie. Hy sê 'n wêreldproduksie van 242 miljoen ton sojabone word gedurende 2008/2009 voorspel, teenoor die 222 miljoen ton wat in 2007/2008 geproduseer is.

      Mnr Cronjé berig op versoek van die Voorsitter oor sy onlangse besoek aan Brasilië, en sê die huidige tendens ten opsigte van gewasproduksie in dié land is 70% sojabone, 20% mielies, en 10% van die sogenaamde wintergewasse, te wete koring, en twee soorte hawer, wat as 'n dekgewas aangeplant en vir veeproduksie aangewend word. Hy sê benewens die feit dat die dekgewas veevoer verskaf, skakel dit die noodsaaklikheid van diep meganiese bewerking elke paar jaar om verdigting teen te werk, uit. Hy sê die beeste word vir 'n maand onttrek van die grond, in welke maand die hawer se wortelstelsels der mate ontwikkel dat die grond van die oppervlak af ondertoe losgemaak word. Hy rapporteer dat lae sojaboon­plant­populasies, met gemiddeld 14 bostipe plante per vierkante meter, en 20 regoptipe plante per vierkante meter aangeplant word, en daar gevind is dat opbrengste van 4,5 ton tot 5 ton sojabone per hektaar gelewer word. Hy sê die lae plantestand kompenseer deur meer peule te dra, en graan met 'n groter skepelmassa te lewer, en voeg by dat die yler stand tot beter weerstand teen sojaboonroes bydra. Hy noem dat die grond in dié streek diep, maar uiters onvrugbaar is, met feitlik geen fosfaat-inhoud en 'n baie lae kaliumvlak. Hy voer aan dat die ontsettend hoë bemestingkoste die grootste teenvoeter vir suksesvolle sojaboonproduksie in Brasilië sal wees, en voeg by dat sojas nie direk hoog bemes word nie, maar wél die voorafgewasse soos mielies en koring. Hy sê om 'n suksesvolle soja-oes te verseker, word tot soveel as 84kg kalium per hektaar vereis. Die Voorsitter skets kortliks die voorgenome program van die beplande studietoer na Noord- en Suid-Amerika, en noem dat 'n paar van die belangrikste onderwerpe van die verslag oor die studietoer by 'n volgende vergadering van die Sojawerkgroep aangespreek kan word, en dit wat op die pad vorentoe lê, ook uitgelig kan word. Die Voorsitter bedank Mnr Cronjé vir sy interessante bydrae.

      Die Voorsitter vestig die aandag op die toenemende internasionale verbruik van oliesade. Hy sê kapasiteit vir biodiesel-produksie neem toe, hoofsaaklik met die aanwending van canola, raapsaad en sojabone. Hy wys op die heersende probleme in Suid-Oos Asië en ander lande vanwaar palmolie ingevoer word, en sê daar is geen rede dat die prys van eetbare olies in die nabye toekoms skerp sal daal nie, of dat daar skielik 'n surplus van oliesade op wêreldmarkte sal wees nie, weens die omvang van die markgrootte. Hy benadruk dat daar geen rede is om te dink dat die prys van sojabone plaaslik nie gehandhaaf sal word nie.

      Dr Griessel verwys na die ingevoerde prys van sojabone teenoor die relatiewe waarde van sojabone, wat hy bereken het op R3 674 (sien tabel hier onder), en sê die invoerpariteitsprys vir VSA sojabone gelewer Randfontein was R5331/ton op 11 April, terwyl die invoerpariteitsprys vir Argentynse sojabone gelewer Randfontein op dieselfde datum op R4 885/ton te staan gekom het. Hy noem dat hy die relatiewe waarde van sojabone bepaal aan die hand van dit wat die veevoerbedryf bereid sou wees om te betaal. Hy sê as die werklike intrinsieke waarde van sojabone bereken moet word, met insluiting van die waarde van die sojaboonolie, sal dieselfde metode as dié waarvolgens die afgeleide prys vir canola bepaal word waarskynlik gebruik moet word, wat 'n aansienlik-hoër prys sal wees as die relatiewe waarde, soos op die tradisionele manier bereken. Die Voorsitter verwys na punt 7 van SAGIS se weeklikse bulletin, waar die aanduidende invoerpariteitspryse vir 'n paar gewasse aangegee word. Hy sê daar moet in gedagte gehou word dat die prys van Argentynse sojabone geland Durban van R4 680 nie onderworpe sal wees aan die invoertarief van R292 nie, indien die sojabone met die oog op die die produksie van biobrandstof ingevoer word, met die gevolg dat die invoerpariteitsprys van dié sojabone nagenoeg R4 400 sal wees. Hy wys daarop dat hierdie berekening stof tot nadenke gee, en 'n aanduiding gee van die redes wat aanleiding gee tot die PNS se optimisme oor sojabone.

      Mnr Weber voer aan dat sojaboonproduksie bepaald sal uitbrei indien die huidige pryse gehandhaaf word. Hy is van mening dat sojabone sterk kompetisie vir mielies bied, en verduidelik dat sojabone 280kg stikstof per hektaar bind, waarvan 240kg deur die sojas self gebruik word, en 40kg stikstof per hektaar in die vorm van ureum agterlaat word in die grond, vir gebruik deur opvolggewasse. Hy sê die waarde van die 280kg stikstof beloop nagenoeg R4 000, indien dit verreken word.

      Die Voorsitter bedank Dr Griessel vir die voorlegging.

      Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteíen) geland Durban soos op 28 Januarie 2008
      Verskeping: R4 082   |   Wisselkoers: R7.60/US$
      Geland Durban 47% proteïen oliekoek 3 844.00
      Vervoer na Randfontein (per ton) 200.00
      Rente 2 weke 15% 19.00
      0,5% hanteringsverlies 19.00
      Gelande prys 4 082.00
      Waarde van volvetsoja 110% R4 490.00
      Min koste om sojabone na volvetsojabone te verwerk 816.00
      – Vervoerkoste na volvet-aanleg 70.00
      – Stoorkoste 102.00
      – Rente 13% (6 maande) 250.00
      – Ekstrusiekoste 180.00
      – 5% ekstrusieverlies 214.00
      Afgeleide produsenteprys vir sojabone (op plaas) – R/ton R3 674.00

      Mnr Keun meld dat daar nog uitvoering gegee moet word aan die besluit dat 'n handelaar genooi moet word om die vergaderings van die Sojawerkgroep by te woon.

      Besluit:

      1. Dat 'n handelaar genooi word om vergaderings van die Sojawerkgroep by te woon.

        Mnr Keun

    2. SAFEX

      Die lede neem kennis van die SAFEX-termynprys van R4 230 vir lewering in April 2008, en R4 270, vir lewering in Mei 2008, soos aangedui in die weeklikse SAGIS Bulletin, gedateer 15 April.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word van die SAFEX-prysinligting.

        Lede

  9. Produsente-aangeleenthede

    1. KwaZulu-Natal

      1. Supersojakompetisie – terugvoering

        (Besluite 9.1.1.1 en 9.1.1.2 van die Sojawerkgroepnotule van 29 Januarie 2008)

        Die Voorsitter stel die verslag wat opgestel is ter motivering van die waarde van die Supersojakompetisie ter tafel. Hy wys op enkele interessante aspekte wat Mnr Havenga in die verslag uitgelig het, soos byvoorbeeld die toename in die persentasie deelnemers wat minimum­bewerkingspraktyke toepas, die veelseggende optimum­ontledings, en die verwysing na geneties-gemanipuleerde cultivars. Mnr Havenga voer aan dat die Supersoja­kompetisie voortgesit moet word, en sê die kompetisie sal na verwagting groei. Die Voorsitter gee die lede die geleentheid om vrae aan Mnr Havenga te stel.

        Op navraag van Dr Griessel meld Mnr Havenga dat ongeveer 90% van die produsente in die Winterton-Bergville gebied minimumbewerkingspraktyke toepas. Hy sê dit was maklik om tydens die droogte van die vorige seisoen waar te neem welke produsente nie mini­mumbewerking toepas nie, omdat droogte-simptome gouer merkbaar is waar minimumbewerking nie geïm­plementeer word nie. Hy rapporteer dat minimum­bewerking geweldig toegeneem het in die noordelike gebied van KwaZulu-Natal die afgelope twee seisoene, en aangemoedig is deur die vrystelling van geneties-gemanipuleerde cultivars. Dr Griessel wys op die aanvanklike teenkanting teen die gebruik van geneties-gemanipuleerde cultivars, en voer aan dat daar nie so 'n hoë persentasie produsente wat minimumbewerking toepas sou wees as dit nie vir GM-cultivars was nie. Mnr Cronjé sê minimum-bewerking is ongetwyfeld die pad vorentoe, ook na aanleiding van die waarnemings wat hy in Brasilië gemaak het. Mnr Havenga bevestig op navraag van Mnr Potgieter dat minimumbewerking, afgesien van bewerkingsbesparing, ook gepaard gaan met noemens­waardige opbrengsverskille. Mnr Cronjé beaam hierdie stelling, en sê die toename van mikrobes in die grond werk met verloop van tyd ongetwyfeld opbrengs­verhoging in die hand.

        Mnr Du Plessis noem dat die Mielietrust tans 'n na­vorsingsprojek in KwaZulu-Natal ten opsigte van minimumbewerking met mielies befonds, en sê daar word beoog om die projek uit te brei deur 'n wisselbouproef met minimumbewerking in te sluit. Hy lewer 'n pleidooi dat die projek ondersteun word, sodat minimumbewerking verder kan uitbrei, en sê die presiese voordele van mini­mumbewerking kan slegs oor die langtermyn bepaal word.

        Na aanleiding van Dr De Kock se voorstel dat daar eerder verwys word die aantal hektare wat ingeskryf is vir die kompetisie, en nie die aantal lande nie, verduidelik Mnr Du Plessis dat daar verwys word na lande, omdat blokke van 'n minimum van vyf hektaar ingeskryf word.

        Mnr Van Wyk rapporteer dat hy 'n aanvang gemaak het met navorsing oor geenbewerking, bewerkingstelsels en wisselbou op die UP-proefplaas te Hatfield. Mnr Du Plessis noem dat hy die 'No-Till'-dag die vorige jaar gelei het, en tot die besef gekom het dat minimumbewerkingstelsels nie op 'n rigiede en voorskriftelike manier benader kan word nie. Hy benadruk dat die produsent hom moet laat lei deur omstandighede, en die stelsel van minimumbewerking moet aangepas word by die aard van die grond waarop geboer word.

        Mnr Havenga onderneem om die gegewens van drie van die deelnemers wat oor die loop van 'n aantal jare deelgeneem het aan die kompetisie, met insluiting van deelnemers wat aanvanklik gewone bewerkingspraktyke gevolg het, maar later oorgeslaan het na minimum­bewerking, te bestudeer, sodat 'n beeld gevorm kan word vir bespreking deur die Werkgroep by 'n volgende vergadering. Die Voorsitter bevestig dat die kwessie van minimumbewerking verdere bespreking deur die Soja­werkgroep vereis.

        Mnr Botha bevestig op navraag dat hy samesprekings gevoer het met navorsers van die LNR oor 'n projek waarvan die primêre fokus bewaringsbewerkingstelsels is, en waarby onder andere geenbewerking ingesluit is. Hy rapporteer dat 'n sentrale navorsingskomitee al die navorsingswerk sal koördineer, en tans besig is om produsente te besoek om vas te stel wat hulle navorsingsbehoeftes is. Hy noem dat 'n aansoek om befondsing van 'n navorsingsprojek om die effek van wisselbou binne bewaringsbewerkingstelsels te ondersoek, waarskynlik ingedien sal word. Die lede neem kennis dat GraanSA tans ook aandag skenk aan bewerkingstelsels.

        Die Voorsitter bedank Mnr Havenga vir die inset gelewer, en moedig hom aan om die data wat tydens Supersojakompetisies ingesamel is verder te ontleed, aangesien interessante feite hierdeur aan die lig gebring word. Hy reël dat Mnr Havenga se verslag 'Supersoja­kompetisie in KwaZulu-Natal – kort aantekeninge oor die kompetisie' voor die Tegnologiekomitee dien.

        Mnr Du Plessis verduidelik dat Mnr Joubert aangedui het dat hy nie die verslag van die Supersojakompetisie onder oë gehad het nie, met die gevolg dat hy nie uitvoering kon gee aan die besluit dat daar met Mnr Joubert in gesprek getree word, sodat die Supersojakompetisie-berekenings in lyn gebring word met Mnr Joubert se metodologie nie. Hy onderneem om by 'n volgende vergadering terugvoer te verskaf in dié verband.

        Besluite:

        1. Dat daar met Mnr Joubert in gesprek getree word, sodat die Supersojakompetisie-berekenings in lyn gebring word met Mnr Joubert se metodologie.

          Mnr Du Plessis
          Mnr Havenga

        2. Dat die gegewens van drie van die deelnemers wat oor die loop van 'n aantal jare deelgeneem het aan die kom­petisie, met insluiting van deelnemers wat aanvanklik gewone bewerkingspraktyke gevolg het, maar later oorgeslaan het na minimum­bewerking, bestudeer word, sodat 'n beeld gevorm kan word vir bespreking deur die Werkgroep by 'n volgende vergadering.

          Mnr Havenga

        3. Dat Mnr Havenga se verslag 'Supersojakompetisie in KwaZulu-Natal – kort aantekeninge oor die kompetisie' voor die Tegnologiekomitee dien.

          Mnr Keun

        4. Dat daarvan kennis geneem word dat GraanSA tans ook aandag skenk aan bewerkingstelsels.

          Lede

      2. Navorsing

        Geen verslaggewing.

    2. Mpumalanga

      1. Supersojakompetisie te Mpumalanga

        (Besluit 9.2.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 29 Ja­nuarie 2008)

        Die Voorsitter rapporteer dat die saak rakende die her­instelling van die Supersojakompetisie in Mpumalanga per geleentheid deur 'n kleiner groep bespreek sal word, en dat terugvoering by 'n volgende vergadering van die Soja­werkgroep verskaf sal word.

        Besluit:

        1. Dat die saak rakende die moontlike herinstelling van die Supersojakompetisie te Mpumalanga oorstaan na 'n volgende vergadering van die Sojawerkgroep.

          Voorsitter
          Mnr Keun

      2. Navorsing

        1. Proewe – Rhizobium

          Mnr Cronjé rapporteer dat die rhizobium-proewe op 21 April op sy plaas gestroop is, en dat baie interessante resultate na vore gekom het tydens die stroopproses. Hy noem dat Me Bloem nie as sodanig in die stroopproses belanggestel het nie, aangesien sy haar waarnemings gedoen het ten opsigte van nodulering en dies meer, maar dat dit vir hom van belang is om by wyse van die stroopproses die ekonomiese waarde van die rhizobium-proewe te bepaal.

          Mnr Cronjé sê drie middels, naamlik Stimuplant, Soygro en Soyflo is onderskeidelik in die proewe gebruik, en rapporteer dat Stimuplant, die normale veenentstof, 1,92 t/ha gemiddeld gelewer het, die kontrole-gedeelte 1,59 t/ha, Soygro-veen 1,73 t/ha, terwyl Soyflo 'n neerdrukkende effek op die opbrengs gehad, en 1,33 t/ha gelewer het. Hy meld dat die ekonomiese waarde van die proewe nog bepaal moet word. Die Voorsitter reël dat Me Bloem en Dr Staphorst genooi word na 'n vergadering van die Werk­groep wanneer die resultate van die proewe beskikbaar gestel is.

          Mnr Cronjé rapporteer voorts ten opsigte van die proef rakende die gebruik van teruggehoude graan as saad teenoor nuut-aangekoopte saad, wat ook op 21 April gestroop is. Hy sê 'n verteenwoordiger van Pannar en Mnr Sakkie Lamprecht was teenwoordig tydens die stroopproses, en dat dié twee here onderneem het om die syfers te verwerk. Hy meld dat die beste ontkieming waargeneem is by dié proef waar saad gebruik is wat deur 'n produsent voorsien, en voor die tyd behandel is met twee swamdoders, wat saam gebruik is, en gewoonlik op droëbone aangewend word. Hy sê dié proef het visueel die beste vertoon deur die seisoen. Hy noem dat die strookproewe van vier rye van 0,83 meter wyd oor 550 meter gestrek het, en dat die kol sclerotinia-besmetting, wat oor die hele proef in die middel van die 550 meter voorgekom het, egter nie die vier rye wat met die swamdoder-behandelde saad beplant is, aangetas het nie.

          Mnr Cronjé sê beide die verteenwoordiger van Pannar en Mnr Lamprecht het aangedui dat hulle die proef waar die prestasie van teruggehoude saad met nuwe saad vergelyk word, wil voortsit. Hy rapporteer dat gratis skenkings verkry is by dertien van die veertien boere wat 'n spesifieke cultivar geplant het, na aanleiding van Pannar se versoek dat daar 'n groter verteenwoordiging van saad uit verskillende bronne verkry word.

          Besluit:

          1. Dat Me Bloem en Dr Staphorst genooi word na 'n ver­gadering van die Werkgroep wanneer die resultate van die rhizobium-proewe beskikbaar gestel is.

            Mnr Keun

    3. Noordwesprovinsie

      1. Navorsing

        Geen verslaggewing.

      2. Ander

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

    4. Limpopoprovinsie

      1. Navorsing

        Geen verslaggewing.

      2. Ander

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

    5. Vrystaat

      1. Navorsing

        Mnr Botma rapporteer ten opsigte van die proewe wat op sy plaas uitgevoer is om die effektiwiteit van sekere inokulante te bepaal, en sê stikstofbinding is waargeneem waar die droë veen gebruik is. Hy noem dat die LNR aangedui het dat al die rhizobiums wat getoets is, bevredigende tellings gelewer het. Hy onderneem om by die volgende vergadering van die Sojawerkgroep verder verslag te doen oor opbrengste wat behaal is en dies meer.

      2. Ander

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

    6. Oos-Kaap

      1. Navorsing

        Geen verslaggewing.

      2. Ander

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

    7. Suidwestelike Distrikte

      1. Navorsing

        Geen verslaggewing.

      2. Ander

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

    8. Gauteng

      1. Navorsing

        Geen verslaggewing.

      2. Ander

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

    9. Noord-Kaap

      1. Navorsing

        Geen verslaggewing.

      2. Ander

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

    10. Algemeen

      1. Aanplant van oliesade in sekere provinsies met die oog op ontwikkelende landbou en biobrandstof

        (Besluit 9.10.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 29 Ja­nuarie 2008)

        Die Voorsitter wys daarop dat die lede van die Soja­werkgroep ingelig is oor die verwikkelinge ten opsigte van RNRF se biobrandstofinisiatief in die Oos-Kaap, en doen aan die hand dat die betrokke besprekingspunt voortaan gerig word op vorderingsverslae rakende die Oos-Kaap. Hy meld dat Mnr Killian voortaan voltyds in diens van RNRF sal staan, en voluit tot voordeel van die sojabedryf in die Oos-Kaap aangewend sal word. Hy sê daar sal oor vordering in die ander provinsies rapporteer word wanneer die alternatiewe planne wat deur die PNS op die tafel gesit is, verder gevoer is.

        Besluit:

        1. Dat die besprekingspunt 'Aanplant van oliesade in sekere provinsies met die oog op ontwikkelende landbou en biobrandstof' voortaan gerig sal word op vorderings­verslae rakende die Oos-Kaap.

          Mnr Keun

  10. Navorsing

    1. Nasionale cultivarproewe

      1. Nasionale cultivarproewe 2007-2008

        Mnr Erasmus rapporteer op versoek van die Voorsitter dat daar reeds ver gevorder is met die stroop van die nasionale cultivarproewe, hoewel 'n gedeelte van die Ficksburg-proef en die Kinross-proef nog geoes moet word. Die Voorsitter reël dat verslag gedoen word oor die nasionale cultivar­proewe wanneer al die proewe gestroop, en die betrokke data ingewin is.

        Besluit:

        1. Dat verslag gedoen word oor die nasionale cultivar-proewe wanneer al die proewe gestroop, en die betrokke data ingewin is.

          Mnr Keun
          Dr Du Plessis
          Mnr Erasmus

      2. Gesprek met provinsiale departemente insake Nasionale Cultivarproewe

        (Besluit 10.1.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 29 Ja­nuarie 2008)

        Die Voorsitter reël dat die saak oorstaan tot ná gesprek­voering met die Departemente van Landbou van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga bewerkstellig is.

        Besluit:

        1. Dat die gesprek met provinsiale departemente insake die Nasionale Cultivarproewe oorstaan tot ná gesprekvoering met die Departemente van Landbou van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga bewerkstellig is.

          Mnr Keun

    2. Roes

      1. Inligting vanaf Sojaboonroeswerkgroep

        Die Voorsitter spreek sy kommer uit dat sojaboonroes nou oor die Drakensberg beweeg het, en in Groblersdal waargeneem is. Die lede neem kennis van hierdie inligting.

    3. Sclerotinia

      1. Proefwerk – terugvoering Sclerotinia­werkgroep­vergadering

        Dr de Kock onderneem om by die volgende vergadering verslag te lewer oor die huidige stand van sclerotinia­navorsing.

        Besluit:

        1. Dat kennis geneem word dat daar by die volgende vergadering verslag gelewer sal word oor die huidige stand van sclerotinianavorsing.

          Dr De Kock
          Lede

      2. Sclerotinia-opnames

        (Besluit 10.3.2.1 van die Sojawerkgroep-notule van 29 Ja­nuarie 2008)

        Mnr Keun bevestig dat hy die PNS se waardering oorgedra het aan die Oesskattingskomitee vir die samewerking wat verleen word met die sclerotinia-opnames. Dr De Kock rapporteer dat die sclerotinia-opnames tydens Mei 'n aanvang sal neem.

  11. Saad

    1. Terughouding van graan as saad

      (Besluite 11.1.1 en 11.1.2 van die Sojawerkgroepnotule van 29 Januarie 2008)

      Die Voorsitter stel die saak rakende die beskikbaarheid van sojaboonsaad ter tafel. Hy sê GraanSA sou verdere samesprekings met SANSOR voer om klarigheid te bewerkstellig oor bewerings dat nuwe cultivars nie beskikbaar gestel sal word weens die gebruik van teruggehoude graan as saad nie. Hy noem dat daar in die vorige seisoen 'n tekort was aan sojaboonsaad, hoewel SANSOR aange­kondig het dat voldoende saad beskikbaar gestel sal word om 140 000 hektaar sojabone aan te plant. Hy stel Mnr Potgieter, as Voorsitter van GraanSA se Sojawerkgroep, aan die woord.

      Mnr Potgieter noem dat GraanSA tans die moontlikheid ondersoek om statutêre heffings te plaas op sojaboonsaad en om dié fondse aan te wend om die ontwikkeling van nuwe cultivars te subsidieer. Mnr Botha rapporteer dat 'n aantal vrae aan SANSOR gestel is, maar dat daar nog nie verdere terugvoering in dié verband ontvang is nie. Hy sê die vrae het voortgespruit uit die syfers wat SANSOR verskaf het rakende die hoeveelheid beskikbare saad, teenoor die werklike hektare wat aangeplant is, waarvan aanplantings met teruggehoude graan as saad slegs 8% van die totale aanplantings verteenwoordig. Hy spreek sy kommer uit oor die beskikbaarheid van nuwe sojaboon­saad vir die huidige seisoen, wat klaarblyklik slegs voldoende sal wees vir 100 000 hektaar. Hy sê GraanSA het vasgestel dat alle nuwe RoundUpReady-saad reeds uitverkoop is. Mnr Cronjé bevestig hierdie stelling. Die Voorsitter meld dat hy reeds geruime tyd bekommerd is oor die situasie. Mnr Potgieter dui aan dat hy geen ander opsie kan sien as om die produsente voortydig te waarsku oor die gebrekkige beskikbaarheid van sojaboonsaad nie, veral met die oog op hoër aanplantings. Die Voorsitter noem dat die PNS sy bekommernis oor die situasie kan uitspreek, indien GraanSA dié liggaam amptelik inlig van die klaarblyklike tekort aan sojaboonsaad.

      Dr De Kock onderneem om tydens die algemene jaar­vergadering van SANSOR, wat die volgende dag plaasvind, kennis te gee van sy besorgdheid oor die klaarblyklike tekort aan sojaboonsaad wat tans ondervind word, en terugvoering te gee tydens die PNS-Raadsvergadering, wat die dag daarna gehou word. Die Voorsitter noem dat die PNS moontlik 'n persverklaring na afloop van die Raadsvergadering kan vrystel.

      Op navraag van Mnr Keun rakende die besluit wat tydens die vorige vergadering geneem is dat Mnr Loubser, as Hoofbestuurder van SANSOR, en verteenwoordigers van die saadmaatskappye genooi word na 'n volgende vergadering van die Sojawerkgroep sodat die saak rakende die beskikbaarheid en die totale verkope van saad uitgeklaar kan word, doen die Voorsitter aan die hand dat Dr De Kock begrip uitspreek dat Mnr Loubser verskoning aangeteken het vir daardie dag se vergadering, maar die geleentheid tydens die algemene jaarvergadering sal moet benut om die saak, weens die dringendheid daaraan verbonde, aan te spreek. Mnr Potgieter dui aan dat GraanSA se afgevaardigdes by die SANSOR-AJV die nodige ondersteuning sal verleen.

      Mnr Botma sê dit is onduidelik waarom voldoende saad vir slegs 100 000 hektaar beskikbaar is, na die tekorte wat die vorige jaar ondervind is, en daar genoeg produk in die mark beskikbaar was. Mnr Cronjé sê beide Pannar en Pioneer het aangedui dat die afgelope seisoen 'n swak produksie-jaar vir saad was, en dat 'n groot hoeveelheid afgekeurde saad in die kommersiële mark gestort is. Dr Griessel noem dat die moontlikhede wat oorsese cultivars bied, al meer aanloklik lyk.

  12. Biobrandstof

    1. "Biofuels industrial strategy of the Republic of South Africa"

      (Besluit 12.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 29 Ja­nuarie 2008)

      Die Voorsitter neem Bylae G, waarin korrespondensie rakende RNRF se R1,5 biljoen sojaboonverwerkings­fasiliteit in die Oos-Kaap en verwante beriggewing ingesluit is, ter tafel. Hy rapporteer dat Dr De Kock die vorige week die voorsitter van die RNRF-groep tydens 'n inligtingsdag ontmoet het, en word Dr De Kock versoek om terugvoer te lewer.

      Dr De Kock rapporteer dat die inligtingsdag deur nagenoeg 50 persone bygewoon is, en dat hy, ten spyte van die feit dat slegs 'n tienstuks produsente die dag bygewoon het, die dag as baie suksesvol beskou. Hy noem dat Link Seed inligting verskaf het tydens die dag, en dat hulle cultivars baie goed vertoon op die cultivarproef aldaar. Hy sê Mnr Jarvie van Pannar het ook inligting verskaf oor dié maatskappy se dienste en saadstelsel. Hy berig dat Mnr Lübbe van Agriocare aangedui het dat Agriocare saad, inligting en raad kan verskaf aan dié produsente wat sou belangstel. Hy noem dat Mnr Armstrong, die voorsitter van RNRF, aangedui het dat hulle voortgaan met die projek, al sou hulle sojabone uit Argentinië moes invoer. Hy sê RNRF is duidelik ernstig met die inisiatief, aangesien die soja-olie en -oliekoek voldoende kompensasie sou bied, indien 'n biobrandstoflisensie nie uitgereik word aan RNRF nie.

      Dr De Kock noem dat hy baie goeie kontakte in Australië bewerkstellig het, met die oog op die voorgestelde studietoer tydens September. Hy sê goeie kontak is ook bewerkstellig met die besturende direkteur en die hoofnavorser van SugarBeetSA, wat aangedui het dat hulle oop is vir gesprekvoering, en doen aan die hand dat dié saak verder opgevolg word deur die Tegnologiekomitee. Hy noem dat SugarBeetSA belangstel in die evaluering van sojabooncultivars, weens die moontlikheid van wisselbou met suikerbeet en sojabone. Hy sê hy het vasgestel dat mielies bloot as wisselbougewas met suikerbeet gebruik is by die projek rakende die vervaardiging van bio-etanol met suikerbeet, by 'n aanleg in die Visriviervallei. Hy sê hy beskou die RNRF-inligtingsdag as suksesvol, en dat hy die talle vrae wat deur produsente gestel is, as positief ervaar het. Die Voorsitter wys daarop dat die potensiaal vir sojaboonproduksie in die Oos-Kaap reeds geruime tyd duidelik was, en dat produsente in sojaboonproduksie belang sal stel sodra die prys reg, en kontrakte beskikbaar is.

      Besluit:

      1. Dat die goeie kontak wat bewerkstellig is met die besturende direkteur en die hoofnavorser van Sugar­BeetSA, wat tydens die RNRF-Inligtingsdag aangedui het dat hulle oop is vir gesprekvoering, en belangstel in die evaluering van sojaboon­cultivars weens die moontlikheid van wisselbou met suikerbeet en sojabone, verder opgevolg word deur die Tegnologie­komitee.

        Mnr Keun

  13. Tegnologie-oordrag

    1. Inligtingsdae 2008: datums en terugvoering

      Mnr Van Wyk spreek sy tevredenheid uit met die inligtingsdag wat aangebied is by die Pretoria-proefplaas te Hatfield. Hy sê heelwat produsente het die dag byge­woon. Hy rapporteer dat daar ook baie goeie verteen­woordiging was by die boeredag wat op Brood­snyersplaas van G&M Farming aangebied is, en sê hoewel daar nie hierdie jaar sojaproewe daar geplant is nie, die geleent­heidspreker, Prof Willemse van die Universiteit van die Vrystaat, se toespraak gefokus het op die sojaboonprys. Hy rapporteer dat Prof Willemse aangedui het dat die sojaboonprys nie binne die loop van die volgende drie jaar noemenswaardig sal daal nie.

      Komende inligtingsdae word soos volg aangedui:

      13-16 Mei Nampo-Oesdag, Bothaville
      3 September Sojabooncultivarevaluasiekomiteevergadering
      3-4 September "No Till"-klub, Bergville
      17 September (tentatief) Supersojadag, Dundee

    2. Sojabladskrif

      Die Voorsitter rapporteer dat Mnr Weber 'n artikel ingedien het oor sojabooncultivars en plantdatumkeuse vir oor­weging vir toekomstige publikasie in SAGraan. Hy noem dat 'n artikel oor die gebruik van teruggehoude saad teenoor nuwe saad reeds ingedien is, en versoek dat lede voorstelle vir onderwerpe van artikels met die oog op die volgende sojaseisoen deurgee aan Mnr Keun. Hy noem dat heelwat aandag gewy is aan minimumbewerking tydens die vergadering, en dit as moontlike onderwerp oorweeg kan word. Die Voorsitter stel Mnr Weber aan die woord.

      Mnr Weber rapporteer dat hy, sedert hy in Desember getaak is met die publikasie van artikels oor sojaboon­produksie en verwante aangeleenthede, artikels saam­gestel het oor wurmplae, terughou van sojaboonsaad, die plek van sojas in 'n gewasstelsel, die waarde en die plek van sojabone in voedingsprogramme, welke artikel deur Dr Köster geskryf sal word, cultivar en plantdatum, met artikels wat onder meer beoog word oor bemesting, implemente, entstowwe en die cultivarproefresultate. Hy sê die verslag oor die rhizobium-proewe kan in die artikel oor entstowwe toegelig word. Mnr Cronjé doen aan die hand dat die metodiek van entstoftoediening ook in dié artikel uiteengesit word. Dr Griessel stel voor dat die moontlikheid om 'n artikel saam te stel oor die moontlik nadelige effek van swamdoders op entstof oorweeg word.

      Die Voorsitter sê daar is duidelik heelwat gedagtes waar­deur belangstellendes van interessante leesstof voorsien kan word in GraanSA se lyfblad.

  14. Ander sake

    1. Inligting vir plasing op die webtuiste – nuus­brokkies

      (Besluit 14.1.1 van Sojawerkgroepnotule van 29 Januarie 2008)

      Die Voorsitter meld dat daar voortdurend gepoog word om die PNS-webtuiste so interessant en aantreklik moontlik te maak vir diegene wat navorsing op die internet onderneem, ook met aanvulling van kleurfoto's ter illustrasie. Hy sê die webtuiste is ook van kardinale belang met die oog op internasionale skakeling in die toekoms, en dat enige insette van die lede van die Sojawerkgroep ten opsigte van die webtuiste-inhoud verwelkom sal word. In antwoord op Mnr Du Plessis se vraag na die moontlikheid om die sojaboon­produksiehandleiding op die PNS-webtuiste be­skikbaar te stel, noem die Voorsitter dat Dr Van der Merwe van die LNR-IGG versoek is om die handleiding op te dateer, en moontlik te kombineer met die siekte­handleiding. Mnr Weber bevestig dat hy getaak is met die opdatering van die produksiehandleiding, en dat die LNR-IGG beoog om die produksie- en siekte-handleidings te kombineer. Die Voorsitter onderneem om met Dr Van der Merwe in verbinding te bly oor hierdie aangeleentheid.

    2. Opname ten opsigte van besoeke aan die PNS-webtuiste

      Die Voorsitter reël dat dié saak verder intern hanteer word.

    3. Inkomste- en Kosteramings

      (Besluit 14.3.1 van Sojawerkgroepnotule van 29 Januarie 2008)

      Die Voorsitter verwys die lede na die PNS se amptelike inkomste- en kosteramings, soos opgestel deur Mnr Jou­bert. Hy sê die model is ingesluit om die aandag weereens te vestig op die effek wat prysaanpassings ten opsigte van veral brandstof en kunsmis op insetkoste uitoefen. Hy sê GraanSA is ook versoek om aandag te skenk aan die kwessie van kosteramings, en vra na terugvoering in hierdie verband. Hy neem die produ­senteprysraming vir droëland sojabone vir die oostelike Hoëveld, soos voorberei deur Mnr Botha, ter tafel.

      Mnr Botha sê hy het in dié raming droëland mielies met droëland sojabone vergelyk, met kostes van toepassing soos op 22 April 2008 in vergelyking met kostes van toepassing ten opsigte van die voorafgaande jaar. Mnr Botha wys daarop dat die produksiekoste van sojabone tot op datum reeds met 46% gestyg het, teenoor die van mielies, wat met 41% gestyg het. Hy sê die koste van veral fosfaat- en kaliumbemesting het tot die dramatiese styging by sojabone gelei. Hy noem dat die verwagte prys om gelyk te breek, of die sogenaamde verwagte termyn­markprys sonder wins vir sojabone, die vorige jaar R2 700 beloop het, en hierdie jaar R3 947 beloop. Hy sê dieselfde berekening ten opsigte van 'n gelykbreekprys vir mielies, dui op 'n SAFEX-prys van R1 400 die vorige jaar, en R1 900 in die huidige jaar. Hy meld opsommend dat mielieverbouing hierdie jaar 'n groot risiko inhou, terwyl sojabone die geleentheid bied om wins te maak. Hy noem dat die SAFEX-prys van sojabone soos op 22 April vir lewering April 2009 R4 265 beloop, wat 'n 52% verhoging teenoor die SAFEX-prys in die ooreen­stemmende tyd gedurende 2008 verteenwoordig. Hy noem dat die mielieprys hierteenoor van R1 500 met 23% verhoog het na R1 800, en sê 'n moontlike skuif van mielies na sojabone sal deur ekonomiese faktore ondersteun word.

      Die Voorsitter rapporteer dat die dienste van 'n onaf­hanklike landbou-ekonoom bekom is om die PNS se syfers op datum te bring, en onderneem om dié syfers by 'n volgende vergadering beskikbaar te stel. Hy sê die modelle is daarop gerig om produsente in staat te stel om hulle eie berekenings te doen, gebaseer op hul eie kostes, aan­gesien alle produsente se bemestingskostes nie nood­wendig ooreenstem met dié van Mnr Botha óf Mnr Joubert nie. Hy benadruk dat die syfers 'n jaar-op-jaar situasie reflekteer, dat verborge voordele nie ingebou is by die ramings nie, en dat daar eerder na 'n gewas in 'n wisselboustelsel gekyk moet word. Hy reël dat Mnr Botha se kosteramings by die stukke van 'n volgende vergadering ingebind word.

      Mnr Potgieter meld dat hy inligting ontvang het wat daarop dui dat dit ook meer voordelig sal wees om sojabone eerder as mielies onder besproeiing te plant. Hy sê 'n wins van R9 741 kon tydens 2007/2008 op 'n 12 ton/ha mielie-oes teen R1 740/ton behaal word, terwyl 'n wins van R4 500 behaal kan word op dieselfde oes vir die komende jaar, met die nuwe insetkoste in berekening gebring. Hy noem dat dit nie maklik is vir 'n produsent om 12 ton/ha af te haal nie. Hy sê terwyl 'n winsmarge van R9 100 hierdie jaar met sojabone behaal kon word met die insette van die vorige jaar en die huidige prys in berekening gebring, kan daar met die nuwe insetkoste na 'n winsmarge van R6 900 beweeg word op 'n opbrengs van 3,5 ton/ha, wat redelik maklik haalbaar is onder besproeiing.

      Die Voorsitter bedank Mnre Botha en Potgieter vir hulle insette.

      Besluite:

      1. Dat die produsenteprysraming vir droëland sojabone vir die oostelike Hoëveld, soos voorberei deur Mnr Botha, by die dokumentasie van die volgende vergadering ingebind word.

        Mnr Keun

      2. Dat die PNS se kosteramings, soos bygewerk deur die onafhanklike landbou-ekonoom, by 'n volgende verga­dering beskikbaar gestel word.

        Mnr Keun

    4. Spreker insake onkruid wat moontlik nie be­heer kan word op Roundup Ready sojaboon­aanplantings nie

      (Besluit 14.4.1 van Sojawerkgroepnotule van 29 Januarie 2008)

      Die Voorsitter noem dat 'n kundige nog genooi moet word om 'n volgende vergadering van die Sojawerkgroep toe te spreek oor onkruid wat moontlik nie beheer kan word op Roundup Ready sojaboonaanplantings nie. Hy sê daar sal tydens die buitelandse studietoer ook aandag geskenk word aan die hele kwessie van glifosate, gesien in die lig van die vreemde stellings wat oor Roundup Ready gemaak word.

      Besluit:

      1. Dat 'n kundige genooi word om 'n volgende vergadering van die Sojawerkgroep toe te spreek oor onkruid wat moontlik nie beheer kan word op Roundup Ready soja­boonaanplantings nie.

        Mnr Keun

    5. "IV Silicon in Agriculture Conference, Wild Coast Sun, KZN, 26 to 31 October 2008"

      Die lede neem kennis dat die "IV Silicon in Agriculture Conference" vanaf 26 tot 31 Oktober by die Wilde Kus aangebied word, en dat die Sojawerkgroepvergadering, wat beoog is vir 8 Oktober, sal skuif na 24 Oktober, sodat die lede van die Werkgroep die geleentheid gegun kan word om tydens die vergadering samesprekings te voer met dié twee buitelandse sprekers wat onderskeidelik deur die PNS en die OAK/OPOT geborg word.

  15. Datums van volgende vergaderings

    Die datums vir die Sojawerkgroepvergaderings tydens 2008 is soos volg geskeduleer:

    • 29 Julie 2008
    • 24 Oktober 2008
    • 25 November 2008
  16. Afsluiting

    Die Voorsitter bedank die teenwoordiges vir insette gele­wer. Die vergadering verdaag om 13:50.