Notule

Sojawerkgroepvergadering

gehou om 10h00 op 22 Oktober 2014 in die Komiteekamer, PNS-kantoorgebou, Woodmead



  1. Opening

    Die vergadering word met gebed geopen deur Dr Jan Dreyer.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemeijer, heet almal welkom by die laaste vergadering van die Sojawerkgroep van die jaar. Hy heet in die besonder vir Mnre Du Plessis en Swanepoel, produsente van die Noordwesprovinsie, en vir Mnr Kritzinger van Syngenta welkom, wat vir die eerste keer 'n vergadering van die Sojawerkgroep bywoon.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Mnr J Botma Produsent: Vrystaat
    Dr E Briedenhann PNS
    Mnr PL Büchner Profert
    Mnr C Cloete Dow AgroSciences
    Me AS de Beer LNR-IGG
    Mnr G de Beer PNS-Kontrakteur
    Dr J de Kock PNS
    Dr J Dreyer PNS
    Mnr CJ du Plessis Produsent: KwaZulu-Natal
    Mnr J du Plessis Produsent: Noordwes
    Prof A Egal VUT
    Mnr G Engelbrecht K₂Agri
    Mnr W Engelbrecht K₂Agri
    Prof D Fourie NWU
    Mnr J Grey GraanSA
    Mnr C Havenga PNS
    Mnr N Hawkins SAGIS
    Mnr S Jacobs Agricol
    Mnr M Janse van Rensburg Departement Landbou: Mpumalanga
    Mnr G Keun Hoof Uitvoerende Beampte
    Mnr D Kritzinger Syngenta SA
    Dr S Lamprecht LNR-NIPB
    Mnr C Louw GraanSA
    Me M Purnell GSI
    Mnr J Rankin GraanSA
    Me M Scheepers DLBV
    Dr D Strydom UFS
    Mnr J Swanepoel Produsent: Noordwes
    Dr Y Tewoldemedhin LNR-NIPB
    Mnr R van Niekerk Agricol
    Mnr C van Rooyen Landbouweekblad
    Mnr WF van Wyk PNS-kontrakteur
    Mnr APG van Zyl Produsent: S-Vrystaat en N-Kaap

    Verskonings

    Prof W Oldewage-Theron VUT
    Mnr T Prinsloo LNR-IGG
    Mnr G Roos Produsent: Mpumalanga
    Dr G Thompson LNR-IGG
    Me R van Vuuren Madumbi

  4. Personalia

    Dr Lamprecht word gelukgewens met haar verjaardag op 18 Oktober. Goeie wense word oorgedra aan Prof Oldewage-Theron, met haar verjaardag op 27 Oktober. Mnr Van Wyk word gelukgewens met die geboorte van sy tweede kleinkind.

  5. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar, met toevoeging van:

    Punt 15.9     Sojaboongraderingsregulasies

  6. Goedkeuring van die notule

    1. Notule van die Sojawerkgroepvergadering van 24 April 2014 en verwysing na Webblad

      Besluite:

      1. Die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 24 April 2014 word as gelese beskou en goedgekeur.
      2. Die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep van 24 April 2014 word na die Bemarkingskomitee verwys, vir plasing op die webblad van die PNS.
  7. Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik

    Dr Briedenhann verduidelik dat 'n aantal faktore in ag geneem word by die berekening van die waarde van plaaslikgeproduseerde sojabone, te wete die prys wat oliesadepersers bereid is om vir die bone te betaal, welke prys afgelei word van die prys waarteen oliekoek verhandel kan word, en die prys waarteen sojaboonolie verhandel kan word, met die pryse van die koek en olie wat beide afgelei word van die invoer­pari­teits­prys. Hy sê die dopprys word ook in berekening gebring, hoewel die waarde van die doppe relatief min is. Hy meld voorts dat prosesserings- en vervoerkostes asook winsmarges afgetrek word van daardie som, waarna uitgekom word by die produsenteprys van sojabone. Hy noem dat die produsenteprys vir sojabone op 8 Oktober 2014 te staan gekom het op R5 122 per ton.

    Dr Briedenhann verskaf vervolgens 'n kort oorsig van die internasionale en plaaslike oliesadescenario. Hy sê sojaboonuitvoere vanaf Suid-Amerika gaan in die loop van die volgende paar maande afneem, met Amerikaanse uitvoere wat die plek daarvan sal inneem. Hy meld egter dat die Amerikaanse oesproses tans traag verloop, wat 'n gunstige effek het op sojaboonpryse. Hy noem dat sojaboonaanplantings in Mato Grosso in 'n mate in die wiele gery is deur 'n paar droë weke, maar voeg by dat die kanse vir reën, volgens weervoorspellings, belowend lyk. Hy sê na verwagting sal Argentynse sojaboonaanplantings vir die eerste keer in vyftien jaar 'n afname toon, as gevolg van minder positiewe marges wat veral in Argentinië se noordelike gebiede met sojabone behaal is. Hy noem dat dié verminderde aanplantings ook geld vir mielies en ander graangewasse. Hy meld voorts dat die Argentynse produsente se praktyk om sojabone terug te hou, hoofsaaklik om as 'n verskansingsmaatreël teen inflasie en swak wisselkoerse te dien, 'n kritieke stadium bereik het, met die Argentynse regering wat oorweeg om aansporingsmaatreëls in te stel, waaronder die daarstelling van 'n regeringsondersteunde uitvoermaatskappy en verminderde uitvoerbelasting.

    Dr Briedenhann noem dat die plaaslike vraag- en aanboddinamika wesenlik verskil van dié in Suid-Amerika. Hy sê na verwagting sal die swak rand:dollar wisselkoers bestendig word na 'n vlak van ongeveer R10,90 teen die Amerikaanse dollar. Hy noem dat nagenoeg 77 000 ton soja­bone per maand na verwagting plaaslik gepers sal word, met die gevolg dat 54 dae se voorraad teen die einde van Februarie 2015 beskikbaar sal wees. Hy sê daar moet egter in gedagte gehou word dat die nuwe seisoen se bone moontlik eers teen die tweede week van April beskik­baar sal wees. Hy noem dat pryse, gegewe die vraag- en aanbodsituasie, nader aan invoerpariteit kan beweeg.

    Mnr Louw noem dat die invoerpariteitsprys tradisioneel beskou is as die maksimumprys wat vir sojas betaal sou kon word. Hy verneem of persmarges eerder as invoerpariteit nie 'n meer bepalende effek sou hê op die maksimum-prys wat betaal word nie. Dr Briedenhann bevestig dat dit wél die geval is, maar voeg by dat dit steeds sinvol is om invoerpariteitspryse in gedagte te hou. Dr Strydom is in ooreenstemming hiermee.

    Dr Briedenhann meld op navraag dat 2,1 miljoen ton sojaboonperskapasiteit tans plaaslik beskikbaar is. Hy noem dat oliekoekinvoere met 25 tot 30% afgeneem het tot ongeveer 700 000 ton oliekoek wat steeds jaarliks ingevoer word. Hy sê 'n duidelike onderskeid kan getref word tussen die groot prosesseerders, wat ingestel is op die pers van óf sojabone óf sonneblom, en die mediumgrootte aanlegte, waar gewissel word tussen die pers van sonneblom en sojas, afhangend van die mees gunstige persmarges. Hy wys daarop dat dié situasie tot gevolg het dat die plaaslike vraag- en aanbodscenario kompleks van aard is.

    Dr Briedenhann meld op navraag van die Voorsitter dat plaaslike proteïen-selfvoorsienendheid ten opsigte van dierevoer direk proporsioneel is tot die hoeveelheid ingevoerde soja-oliekoek wat met plaaslikgeproduseerde soja-oliekoek vervang word.

    In antwoord op 'n vraag oor die plaaslike veevoerbedryf se bereidwilligheid om ingevoerde oliekoek te vervang met die plaaslikgeproduseerde produk, noem Dr Briedenhann dat die aanvaardingsproses aanvanklik stadiger as wat verwag is verloop het, maar dat al die groot verbruikers oorgeskakel het na 'n redelik hoë persentasie insluitingspeil van die plaaslike produk. Hy maan egter dat daar nie bloot verwys kan word na plaaslike versus ingevoerde soja-oliekoek nie, weens die kwaliteitsverskille tussen die produkte, wat die onderskeie plaaslike aanlegte aanbied. Hy sê daar is bepaald voldoende kapasiteit om die hele bedryf te voorsien van 'n produk van hoogstaande gehalte, maar voeg by dat produksie nog nie voldoende is nie.

    Dr Briedenhann meld op navraag dat olie- en proteïenvlakke binne aanvaarbare perke is, wanneer sojabone deur middel van vloeistof­ekstrak­sie geprosesseer word. Hy sê die meer moderne aanlegte produseer oliekoek met lae vesel-vlakke, wat belangrik is in braaikuikenvoer. Hy noem dat die verhittings-temperatuur tydens die prosessering van sojabone van uiterste belang is. Hy sê die kwaliteit van Suid-Afrikaanse sojabone is bo verdenking.

    Dr Briedenhann is die mening toegedaan dat die vraag na Suid-Afrikaanse sojabone steeds sal toeneem.

  8. SAGIS


    (Besluit 8.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 4 Maart 2014)

    Mnr Hawkins bied 'n oorsig aan van die nasionale en internasionale vraag- en aanbodsituasie van sojabone en sonneblom, en van die huidige stand van sake ten opsigte van produsentelewerings, soos gemeet teen die amptelike oesskattingsdata. Hy verskaf onder andere ook inligting oor plaaslike verbruiksyfers, oor plaaslike en internasionale pryse, en oor in- en uitvoere. Kennis word geneem dat dié en ander data ook gepubliseer word op die SAGIS-webblad (www.sagis.co.za).

    Kennis word geneem van die SAGIS Weeklikse Bulletin gedateer 9 September 2014, van die Maandelikse Bulletin van opgawe-inligting, gedateer 25 September 2014, en van die South African Supply and Demand Estimates Report, gedateer 29 Augustus 2014.

    Mnr Louw rapporteer dat GraanSA 'n aansoek en motivering rakende die instelling van statutêre maatreëls op die indien van sojaboonolie-, oliekoek- en verwante produkinvoerdata in Mei 2014 ingedien het. Hy verneem of die aansoek al voorgelê is aan die Nasionale Landbou­bemarkingsraad (NLBR). Hy meld op navraag dat SAGIS nie tans toegang het tot gemelde inligting nie, en dat die insameling en beskikbaarstelling van die inligting tot voordeel sal dien van die Oliesadebedryf.

    Mnr Keun noem dat die konsepskrywe, wat GraanSA en SAGIS in dié verband saamgestel het, vir kommentaar voorgelê sal word aan die Grondboon- en Sonneblom- en Sojaboonforums, waarna dit vir oorweging voorgelê sal word aan die betrokke Minister. Die saak word as afgehandel beskou.

  9. Weer- en klimaatsvooruitskouing

    Mnr Botma noem dat daar tydens die vorige maand se AMT-kongres gewag gemaak is van verwagte El Niño- en La Niña weerpatrone in die komende seisoen, dat hierdie boodskap ook oorgedra word by inligtingsdae, en dat geen nuwe inligting hom tot dusver bereik het nie. Hy sê die afgelope drie jaar se ervaring het geleer dat die weer in 'n skommelende fase is, wat produsente op hulle tone hou. Hy noem dat die El Niñopatrone na verwagting teen Desember 2014 sal begin afplat, met 'n natter seisoen wat sal volg.

  10. Oesskattings

    Die Voorsitter stel Me Scheepers aan die woord om meer inligting te verskaf oor die finale produksieskatting vir sojabone.

    Me Scheepers noem dat die finale oppervlakte onder sojas in die 2013-2014 produksieseisoen beraam word op 502 900 hektare, met 'n verwagte oes van 944 340 ton, wat die grootste plaaslike sojaboonoes op rekord is. Sy sê die gemiddelde opbrengs per hektaar kom te staan op 1,88 ton per hektaar.

    Me Scheepers bied vervolgens 'n oorsig van die provinsiale toedeling ten opsigte van die beplante oppervlaktes en die finale oesskattings, in vergelyking met dieselfde data ten opsigte van die vorige produksieseisoen. Sy sê nagenoeg 13 600 hektare of 2,6% minder sojas is aange­plant as in die vorige seisoen, met die Vrystaat wat 'n oppervlaktedaling van 14 000 hektare of 6,5% getoon het, en Noordwes, waar die beplante oppervlakte afgeneem het met 6 000 hektare. Sy noem dat die beplante opervlakte in KwaZulu-Natal hierteenoor met 3 000 hektare toegeneem het, terwyl die van Limpopo met 2 000 hektare toegeneem het.

    Me Scheepers noem dat die vorige jaar se produksiesyfer van 784 500 ton met 159 840 ton toegeneem het, met die Vrystaat wat die grootste toename getoon het, en wel vanaf 249 500 ton na 351 750 ton, gevolg deur KwaZulu-Natal, met 'n toename vanaf 82 000 ton na 98 000 ton, en Limpopo, met 'n toename vanaf 53 500 ton na 66 000 ton.

    Me Scheepers meld voorts dat 889 000 ton sojas gelewer is in die tydperk 1 Maart tot 31 Augustus 2014, met verdere lewerings wat na verwagting nog sal inkom. Sy sê 'n terughoudingsfaktor van tussen 30 000 en 32 000 ton sojas, wat hoofsaaklik as saad gebruik sal word, moet in berekening gebring word. Sy noem dat dié data in Februarie 2015 gefinaliseer sal word.

    Me Scheepers bied ook 'n oorsig van die besproeiings- versus droëland-aanplantings vir 2014, met 85 600 hektare of 12% van die aan­plant­ings wat onder besproeiing gedoen is, in vergelyking met die 53 600 hektare van die vorige seisoen.

    Me Scheepers sê luidens die toedeling van oliesadehektare, is 52% van die hektare met sonneblom beplant, teenoor die 44% van sojabone en die 3% van grondbone. Sy wys egter daarop dat sojaproduksie vir die derde opeenvolgende seisoen meer is as die produksie van sonneblom, met sojas wat 50% van oliesadeproduksie verteenwoordig, gevolg deur sonneblom met 46% en grondbone met 4%.

    Me Scheepers noem dat die verhouding van mielie- tot soja-aanplantings verdubbel het vanaf 2007 se 93:7 na 84:16 in 2014. Sy sê dié toe­name kan toegeskryf word aan 'n styging in sojaboonhektare, implementering van wisselboustelsels, en die toename in plaaslike perskapasiteit.

    Me Scheepers sê volgens voorlopige aanduidings sal die voorgenome sojaboonaanplantings vir die nuwe produksieseisoen met tussen 10 en 20% toeneem.

    Die Voorsitter spreek sy waardering uit teenoor Me Scheepers en Mnr Hawkins vir die interessante inligting wat hulle tydens die Sojawerk­groep­vergaderings voorlê.

  11. Produsente-aangeleenthede

    1. KwaZulu-Natal

      1. Algemeen

        Mnr Du Plessis rapporteer dat bykans al die sojasaad in KwaZulu-Natal reeds uitverkoop is, en dat alles daarop dui dat meer sojas aangeplant sal word in dié provinsie as in die vorige seisoen. Hy sê daar word gepraat van 'n aanplantingstoename van tussen 5 en 12%. Hy noem dat min sojas egter tot dusver aangeplant is, met besproeiingsboere wat probleme met water­vlakke het.

        Die Voorsitter noem dat melding tydens die vorige vergadering gemaak is van die hoë vlakke van Sclerotinia wat voorgekom het in gebiede soos Bergville, Winterton en Normandien, waar sojasaad vermeerder word, en dat besluit is om die saak vir verdere ondersoek te verwys na die PNS se Tegnologiekomitee.

        Mnr Du Plessis bevestig dat KwaZulu-Natal 'n groter voorkoms van Sclerotinia in die afgelope produksieseisoen gehad het, veral in die Bergville/Normandiengebiede. Hy sê dit was bepaald 'n Sclerotinia-jaar, met die koel en vogtige toestande wat voorgekom het.

        Mnr Van Wyk noem dat Sclerotinia onder sekere minimumnagtemperature ontwikkel. Hy sê die feit dat Sclerotinia voorgekom het in gebiede waar dit nooit verwag sou word nie, soos onder teen die Oranjerivier, stem hom tot kommer. Hy is van mening dat dít toegeskryf kan word aan besproeiing wat snags toegedien word, wat tot gevolg het dat die nagtemperature afgebring word.

        Die Voorsitter noem dat die Amerikaanse regering jaarliks nagenoeg vyf miljoen dollar bewillig vir die navorsing, wat die Sclerotinia Initiative in Noord-Dakota op alle gewasse doen. Hy sê Sclerotinia kan nog nie effektief beheer word nie.

        Mnr Louw rapporteer dat GraanSA ál meer klagtes ontvang van Sclerotiniaspore in saad wat nuut aangekoop is. Mnr Willem Engelbrecht noem dat 'n groot aantal onkruide as draers van Sclerotinia dien. Hy sê indien die omstandighede gunstig is vir Sclerotinia, sal besmetting plaasvind.

      2. Soja-opbrengskompetisie

        Mnr Du Plessis rapporteer dat agt deelnemers vanuit die Dundeedistrik deelgeneem het aan die 2014 Soja-opbrengs­kompetisie, waar 'n gemiddelde opbrengs van 3,68 ton per hektaar behaal is. Hy sê die hoogste opbrengs wat behaal is het te staan gekom op 4,51 ton per hektaar.

        Mnr Du Plessis rapporteer voorts dat vyf produsente in die Bergville/Wintertongebied deelgeneem het aan die kompetisie, waar die gemiddelde opbrengs te staan gekom het op 4,1 ton per hektaar, en 'n hoogste opbrengs van 4,28 ton per hektaar behaal is. Hy sê vier produsente van Paulpietersburg het deelgeneem, met 'n gemiddelde opbrengs van 4,05 ton per hektaar, en die hoogste opbrengs wat te staan gekom het op 4,52 ton per hektaar.

        Mnr Du Plessis noem dat rolspelers soos saad-, chemiese en kunsmismaatskappye betrek sal word by die kompetisie, ook weens die kwynende kapasiteit by die provinsiale department van landbou.

        Hy sê produsente moet ongelukkig aangepor word om aan die kompetisie deel te neem.

    2. Mpumalanga en Gauteng

      1. Algemeen

        Die Voorsitter rapporteer by monde van Mnr Roos dat dit wil voorkom asof meer produsente, waaronder nuwe toetreders, beoog om sojabone te plant in die komende seisoen. Hy sê Mnr Roos noem as redes hiervoor die lae mielieprys, die wins­gewendheid van sojabone en die winsgewendheid van wisselbou. Hy meld voorts dat die plantproses in Mpumalanga later as gewoonlik 'n aanvang sal neem, weens droë toestande.

    3. Noordwes- en Limpopoprovinsie

      1. Algemeen

        Die Voorsitter noem dat 'n daadwerklike poging aangewend sal word om sojaverbouing in die Noordwesprovinsie te bevorder in die jaar wat voorlê. Hy sê daar word ook ten doel gestel om 'n sojaopbrengskompetisie in daardie gebied van stapel

        Mnr Swanepoel noem dat tussen 10 000 en 12 000 hektare grond as gevolg van die mielieprys na verwagting na sojabone onder besproeiing sal swaai. Hy stel voor dat die Oesskattingskomitee se statistiek verfyn word, sodat byvoorbeeld aangedui kan word welke faktore daartoe aanleiding gegee het dat opbrengste in Mpumalanga gedaal het, hetsy siektes, vroeë ryp, en dies meer. Hy noem dat 7 800 hektare in die Limpopogebied weens vloedskade uitgewis is, wat tot gevolg gehad het dat die gemiddelde opbrengs vir Limpopo minder goed vertoon. Hy is van mening dat dié tipe inligting in die mark beskikbaar gestel moet word, sodat pryse geaktiveer kan word.

        Mnr Grey meld op navraag dat Mpumalanga in die begin van die seisoen onder verskuipskade gebuk gegaan het, waarna droogtetoestande voorgekom het. Hy maan dat produsente wat sojas plant as gevolg van lae mieliepryse sal moet toesien dat die lande behoorlik bemes is.

        Mnr Rankin sê in die lig van dit wat verspreidingsagente oor onkruiddoderverkope te kenne gee, wil dit voorkom of soja-aanplantings met tussen 10 en 12% sal toeneem in die Noordwes-provinsie.

        Mnr Büchner noem dat produsente in die westelike gedeelte van Noordwes blykbaar nog skrikkerig is vir sojaverbouing. Hy sê weens klimaatsomstandighede is produsente in daardie gebied geneig om by mielieverbouing te bly.

        Mnr Louw noem dat produsente in Piet Retief se omgewing laat blyk het dat hulle beoog om 70 % sojas en 30% mielies aan te plant.

        Mnr Du Plessis rapporteer dat sojas die afgelope drie jaar aangeplant word in die omgewing van Schweizer-Reneke, met sojas se winsgewendheid wat al drie jaar beter was as dié van mielies. Hy sê volgens alle aanduidings sal die 3 000 hektare wat die afgelope seisoen aangeplant is, met 9 000 toeneem na 12 000 hektare. Hy meld egter dat 'n paar probleme die hoof gebied sal moet word, waaronder die kwessie dat verteenwoordigers, wat die konsep van kontrakplant met multirisiko­versekering bevorder, nie ten gunste is van sojaverbouing in daardie gebied nie. Hy noem dat die beskikbaarheid van saad, geskikte cultivars vir die omgewing en haelversekering ook as probleme beskou word. Hy sê haelversekering vir sojas beloop 18% van die versekerde waarde, teenoor dié van mielies, wat 1% van die versekerde waarde beloop. Hy noem dat stroop­kapasiteit ook probleme skep, met cultivars in volwassenheidsgroepe 6,1 tot 6,4 wat goed doen in die gebied, maar wat alles op dieselfde tyd rypword, en gestroop moet word. Hy sê kort- en langergroeiers, wat aangepas is vir die omgewing, word benodig.

        Mnr Du Plessis noem dat die gebrek aan kundigheid moontlik as die grootse probleem in die Schweizergebied beskou kan word. Hy sê daar is egter groot opgewondenheid oor die toekoms.

    4. Vrystaat

      1. Algemeen

        Mnr Botma noem dat 'n redelike toename in soja-aanplantings in die omstreke van Bothaville verwag word. Hy sê banke is tans meer gewillig om finansiering te voorsien vir sojaverbouing.

    5. Oos- en Noord-Kaap en Suid-Westelike distrikte

      1. Algemeen

        Mnr Van Zyl is van mening dat die gebied langs die Oranjerivier in die Noord-Kaap en Suid-Vrystaat, wat gebiede soos Lückhoff, Hopetown en Douglas insluit, waar baie goeie water en gesonde grond beskikbaar is, oor groot sojaverbouings­potensiaal beskik. Hy sê nagenoeg 7 000 hektare grond word deur die kanaalstelsel, en 15 000 hektare uit die rivier besproei. Hy noem dat 80 000 ton sojas in daardie gebied geproduseer kan word, indien 'n gemiddelde opbrengs van 3,6 ton per hektaar behaal word.

        Mnr Van Zyl noem dat bewaringslandboupraktyke produsente in staat stel om eenderde van die beskikbare hektare onder sojas te sit. Hy sê saadbeskikbaarheid en die beskikbaarheid van die regte variëteite word ook in daardie gebied as probleme ervaar. Hy meld voorts dat kundige insette benodig word oor die ekonomie van drie oeste in twee jaar.

  12. Navorsing

    1. Nasionale cultivarproewe 2013-2014

      Me De Beer rapporteer dat die PNS en die meeste saadmaatskappye teenwoordig was by die vergadering van die Nasionale Cultivar­evaluasiekomitee, wat op 10 September gehou is. Sy sê die nodige korreksies is aangebring tot die verslag oor en aanbevelings van die sojabooncultivarevaluasieproewe, wat in die vorige produksiejaar aangeplant is. Sy noem dat die verslag gepubliseer is op die webblaaie van die LNR en GraanSA, met harde kopieë wat eersdaags beskikbaar gestel sal word vir verdere verspreiding.

      Me De Beer noem dat die afgelope produksiejaar allerlei probleme opgelewer het, met die weer wat nie altyd saamgespeel het nie. Sy voeg egter by dat goeie resultate bekom is.

      Me De Beer rapporteer voorts dat die nuwe jaar se proewe reeds opgemaak is, en uitgestuur is na die medewerkers. Sy noem dat daar vir reën gewag word, voordat die plantproses kan begin. Sy sê 29 cultivars is ingeskryf vir die 2014-2015 proewe, met 'n cultivar 30, waarvan teruggehoude saad in die proewe gebruik sal word.

      Die Voorsitter wens Me De Beer en haar span sukses toe met die proewe wat in die nuwe produksiejaar aangeplant sal word. Hy versoek dat die PNS op hoogte gehou word van die datums van inligtingsdae wat by die proeflokaliteite aangebied gaan word.

    2. Roes

      1. Roesvangerproewe


        (Besluit 12.2.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 24 April 2014 en besluit 28.2.13.1 van die Raadsnotule van 17 en 18 September 2014)

        Kennis word geneem van die verslag wat Mnr De Beer geskryf het oor die roesvangerproewe.

        Die Voorsitter rapporteer dat die Raad van die PNS en die Oliesadebedryf, na oorweging van die verslag, besluit het om die sojaboonroesproewe met onmiddellike effek op te skort, aanvanklik vir een jaar.

    3. Sclerotinia

      Kennis word geneem van die lys van produkte wat in Amerika, Kanada en Australië geregistreer is vir gebruik teen Sclerotinia.

      Die Voorsitter noem dat die lys aangevul sal word met middels wat in Europa geregistreer is vir gebruik teen Sclerotinia op canola, sonneblom en sojabone. Hy sê Mnr Cumming, wat die lys saamgestel het, sal versoek word om vas te stel of van die plaaslike che­miese maatskappye beoog om in die nabye toekoms Sclerotiniabeheermiddels op sojabone te registreer.

      Mnr Cloete noem dat Dow AgroSciences se produk HIT geregistreer is vir die beheer van Sclerotinia op sojabone, met beide voor­komende en onderdrukkende werking.

      Dr De Kock noem dat die Trichodermas na bewering effektief ingespan kan word teen Sclerotinia. Hy sê biologiese produkte soos Contans en Eco-T moet egter by herhaling ingewerk word in die grond.

      1. Verslag oor die jaarlikse Sclerotinia-opname

        Me Scheepers rapporteer dat die Oesskattingskomitee sedert 2006, en op versoek van die PNS, jaarliks 'n opname doen oor die voorkoms van Sclerotinia op sojas en sonneblom. Sy noem dat samewerking vanaf produsentekant die afgelope seisoen weereens nie na wense was nie.

        Me Scheepers rapporteer voorts dat die impak van Sclerotinia op sonneblom in 2014 meer was as in die vorige seisoen, met 9,81% van die totale oppervlakte, of 59 000 hektare, wat geaffekteer is. Sy sê dit is 9,7% meer as die vorige seisoen se 0,15%. Sy noem dat mielies in die oorgrote meerderheid gevalle die vorige jaar op die geaffekteerde oppervlaktes geplant is, gevolg deur sonneblom, koring en lusern.

        Me Scheepers noem dat 26% van die 80 medewerkers wat deelgeneem het aan die opname bevestig het dat Sclerotinia­besmetting op soja-aanplantings waar­geneem is. Sy sê dit verteenwoordig 5,9% van die beplante oppervlakte, of nagenoeg 30 000 hektare, wat 2,8% meer is as die vorige seisoen se besmettings­vlakke. Sy noem dat 90% van die respondente aangedui het dat mielies die vorige jaar op die oppervlakte aangeplant was, gevolg deur 5% koring, met die res wat op oorlêlande aangeplant is.

    4. Rhizobium – terugvoering


      (Besluit 12.4.1 van die Sojawerkgroepnotule van 24 April 2014)

      Die Voorsitter reël dat die saak oorstaan.

      Besluit:

      1. Dat terugvoering ingewag word oor die kwessie rakende die beoogde nuwe maatreëls ten opsigte van biologiese middels, met inbegrip van inokulante, wat na verwagting eersdaags in werking gestel sal word.

        Voorsitter
        Sojawerkgroep


    5. Biobrandstowwe

      Kennis word geneem van die verslag getitel "Nuusberigte en tendense in die biobrandstof- en oliesadebedryf: 1 Julie tot 30 Sep­tember 2014", en van die artikels wat ingebind is as deel van Bylae G.

      Dr Strydom noem dat die Universiteit van die Vrystaat onlangs 'n studie oor biomassaherwinning onderneem het, en tot die gevolg­trekking gekom het dat só iets nie in Suid-Afrika volhoubaar sou wees nie, omrede die feit dat die plaaslike klimaat en grondtoestande dit nie toelaat nie.

    6. Onderwerpe vir webstudies

      Kennis word geneem dat lede welkom is om te versoek dat webstudies onderneem word oor sojaverwante onderwerpe.

  13. Saad

    Die Voorsitter noem dat dit die afgelope paar jaar klokslag gebeur dat daar nie voldoende sojaboonsaad beskikbaar is nie. Hy sê daar moet kennis geneem word van die feit dat sojaverbouing uitbrei, en dat die groeipatroon in die sojabedryf onderskat word.

    Mnr Willem Engelbrecht rapporteer dat hy bewys kan lewer van twee saadmaatskappye wat die vorige jaar 500 ton sojaboonsaad as graan gelewer het. Hy noem dat minder sojabone die vorige jaar geplant is, as gevolg van die hoë mielieprys. Hy sê die mielieprys het gedaal, met 'n gevolglike oorskot mielies. Hy noem dat K2Agri die maksimum hoeveelheid sojabone wat hulle kon produseer aangebied het, en dat al die saad uitverkoop is.

    Mnr Engelbrecht noem dat Agri-Inspec namens SANSOR ondersoek instel na produsente wat sojaboonsaad verhandel.

    1. Spreker: Mnr Cornè Louw, GraanSA – Eindpunttantiéme

      Die Voorsitter noem dat saadmaatskappye onwillig is om nuwe chemie, wat elders beskikbaar is, plaaslik vry te stel sonder dat maat­reëls in plek is, wat sal verseker dat die saadmaatskappye die deel wat hulle toekom sal ontvang. Hy sê die plaaslike sojabedryf sal voordeel daaruit trek om te kan deel in die nuutste beskikbare tegnologie. Hy stel Mnr Louw aan die woord om die lede in te lig oor die saak rakende die betaling van die sogenaamde "end point royalties", of eindpunttantiéme.

      Mnr Louw sê hoewel wetgewing voorsiening maak vir die gebruik van teruggehoude graan as saad, het produsente tot die besef gekom dat dié praktyk tot hul eie nadeel is, met die gevolg dat besluit is om met die bedryf saam te werk, sodat die negatiwiteit teenoor die betaling van eindpunttantiéme teengewerk kan word.

      Mnr Louw bied 'n bondige oorsig aan van die situasie wat betref die gebruik van teruggehoude saad, en die invloed wat hierdie praktyk op investering deur saadmaatskappye en op die plaaslike sojabedryf het.

      Mnr Louw noem dat 'n komitee saamgestel is om die onderskeie kwessies wat ter sprake is te ondersoek, en om oor oplossings daar­voor te besin. Hy sê dié proses loop reglynig met wetgewing, wat hersien moet word, met die gevolg dat die Departement van Landbou ook deel vorm van die komitee. Hy noem dat rolspelers soos die Graansilo-Industrie, die Wintergraantrust en SANSOR ook by die saak betrokke is.

      Mnr Louw verduidelik dat beoog word om 'n nie-winsgewende maatskappy te stig, wat die administrasie van heffings of tantiéme sal hanteer. Hy noem dat statutêre maatreëls ingestel sal word, aangesien vrywillige deelname aan dergelike inisiatiewe dikwels nie bevredigende resultate tot gevolg het nie. Hy verduidelik welke voordele gepaard sal gaan met die instel van statutêre maatreëls. Hy verskaf ook 'n bondige oorsig van die werksaamhede van die beoogde nie-winsgewende maatskappy.

      Mnr Louw noem dat GraanSA as belangrike voorwaarde gestel het dat die maatskappye hulle nie skuldig sal maak aan die soge­naamde "double-dipping" nie, met 'n eenmalige bedrag wat jaarliks betaal sal word vir saadterughoudings, onderhewig daaraan dat saadmaatskappye nie ook tantiéme hef op nuwe saad wat verkoop word nie.

      Mnr Louw noem dat groot uitdagings die hoof gebied moet word, en noem as voorbeeld die wyse waarop die markaandeel per maat­skappy, per cultivar en per genetika bereken sal word. Hy sê die waarde van die tantiéme is ook 'n belangrike aspek, waaroor uitsluitsel bekom sal moet word.

      Mnr Louw noem dat die Nasionale Landboubemarkingsraad ook betrek is by die saak, en tot dusver positief gereageer het op die voorstelle wat gemaak is. Hy sê die oorgrote meerderheid van die bedryfsforums is ook positief oor die idees wat ter tafel gelê is. Hy meld egter dat die model nog heelwat verfyning benodig. Hy sê die gedagte is dat die maatskappye wat die beste cultivars en die beste tegnologie op die mark beskikbaar stel die meeste voordeel uit die stelsel sal trek.

      Mnr Louw meld op navraag dat die omvang van die tantiéme nagenoeg R70 miljoen by koring sal beloop, met tussen R17 en R20 per ton wat met lewering by die silo's betaalbaar sou wees. Hy noem dat aansporings aangebied kan word ten opsigte van nuwe saad wat aangekoop word.

      Melding word vanaf produsentekant gemaak dat die nuutste tegnologie gewaarborg moet word, indien tantiéme betaal word, en dat die saadmaatskappye voorts die beskikbaarheid van saad van sekere cultivars sal moet waarborg.

      Mnr Louw noem dat die voorgestelde model voordele sal moet bied vir die maatskappye met die grootste markaandeel.

      Die Voorsitter bedank Mnr Louw vir sy aanbieding.

  14. Tegnologie-oordrag

    1. Inligtingsdae 2015: Datums


      (Besluit 15.3.1 van die Raadsnotule van 9 en 10 Julie 2014)

      Kennis word geneem van die Raadsbesluit dat die Hatfieldinligtingsdae gestaak sal word.

      Mnr Johann du Plessis bedank die PNS vir die ondersteuning wat gebied is tydens die onlangse "No-Till" Konferensie.

      Die Voorsitter doen 'n beroep op die lede om die PNS in te lig van beplande inligtingsdae. Hy sê daar is 'n groot behoefte aan tegnologie-oordrag.

    2. Sojasimposium 2015

      Dr Dreyer rapporteer dat die PNS beoog om op 21 en 22 Julie 2015 sojasimposia in die oostelike en westelike sojaproduksiegebiede aan te bied. Hy sê buitelandse en plaaslike sprekers sal genooi word om die kwessie van onkruidbeheer toe te lig.

      1. Dat kennis geneem word dat die PNS beoog om op 21 en 22 Julie 2015 sojasimposia in die oostelike en westelike sojaproduksiegebiede aan te bied.

        Dr Dryer
        Sojawerkgroep

  15. Ander sake

    1. Inligting vir plasing op die webblad – Nuusbrokkies, kleurfoto's, videos

      Die Voorsitter doen 'n beroep op die lede om interessante inligting, kleurfoto's en videos beskikbaar te stel, met die oog op publikasie daarvan op die PNS-webblad.

    2. Artikels

      Kennis word geneem van die artikels wat ingebind is as deel van Bylae I.

    3. Sprekers wat oorweeg word vir toekomstige Sojawerkgroepvergaderings


      (Besluit 15.3.1 van die Sojawerkgroepnotule van 24 April 2014, besluit 7.1.2.3.2 van die Navorsingsprioriteitskomiteenotule van 17 Julie 2014, besluit 10.3.1 van die Dagbestuursnotule van 6 Augustus 2014, besluite 10.12.1 en 10.12.2 van die Tegnologiekomiteenotule van 13 Augustus 2014 en besluite 25.3.2 tot 25.3.4 van die Raadsnotule van 17 en 18 September 2014)

      Kennis word geneem van die lys van sprekers wat oorweeg word vir optrede tydens komende Sojawerkgroepvergaderings.

      1. Dat kennis geneem word van die lys van sprekers wat oorweeg word vir optrede tydens komende Sojawerkgroepvergaderings, te wete:
        • Prof KJ Kunert;
        • Mnr Antonie Delport, Syngenta;
        • Mnr Dirk Uys van Bayer CropScience;
        • Mnr Pieter Smit van Monsanto; en
        • Verteenwoordigers van saadmaatskappye.

        Dr De Kock
        Sojawerkgroep


    4. Werksaamhede van die Sandgrondontwikkelingskomitee


      (Besluit 20.3 van die Raadsnotule van 8 en 9 Mei 2014)

      Dr De Kock rapporteer dat die PNS beoog om op hoogte van sake te bly met die werksaamhede van die Sandgrondontwikkelings­komitee. Hy noem dat 'n soja-opbrengskompetisie moontlik in die sandgrondgebied van stapel gestuur sal word.

      Kennis word geneem dat dié studiegroep wyd strek, en die sandgrondgebied in die Wes-Vrystaat en die Noordwes bedien, met gewas­rotasieproewe wat gedoen word op Mnr Danie Minnaar se plaas, waar boeredae jaarliks aangebied word. Daar is onder meer reeds bevind dat sojas se wortelsisteme heelwat verskil, met sekere cultivars wat baie sterker wortelstelsels het, en beter aangepas is op watertafelgronde.

    5. Implikasies daarvan om sojabone teen 'n hoër persentasie voginhoud te stroop


      (Besluit 15.5.1 van die Sojawerkgroepnotule van 24 April 2014 en besluit 8.12.1 van die Tegnologiekomiteenotule van 13 Augustus 2014)

      Dr Briedenhann rapporteer dat die literatuurstudie oor die implikasies wat verbonde daaraan is om sojas teen 'n hoër persentasie voginhoud te stroop, en hoe die graan in dié geval behandel sou word, afgehandel is, en in artikelformaat gepubliseer sal word. Hy sê die aanbeveling is dat sojabone met 'n voginhoud van ≥13% gedroog word.

      Dr Briedenhann noem dat die tipe silo waar die sojas gestoor word ook 'n effek sal hê, met staalsilo's wat deur die son verhit word. Hy sê sojabone wat vir vier jaar gestoor word, moet 'n voginhoud van tussen 10 en 11% hê, terwyl sojas wat vir een tot drie jaar gestoor word 'n voginhoud van tussen 10 en 12,5% kan hê, sojas wat vir ses tot nege maande gestoor word, 'n voginhoud van tussen 12,5 en 14% kan hê, en sojas wat vir ses maande gestoor word, 'n voginhoud van tussen 14 en 15% kan hê.

      Dr Briedenhann noem dat die risiko toeneem hoe hoër die voginhoud van die sojabone is. Hy sê 'n algemene probleem is onkunde oor die duur van die stoortydperk.

      Me Purnell noem dat die chemiese samestelling van sojabone beïnvloed kan word in die drogingsproses. Sy sê die eindverbruik van sojabone moet bekend wees, voordat die bone gedroog word.

      Mnr Keun noem dat afskrifte van die literatuurstudie by die PNS beskikbaar is.

    6. "Management of charcoal rot"


      Dr J van der Waals, Universiteit van Pretoria
      (Besluit 8.6.6.1 van die Navorsingsprioriteitskomiteenotule van 25 Maart 2014)

      Kennis word geneem van die literatuurstudie "Management of Charcoal rot caused by Macrophomina phaseolina", wat saamgestel is deur Me E Jordaan.

    7. "iGrow soybeans: best management practices for soybean production"

      Kennis word geneem van die handleiding "iGrow soybeans: best management practices for soybean production".

    8. "GMO Soybeans: Commodity clearance approvals"

      Dr Briedenhann benadruk die belangrikheid daarvan dat op hoogte gebly word van die registrasie van GM-"events" in lande wat grane na Suid-Afrika uitvoer, veral met die oog op die prosessering van dié grane. Hy sê hoewel sekere GM-"events" nog nie goedgekeur is vir produksie in Suid-Afrika nie, kan kommoditeitsklaring bekom word vir die invoer van GM-grane.

      Mnr Louw noem dat kommoditeitsklaring toegestaan is aan beide RR2- en Dikamba-gene, hoewel produsente nie dié cultivars mag verbou nie.

    9. Sojaboongraderingsregulasies

      Me Purnell rapporteer dat 'n groep belanghebbendes in die sojabedryf byeengekom het om alternatiewe metodes te bespreek vir die graderingsproses van sojabone, en die aftrekkings wat van die massa van die besending gemaak moet word. Sy sê aftrekkings word gemaak ten opsigte van vreemde voorwerpe en Sclerotinia, waar die maksimum-aftrekking 4% individueel beloop en 6% vir die twee saam. Sy noem dat die huidige proses uiters tydrowend is, met die gevolg dat besluit is om wetenskaplike proewe te doen by al die silomaatskappye, waar sojabone gradeer sal word met verskillende tipes siwwe. Sy sê 'n verslag met aanbevelings sal vir bespreking en kommentaar beskikbaar gestel word aan rolspelers in die bedryf, waarna aanbevelings gemaak sal word aan die Departement Landbou, Bosbou en Visserye. Sy bevestig dat 'n werkswinkel oor die graderingsproses aangebied sal word, voordat die nuwe seisoen se lewerings begin.

  16. Datum van volgende vergadering

    Die datum van die volgende vergadering van die Sojawerkgroep word bevestig as 29 Januarie 2015.

  17. Afsluiting

    Die Voorsitter bedank die teenwoordiges vir insette gelewer, asook vir hul aktiewe deelname. Hy wens die lede 'n voorspoedige rit na hul onderskeie tuistes toe, en verdaag die vergadering om 13:00.