Newsletters / Canolafokus / 2018 Canolafokus No 83

CanolaFokus logo

Canolafokus 83   April 2018

Artikel indeks

Verkorte canola plant periodes – resultate tot dusver

J Strauss

Die normale aanbeveling wanneer dit by canola aanplantings kom is om te sorg dat daar ten minste 3 jaar tussen aanplantings op dieselfde kamp moet wees. Die groot beweegrede vir hierdie aanbevelings was as gevolg van moontlike siekteprobleme. Binne die Riversdal wisselbouproewe is daar egter besluit om na verkorte aanplant periodes te kyk oor 'n langer termyn en dan spesifiek na opbrengs en ook na die impak daarvan op die stelsels se ekonomie.

Die proef het in 2012 verander van waar verskillende gewasvolgordes na lusern getoets is na die toets van kontantgewas stelsels. Daar word tans 6 stelsels op Riversdal getoets, maar in hierdie artikel fokus ons net op die stelsels waarin daar canola in voorkom. In tabel 1 toon die verskillende stelsels aan en sluit 'n nota in wat aantoon of dit as 'n verkorte onthoudingsperiode stelsel ten opsigte van canolaverbouing geklassifiseer kan word.

Tabel 1
Beskrywing van wisselboustelsels op Riversdal
Stelsel Stelsel gewasse Kort rotasie
KC Koring-Canola Ultra kort
KLKC Koring-Lupien-Koring-Canola Kort
KDC Koring-Dekgewas-Canola Kort
KGC Koring-Gars-Canola Kort
GLKKC Gars-Lupien-Koring-Koring-Canola Medium

Die vraag kan nou moontlik ontstaan hoekom die stelsel KLKC as kort geklassifiseer word. Die antwoord lê opgesluit in die voorkoms van moontlike siektegashere en in dié geval is lupien 'n moontlike gasheer vir byvoorbeeld Sclerotinia. Selfs die 5-jaar stelsel het lupiene as gewas in die rotasie en word daarom as medium beskou (volgens die plantpatoloë). Swartstam was en is vandag nog steeds 'n belangrike siekte binne canolaproduksie. Gelukkig het ons baie goeie kultivars beskikbaar wat weerstandbiedend is, asook goeie akkerboukundige praktyke ten opsigte van voorkomende siektebeheer met behulp van chemie. In die laaste paar jaar het Sclerotinia egter kop uitgesteek en het redelik skade veroorsaak, veral in die Suid-Kaap. Later in die skrywe word daar ook na die effek van hierdie siekte op die stelsels gekyk.

Opbrengs

In tabel 2 word die gemiddelde canola-opbrengs getoon. Ons vergelyk die afgelope 5 jaar se opbrengsdata van canola tussen die 5 verskillende stelsels. Onthou elke gewas van elke stelsel is elke jaar teenwoordig en die opbrengs wat getoon word is die gemiddelde waarde van 3 herhalings.

Tabel 2
Jaarlikse en gemiddelde canola-opbrengs binne die Riversdal wisselbouproef
Stelsel 2013 2014 2015 2016 2017 Gemiddeld
KC 2.81 1.29 1.35 2.28 1.13 1.77
KLKC 2.16 1.46 1.52 0.96 1.53
KDC 2.77 1.51 1.74 2.79 1.25 2.01
KGC 2.29 1.51 1.16 1.86 1.07 1.25
GLKKC 2.14 1.37 1.36 2.17 1.42 1.69

Oor die vyf jaar periode vergelyk die gemiddelde opbrengs van canola binne die ultra kort rotasie stelsel (KC) baie goed met die ander stelsels, alhoewel daar 'n insinking was in die opbrengs vanaf 2013 tot 2015. Hierdie insinking was heel moontlik te wyte aan die voorkoms van Sclerotinia (soos in die volgende seksie gesien kan word). Met die waarnemings, soos hieronder beskryf, het ons toe vanaf 2016 voorkomend begin spuit vir Sclerotinia, wat verseker 'n positiewe impak gehad het. Ons reken dat die stelsel baie noukeurig bestuur moet word om die impak van siektes binne die ultra kort en kort rotasies te beperk. Dit wil egter voorkom asof dit wel kan werk. As navorser sal ek graag wil sien dat mens die stelsel in meer areas moet toets voor daar 'n algemene aanbeveling gedoen word. Let ook op na die prestasie van die canola ná die dekgewas. Dit was elke keer 'n peuldekgewas waarop die canola geplant is.

Sclerotinia

Sedert 2013 is drie verskillende rotasiestelsels, naamlik Koring-Canola (KC), Koring-Lupien-Canola (KLKC) en Koring-Gars-Canola (KGC) gemoniteer vir Sclerotinia Stamvrot. Dié drie stelsels word in figuur 1 met mekaar vergelyk oor die afgelope 2013 tot en 2016 seisoene.

Figuur 1
Geskiedenis van Sclerotinia-besmetting vir die wisselboustelselproef
Figuur 1: Geskiedenis van Sclerotinia-besmetting vir die Wisselboustelselproef

Oor die hele moniteringstermyn het die ultra kort rotasiestelsel (CW) die hoogste besmettingsyfer getoon. Al die data vir die 4 jare is egter statisties ontleed (ANOVA) en die uitslag is dat daar geen betekenisvolle verskille tussen die stelsels was nie. In 2016 is die ander twee stelsels, wat ook canola bevat, ook bygevoeg tot die Sclerotinia moniteringsprojek. In 2016 het die KC-, KLKC- en GLKKC-stelsels statisties betekenisvol meer Sclerotinia-besmetting gehad as KDC- en KGC-stelsel.

Stelsel bruto marge

In tabel 3 word die gemiddelde bruto marge van elke stelsel getoon. Dit blyk uit hierdie data dat die ultra kort stelsel uitstekend vertoon in vergelyking met van die ander stelsels. Dit moet onthou word dat die KDC stelsel nie sommer net so toegepas sal word as 'n kontant gewas stelsel nie, aangesien die insluiting van 'n dekgewas tog 'n daling in die gemiddelde bruto marge van so 'n kort stelsel veroorsaak. Ten spyte hiervan doen die canola wat na die peuldekgewas geplant is, baie beter as dit by opbrengs kom. Ons gee ook minder topbemesting vir die canola in vergelyking met ander stelsels. Een van die grootste nadele ten opsigte van die stelsel is die bydrae van lupiene. In verskeie seisoene is daar byna geen of baie lae opbrengste verkry, met 'n gevolglike negatiewe impak op die uiteindelike bruto marge.

Tabel 3
Gemiddelde stelsel bruto marge in Rand per ha vir die periode 2013 tot 2017 vir elke stelsel waarin canola verbou word, behalwe die stelsel wat dekgewasse insluit
Stelsel 2013 2014 2015 2016 2017 Gemiddeld
KC 6 193 2 555 5 598 8 050 2 318 4 943
KLWC 5 300 1 173 5 113 6 919 599 3 821
KGC 6 654 3 792 6 166 7 038 1 968 5 124
GLKKC 5 567 2 805 4 975 7 157 1 112 4 323

C = canola / K = koring / L = lupiene / G = gars

Vir meer volledigheid word die bydrae van elke gewas tot die bruto marge binne elke stelsel ook hieronder getoon in figuur 2.

Figure 2A-2D
Bydrae van verskillende gewasse tot hulle betrokke stelsels se bruto marge in elke jaar asook die gemiddelde oor tyd

A – Brute marge samestelling stelsel KC

Figuur 2A: Bydrae van verskillende gewasse tot hulle betrokke stelsels se bruto marge - KC

B – Brute marge samestelling stelsel KLKC

Figuur 2B: Bydrae van verskillende gewasse tot hulle betrokke stelsels se bruto marge - KLKC

C – Brute marge samestelling stelsel KGC

Figuur 2C: Bydrae van verskillende gewasse tot hulle betrokke stelsels se bruto marge - KGC

D – Brute marge samestelling stelsel GLKKC

Figuur 2D: Bydrae van verskillende gewasse tot hulle betrokke stelsels se bruto marge - GLKKC

Ten slotte

Die verkorte canola produksiestelsels toon goeie potensiaal, maar gaan baie goeie bestuur verg om die moontlike nadelige effekte van siektes te beheer. Hierdie data is oor 'n tydperk van 5 jaar ingesamel, dit is relatief kort en dit sal baie interessant wees om te sien of die afleidings wat tans gemaak word, oor die langtermyn gehandhaaf word. Afwisseling van kultivars (dus verskillende genetiese weerstandsbronne) en chemie vir die beheer van swartstam is tans baie goed. In die geval van Sclerotinia is daar tans net die chemiese roete as 'n voorkomende beheeropsie.

DOWNLOAD ISSUE


Enquiries / Navrae

Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Direktoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. pietl@elsenburg.com

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Prof A Agenbag   Izane Leygonie
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter