Newsletters / Archives / Lupino / 2000 Lupino No 3

Lupino logo

LUPIENWERKGROEP NUUSBRIEF

Lupino 3   September 2000


Voordele van lupiene

Herman Agenbag

Dit blyk dat die waarde van lupiene as wisselbougewas met kleingrane nog nie terdeë deur produsente in die Wes- en Suid-Kaap besef word nie. Daar is ook 'n algemene neiging om geïsoleerd na lupiene te kyk in plaas van om die gewas oor 'n aantal jare te beoordel as deel van 'n gesonde wisselboustelsel. Verder word daar ook net gelet op die direkte kontant inkomste van lupiene teenoor koring sonder om al die byvoordele van lupiene soos die weidingswaarde van oesreste en stoppels, besparing op stikstofbemesting by opvolggewas, ens. in berekening te bring.

Lupine hou aansienlike ekonomiese voordele vir koringprodusente in wat nie langer geïgnoreer kan word nie. Die belangrikste van hierdie voordele is:

Wisselbougewas

Wêreldwyd word lupiene tans seker as een van die mees populêre wisselbougewasse beskou in kleingraanboerderystelsels. Die heilsame invloed van lupiene op die saadopbrengs van koring na lupiene waar oesverhogings van tussen 30 tot 48% in Australië sowel as plaaslik verkry is, is algemeen bekend. Die proteïeninhoud van koring na lupiene asook kwaliteit (graad) het beduidende toenames getoon. Die koringprodusente moet begin besef dat die inskakeling van lupiene as wisselbougewas 'n waarborg vir ekonomies volhoubare en winsgewende koringproduksie is. Resultate van plaaslike studiegroepe toon 'n verlaging in insetkoste van ongeveer R80 per hektaar by koring na lupiene teenoor koringmonokultuur, terwyl die bruto marge per hektaar onderskeidelik R1 152 en R893 was. Die hoër saadopbrengs en beter kwaliteit van koring na lupiene kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die volgende voordele van lupiene:

Verbetering van grondstruktuur

Lupine is 'n diepwortel gewas met wortelpenetrasie van 300mm en selfs meer. Die aggressiewe wortelpenetrasie hef grondverdigtingslae effektief op en maak dit meer toeganklik vir koringwortels op soek na voedingstowwe en vog. Sodoende word gronde beter deurlug en verbeter die dreinering van grond. Die diep wortelstelsel van lupiene hersirkuleer veral kalium vanuit die ondergrond en stel dit beskikbaar vir opvolggewasse. Volgens Australiese bevindings het die diep penetrasievermoë van lupienewortels dieselfde losmaak effek op grond as 'n diep (± 300mm) skaarbewerking en impliseer dit 'n aansienlike afname in bewerkingskoste by die opvolggewas.

Stikstofbinding

Lupine as peulgewas beskik oor die vermoë om lugstikstof te bind vir eie gebruik en asook tot voordeel van die opvolggewas. Plaaslike navorsing het bewys dat 'n goeie stand lupiene ongeveer 140-150kg N per hektaar kan bind. Indien 'n saadoes afgehaal word, word ongeveer 100kg N verwyder en bly daar dus 40-50kg N per hektaar oor vir die opvolggewas wat 'n aansienlike besparing op N-bemesting die volgende seisoen tot gevolg het. Stikstof wat deur lupiene gebind word bly vir lang periodes in die grond aangesien dit nie maklik loog nie.

Siektebreek

Die belangrikste koringsiektes, naamlik vrotpootjie en oogvlek, word baie effektief deur 'n wisselboustelsel beheer. Vrotpootjie (Gaeumannomyces graminis var. tritici) veroorsaak 'n verlies van gemiddeld 60% per besmette plant. Dit beteken dat indien slegs 20% van die plante op 'n land besmet is, 'n verlies van ongeveer 12% gelei sal word. Oogvlek (Pseudocercosporella herpotrichoides), wat koring laat omval, veroorsaak 'n gemiddelde verlies van 30% per besmette plant, maar veroorsaak ook verdere verliese omdat dit die stroopproses bemoeilik en baie koringare op die land agterbly.

Betekenisvol minder vrotpootjie en oogvlek het sedert 1986 in 'n langtermyn wisselbouproef op Langgewens voorgekom, waar koring afgewissel is met medics of lupiene waarin die grasonkruide beheer is, as by monokultuurkoring. Dit is dus belangrik om wel die grasonkruide te beheer ten einde die voordeel te benut. Die voorkoms van oogvlek het gemiddeld vanaf 22.8% na 1.2% afgeneem, terwyl die voorkoms van vrotpootjie gemiddeld vanaf 29.2% na 11.8% afgeneem het. Die besmetting was van so 'n aard dat dit nie bespuiting geregverdig het nie. Verder was die koringopbrengs in wisselboutoestande gemiddeld 25.6% hoër as die monokultuurkoring.

Beheer probleemonkruide

Probleem grasonkruide soos predikantsluis by koring kan effektief in die lupienefase beheer word terwyl probleem breëblaaronkruide soos dubbeltjies en gousblom by lupiene effektief weer in die koringfase beheer kan word. Dit beteken dus 'n verbetering in onkruidbeheer in beide fases van die wisselboustelsel. Probleme met onkruiddoderweerstand veral by grasse in koring word totaal uitgeskakel deurdat meer aggressiewe grasdoders tydens die lupienefase gebruik kan word. Lupine stel dus die boer in staat om 'n geïntegreerde onkruidbeheerstategie te ontwikkel en te implementeer.

Weidingswaarde

Oesverliese by lupiene tydens die oesproses beloop ongeveer 10-12% by springtrae kultivars en 18-20% by kultivars wat nie springtraag is nie. Op 'n saadopbrengs van 1 ton per hektaar bereken, impliseer dit 100-200kg saad wat op die land uitval. Hierdie saad tesame met ander oesreste soos stoppels, peuldoppe en blare verskaf waardevolle en goeie kwaliteit weiding aan skape en selfs beeste gedurende die kritieke droë somermaande wanneer geen ander weiding beskikbaar is nie. Die proteïninhoud van die blare, peule en stoppels word bereken op ongeveer 10,4%, 2,6% en 6,4% onderskeidelik terwyl die van sade wissel tussen 30-35%. Volgens Australiese navorsingresultate het die lampersentasie by ooie wat tydens paring op lupiene stoppelweiding was, dramaties verhoog. Verder blyk dit ook baie goeie weiding vir speenlammers te wees. Lupine word ook met groot sukses aangewend as proteien komponent in voedingsrantsoene van varke, pluimvee en melkbeeste. Lupine skakel dus goed in by saai- en veeboerderystelsels.

Beter benutting van plaasimplemente

Lupine in 'n wisselboustelsel met graan bring mee dat plaasimplemente meer koste-doeltreffend aangewend word. Vroeë saai en oes van lupiene verhoed botsings met koringproduksie aktiwiteite.

Bewaringsboerdery

Lupine skakel ook baie goed in by bewaringsboerdery waar minimum bewerking toegepas word. Lupine is ook ideaal vir stoppelbewerking aangesien lupienestoppels minder probleme skep as graanstoppels. Lupinestoppels bo-op die grond verminder ook die risiko van wind- en watererosie op lande kort na saai.

Bogenoemde voordele bewys dat lupiene 'n baie belangrike rol in 'n graanboerderystelsel kan speel en dus nie langer oor die hoof gesien kan word nie.


Prysvooruitskatting en internasionale markinligting

Herman Agenbag

Die prys van lupiene word hoofsaaklik bepaal deur die plaaslike prys van sojaboonoliekoek (47% proteïen). Die prys van ingevoerde sojaboonoliekoek uit die VSA is tans R1 560 per ton. Volgens die waarde van lupiene teenoor sojaboonoliekoek sal die prys van lupiene by die veevoerfabriek gelewer soos volg wees:

Smalblaarlupiene   (Merrit, Eureka, ens.)

  • Pluimveerantsoene (53% van 47%-oliekoek) = R827 per ton
  • Suiwelrantsoene (52% van 47%-oliekoek) = R811 per ton

Breëblaarlupiene   (Esta, Kiev, ens.)

  • Pluimveerantsoene (75% van 47%-oliekoek) = R1 170 per ton
  • Suiwelrantsoene (80% van 47%-oliekoek) = R1 248 per ton

Geliewe daarop te let dat bogenoemde pryse nie produsente prys is nie aangesien kostes soos vervoer, opberging, finansiering ens nog verhaal moet word.

Lupinekontrakte

Daar is tans nog kontrakte beskikbaar vir ongeveer 3 000 ton soetlupiene (breë- en smalblaar) teen pryse van onderskeidelik R920 en R900 per ton. Produsente wat belangstel en hiervan wil gebruik maak kan mnr Herman Agenbag skakel by 021 808 5271 of 082 897 5178 (selfoonnommer). Indien marktoestande verbeter mag hierdie pryse ook selfs verbeter.


Enquiries / Navrae

Institute for Plant Production, Department of Agriculture Western Cape
Instituut vir Plantproduksie, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. pietl@elsenburg.com

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Dr N Kotze
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter