Newsletters / Archives / Canolafokus Archives / 2009 Canolafokus No 41

CanolaFokus logo

Canolafokus 41   Oktober 2009

Indeks van artikels


Canola – die gesonde keuse

PJA Lombard en L Smorenburg
Instituut vir Plantproduksie

Vir die mens

Die gesondheidsvoordele van canola olie maak produkte soos canola-kookolie en canola margarine die ideale keuse vir verbruikers wat ʼn produk soek wat nie net goed smaak nie, maar ook goeie gesondheid bevorder.

Hoewel vet 'n belangrike rol as energiebron in die menslike dieet speel, is dit voordelig om weg te beweeg van versadigde dierlike vet, wat geassosieer word met hoë cholesterol, hoë bloeddruk, die risiko van koronêre hartsiektes, kanker en vetsug. Die ideaal is om 'n dieet te volg wat die inname van versadigde vet en transvet beperk en te vervang met gesonde onversadigde vet. Canola olie is laag in versadigde vet (7%), maar hoog in mono-onversadigde vet (61%), en is daarom die ideale plaasvervanger vir dierlike vet. Dit is vry van transvet, wat die "slegte" LDL cholesterol in die bloed verhoog. Die hoë persentasie mono-onversadigde vet in canola olie werk die effek van die "slegte" LDL cholesterol in die bloed en die risiko van koronêre hartsiektes teen. Dit verlaag egter nie die vlakke van "goeie" HDL cholesterol nie.

Canola olie is ''n uitstekende bron van twee poli-onversadigde essensiële vetsure, naamlik linoleensuur (Omega-3) en linoleïensuur (Omega-6). Essensieel beteken dat die liggaam dit nie kan vervaardig nie en dat dit deur middel van voedsel ingeneem moet word. Essensiële vetsure bied ondersteuning aan die kardiovaskulêre-, voortplanting-, immuun- en senustelsels. Die menslike liggaam benodig essensiële vetsure vir gesonde selmembrane sodat selle optimaal kan funksioneer. Dit speel 'n belangrike rol in die groeiproses, waaronder breinontwikkeling by kinders, maar ook by die vervaardiging van prostaglandiene, wat liggaamsfunksies soos hartritme, bloeddruk, bloedstolling en vrugbaarheid reguleer. 'n Tekort aan linoleensuur (Omega-3) word geassosieer met verswakte geheue,sensitiviteit van senu-eindpunte, depressie, neiging tot bloedklonte, verswakte immuunfunksies, verhoogde trigliseriedes en "slegte" cholesterol (LDL) vlakke, onreëlmatige hartklop, ongemak tydens menopouse en vertaagde groei by kinders.

In die bekende die Lyon-dieet hartstudie-projek waar vrywilligers wat reeds 'n hartaanval oorleef het kon kies tussen hul gewone dieet en 'n Mediterreense dieet wat ryk is aan alfa-linoleensuur vanaf canola olie en margarine, is 'n afname in "slegte" cholesterol en 'n toename in "goeie" cholesterol ondervind. 'n Dieet ryk aan alfa-linoleensuur het tot 'n 70% afname in hartsiektes en –sterftes gelei. Daar is ook gevind dat een eetleplel (15ml) canola olie per dag voorsien in die totale aanbevole daaglikse inname van alfa-linoleensuur (Omega-3) vir vroue en 80% van die inname vir mans.

In die onderstaande tabel kan gesien word hoe die vet samestelling van canola olie vergelyk met ander olies.

Figuur 1
Comparison of Dietary Fats
Bron: Canola Info – Canola Oil is healthy

Figure 1: Comparison of saturated, polyunsaturated and monounsaturated fats

Nuwe navorsing toon dat 'n dieet ryk aan mono-onversadigde vet help om die bloedglukose vlakke van Tipe 2 diabete konstant te hou en wanneer versadigde vet deur mono-onversadigde vet vervang word, het dit selfs 'n beter effek op bloedglukosevlakke as 'n koolhidraatryke laevet dieet.

Oleïensuur (Omega-9), 'n mono-onversadigde vetsuur, word in beduidende hoeveelhede (61%) in canola olie aangetref. Behalwe vir die eienskap dat dit die risiko van hartsiektes en kanker verlaag, maak dit canola olie ook meer geskik as kookolie weens 'n beter ver­draagsaamheid teenoor hitte en beter stabiliteit teenoor oksidasie, wat 'n langer raklewe verseker.

In Kanada en Australië is canola cultivars ontwikkel wat selfs 'n groter persentasie oleïensuur (≥66%) bevat en minder (ongeveer 3%) van die poli-onversadigde alfa-linoleensuur (Omega-3), terwyl 'n linoleïen­suurinhoud van 18-20% gehandhaaf word. Die canola olie met die hoër oleïensuur inhoud het 'n hoër rookpunt (246ºC) as bv sonneblomolie (240ºC) en word veral gebruik in kommersiële voedselproduksie en ander grootskaalse voedselvoorbereiding soos restaurante, koshuise, supermarkte en deli's waar beter verdraagsaamheid teenoor hitte en langer gebruik van die olie groot kostebesparing meebring. Studies het getoon dat klassieke canola olie ook 'n hoë rookpunt (242ºC) het en geskik is vir sotering, roerbraai, diepbraai, bak, en fondue, maar weens die hoër linoleen- en linoleïensuur inhoud ook baie geskik is vir gebruik in marinades en slaaisouse.

Die stabiliteit van 'n olie hou direk verband met die graad van onversadigbaarheid van die vetsure. Transvet word kunsmatig gevorm wanneer vloeibare groente olies in soliede vet verander word deur die proses van hidrogenase, soos by die maak van margarien. Canola olie is die ideale produk om hiervoor te gebruik, omdat dit geen transvet bevat nie en ook laag in versadigde vet is. Transvet het dieselfde slegte eienskappe van versadigde vet, omdat dit ook die LDL vlakke of "slegte" cholesterol in die bloed verhoog en die vlakke van HDL of "goeie" cholesterol verlaag en die risiko van hartsiektes verhoog. 'n Studie aan die Universteit van Lethbridge in Kanada het gevind dat min of geen transvet vorm tydens die gebruik van klassieke canola olie vir bak-, roerbraai-, en diepbraai doeleindes.

Vir die omgewing

Die unieke samestelling van canola olie met 61% mono-onversadigde, 32% poli-onversadigde en 7% versadigde vet, maak dit nie net geskik vir die mens se hart nie, maar ook as brandstof vir motorvoertuie en ander binnebrandmasjiene in die vorm van biodiesel. Versadigde vet verstop nie net are in die mens se liggaam nie nie, maar ook dieselenjins in uiters koue weer. Die groot persentasie onversadigde vet in canola olie veroorsaak dat die vriespunt veel laer is as in biodiesel gemaak van ander olies en biodiesel van canola olie is dus uiters geskik as brandstof in koue klimaatstreke.

Biodiesel gemaak van canola olie het ook verskeie ander voordele vir die omgewing

Biodiesel stel tydens ontbranding beduidend minder swaeldioksied en koolstofmonoksied as fossielbrandstowwe vry. Daarom het die gebruik van canola biodiesel 'n positiewe uitwerking op die kwaliteit van lug en dus ook indirek vir die mens se gesondheid. Die vrylaat van giftige koolstofmonoksied is 50% minder, koolwaterstof 93%, rookmis partikels 30% en sulfate wat suurreën veroorsaak 100% minder met die gebruik van canola biodiesel in plaas van fossielbrandstof. Biodiesel is vry van poli-akriel aromatiese koolwaterstowwe wat gevorm word wanneer konvensionele diesel nie volledig verbrand nie. Hierdie koolwaterstowwe word verbind met long-, maag- en velkanker.

Biodiesel van canola olie is omgewingsvriendelik omdat dit bio-afbreekbaar is. Navorsing het bewys dat biodiesel vier keer vinniger en tot 'n groter mate biologies afbreek as konvensionele diesel.

Die ontbrandingstemperatuur van biodiesel is ook hoër as die van konvensionele diesel. Biodiesel is dus 'n veiliger alternatief as konvensionle diesel om te stoor en te vervoer.

In die landbou hou die verbouing van canola ook verskeie voordele in.

Deur die inskakeling van canola as wisselbougewas vir kleingrane soos koring en gars, word die voorkoms van kleingraansiektes verminder deurdat canola nie as gasheer kan optree vir die patogene wat die kleingraansiektes veroorsaak. Die siekteketting word dus verbreek en die patogene sterf af. Boonop bestaan daar wetenskaplike bewyse dat canola 'n bio-berokings funksie kan vervul deurdat canola plantwortels en oesreste tydens verrotting chemiese stowwe (glukosinolate) kan vrystel wat sommige skadelike grondorganismes kan onderdruk.

Die plant van canola in 'n rotasie met graangewasse vergroot die verskeidenheid onkruiddoders wat gebruik kan word om rede canola 'n breëblaargewas is (teenoor koring en gars as graangewasse) en daar canola cultivars beskikbaar is wat triasien-, imazamox-, en selfs glifosaattolerant is. Deur hierdie groter verskeidenheid van beskikbare onkruiddoders oordeelkundig te gebruik, kan die ontwikkeling van onkruiddoderweerstandbiedende onkruide meer doeltreffend beheer word.

Die canolaplant ontwikkel 'n penwortelstelsel wat tot 1.0 meter diep in die grond kan penetreer om by afsterwing kanale in die grond te laat ontstaan. Hierdie biologiese ploeg-aksie van canola kan veral in stelsels van verminderde grondberwerking, 'n verbeterde wortelstelsel van die daaropvolgende graangewasse veroorsaak.

Bogenoemde voordele het tot gevolg dat kleingraangewasse wat na canola op dieselfde grond verbou word, 20-25% hoër graan opbrengste lewer en die wisselboustelsel as geheel meer winsgewind is.

Canola is dus voorwaar 'n gesonde keuse vir beide die mens en die omgewing.


Olie-inhoud van canola: 2009

PJA Lombard en L Smorenburg
Instituut vir Plantproduksie

Canola se gewildheid as oliegewas het oor die afgelope twee dekades die vinnigste toegeneem in die wêreld, meer as enige ander oliegewas. Die wêreldproduksie het van 26.1 tot 46.2 miljoen ton toegeneem vir die periode 1993-2004. Die VSA se bydra tot wêreldproduksie was 6.8 miljoen ton in 2005. Australië se produksie van canola in 2008 was 1,87 miljoen ton terwyl die produksie van die Wes-Kaap 30800 ton was in 2008. Canola bly nietemin 'n belangrike gewas in Suid-Afrika, aangesien ons 'n netto invoerder van plantaardige olie en proteïene is. Die RSA het in 2008 1.26 miljoen ton oliekoek ingevoer as proteïenbron en volgens Dr Johan Willemse was die invoere van olie tussen 700 000 en 800 000 ton (SA Graan, April 2005).

Canola is 'n baie belangrike wisselbougewas vir die produsente van die Wes- en Suid-Kaap. Hoewel die oppervlakte onder verbouing die afgelope paar seisoene nie veel verander het nie, moet produsente besef die plaaslike mark vir die kwaliteitproduk is baie groot. Die PNS en ander rolspelers in die Wes-Kaap belê jaarliks baie geld en tyd aan verskeie projekte met die fokus op navorsing wat canolaproduksie te optimaliseer. Hierdie artikel bevat die resultate van elke cultivar van die 2008 seisoen.

Klimaatstoestande in die Swartland was gedurende die 2008 baie gunstig vir gewasverbouing. Die seisoen was baie lank in vergelyking met ander jare en bogemiddelde reënval vanaf Junie tot September het voorgekom. Die toestande in die Suid-Kaap was ongelukkig minder gunstig vir gewasproduksie. In die oostelike dele kon produsente wel vroeg plant en daardie canola aanplantings het goeie opbrengste behaal. Gunstige toestande laat in die seisoen het gehelp dat canola aanplantings in die westelike dele in 'n mate kon herstel. Rietpoel (45.3mm) en Boontjieskraal (52.3mm) het goeie reën gedurende September gehad, beide is in die westelike tot middel Rûens geleë. Die ander belangrike faktor by saad- en olie-produksie is die temperatuur tydens die vul van saad. Die gemiddelde temperatuur in die Swartland en Suid-Kaap was onderskeidelik 0.35C° en 0.25C° laer in September as in Augustus (Figuur 1 en 2). Olie in canolasaad word volgens 'n S-kurwe neergelê. Die proses begin 20 dae na blom en bereik 'n plato 60 dae na blom. Ongelukkig is dit so dat die normale seisoen in die Wes-Kaap moontlik nie lank genoeg of optimaal is vir die vaslê van olie in die saad nie.

Metodes en bespreking

Die saad van elke perseel in die nasionale cultivar evaluasieprogram in 2008 is ontleed om die olie- en proteïeninhoud daarvan te bepaal. Saad is onleed deur die NIRI by Elsenburg Diereproduksie Laboratorium.

Die olieproduksie (kg/ha-1) van TT-tipe canola was gemiddeld 183kg minder as die van konvensionele canola (Tabel 1). Die verskil word hoofsaaklik toegeskryf aan 'n laer saadopbrengs per ha, die opbrengs van die TT-cultivars was gemiddeld 12% laer as die konvensionele groep in die Swartland en Suid-Kaap. Die gemiddelde olie-inhoud van TT-cultivars in 2008 was 32.6%, teenoor 33.3% van die konvensionele cultivars (Tabel 3).

Tabel 1
Olie opbrengs kg/ha-1: 2008
Konvensioneel Langgewens 1 Langgewens 2 Porterville Darling Tygerhoek 1 Riversdal Gemiddeld
Tarcoola 702 948 859 557 641 528 703
AV Garnet 1065 1260 1118 890 985 670 994
Spectrum 836 940 879 934 446 537 763
Jade 934 973 899 956 658 697 856
AGA Max* 1011 936 976 938 760 735 893
Muster 885 989 845 810 512 526 762
44Y06* 1061 1167 977 864 597 669 888
44C11 924 1105 896 678 512 455 761
Hyola 61* 729 893 858 731 722 677 769
Gemiddeld 906 1025 925 816 646 610 821
Clearfield
44C73 CL 628 884 758 567 552 423 632
45Y77 CL* 972 948 971 813 689 533 821
Rocket CL 953 852 769 715 514 439 705
44C79 CL 854 901 744 731 681 434 724
Gemiddeld 850 898 813 708 611 458 722
TT
Bravo 668 753 797 486 641 600 655
Rottnest 633 636 686 437 580 596 593
Cobbler 588 847 718 469 495 530 608
Tornado 836 778 848 521 591 465 669
Thunder 789 751 845 461 580 512 651
Gemiddeld 703 753 779 475 577 541 638

Die olieproduksie by Darling was baie minder as by die res van die proewe (Tabel 1). Dit word toegeskryf aan 'n baie laer oliepersentasie by Darling as by die res van die lokaliteite (Tabel 3).

In 2007 was die olie-inhoud van die Darlingproef egter beter as die Swartland gemiddelde, terwyl die olie-inhoud in 2006 weer 3.6% laer was (proefgemiddelde van 28.3%, 2006) as die gemiddelde. Die proef was in 2006 en 2008 op dieselfde land aangeplant en die twee persele was baie naby aan dieselfde plek. Die lae olie-inhoud kan moontlik aan grondeienskappe toegeskryf word, aangesien die saadopbrengs van die proef die 2de hoogste was in 2008 in die Swartland.

Volgens literatuur neem die proteïeninhoud gewoonlik toe indien die olie-inhoud daal. Die proteïenproduksie by Darling was dan ook hoër as by die ander lokaliteite met die uitsondering van die TT-cultivars (Tabel 2). Die Darling saadopbrengs van die TT-cultivars was egter laer as by die ander lokaliteite in 2008. In 2006 was die proteïeninhoud by dié lokaliteit ook die hoogste van al die proewe.

Tabel 2
Ru-proteïen opbrengs kg/ha-1: 2008
Konvensioneel Langgewens 1 Langgewens 2 Porterville Darling Tygerhoek 1 Riversdal Gemiddeld
Tarcoola 428 566 465 503 375 359 452
AV Garnet 565 734 584 736 589 494 621
Spectrum 537 598 598 774 304 446 544
Jade 573 521 477 725 383 532 535
AGA Max* 611 592 514 724 479 569 582
Muster 546 564 489 691 312 437 508
44Y06* 686 738 567 723 397 541 612
44C11 618 690 577 670 327 390 552
Hyola 61* 491 538 519 635 485 473 524
Gemiddeld 563 616 533 689 406 471 548
Clearfield
44C73 CL 397 525 465 514 352 364 440
45Y77 CL* 599 590 628 772 475 416 582
Rocket CL 537 476 437 563 308 335 447
44C79 CL 544 542 449 593 418 320 481
Gemiddeld 520 533 494 609 387 359 494
TT
Bravo 461 556 544 466 444 457 490
Rottnest 419 408 472 390 376 416 415
Cobbler 406 580 450 406 293 431 428
Tornado 530 495 516 470 381 356 462
Thunder 535 515 562 437 382 410 477
Gemiddeld 470 511 509 434 375 414 452

Tarcoola is die cultivar wat die vroegste blom en fisiologiese rypheid bereik van al die cultivars. Die saad word dus gevul tydens koeler temperature en kan die rede wees vir die hoë olie-inhoud van die saad (Figuur 1 en 2). Garnet se olieproduksie per hertaar is die hoogste van al die cultivars. Dit word toegeskryf aan die feit dat die cultivar die hoogste gemiddelde saadopbrengs in die 2008 proewe gehad het tesame met 'n bogemiddelde olie-inhoud (Tabel 3).

Die Clearfield cultivar 45Y77 se olieproduksie per hektaar (821kg) was beter as die groepgemiddelde (CL) van 722kg.ha-1 (Tabel 1). Die olieproduksie per hektaar van 45Y77 is dieselfde as die konvensionele groep se gemiddelde. Hierdie cultivar se saadopbrengs (2.513 ton/ha-1) was in 2008 die hoogste binne die Clearfield groep en 4de hoogste van al die cultivars. 45Y77 se saad olie-inhoud was egter laer as dié van sy groepgemiddelde (Tabel 3) met 'n bogemiddelde proteïeninhoud (Tabel 4).

Tabel 3
Canola olie-inhoud (%): 2008
Konvensioneel Langgewens 1 Langgewens 2 Porterville Darling Tygerhoek 1 Riversdal Gemiddeld
Tarcoola 35.9 36.5 38.4 29.3 37.3 34.3 35.3
AV Garnet 37.1 35.5 37.1 30.0 35.2 32.1 34.5
Spectrum 32.8 32.6 31.9 28.8 31.8 29.9 31.3
Jade 35.5 37.3 38.5 32.5 37.4 33.3 35.8
AGA Max 34.0 33.7 36.1 31.1 34.4 31.4 33.4
Muster 33.5 34.5 34.5 28.5 34.2 29.5 32.5
44Y06 33.7 33.9 35.2 29.4 33.6 31.2 32.8
44C11 31.6 33.1 33.0 25.7 33.6 29.7 31.1
Hyola 61 33.1 34.6 34.9 29.1 34.0 33.3 33.2
Gemiddeld 34.1 34.6 35.5 29.4 34.6 31.6 33.3
CL
44C73 34.0 35.4 35.1 28.3 34.8 30.1 32.9
45Y77 34.7 34.6 33.9 27.6 33.7 31.7 32.7
Rocket CL 37.0 37.3 36.4 30.7 36.6 32.8 35.1
44C79 33.7 35.6 35.6 31.0 36.0 33.3 34.2
Gemiddeld 34.9 35.7 35.3 29.4 35.3 32.0 33.7
TT
Bravo TT 32.5 31.7 33.4 27.4 33.4 32.9 31.9
Rottnest 32.8 33.4 32.5 28.0 34.0 33.5 32.4
Cobbler 33.3 33.0 35.3 28.8 36.1 30.4 32.8
Tornado 35.0 35.1 35.9 29.0 35.7 31.9 33.8
Thunder 33.7 33.0 34.0 27.7 34.7 30.5 32.3
Gemiddeld 33.5 33.2 34.2 28.2 34.8 31.9 32.6

Saadmonsters is ontleed onder leiding van Prof T Brand (Elsenburg Diereproduksie Laboratorium, NIRS resultate)

Figuur 1
Gemiddelde maksimum temperatuur vir Swartland en Suid-Kaap (2008)

Figuur 1: Gemiddelde maksimum temperatuur vir Swartland en Suid-Kaap (2008)

Figuur 2
Gemiddelde minimum temperatuur vir Swartland en Suid-Kaap (2008)

Figuur 2: Gemiddelde minimum temperatuur vir Swartland en Suid-Kaap (2008)

Tabel 4
Ru-proteïen (%): 2008
Konvensioneel Langgewens 1 Langgewens 2 Porterville Darling Tygerhoek 1 Riversdal Gemiddeld
Tarcoola 21.9 21.8 20.8 26.5 21.9 23.29 22.7
AV Garnet 19.7 20.7 19.4 24.8 21.1 23.66 21.5
Spectrum 21.1 20.7 21.7 23.9 21.7 24.77 22.3
Jade 21.8 20.0 20.4 24.6 21.8 25.41 22.3
AGA Max 20.5 21.3 19.0 24.0 21.7 24.34 21.8
Muster 20.6 19.7 20.0 24.3 20.9 24.50 21.7
44Y06 21.8 21.4 20.4 24.6 22.4 25.21 22.6
44C11 21.1 20.7 21.3 25.4 21.4 25.41 22.6
Hyola 61 22.3 20.8 21.1 25.3 22.8 23.27 22.6
Gemiddeld 21.2 20.8 20.5 24.8 21.7 24.4 22.2
CL
44C73 21.5 21.0 21.6 25.6 22.2 25.92 23.0
45Y77 21.4 21.5 21.9 26.2 23.3 24.72 23.2
Rocket CL 20.9 20.8 20.6 24.2 21.9 25.04 22.3
44C79 21.5 21.4 21.5 25.2 22.1 24.56 22.7
Gemiddeld 21.3 21.2 21.4 25.3 22.4 25.1 22.6
TT
Bravo TT 22.4 23.4 22.8 26.3 23.1 25.10 23.9
Rottnest 21.7 21.4 22.3 25.0 22.0 23.40 22.6
Cobbler 23.0 22.6 22.1 25.0 21.4 24.73 23.1
Tornado 22.2 22.3 21.8 26.1 23.0 24.45 23.3
Thunder 22.9 22.6 22.6 26.3 22.9 24.43 23.6
Gemiddeld 22.4 22.5 22.3 25.7 22.5 24.4 23.0

Saadmonsters is ontleed onder leiding van Prof T Brand (Elsenburg Diereproduksie Laboratorium, NIRS resultate)

Gevolgtrekking

Die olieinhoud van die canolasaad in die Wes-Kaap is veel laer as die minimum standaard van 40% wat in Australië vereis word. Hierdie cultivars het almal, met die uitsondering van AGA Max, wel die genetiese vermoë om 40% en meer olie te bevat. Die cultivars het in die proewe 'n gemiddelde 32.6% tot 33.7% olie bevat. Verdere navorsing sal gedoen moet word om te bepaal waarom die olie-inhoud van canolasaad so laag is in die Wes-Kaap.

DOWNLOAD ISSUE


Enquiries / Navrae

Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Direktoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. pietl@elsenburg.com

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Prof A Agenbag   Izane Leygonie
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter