Reports / Study and Business Tours / Studiereis 2006 Duitsland Vsa En Kanada
Studiereis 2006

Studiereis na Duitsland, VSA en Kanada om kennis in te win oor die vervaardiging van biobrandstowwe en die impak daarvan op die veevoermark

deur GJH Scholtemeijer, JSG Joubert en M Griessel



  1. Doelstellings van studiereis

    Tydens die studiereis is daar gepoog om inligting te bekom ten opsigte van die volgende:

    1. Die onderliggende redes vir die vervaardiging van biobrandstowwe.
    2. Die aanwending en benutting van die residue van brandstowwe.
    3. Die impak daarvan op die veevoer- en grondstowwe mark.
    4. Tendense in die vervaardiging van biobrandstowwe.
    5. Vervaardigingsmetodes en grondstowwe gebruik in die proses.
    6. Die langtermyn volhoubaarheid van die vervaardiging van briobrandstowwe.

  2. Duitsland 13-20 Mei 2006

    1. Gesprek met Mnr Thomas Mielke, direkteur van Oil World

      "Oil World" is 'n publikasie wat internasionale erkenning geniet en wyd gelees word. Verslae verskyn op 'n daaglikse, weeklikse en maandelikse grondslag wat 'n internasionale oorsig gee van die mark ten opsigte van olie- en proteïenryksade asook vismeel.

      Oil World is in 1962 gestig deur Mnr Mielke se vader wie nog steeds betrokke is. Dit is 'n familie besigheid met 'n paar werknemers wat die nodige insette verskaf.

      Mnr Mielke noem dat die EU die vervaardiging van biobrandstowwe bevorder het deur middel van subsidies toe die ru-olie pryse nog betreklik laag was. Die gedagte was om 10 miljoen ha aan te wend vir die produksie van gewasse wat gebruik kon word vir die vervaardiging van biobrandstowwe ten einde surplusse van sekere gewasse te elimineer. Verder moes die EU ook subsidies aan produsente afskaal in ooreenstemming met WHO-beleid.

      Doelstellings wat deur die EU gestel is, is dat 5,7% van dieselverbruik afkomstig moet wees vanaf biodiesel teen 2010. Die totale dieselverbruik is 190 miljoen ton. Die nuwe mikpunt vir 2015 is 8% insluiting wat die biodiesel verbruik op 17 miljoen ton te staan sal bring. Dit word verder voorsien dat 12-14 miljoen ton olie ingevoer sal moet word om aan hierdie mikpunt te voldoen. Dit sal uit die aard van die saak aanleiding gee tot tekorte wêreldwyd. Mnr Mielke noem ook dat Kanada reeds 500,000 ton biodiesel vervaardig terwyl Australië en ander lande ook sterk op die voorgrond tree en is die verwagting dat daar teen einde 2006 reeds 15 miljoen ton biodiesel vervaardig sal wees.

      Die verwagting is ook dat die groei in die vraag na biodiesel wêreldwyd 3 miljoen ton per jaar sal wees, terwyl die vraag gedurende 2006/07 met 8-9 miljoen ton sal groei.

      Bogenoemde sal 'n styging in oliesaadpryse en oliepryse tot gevolg hê wat sal meebring dat produsente meer aanplantings sal doen. Mnr Mielke is ook van mening dat sonneblom en raapsaad relatief tot sojas die wenners sal wees omdat dit 'n hoër olie inhoud het. Weens die substituering van gronde van ander grane vir oliesaad verbouing, sal daar tekorte wees gedurende 2006/2007 van ander grane. Dit kan aanleiding gee tot hoër pryse van laasgenoemde wat op sy beurt groter kompetisie kan skep ten opsigte van die aanwending van grond hetsy vir biobrandstowwe of voedsel.

      Baie aanlegte vir biobrandstowwe word reeds opgerig, maar is nog nie in produksie nie en sal die effek van pryse op grondstowwe en die effek op produksiestelsels eers later gevoel word.

      Mnr Mielke het ook verwys na die tweede generasie biobrandstowwe wat van afval vervaardig kan word. Hier word gedink aan die vervaardiging van byvoorbeeld metaangas wat omgeskakel kan word in vloeibare brandstowwe. Residu soos oliekoek kan ook aangewend word vir die produksie van energie. Hy voorsien ook dat die tweede generasie biobrandstowwe die vervaardiging van biodiesel uit olies kan verplaas.

      Swede subsidieer ook reeds die vervaardiging van biobrandstowwe en is hout 'n belangrike grondstof in die verband.

      Uit die gesprek het dit ook duidelik na vore gekom dat lokaliteit met die oprigting van 'n aanleg baie belangrik is. Vervoerkoste is belangrik en moet geminimeer word. So byvoorbeeld moet aanlegte verkieslik naby 'n hawe opgerig word met die oog op die invoer van olies wat in die vervaardigingsproses gebruik gaan word. Omdat die residu (meel) byvoorbeeld aangewend kan word vir die opwekking van elektrisiteit (verbranding daarvan vir hitte) moet die biobrandstof aanleg ook naby 'n elektrisiteit aanleg opgerig word.

      Ten slotte is dit Mnr Mielke se mening dat ru-olie pryse nog tot meer as $100 kan styg. Hy meld ook dat daar 'n tekort aan ru-olie verwerkingsaanlegte is. Dit alles sal aanleiding gee tot 'n styging in brandstofpryse wat hoër winsmarges vir Landbou produsente tot gevolg sal hê. Dit sal die vervaardiging van biobrandstowwe 'n volhoubare praktyk maak.

      Dit kan egter ook aanleiding gee tot die aanwending van marginale gronde vir die produksie van olie- en proteïenryke sade en ander grane en moet versigtigheid aan die dag gelê word vir die oor-eksploitering van hulpbronne.

      Versigtigheid sal ook aan die dag gelê moet word met die oprigting van biobrandstofaanlegte as 'n langermyn regeringsbeleid in die verband nie in plek is nie.

    2. Besoek aan HaBeMa Futtermittel – Mnr Christian Schorling: Voedingskundige

      Die veevoeraanleg word besit deur twee Koöperasies en 'n maatskappy. Die vervaardiging van veevoere geskied tot voordeel van die aandeelhouers en beloop 350 000 ton per jaar. Die totale omset is 1,3 miljoen ton wat ook grondstowwe insluit wat aan ander vervaardigers verskaf word.

      Van die 350 000 ton veevoer word 60% vervaardig vir herkouers, 20% vir varke en 20 vir pluimvee.

      Daar word ook heelwat grondstowwe ingevoer omdat die fabriek oor bergingsfasiliteite beskik. Grondstowwe word ook uitgevoer en grane word uitgevoer names die Koöperasies wie aandele besit.

      Die veevoermark het drasties verander oor die afgelope tyd as gevolg van die voorkoms van BSE. Hulle word nou verplig om slegs plantaardige proteïen in die rantsoene in te sluit. Vismeel word onder sekere omstandighede toegelaat maar streng regulasies is van toepassing. Daar word dus voortdurend gekyk na nuwe alternatiewe bronne wat residue van biobrandstowwe insluit.

      Vir die formulering van die veevoersamestelling word daar gebruik gemaak van die minimum koste model. Die mark vir grondstowwe verander egter op 'n gereëlde grondslag. So word raapsaad in 'n groter mate gebruik omdat produsente meer daarvan plant vir biodiesel. Sy mark word egter hierdeur beïnvloed omdat die raapsaad residu direk na die veevoermark gaan en nie via sy fabriek nie.

      Mnr Schorling wys ook daarop dat al sou die raapsaad- en raapsaadoliekoekprys val die veevoermark nog steeds baie sojas sal gebruik. Sojas maak ongeveer 80% van die plantaardige proteïenbronne uit wat in veevoerrantsoene gebruik word. Die prestasie van diere en pluimvee neem af as die insluitingspeil van raapsaad bokant 'n sekere persentasie styg (5%). Boere se persepsies speel 'n belangrike rol. So byvoorbeeld moet die kleur van die voer reg wees.

      Insluitingspeile van raapsaad word verskaf vir die verskillende spesies:

      15%   maksimum vir volgroeide varke
      5%   maksimum vir dragtige varke
      0%   lakterende varke
      0%   vir varke 0 tot 20kg; en
      3%   maksimum vir varke met gewig van 50kg, en
      daarna word dit stelselmatig verhoog tot die volgroeide stadium.

      Die insluitingspeile vir melkbeeste word hoofsaaklik bepaal deur die melkboer se persepsie. Die aminosuur samestelling speel ook 'n belangrike rol en word meer raapsaad ingesluit soos die laktasie periode vorder.

      Mnr Schorling is van mening dat dit baie moeilik gaan wees om ontslae te raak van die residu van biobrandstowwe (raapsaad sowel as ander grane). Die residu van raapsaad wat voortspruit uit die vervaardiging van biodiesel moet verder verwerk word deur proprionsuur by te voeg en die residu dan te verpil. Dit is egter nie baie prakties om die residu van koring, rog en mielies in pilvorm te omskep nie. Dit word egter tog uitgevoer na ander lande in die EU, soos Spanje.

      Ten opsigte van DDGS beklemtoon hy verder dat die prys van DDGS nie die enigste bepalende faktor is ten opsigte van die hoeveelheid wat in 'n voerrantsoen ingesluit word nie. Weereens is die koper/produsent se mening ook in hierdie geval die bepalende faktor. Veevoervervaardigers verkies nog steeds sojas en waar dit in die verlede nie nodig was om die samestelling van 'n voerrantsoen te verklaar nie moet dit nou gedoen word.

      Volvet sojas word nie meer in Duitsland gebruik nie en het die laaste fabriek wat sojas gerooster het, onlangs gesluit. Die rede is dat olie vir byvoeging in rantsoene goedkoper bekom kan word.

      Ten slotte is enkele statistieke bekom wat toon dat 20 miljoen ton voorafvervaardigde veevoer in Duitsland vervaardig word. Vir herkouers is dit 6,4 miljoen ton, varke 7,5 miljoen ton, lê-henne 2,2 miljoen ton en braaikuikens 3 miljoen ton. Die res word vir ander diere aangewend soos perde ensovoorts.

    3. Mnr Martin Tauschke – Finansiële Direkteur: Allensys

      Allensys is die organisasie wat die afsprake en ander reëlings ten opsigte van die besoek in Duitsland getref het en is daar 'n gesprek tydens 'n ete met Mnre Tauschke en Zeiller gevoer (vir Allensys se doelstellings, kyk na Aanhangsel 1).

      Mnr Tauschke is ook die Hoofuitvoerende Beampte van die "German Bio and Renewable Fuel Association" wie se doelstelling dit is om brandstowwe uit ru-olie te vervang met biobrandstowwe.

      Uit die gesprek oor ete het dit aan die lig gekom dat Allensys beplan om 'n loodsaanleg vir biodiesel uit sonneblom op die NAMPO proefplaas te bou voor die volgende NAMPO Oesdag. Dit blyk ook dat hul volgens Mnr Tauschke ver gevorderd is met die beplanning van 'n biodieselaanleg uit sonneblomme in samewerking met boere uit Bothaville. Dit sal die voorloper wees van ander soortgelyke aanlegte wat ± 9,000 ton sonneblom per jaar sal verwerk. Volgens bewering is Allensys 'n finansiële vennoot in samewerking met boere en organisasies en sal ABSA die bedryfsfinansiering doen. (Kyk Aanhangsel 2) "Decentralised biofuel production partnership").

      Die Proteïennavorsingstigting bevestig dat hy nie finansieel betrokke sal raak by kommersiële aktiwiteite nie, maar wel finansiering van sekere navorsingsprojekte op meriete sal oorweeg.

      Allensys bevestig dat hul nog geen kontak gemaak het met die RSA regering oor staatsbetrokkenheid en insentiewe nie.

    4. Mnr Sven Schön, Hoofuitvoerende Beampte – EOP Biodiesel AG

      E.O.P. beskik oor 'n biodiesel aanleg wat ondere ander ook deur aandelekapitaal finansier word. Die inisiatief van mnr Schön gedurende 1999 was aanvanklik om net 'n oliepers op te rig met die idee dat Banke dit later sal finansier.

      Hy het ook beplan dat dit later op die beurs gelys sou word om kapitaal te bekom en dan uit te brei deur 'n groter oliepers op te rig en ook biodiesel te vervaardig. Die banke finansier dit tans en word ondersteuning ook verkry van die Federale regering, die Staat en die EU.

      Konstruksie het in 2001 begin. Gedurende 2002 is begin met die oliepers en in 2003, die biodieselaanleg. Daar word tans 100,000 ton raapsaad per jaar verwerk wat 35,000 ton olie lewer wat na verdere verwerking ook 35,000 ton biodiesel sal lewer. Die raapsaad behoeftes word bevredig deur 20% plaaslik aan te koop, 50% kom van Noord-Duitsland en 30% van Poland, Ukraine ensovoorts.

      Die chemiese samestelling van die raapsaad verskil omdat dit van verskillende lokaliteite kom. EOP prosesseer slegs saad wat nie geneties gemodifiseer is nie. Daar word 65,000 ton oliekoek geproduseer. Die raapsaad word tot 100°C verhit waarna dit gepers word wat 'n koek produseer wat 9% olie en 36-38% proteïen bevat.

      Die oliekoek wat daagliks geproduseer word (200 ton koek/dag), word in die omgewing bemark aan melk produsente wie se produksie na bewering met 1-1½ L melk per koei per dag, toegeneem het. Die behoeftes vir raapsaad oliekoek in Duitsland word 90% voorsien deur Duitsland self, die ander 10% kom van die Tsjeggiese republiek. Wanneer daar na verwagting 'n verdere 2 aanlegte in bedryf kom sal Duitsland selfvoorsienend wees. EOP voorsien om 'n aanleg op te rig om surplus oliekoek wat mag ontstaan te verbrand en te omskep in hitte energie.

      Die rakleeftyd van oliekoek is 1 maand, maar dit kry nie kans om galsterig te word nie omdat dit vinnig opgebruik word. Vog van 11-12% is egter die grootste probleem.

      'n Hexaan aanleg word voorsien wat binne 4 jaar opgerig sal word wat 65,000 ton saad sal verwerk. Daar word ook nog 'n verdere 2 aanlegte in Noord-Duitsland beplan. Dit word voorsien dat as al die beplande aanlegte in bedryf is raapsaad / kanola ook aangekoop sal moet word op die internasionale mark.

      Dit is ook interessant om daarop te let dat die tweede biodiesel aanleg van EOP nie olie gaan pers nie, maar die olie gaan aankoop. Die mening van mnr Schön is dat daar te veel oliekoek uiteindelik in Duitsland sal wees, maar voeg by dat dit ekonomies is om die koek te verbrand vir energie omdat energiekoste so hoog is.

      Dit word ook gemeld dat die resultate van uitvoerbaarheids-studies verskil vir die groter aanlegte wat hexaan gebaseer is. Hy wys ook daarop dat energiekoste die afgelope jaar met 30% toegeneem het en dat hierdie aanlegte grootliks onafhanklik is van energie en gas vanaf Rusland wat risiko's inhou. Sy siening is verder dat uitvoerbaarheid studies moet toon dat projekte lonend moet wees selfs sonder staatshulp.

      Die belasting wat die regering beoog om op biodiesel te hef wat 10-15 sent/L sal beloop is tans onder bespreking. Die verhoging as gevolg van belastings en styging in ru-oliepryse sal maar net aan die eindverbruiker deurgegee word. Sy siening is dat die gelykbreek ru-olieprys vir alternatiewe brandstowwe om winsgewend geproduseer te kan word $90/vat is. Biobrandstowwe sal net die leeftyd van fossielbrandstof verleng maar bied nie die oplossing nie.

      'n Interessante feit wat uit die gesprek gekom het is dat Swede poog om teen 2015 onafhanklik te wees van ru-olie invoere. In Duitsland sal hulle in 15% van hul behoefte kan voorsien. Belasting op biobrandstowwe is egter nie 'n aansporing om verdere navorsing en ontwikkeling te doen nie.

      Swede het 'n groot biomassa bron in die vorm van hout en water waarmee hidro-elektrisiteit opgewek kan word. BTL (Biomass to Liquid) word genoem die tweede generasie energie en word gas byvoorbeeld vanuit hout verkry wat weer na etanol en diesel omgeskakel kan word. Die tweede generasie energie word as die toekoms gesien.

      Dit het ook aan die lig gekom dat die Duitse regering nie 'n registrasie beleid het nie en is daar nie 'n beperking op hoeveel aanlegte opgerig kan word nie. Die mark sal uiteindelik dikteer.

      EOP verkoop al sy biodiesel waarvan die mark soos volg is: 10% word gebruik vir inmenging in minerale diesel, 70% gaan na handelaars wat dit by die pomp verkoop en 20% gaan na maatskappye en koöperasies.

      Hy verwys ook na 'n belangrike byproduk, Gliserien, waarvan die prys drie jaar gelede €450/ton was en nou €50/ton is. Dit raak al hoe moeiliker om van die Gliserien ontslae te raak.

    5. Besoek aan Nordbrandenburger BioEnergy GmbH Co.KG 200km Noordwes van Berlyn by Schwedt – teenaan Poolse grens: Mnr Klaus-Dieter Bettien

      Die aanleg is 'n etanol aanleg gebaseer op rog en die aanleg is opgerig op die perseel waar ru-olie geraffineer word. Die raffinadery is in die gesamentlike besit van BP, Shell en Total.

      Addisionele oorwegings vir die plasing van die etanol aanleg op die perseel van die raffinadery is omdat daar reeds infrastruktuur beskikbaar was soos elektrisiteit en water.

      'n Oorweging vir die vervaardiging van etanol uit rog is, die feit dat beskermingsmaatreels op rog uitgefaseer is en daar na alternatiewe vir rog gesoek is. Die kapasiteit van die aanleg is 180,000 tot 200,000 ton etanol wat van 500,000 ton tot 600,000 ton rog vervaardig word. Die aanleg is nog nie in vol produksie nie en vervaardig tans etanol van 27,000 ton rog per maand.

      Die totale oprigtingskoste van die aanleg is 60-70 miljoen Euro's waarvan 50% deur die regering bygedra word. Bystand word verkry vanaf Provinsiale- en Sentrale Regeringsvlak asook die E.U.

      DDGS wat as residu ontstaan word gedroog tot 'n 35% vog inhoud wat hoofsaaklik aan herkouers naamlik vleisbeeste (voerkrale) en melkbeeste gevoer word. Al die verbruikers van die DDGS is in die onmiddellike omgewing van die aanleg en moet die DDGS gou gebruik word omdat dit nie 'n lang houvermoë het nie. Dit kan ook in kuilvoer gebruik word, maar is die houvermoë ook 'n probleem.

      Die mark vir DDGS in die omgewing is beperk en word daar oorweging geskenk aan alternatiewe markte en gebruike:

      • Moet oorweeg om verder te droog maar wel teen 'n hoë koste;
      • Kan verpil word en dan oor langer afstande vervoer en bemark word;
      • Die waterige gedeeltes van die DDGS kan as roumateriaal in gasaanlegte gebruik word;
      • Kan in toekoms verbrand word om hitte energie te verskaf.

      So byvoorbeeld is daar reeds 'n aanleg in die Tsjeggiese Republiek opgerig wat DDGS droog en dit dan verbrand om stoom te vervaardig. Hy voorsien dat die twee vernaamste afsetpunte eerstens die voerkrale sal wees en tweedens voermaatskappye wat die bemarking sal doen.

    6. Besoek Bio Etanol Aanleg te Sellendorf 100km Suid-Oos van Berlyn

      Hierdie aanleg is relatief klein aanleg in familie besit. 'n Boerdery eenheid van ± 250 ha produseer die koring en triticale wat gefermenteer word tot alkohol vir menslike gebruik, sowel as brandstof.

      'n Gedeelte van die DDGS wat as residu ontstaan, word aan beeste op die plaas gevoer (± 40 GVE). Die res van die DDGS word in die omgewing verkoop. Arbeiders word deur die jaar benut vir take op die plaas, in die distileringsaanleg en in die botteleringsaanleg.

      Die alkohol wat vir menslike verbruik gedistilleer word, word in ru-vorm na 'n ander aanleg versend waar dit verder geprosesseer word. Daarna kom dit terug na die familie-distileerdery waar dit op die perseel gebottel en verkoop word.

      Die distilleerdery werk ongeveer 50 dae per jaar hoofsaaklik in die winter. Die dae waarop gestook word is Maandae, Woensdae en Vrydae. 'n Kwota van 4,500 L 100% alkohol vir menslike gebruik is toegeken en 65,000 L vir brandstof. Daar word ongeveer 1,500 L alkohol van 2 ton graan verkry.

      Die aanleg ontvang op die oomblik 'n staatsubsidie, maar word twyfel uitgespreek oor die winsgewendheid vorentoe, omdat subsidies stelselmatig uitgefaseer word. Daar word ook twyfel uitgespreek oor die bestaansreg van klein aanlegte oor die lang termyn, omdat sulke eenhede nie die skaalvoordele van groter eenhede het nie.

      'n Verdere bekommernis is dat tarief beskerming waarskynlik in die toekoms afgeskaal, of uitgefaseer gaan word en dat plaaslike alkohol nie met die ingevoerde Brasiliaanse alkohol sal kan kompeteer nie.

  3. VSA 21 Mei tot 30 Mei 2006 en 4 Junie tot 9 Junie 2006

    1. Dr Gary Pearl – Voormalige Voorsitter van die "Fats and Proteins Research Foundation" (FPRF)

      Die FPRF is gedurende 1962 gestig as 'n nie-winsgewende organisasie met lede afkomstig van alle segmente van die lewende hawe bedryf.

      Die hoofdoel van die organisasie is om navorsing te laat onderneem wat te make het met diere afvalprodukte. Die struktuur van die organisasie behels 'n navorsingskomitee bestaande uit 20 wetenskaplikes en tegniese mense wat die akademie en die nywerheid verteenwoordig en wat alle aansoeke vir navorsingsprojekte evalueer en voorstelle maak.

      Verder is daar 'n raad van 20 direkteure wat finaal besluit oor die befondsing van navorsing. Daar is tans baie druk op die gebruik van afvalprodukte deur verskeie organisasies wat die gebruik daarvan wil verhoed of beperk. Byvoorbeeld herkouers se voerrantsoene mag nie meer afvalprodukte van herkouers insluit nie. Tans word die meeste diere byprodukte nog benut deur die pluimveebedryf, gevolg deur troetel- en ander diere.

      In totaal is dit 'n bedryf wat 5,5-6,5 biljoen kg afvalprodukte lewer. Die navorsing waarna verwys is fokus op die gebruike van hierdie afvalprodukte, veral op die alternatiewe gebruike soos plastiek, vesels en ander materiaal.

      Ontvangers van fondse vir hierdie navorsing was hoofsaaklik Universiteite, departemente van Landbou en privaat instansies. Die universiteit van Clemson te Carolina ontvang navorsingsfondse vir veral alternatiewe gebruike van diere-afval.

      Van die 125 lede van die stigting is daar 8 maatskappye wat die top skenkers is. hulle is ook almal in die afval bedryf en skenk vanaf $10,000 tot $100,000 per jaar. Twintig van die lede is vanaf die buiteland.

      Dr Pearl meld ook dat van die navorsingsaansoeke gemiddeld 25-30% befonds word. Die stigting het onlangs ook begin om navorsing te identifiseer wat vir hulle belangrik is en is die areas wat geïdentifiseer word, hoofsaaklik nie-voedings aspekte. Die Raad van direkteure het 'n beleid neergelê dat 75% van navorsingsfondse aan die ontwikkeling van alternatiewes anders as voeding moet gaan. Dit het meegebring dat daar teruggesny word aan navorsing ten opsigte van voeding vir pluimvee en was daar sedert 2000 ook geen projek befonds vir melkbeesvoeding nie.

      Akwakultuur word gesien as 'n toekomstige mark vir hul afvalprodukte en word daar gekyk na die binnelandse mark soos Barbers, Forelle en Salm.

      Min afvalprodukte word nog uitgevoer, maar daar bestaan ook 'n potensiële mark in die Ooste, omdat 94% van die wêreld se akwakultuurprodukte in Asië geproduseer word.

      Die stigting is egter bekommerd oor die toekoms van afvalprodukte weens die stigma wat daaraan kleef en die feit dat plantaardige proteïne 'n voordeel bokant diere afval geniet. Hy beklemtoon weereens dat navorsing opgeskerp moet word om alternatiewe gebruike vir diere afval te vind. Hy meld dat die vet gedeeltes van die afval juis deur afvalaanlegte gebruik word in 'n verbrandingsproses om energie te verskaf.

    2. Besoek aan Illinois Soybean Association: Mnr Judd Hulting, direkteur van Bemarking en Spesiale Projekte

      Die Illinois sojavereniging is een van 25 soja verenigings in die VSA. Hierdie vereniging het 'n Raad van direkteure wat bestaan uit 24 produsente en word fondse deur middel van 'n heffing op die verkoopprys van sojas gehef. Tans is dit 0.5% op die bruto verkoopprys wat ongeveer $12 miljoen per jaar beloop.

      Van hierdie fondse kan 50% deur die vereniging self aangewend word en die ander 50% gaan na die United States Soyabean Board (USB).

      Illinois is naas Iowa, die grootste produsent van sojas, maar is nommer een ten opsigte van die produksie van mielies en Iowa beklee die tweede plek.

      Van die fondse, word 50% aangewend vir navorsing wat hoofsaaklik op produksieverhoging gemik is, terwyl die res aangewend word vir markbevordering en veral alternatiewe gebruike. Die fondse mag nie aangewend word vir "lobbying" doeleindes nie. Daar word ook gefokus op die bevordering van uitvoere. Van die sojas geproduseer, gaan 6% na menslike verbruik. Akwakultuur word ook nou 'n belangrike mark vir sojameel en word daar tans 2,5 miljoen ton sojas vir die akwakultuur bedryf gebruik waar dit voorheen maar min was.

      Hulle befonds dan ook uit die aard van die saak projekte vir hierdie doel asook projekte om die menslike verbruik van sojas te bevorder. Mnr Hulting is ook van mening dat biodiesel waarde kan toevoeg tot sojas en maak die stelling dat vir elke 100 miljoen gelling biodiesel wat geproduseer word, die prys van sojas met 10c / bushel kan toeneem. Daar is 'n 80 miljoen gelling biodiesel aanleg in Indiana wat die buurstaat is terwyl Louis Dreyfuss beplan om 'n verdere groot aanleg in noord Indiana op te rig.

      Hy meld verder dat daar ook 50 miljoen gellings biodiesel in Noord Dakota vervaardig word uit canola.

      In Illinois is voorsiening gemaak vir $20 miljoen skenkings fondse vanaf die regering wat $3-4 miljoen per fabriek sal beloop. Die federale regering sal ook nog 'n verdere bydrae maak.

      Mnr Hulting verwys na 'n aantal klein aanlegte in Illinois wat 'n probleem het om kwaliteitstandaarde te handhaaf en wat nie kan kompeteer met die groot aanlegte nie. Daar is tans een groot aanleg in Illinois. Boere vervaardig ook nie self biodiesel op hul plase nie.

      Op 'n vraag of daar verpligte insluitingspeile bestaan vir biodiesel meld Mnr Hulting dat die verpligte insluiting varieer van staat tot staat. In Illinois is daar alreeds 'n insluitingspeil van biodiesel van 11%. Hulle sal dit egter moet opstoot na 20% as hulle ook ondersteuning van die "Environmental Agency" wil kry.

      Die hoofredes volgens mnr Hulting vir die vervaardiging van biodiesel is om:

      • Surplus sojabone weg te werk;
      • Omgewingsbesoedeling te minimeer; en
      • Meer selfvoorsienend te raak ten opsigte van brandstof.

      Hy meld dat daar 'n Nasionale Navorsingslaboratorium te Urbana Champagne by die Universiteit van Illinois gesetel is wat navorsing doen op verskeie aspekte van soja aanwending.

      Op die onderwerp van DDGS meld mnr Hulting dat daar reeds 6 etanol aanlegte binne Illinois is wat later nog meer kan word. Tans het die DDGS nog nie 'n invloed op die verbruik van sojameel nie, want dit word uitgevoer na buurstate. Die DDGS word hoofsaaklik in herkouerdiëete aangewend en is daar nog kontroversionele sienings oor insluitingspeile by enkelmaag diere.

      DDGS word beskou as 'n bedreiging vir sojas en word daar 'n seminaar in 2007 beplan by die Universiteit van Illinois oor die effek van DDGS op sojameel verbruik. Die Proteïennavorsingstigting sal op hoogte gehou word oor die seminaar wat handel oor die ekonomiese lewensvatbaarheid van biodiesel en die benutting van residu.

    3. Besoek aan American Soybean Association


      Stephen L Censky (CEO), Jim Hershey (Director), Kim Neil (Technical Issues) en Jaclyn DeWeese

      Die ASA is 'n oorkoepelende liggaam tot 25 verenigings wat in die state funksioneer. Die hooffunksies van die ASA is om verteen­woordigend namens hul lede op te tree, insake beleidsaangeleenthede op nasionale, sowel as internasionale gebied. Hulle sal byvoorbeeld aktief optree insake handelsooreenkomste, internasionale bemarkings-aangeleenthede ensovoorts. Menslike gebruik van sojas word ook deur hul hanteer. Befondsing vir die vereniging kom vanaf lede wat 'n verpligte heffing behels. Die heffing word gehef by die eerste punt waar sojas gelewer word. Ongeveer 50% van die heffing word deurgegee aan die USB (United Soybean Board). Me Jacklyn DeWeese gee vervolgings 'n aanbieding oor die biodiesel bedryf en hanteer aspekte soos die prosesse om biodiesel te vervaardig en wys ook daarop dat die VSA 55% van sy brandstofbehoeftes invoer *(Aanhangsel 3). Die verwagting is dat dit kan toeneem tot 68%. Daar word verwys na die voordele van biodiesel en dat die hoë ru-olie pryse en regeringsinsentiewe dit lonend maak om biodiesel te vervaardig. Sojabone is by verre die vernaamste bron van olie vir biodiesel en verskaf 1 bushel sojabone nagenoeg 1,5 gelling biodiesel.

      Die biodiesel bedryf in die VSA het ook geweldig gegroei. So byvoorbeeld is daar gedurende 2004, 25 miljoen gellings geproduseer, terwyl die 2005 syfer dui op 75 miljoen gellings. In die aanbieding word ook statistieke verskaf oor die hoeveelheid aanlegte wat reeds bestaan en dié wat in aanbou is (Aanhangsel 3).

      Op 'n vraag of daar nie surplusse aan sojameel gaan ontstaan nie, word bevestigend geantwoord, maar is hulle optimisties dat dit weggewerk sal kan word. Dit sal uit die aard van die saak 'n neerdrukkende effek op sojameelpryse hê.

      Die ASA is ook van mening dat sojas nie grond sal afstaan aan mielies nie. Sojas het die afgelope vier jaar rekord oppervlaktes en oeste gehad en is dit die verwagting dat dit 2006 weer die geval sal wees. Surplus gliserien wat uit die vervaardigingsproses ontstaan, kan 'n probleem wees en word daar baie navorsing onderneem om alternatiewe gebruike daarvoor te vind.

      Tans is die VSA nog 'n netto invoerder van gliserien. Dit word voorsien dat biodiesel aanlegte nog steeds lonend sal wees, al daal die prys van ru-olie na $60. Dit is as gevolg van die staatsinsentiewe en belastingtoegewings. Van regeringskant word belasting verlaag indien biodiesel ingemeng word. 'n Indirekte insentief is dat dit verpligtend is om diesel met 'n laer swaelinhoud te vervaardig.

      Methyl Teriary Butyl Ether (MTBE) wat ook as 'n byvoegingmiddel gebruik is, word nou nie meer toegelaat nie weens gesondheids­risiko's en word daar 'n gaping gelaat vir biodiesel. Minnesota het reeds 'n verpligte 2% inmengingspeil vir biodiesel.

      Vervolgens gee mnr Jim Hersey toeligting oor sy WISHH-Program wat ten doel het om sojas vir menslike gebruik te bevorder. Hy meld dat die sojameel wat oorbly na biodiesel vervaardig is, ook as menslike voedsel verwerk kan word.

      Mnr Kim Neil spreek hom uit oor die voer van rou sojas en meld dat daar in Missouri 'n winterperiode is waartydens die gras droog is en rou sojas saam met die droë gras gevoer word. Die praktyk het 'n groot verhoging in kalfpersentasie tot gevolg gehad. Dit word egter aanbeveel dat rou sojas deur 'n hamermeul gesit word voordat dit aan melkbeeste gevoer word. Dit moet egter gevoer word saam met voer wat 'n hoë veselinhoud het.

      Oor die onderwerp van GMO's meld mnr Neil dat 91% van die VSA sojas GMO's is en sal dit binnekort 95% wees. Ten spyte van die verbod op invoere van GMO sojas deur die EU, is daar op 'n stadium 7 miljoen ton daarna toe uitgevoer. Noudat die etiketerings­wetgewing in plek is, het die uitvoere na die EU afgekom na 4 miljoen ton. Die ASA doen baie goeie reklame om vrese wat bestaan oor GMO produkte te besweer.

    4. Besoek aan United Soybean Board (USB)


      John Becherer (CEO), Mark Halsey (Research Director), Edgar Ready (Production Program Manager) en Tracy Snider (Director of Feed Utilization)

      Verskeie onderwerpe is tydens die onderhoud hanteer.

      In die eerste instansie is na sojaroes verwys en is gemeld dat roes gedurende November 2004 vir die eerste keer waargeneem is in Florida en weer gedurende 2005 en het dit nou na ander state ook versprei. Stappe word gedoen om produsente daarop voor te berei. Inligting op die webbladsy asook opleidingssessies word aangebied.

      Verder is daar sekere moniteringstelsels in plek en word eksperimentele plotte met vroeë variëteite op 20 plekke in elke staat geplant. Departementele navorsers by Universiteite bestuur die stelsel. 'n Simulasie model om weerpatrone na te boots is ook ingespan. Syngenta het ook bygedra deur toerusting vir die doel beskikbaar te stel.

      Hul is egter dankbaar om te meld dat roes nie so vinnig versprei het as wat aanvanklik gemeen is nie. Interessant is dit om daar op te let dat roesspore ook in reënwater gevind is. Onlangs is roes ook in Mexico en Suid-Texas gerapporteer en word daar gevrees wat volgende gaan gebeur.

      Baie werk word gedoen om variëteite te identifiseer wat moontlik roesbestand kan wees. Die VSA departement van Landbou in Maryland het 17,500 lyne en kultivars in 'n kiemplasma bank en het 700 gevind wat tot 'n mate bestandheid toon. Hieruit is 50-60 geselekteer vir verdere proefneming. Kiemplasma materiaal is in beide die Regering en privaatmaatskappye se besit. Roesrasse verander vinnig om bestandheid teen te werk. Vier gene is in sojas geïdentifiseer wat bestandheid teen roes verseker, maar hul kon nog nie 'n variteit kry wat al vier gene bevat nie. Die navorsers wil weer kyk na gewone boontjies omdat daar bone is wat vatbaar is en ander nie.

      Ten opsigte van Sclerotinia, word genoem dat dit nie 'n groot probleem is by sojas nie, maar wel op sonneblom en canola. Werk wat wel op sojas gedoen word, is om 'n langtermyn weerstandbiedende kultivar te vind. Hulle is egter nog ver van 'n deurbraak in die verband. Die Agricultual Research Service (ARS) van die Departement Landbou VSA doen werk hierop en is Dr Grau die persoon wat die navorsing koördineer. Hy is gestasioneer by die Universiteit van Wisconsin. Die USB sal inligting verskaf oor navorsers en navorsing in hierdie verband.

      Ascocyta en Phytophtera word vervolgens bespreek. Ascocyta is nie belangrik nie, maar wel Phytophtera. USB sal ook hieroor inligting beskikbaar stel. Die terughou van saad kan die oorsaak van siekteprobleme wees, maar dit is nie 'n probleem in die VSA nie. Die boere teken 'n kontrak ten opsigte van Round up Ready saad wat bepaal dat hulle elke jaar nuwe saad moet koop. Montsanto is redelik aggressief om die kontrak af te dwing.

      Ten opsigte van biodiesel word gemeld dat variëteite ontwikkel word met 'n hoër oleinsuur inhoud vir menslike gebruik wat ook goed is vir biodiesel. Dit is ook 'n GMO variëteite. Programme is ook in plek om boere te motiveer om nie net opbrengs na te streef nie, maar meer olie en proteïen per eenheids oppervlakte te produseer. Daar is kultivars wat aan du Pont behoort wat 80-85% oleinsuur bevat. Daar word ook gepoog om 'n sojaboonkultivar te teel met 'n lae fetiensuur en 'n hoër metionien-, lisien- en treonieninhoud.

      Die USB verwys na die Promarstudie wat voorspel dat meer boontjies gepers gaan word vir olie en dus minder heelboontjies uitgevoer sal word. Sojameelpryse sal na verwagting daal met 20-25%. Daar sal egter 'n marginale toename wees in die sojaboontjiesprys en 'n groter toename in die prys van olie wat die laer meelpryse sal uit kanselleer (Aanhangsel 4). Lewende hawe getalle gaan stadig groei, daarom sal die mark vir sojameel onder druk kom. Sojameel kan egter maklik verpil word en word daar na die uitvoermark gekyk om van die surplusse ontslae te raak.

      Daar is 'n taakspan in die lewe geroep om na alternatiewes te kyk ten opsigte van surplus meel. Sojameel sal ook moet kan kompeteer met DDGS en sinteties vervaardigde metionien, lisien ensovoorts. Daarom sal die aminosure in die sojameel moet verbeter. Daar vind ook 'n verskuiwing in die aanplanting van sojas plaas vanaf die Suide na die Noord-Weste ten koste van koring. Daar word verwag dat soja aanplantings verder sal toeneem soos droogtebestande kultivars ontwikkel word.

      Daar word ook baie navorsing onderneem ten opsigte van die aanwending van sojameel vir akwakultuur. Dit word weer bevestig dat die gebruik van rousojas in die VSA laag is.

      'n Konsortium van organisasies het die groep 25x25 op die been gebring om te kyk na moontlikhede ten opsigte van energie selfvoorsienendheid, die heropbou van landelike ekonomie en die beskerming van die omgewing. Meer inligting kan bekom word op hul webbladsy www.agenergy.info.

      Die laaste stelling wat mnr Becherer gemaak het, is dat die VSA nie 'n energie beleid het nie.

    5. Dr Randy D Shaver – Melkbeesvoedingkundige by die Universiteit van Wisconsin, Madison, Wisconsin

      Omdat Dr Larry Satter tydens ons besoek aan Wisconsin nie beskikbaar was nie, het ons 'n afspraak met Dr Shaver gemaak wie een van sy oud studente is.

      Dr Shaver noem aan ons dat hy tans 75% van sy tyd aan voorligting bestee en 25% aan navorsing. Sy groot belangstelling by melkbeeste lê by die benutting van koolhidrate, vette en vesel asook die voorkoms van laminitis en melksuur asidose.

      In Wisconsin is daar ongeveer 15 000 melkplase terwyl die aantal melkbeeste wissel tussen 1,200,000 en 1,300,000.

      In Wisconsin is sojabone die dominante proteïensupplement vir melkbeeste. Sojaboonverbouing in Wisconsin het onlangs die een miljoen akker kerf oorskry en die oppervlakte onder lusern verbygesteek.

      Die gemiddelde opbrengs van sojabone in Wisconsin is 45 bushels per akker met 'n digtheid van 60 lb per bushel. Dit wil sê 3,04 ton per hektaar.

      Daar is ook uitbreiding van sojaboonverbouing in die Noorde van Wisconsin en hier is die opbrengste ongeveer ongeveer 42 bushel per akker (2.83 ton per hektaar).

      Omdat die maak van mieliekuilvoer (sny een keer in 'n jaar) minder arbeidsintensief is as die maak van lusernkuilvoer (4 snysels per jaar) is daar 'n verskuiwing weg van lusernkuilvoer na mieliekuilvoer.

      Meeste suiwelprodusente beskik oor hulle eie ruvoer en grane en koop dus slegs proteïen-, vitamien- en mineralesupplemente aan om hul rantsoene te balanseer.

      Sojabone word op vier maniere aangewend by melkbeeste, naamlik:

      • Rou
      • "Solvent extracted"
      • Gerooster
      • Expeller

      Voeding van rou sojabone aan melkbeeste word op 'n beperkte skaal toegepas in Wisconsin. Die rede is dat rou sojabone hoogs degradeerbaar is en by hoë produserende melkbeeste verbyvloei proteïene belangrik is.

      Meeste voedingkundiges wil sojabone dus in 'n geproseseerde vorm voer. Degradeerbare proteïene word egter wel benodig en volgens Dr Shaver sal melkboere rou sojabone aanwend tot 3 pond (1.3kg) per koei per dag. Hy is van mening dat wanneer 3 pond rou sojabone per koei per dag oorskry word, die tripsien inhibeerders in rou sojabone wel melkproduksie kan onderdruk.

      Dit is interessant om hierdie rou sojaboon inname te vergelyk met Dr Porter van Land O' Lakes se aanbevelings. Laasgenoemde se aanbeveling was 'n maksimum van 5% rou sojabone in rantsoene gedurende die eerste 100 dae van laktasie en 10% daarna. Met 'n voerinname van 23kg per koei per dag beteken dit 1,15kg rou sojabone gedurende die eerste 100 dae van laktasie en 2,3kg daarna.

      Dr Shaver noem dat 'n organisasie "Midwest Grain Roasters", Wes van Madison, op 'n groot skaal sojabone rooster. Hulle het nie alleen groot volume roosters nie, maar beskik ook oor verskuifbare roosters (roosters op wiele) waarmee boere se sojabone op die plaas gerooster word.

      Boere self beskik nie oor roosters nie. Baie boere verkoop hulle sojabone aan 'n koöperasie en koop dan geroosterde sojabone terug. Sommige boere het die ekstrusie roete van sojaboneverwerking gevolg, maar weens ekonomiese redes, hierdie praktyk gestaak.

      Dr Shaver wys daarop dat die beste resultate verkry word wanneer sojabone verhit word tot 'n sekere temperatuur en daarna vir 30 minute "gesteep" word. Die proses van "steeping" of "kondisionering" kom basies daarop neer dat na verhitting die sojabone in 'n houer geplaas word waar die hitte sover moontlik behoue bly. Die proses van "steeping" verseker dat alle boontjies verhit word en nie net die buitenste oppervlakte nie.

      Van 6 tot 7 pond van die geroosterde sojabone (2,7 tot 3,0kg) word aan melkbeeste gevoer. Wanneer sojabone gerooster is, breek dit maklik. Sojabone wat in nagenoeg 4 stukkies opgebreek word, gee beter resultate as fyn gemaalde of heel boontjies.

      Dr Shaver verwys na werk wat Dr Satter in 1994 gedoen het. Hy het sojabone gerooster tot by 'n temperatuur van 295°F (146°C) en toe laat "steep" vir 30 minute. Hierdie sojabone is in 'n uitgebreide proef vergelyk met rou sojabone en "solvent extracted" sojaboon-oliekoek. Elke dieet het bestaan uit 50% lusernkuilvoer en 50% konsentraat op 'n droë materiaal basis. Die rantsoene het dieselfde proteïeninhoud gehad en die proteïen supplement op 'n droë basis vir die 3 rantsoene was 10% "solvent extracted" soja-oliekoekmeel, 13% rou sojabone en 13% geroosterde sojabone.

      Die resultate van hierdie proef word in die onderstaande tabel aangetoon:

      Die invloed van Proteïensupplement op Voerinname, Melkproduksie en Melksamestelling
      Soja-oliekoekmeel Rou Sojas Geroosterde Sojas
      Droë Mat. Inname 23,4 22,3 23,6
      Melkproduksie (lt/dag) 34,5 34,2 38,9
      Vet (kg/dag) 1,16 1,22 1,31
      Proteïen (kg/dag) 1,01 1,01 1,10
      Melksamestelling
      Soja-oliekoekmeel Rou Sojas Geroosterde Sojas
      Vet (%) 3,41 3,50 3,41
      Proteïen (%) 2,99 2,89 2,85

      Uit bogenoemde tabel is dit duidelik dat behoorlik geroosterde sojabone wat die proses van "steeping" deurgemaak het 4,4 liter meer melk per koei per dag gelewer het. Verder is dit opvallend dat melkproduksie min verskil het tussen sojaboontjiemeel (solvent extracted) en rou sojabone.

      Dr Shaver is van mening dat die koste om een ton sojabone te rooster ongeveer $30.00 beloop. Met hoër brandstofkoste kan dit verwag word dat hierdie koste sal styg.

      "Expeller" Soja-oliekoekmeel volgens Dr Shaver bevat ongeveer 5% olie en 40% proteïne. Omdat hierdie sojabone aan 'n hitteproses blootgestel word voor persing, bevat "expeller" soja-oliekoek heelwat verbyvloei proteïene. Dit wil voorkom asof daar 'n toename in die verbruik van hierdie produk is.

      Volgens Dr Shaver word reeds groot hoeveelhede sojabone in die VSA aangewend vir biodiesel produksie. Met die groter produksie (beskikbaarheid) van sojaboon-oliekoek vanaf hierdie aanlegte is daar 'n versagting in die pryse van sojaboon-oliekoek waarneembaar.

      Wat mielies betref noem hy dat 20% van alle mielies wat in Wisconsin geproduseer word, reeds vir bio-etanol produksie aangewend word.

      Volgens Dr Shaver is die huidige prys van "Solvent extracted" soja-oliekoek meel $175 per ton. Na sy mening is die relatiewe waarde van DDGS teenoor soja-oliekoekmeel $120 per ton, dit wil sê 68,57%.

      As gevolg van die groot hoeveelhede beskikbare DDGS het pryse gedaal na $70.00 per ton. Daar is dus 'n groot aansporing om meer DDGS te gebruik ten koste van soja-oliekoekmeel. Dr Shaver wys egter daarop dat die lae lisien inhoud van DDGS 'n beperkende faktor is. Ook moet in gedagte gehou word dat al hoe meer mieliekuilvoer in Wisconsin gebruik word wat die probleem vererger.

      DDGS kan met goeie verbyvloei-proteïen bronne soos vismeel en bloedmeel, aangevul word. Die prys van eersgenoemde egter is tans buitensporig hoog terwyl die beskikbaarheid van lisien in laasgenoemde dikwels onder verdenking is as gevolg van oorverhitting daarvan in die drogingsproses.

      Dit wil ook voorkom asof daar binnekort 'n verbod op die gebruik van bloedmeel in herkouervoere in Suid-Afrika geplaas gaan word.

      Dr Shaver se gevoel is dat die insluitingsvlak van DDGS in suiwelrantsoene Total Mixed Rations (TMR) ongeveer 10% behoort te wees of 5 lb per koei per dag.

      Daar word verder daarop gewys dat as gevolg van die hoë fosfaatinhoud in DDGS, hoë insluitingsvlakke in suiwelrantsoene hoë fosfaat uitskeidings in die mis tot gevolg gehad het. Dit op sy beurt skep weer probleme met omgewingsdrukgroepe.

      Wanneer vervangingsverse in 'n melkbeeskudde op lae kwaliteit ruvoer aangewese is, word uitstekende resultate met nat DDGS aanvulling behaal. Dr Shaver is van menig dat by melkbeeste een pond DDGS in 'n rantsoen, 0,6 pond mielies en 0,4 pond soja-oliekoekmeel vervang.

      Verder word groot kommer uitgespreek oor die groot variasie wat in die samestelling van DDGS voorkom.

      Om groter omset deur 'n fabriek te kry, word dikwels van oormatige temperature gebruik gemaak tydens droging. Die hoë temperature het 'n donker kleur DDGS tot gevolg, in plaas van die aangewese ligte goue kleur. Die donker kleur is 'n aanduiding van oorverhitting en dat die Maillard reaksie kon plaasgevind het. Die gevolg is dat aminosure minder toeganklik is.

      Distillers Dried Grains (DDG) en Distillers Condensed Solubles (DCS) se proteïen en vetinhoud verskil totaal van mekaar. Eersgenoemde se proteïeninhoud is aansienlik hoër as laasgenoemde terwyl die vetinhoud van eersgenoemde weer aansienlik laer is as die van Distillers Condensed Solubles. Indien hierdie produkte nie in dieselfde verhouding gemeng en gedroog word nie kan dit dus lei tot aansienlike variasie.

      'n Verdere oorsaak van variasie wat in DDGS mag voorkom, is die substraat wat in die fermentasie proses gebruik word, dit wil sê mielies, graansorghum en koring of 'n kombinasie van die grane. Hierdie variasies skep probleme vir voedingkundiges wanneer rantsoene geformuleer word. As gevolg van die variasie in produksieresultate en prestasie van diere is veevoer formuleerders dus dikwels huiwerig om hierdie grondstof te gebruik.

    6. Mid Missouri Energy – Mnr Billy Gwaltney, Algemene Bestuurder

      Na 'n besigtingstoer deur die etanol aanleg, is daar gesprek gevoer met mnr Gwaltney. Die etanol aanleg word besit deur 726 produsente en is ontwerp om 40 miljoen gelling per jaar te produseer met mielies as die basis. Op die oomblik word daar egter 50 miljoen gelling etanol geproduseer.

      Die oprigtingskoste was $60 miljoen. Die Federale regering begroot vir 'n insentief van $7,5 miljoen per jaar vir die eerste twee jaar vir ontwikkelingskoste. Hulle moes dus $15 miljoen ontvang het maar het tot dusver slegs $5 miljoen ontvang. Die regering van Missouri gee 'n verdere 20c / gelling ten opsigte van die eerste 12,5 miljoen gelling en 5c / gelling vir die volgende 12,5 miljoen gelling vir 'n periode van 5 jaar.

      Mnr Gwaltney het verwys na $3 miljoen per jaar vir vyf jaar wat nie klop as die berekening gedoen word nie. Feit is egter dat ondersteuning ook van die staat Missouri ontvang word.

      'n Verdere subsidie van 51c / gelling word ontvang wat genoem word 'n "blenders tax credit". Dit gaan egter na die petroleum maatskappye. Die energie wetgewing bepaal dat 4½ biljoen gelling etanol huidig ingemeng moet word wat teen 2010 te staan sal kom op 7,5 biljoen gelling etanol. Dit is 'n uitvloeisel van die "skoon lug standaarde" wat neergelê word.

      Eers was die petroleum maatskappye in 'n sterk bedingingsposisie maar het die verpligte inmenging nou meegebring dat hul nie meer kan betaal vir etanol wat hul wil nie. Die prys van etanol word nou volgens drie maniere bepaal:

      • Groothandel petrolprys + 51c;
      • Petrolprys + 51c, minus aantal sente;
      • 'n Indeksprys + daaglikse etanolrakprys minus 10c.

      Die DDGS wat vrygestel word, word hoofsaaklik op 'n gedroogde basis (10-11% vog) aan produsente van herkouers verkoop. Pluimvee begin nou ook DDGS in 'n beperkte mate gebruik. Die insluitingspeil van DDGS in herkouers se voerrantsoene is tans 10%.

      Volgens mnr Gwaltney verplaas DDGS kuilvoer, mielies, sojas en lusern, maar hoofsaaklik mielies. Die prys wat vir DDGS verkry word is in die omgewing van 1:1 van die prys van mielies.

      Daar is egter al soveel as 120% van die prys van mielies gekry vir DDGS op 'n gewigsbasis.

      DDGS sal verbrand word vir energie as die prys tot 50-60% daal van die mielieprys. Die prys van gas het die afgelope maande verdubbel. Mnr Gwaltney stem nie saam met die stellings dat dit meer kos aan energie om etanol te vervaardig as die energie wat deur etanol toegevoeg word nie en meld syfers om dit te staaf.

      Mnr Gwaltney verskaf 'n paar interessante statistieke rondom die vervaardigingsproses: Daar word 2,8 gelling etanol per bushel mielies vervaardig en 17 miljoen bushels mielies word per jaar benodig. Om 40 miljoen gelling etanol per jaar te vervaardig benodig hulle 40,000 bushels mielies per dag. Daar word 400 ton DDGS per dag vervaardig en 12,000 ton per maand. Hy beweer ook dat $1,42 waarde toegevoeg word tot 'n bushel mielies wanneer etanol vervaardig word, wat dit dus meer lonend maak vir produsente om mielies in die rigting te kanaliseer. Huidig word 11 biljoen bushels mielies in die VSA geproduseer wat kan toeneem na 15 biljoen bushels in 2015 waarvan 5,5 biljoen bushels vir etanol vervaardiging aangewend kan word. Die groot vraag na mielies kan die prys opjaag as al die aanlegte wat beplan word gebou is. Mnr Gwaltney is van mening dat die energiekoste om mielies te produseer sal styg en beveel hy aan dat boere in etanol aanlegte moet belê as hulle wil geld maak.

      Hy meld interessantheidshalwe dat daar in Alberta Kanada, 8 tot 10 keer meer oliereserwes is as in die Midde-Ooste (tar sands), maar dit is moeilik om dit te ontgin en sal nuwe tegnologie benodig.

    7. Land O'Lakes Navorsingsplaas – St Louis


      (Besoek die Land O'Lakes navorsingsplaas wat gesamentlik deur Ralston Purina en Nestlé besit word.)

      Ons word ontmoet deur dr Paul Porter wie in beheer staan van Suiwelnavorsing. 'n Besigtigingstoer van die Navorsings-fasiliteite word onderneem en dr Cindie Luhman, Direkteur van Navorsing en Ontwikkeling sluit by ons aan.

      Hierdie organisasie beskik oor uitstekende fasiliteite en baie goeie navorsing word gedoen op vleisbeeste, melkbeeste, varke, perde, konyne en troeteldiere.

      Na besoek van die Navorsingsfasiliteite sluit dr Larry DeGoey (Varkvoedingkundige) en dr Ronald Scott (Vleisbeesvoeding-kundige) by ons aan.

      Varkvoeding

      Dr DeGoey dui aan dat die nutriënt samestelling van DDGS aansienlik varieer. Die samestelling tussen aanlegte varieer, alhoewel variasie by dieselfde aanleg minder is, kom dit tog voor. Die samestelling van die DDGS wat geproduseer word, word bepaal deur die gehalte en die samestelling van die mielies wat fermenteer word.

      Met die uitsondering van die energie-inhoud, wat ietwat laer is as die van mielies, is al die ander nutriënte in DDGS 3 keer die van mielies wat fermenteer word.

      Daar word ook genoem dat die konsentrasie effek van nutriënte ook van toepassing is op die mikotoksienes wat teenwoordig is.

      Dr DeGoey sê dat die duimreel by varke is dat vir elke 100 pond DDGS wat in varkrantsoene ingesluit word, die mieliemeel en soja-oliekoekmeel met 85 pond en 15 pond respektiewelik verminder moet word.

      In Varkgroei- en Varkafrondings rantsoene word 10% DDGS aanbeveel. Groeivermoë kan nadelig beïnvloed word indien hoër insluitingspeile gebruik word.

      Dit word genoem dat wanneer DDGS vir die eerste keer in 'n varkrantsoen ingesluit word, voerinname tydelik verminder.

      Insluitingspeile hoër as 20% veroorsaak sagte karkasvet.

      Alhoewel 15 tot 20% DDGS in dragtige sôe se rantsoene ingesluit word, is sommige produsente huiwerig om dit te gebruik omdat hulle bekommerd is oor die konsentrasie effek van mikotoksienes in DDGS afkomstig van besmette mielies.

      Oor die algemeen word DDGS nie in lakterende sog- en kruipvoer rantsoene aanbeveel nie.

      Alhoewel daar min navorsing gedoen is oor die voordelige effek van DDGS op ileitis, word van verskillende bronne verneem dat DDGS 'n belangrike rol speel in die beheer van hierdie siekte. Dit word gespekuleer dat die onoplosbare vesel, gis en melksuur in DDGS 'n voordelige uitwerking het op algemene dermweefsel gesondheid.

      Dr DeGoey noem dat 'n aanleg in die staat van Iowa opgerig is waar die semels en vet uit mielies verwyder word. Die DDGS geproduseer vanaf hierdie proses het 'n proteïeninhoud van 40%. Alhoewel die vetinhoud van hierdie produk laer is, bly die ADF en NDF min of meer dieselfde. Verdere navorsing op hierdie produk moet gedoen word. 'n Soortgelyke fabriek word in Minnesota gebou.

      Volgens Dr DeGoey word rou sojabone nie by varke gebruik nie. Die tripsien inhibeerders teenwoordig in rou sojabone veroorsaak swak gemiddelde daaglikse gewigstoenames.

      Vleisbees Voerkrale

      Sonder om ernstig te wees, het Dr Scott die sydelingse opmerking gemaak dat die voerkraalbedryf al die grondstowwe gebruik wat die veevoerbedryf van die hand wys.

      Groot hoeveelhede DDGS word deur Voerkrale in die VSA gebruik. Dit word nat gebruik (60-70% vog) asook in gedroogde vorm (10-12% vog). Hy noem dat die gemiddelde voerkraalrantsoen in die VSA 'n proteïeninhoud van 13% het. Voor DDGS beskikbaar geword het, was die proteïenaanvullings katoensaad-, soja- of sonneblomolie-koekmeel. Afhangende van prys word hierdie oliekoeke dus basies deur DDGS vervang.

      Dr Scott wys daarop dat die houvermoë van nat DDGS in die VSA ongeveer 7 dae is in die winter, terwyl dit in die somer slegs 3 dae is.

      Suiwel

      Dr Porter is die mening toegedaan dat by gemiddelde melkbeeskuddes DDGS tot 20% ingesluit kan word. Wanneer sulke hoë hoeveelhede DDGS gebruik word, kan rantsoene gebrekkig wees aan lisien en behoort gekyk te word na aanvullings soos bloedmeel en vismeel.

      Vir hoë produserende kuddes sou hy egter die insluiting van DDGS beperk tot 5% gedurende die eerste 100 dae van laktasie. Na 100 dae kan die insluitingspeil verhoog word na 10%.

      By vervangingsverse is DDGS baie geskik as aanvullende voer op droë weidings.

      Dr Porter se mening is gevra oor die aanwending van rou sojabone by melkbeeste, veral waar sojabone ver van soja verwerkingsaanlegte verbou word. Sy antwoord was dat rou sojabone nie in die VSA gevoer word nie vanweë die hoë waarde van sojaboonolie. Hy voel dat dit 'n ekonomiese besluit is en dat hy met die grootste vrymoedigheid 'n insluitingspeil van 5% gedurende die eerste 100 dae van laktasie sal aanbeveel. Na 100 dae van laktasie kan die insluitingspeil na 10% verhoog word. Die sojabone wat ingesluit word moet grof gemaal wees.

    8. Bywoning van die US Grain Council Konferensie te Dallas, Texas

      Die hoof fokus van die konferensie het gehandel oor die meer doeltreffende vervaardiging van etanol uit mielies asook die aanwending van DDGS in die veevoerbedryf.

      Aspekte wat aandag geniet het was beleidsaangeleenthede, teling, bemarking, produksie, tegniese impak op die omgewing en ensiemes.

      Die konferensie het oor 2½ dae gestrek en die lesings is in gesamentlike en gelyklopende sessies aangebied.

      Plakkaat referate van groot omvang oor 'n verskeidenheid van onderwerpe is ook aangebied.

      Die konferensie is bygewoon deur ongeveer 500 afgevaardigdes wat verskeie lande verteenwoordig het. Bywoning kon slegs geskied op uitnodiging en die PNS was bevoorreg om 'n uitnodiging te ontvang.

      In die verband is die PNS groot dank verskuldig aan mnre Heiko Koster en Kurt Shultz wat op kort kennisgewing hierdie uitnodiging gereël het.

      Goeie skakeling is gemaak en gesprekke is gevoer met 'n verkseidenheid van kundiges van ander lande.

      Konferensie materiaal is beskikbaar by die PNS kantoor (Aanhangsel 5).

    9. Bywoning van een dag kursus insake aanwending van DDGS: Universiteit van Minnesota, St Paul

      Die kursus het 'n aanvang geneem deur 'n breë oorsig te verskaf met betrekking tot die produksie en nutriënt samestelling van DDGS. Daarna het die lesings gefokus op kwaliteitsaspekte van DDGS asook die benutting daarvan deur melkbeeste, vleisbeeste, varke en hoenders.

      Uit al die lesings was dit baie duidelik dat relatiewe hoë insluitingspeile van DDGS suksesvol gebruik kan word mits aan sekere kwaliteitstandaarde voldoen word.

      Al dié lesings is in bundelvorm beskikbaar (Aanhangsel 6).

  4. Kanada, 31 Mei 2006 tot 3 Junie 2006

    1. Besoek aan Louis Dreyfus, Calgary Alberta


      Mnr Brian Conn (Handelsbestuurder), Mnr Tracy Lussier (Bestuurder Nasionale Handel) en Mnr Barry Petras (Graan Logistiek)

      Louis Dreyfus is 'n internasionale maatskappy wat betrokke is by handelsaktiwiteite (aankope, verkope en uitvoer) en ook persaanlegte besit. So besit hulle byvoorbeeld 3 persaanlegte in Brazilie en besit ook die 2e grootste pers in Argentinië wat 20,000 ton saad/dag kan hanteer.

      In Claypool Indiana, word 'n nuwe pers opgerig wat 4,000 ton/dag sal hanteer en teen einde 2007 operatief sal wees. Die persaanlegte in Brazilië, Argentinië en die VSA sal soja gebaseerd wees. Dit sal alles vir biodiesel aangewend word. In Kanada verwerk hulle 500,000 ton canola per jaar. Om in hul behoeftes te voorsien, koop hul direk van produsente.

      Kanada se totale canola produksie is ongeveer 8-9 miljoen ton waarvan 5,3 miljoen ton uitgevoer word en 3,4 miljoen ton plaaslik gepers word. Kanada se perskapasiteit is 3,4 tot 3,5 miljoen ton.

      Louis Dreyfus se perskapasiteit in die VSA is 800,000-900,000 ton per jaar. Ander groot rolspelers in dié verband is Cargill, ADM en Bungi. Louis Dreyfus se uitvoere is ook grootliks gerig op die VSA en voer saad, olie en meel uit. Hulle voer byvoorbeeld 600,000-700,000 ton olie uit wat twee keer meer is as die plaaslike verbruik asook 1,3 miljoen ton meel.

      Louis Dreyfus is van mening dat daar groot potensiaal is vir canola in die VSA, maar die groot probleem is finansiële ondersteuning soos die gebrek aan 'n "Loan deficiency payment" stelsel wat vir ander grane geld.

      Die uitbreiding van canola produksie in Kanada is die gevolg van verskeie faktore: Nuwe gronde wat in produksie gebring word, vervanging van koring en gars oppervlaktes en variëteite wat hoër opbrengs per eenheid oppervlakte lewer. Die huidige langtermyn gemiddelde opbrengs vir canola is ongeveer 1,73 ton/ha.

      Mnr Conn bevestig dat die uitbreiding van canola aanplantngs in die toekoms met 6-7 miljoen ha kan toeneem. Hierdie uitbreiding sal hoofsaaklik wees as gevolg van die toename in vraag na olie vir menslike gebruik, sowel as biobrandstof. Hy meld ook verder dat 75% van alle graangewasse soos koring, durumkoring en gars uitgevoer word.

      Kanada beskik ook nie oor die subsidie beleid van die VSA nie.

      Dit word verwag dat die Kanadese regering gedurende Oktober 2006 'n aankondiging sal maak ten opsigte van 'n biobrandstofprogram. Na verwagting sal dit 'n verpligte insluitingspeil vir biodiesel en Etanol van 5% behels asook sekere streng kwaliteitsstandaarde. Daar is reeds 'n paar klein biodieselaanlegte in Kanada, maar nie noodwendig Canola gebaseer nie. Hulle verwerk hoofsaaklik afvalolies-en-vette.

      Kanada voer heelwat canola olie uit na die EU wat dit verwerk vir biodiesel. Verder voer hul ook saad uit na derde lande soos Turkye en Dubai wie dit pers en dan die olie na die EU uitvoer vir biodiesel. Kanada beskik nie oor die perskapasiteit om in die internasionale vraag te voorsien nie.

      Na verwagting sal nuwe perskapasiteit in Europa opgerig word wat 'n verdere 2 miljoen ton olie in 2007 sal kan hanteer. In Kanada is vervoer infrastruktuur ook onder druk as gevolg van die groot uitbreiding in die vraag na kommoditeite in Sjina. Vir dieselfde rede het die spoorvervoer in die VSA ook geweldig uitgebrei. Die vernaamste vervoermiddel in Kanada is spoorvervoer en word feitlik alles per spoor vervoer.

      Op 'n vraag oor produksiegebiede word bevestig dat die hoofproduksie areas van canola in Wes-Kanada voorkom, maar dit is ook taamlik verspreid. Die Staat Alberta is die grootste gevolg deur Saskatchewan en derdens Manitoba. Canola word hoofsaaklik onder droëland toestande verbou en kom die meeste reën in die somer voor. Die gemiddelde plaas grootte word geraam op 800 ha maar daar is ook heelwat groter plase wat wissel van 2000 ha tot 4000 ha.

      Benewens Louis Dreyfus is daar 4 ander persaanlegte:

      • Cargill: 700,000 ton kapasiteit
      • Canbra: 400,000 ton kapasiteit
      • ADM: 1,266,000 ton kapasiteit
      • Bungri: 1,675,000 ton kapasiteit

      Daar word 500,000 ton canola olie plaaslike geproduseer en 600,000-700,000 ton meel. Baie min volvet canola word aan lewende hawe gevoer, slegs die laer grade wat maar 25% van die canola oes uitmaak. Die prys van canola aan die produsent word nie volgens kwaliteit en olie-inhoud bepaal nie.

    2. Dr Dave Hickling, Vice-President, Canola Utilization, Canola Council of Canada

      Dr Dave Hickling, Vice-President, Canola Utilization, Canola Council of Canada word aan ons voorgestel deur mnr Brian Conn, Handelsbestuurder van Louis Dreyfuss, Kanada.

      Dr Hickling deel ons mee dat canola deur standaard planttelingstegnieke ontwikkel is uit raapsaad (Brassica napus en Brassica campestris / rapa). Die olie van canola bevat lae vlakke van erukasuur (<2%) asook lae vlakke van glukosinolate in die meel (<30 µ mol/g). Die glukosinolate vlakke in raapsaad is deur teling verminder omdat dit toksies en onsmaaklik vir diere is. Om hierdie rede word die insluiting van raapsaad in veevoere beperk tot baie lae vlakke. Om onderskeid te tref is daar toe besluit op die term, "canola" (Canadian oil). In sommige lande, veral in Europa, word die term "double-zero-rapeseed" gebruik (lae erukasuur en lae glukosinolate) om "canola kwaliteit" saad, olie en meel te identifiseer.

      Die proteïeninhoud van canola-oliekoekmeel wissel tussen 36 en 37% en kompeteer primêr met 47% proteïen soja-oliekoekmeel.

      Nadat die olie uit die canola saad ekstratreer is, bevat die oliekoek slegs 1% olie. Om die energie-inhoud van die canola-oliekoekmeel egter te verbeter word "gomme en soapstocks" teruggemeng om die olie-inhoud in kommersieel beskikbare canola-oliekoek te verhoog na 3,5%. Die "gomme en soapstocks" is afkomstig van die raffinering van die ru-canola olie en word in die "desolventizer toaster" terug geplaas. Nie alleen verhoog hierdie toevoeging die energie inhoud van canola oliekoek nie, maar maak dit hierdie grondstof minder stowwerig.

      Dr Hickling verstrek die volgende relatiewe waardes van canola oliekoek teenoor die van sojaboonoliekoek vir die verskillende klasse vee:


      Braaikuikens –     55-65%
      Pluimvee –     60-70%
      Varke –     65-75%
      Suiwel –     70-85%

      Vanaf bogenoemde is dit duidelik dat canola in rantsoene wat hoë eise stel ten opsigte van energie en lisien soos byvoorbeeld braaikuikenvoere, 'n relatiewe laer waarde het teenoor sojaboonoliekoek. Rantsoene wat intermediêre energie en relatief hoë metionien, cystine en histidien vereis, soos byvoorbeeld suiwel- en lê-rantsoene aan die anderkant, plaas hoër waardes op canola oliekoek.

      Dit is belangrik om te weet dat lêhenne wat bruin-dop eiers produseer en rantsoene ontvang wat canola-oliekoek of raapsaadmeel bevat, dikwels eiers produseer met 'n vis geur. Dit wil voorkom asof dat henne wat bruin-dop eiers produseer, waarskynlik minder trimethylamine oksidase produseer as wit leghorns. Trimethylamine word dus nie gemetaboliseer nie en beweeg in die eiergeel in wat die vis geur veroorsaak. Canola en raapsaad is meer gevoelig as ander grondstowwe omdat hulle groter hoeveelhede choline en sinapien bevat. Beide choline en sinapien is voorgangers van trimethylamine. Om hierdie rede word dit aanbeveel dat canola- en raapsaadmeel in rantsoene van lêhenne wat bruin-dop eiers produseer, beperk word tot 'n maksimum van 3%.

      In Kalifornië in die VSA word canola-oliekoek verkoop teen 80% van die prys van sojaboonoliekoek omdat hierdie streek 'n baie groot suiwel produserende gebied is.

      Net soos baie ander plantaardige proteïenbronne is die aminosuur lisien beperkend in canola-oliekoek. Dit het egter 'n relatiewe hoë metionien, cystine en histidien inhoud.

      Dr Hickling wys daarop dat dit ingewikkeld is om die melkkoei se aminosuur behoeftes te bevredig. Dit is gekompliseerd omdat aminosure voorsien word van twee bronne, naamlik mikrobiese proteïene en rumen verbyvloei proteïene. Wanneer die aminosuur behoeftes van die melkkoei en die bydrae wat mikrobiese proteïene maak oorweeg word, kan die eerste beperkende aminosuur bepaal word.

      Daar is heelwat debat oor wat die eerste beperkende aminosuur in praktiese melkbeesvoeding is. Lisien word voorgehou as die eerste beperkende aminosuur wanneer rantsoene op mielies geskoei word terwyl metionien as eerste beperkend aminosuur beskou word wanneer rantsoene laag in mielies is, maar hoog in sojaboonmeel.

      Die tipe ruvoer wat gebruik word kan ook 'n invloed uitoefen. Lisien sal heel waarskynlik eerder beperkend wees wanneer die ruvoer mieliekuilvoer is as wanneer lusernkuilvoer gevoer word wat hoër in lisien is.

      In Kanada egter word min mielies en sojabone in suiwelrantsoene gebruik. Hier word gars gebruik en proteïenbronne ander as sojabone. Aanduidings is dat histidien hier die eerste beperkende aminosuur kan wees, terwyl daar ook gekyk word na die ketting aminosure leucine, isoleucine en valien.

      In die onderstaande tabel word die aminosuur inhoud van rumen mikrobes, canola meel, soja-oliekoekmeel, mielie glutenmeel, katoensaadmeel en sonneblommeel uitgedruk as 'n persentasie van die aminosuur samestelling van melk.

      Vergelyking van die aminosuur samestelling van 'n aantal grondstowwe en grootpens mikrobes met die van melkproteïene
      Aminosure as persentasie van melkproteïene
      % Essensiële
      aminosure in melk
      Rumen mikrobe Canola­meel Sojaboon­meel Mielie glutenmeel Katoensaad­meel Sonneblom­meel
      Arginien 7,2 139 197 225 99 361 288
      Histidien 5,5 73 138 111 85 120 113
      Isoleucine 11,4 107 83 89 80 64 87
      Leucine 19,5 81 82 88 190 71 133
      Lisien 16,0 119 84 87 23 61 50
      Metionien 5,5 84 95 58 95 67 102
      Phenylalanien 10,0 104 103 116 141 125 110
      Treonien 8,9 121 113 98 84 85 98
      Triptofaan 3,0 90 115 93 40 93 97
      Valien 13,0 85 88 78 79 77 90

      Uit die tabel is dit duidelik dat canola 'n uitstekende bron van histidien, metionien, treonien en triptofaan is.

      Dr Hickling verwys ons na verskeie proewe waar canola gesupplementeerde suiwelrantsoene ongeveer 1 liter meer melk per koei per dag geproduseer het. Hy skryf hierdie verbetering toe aan die feit dat canola 'n uitstekende bron van bogenoemde aminosure is, terwyl dit terselfdertyd aminosure van ander proteïenbronne goed aanvul.

      Dr Hickling spreek die mening uit dat ten spyte van canola se goeie aminosuur samestelling en die goeie respons by melkbeeste, die produk verder verbeter kan word deur die rumen verbyvloei proteïene (aminosure) te verhoog. Dit kan bewerkstellig word deur hitte en chemiese behandeling.

      Hy glo dat in die toekoms moontlik twee tipes canola-oliekoek geproduseer kan word. Die een tipe is waar die oliekoek aan hoër temperature blootgestel word en meer verbyvloei proteïene vir melkbeeste dus beskikbaar gestel word. Daar moet egter gewaak word teen te hoë temperature wat weer die verbyvloei aminosure minder toeganklik maak.

      Die ander tipe canola-oliekoek is waar die oliekoek aan laer temperature blootgestel word en op die wyse maksimum verteerbare aminosure aan enkelmaagdiere beskikbaar stel.

      Die mees effektiewe wyse om die mirosinase ensiem in canola te de-aktiveer is gedurende die kookproses van die canolasaad voor persing. Indien hierdie ensiem nie vernietig word nie, kan dit die glukosinolate in die spysverteringskanaal afbreek na sy toksiese metaboliete (aglucones).

      Onlangse werk by verskeie oliepersers in Kanada het aan die lig gebring dat canola-oliekoek 'n baie hoë kwaliteit en uniforme produk is totdat dit die "desolventising toasting" proses bereik. Gedurende laasgenoemde proses word proteïen- en lisienverteerbaarheid aansienlik verlaag. Heelwat navorsing het aan die lig gebring dat temperature van 105°C in die "desolventising toaster" ietwat proteïen beskadiging veroorsaak.

      Maksimum temperatuur van 95°C verbeter egter die lisien beskikbaarheid betekenisvol (Aanhangsel 7 "Feed Industry Guide").

      Dr Hickling noem dat canolameel met 'n NDIN (Neutral Detergent Insoluble Nitrogen) waarde van minder as 10% se beskikbare lisien meer as 85% sal wees. Hy noem ook dat die NDIN metode aminosuur beskikbaarheid waarskynlik meer akkuraat voorspel as die Kalium Hidroksied (KOH) metode.

      Lisien beskikbaarheid op canola-oliekoek sal waarskynlik ook binnekort met Naby Infrarooi spektroskopie bepaal kan word.

      Daar is aan Dr Hickling genoem dat navorsing wat deur die Proteïennavorsingstigting befonds is, aan die lig gebring het dat namate die insluitingsvlakke van canola in rantsoene toeneem, prestasie van varke en braaikuikens verswak het.

      Sy kommentaar hierop was dat canola dikwels teen lae vlakke in rantsoene gebruik word omdat die ongegronde persepsie bestaan dat canola toksies en onsmaaklik is. Glukosinolate is bitter en hoë vlakke in raapsaad sal voerinname belemmer. Canolameel met sy lae glukosinolate vlakke egter het 'n neutrale smaak. Wanneer varkrantsoene op totale aminosure formuleer word en canola-oliekoek die soja-oliekoek vervang sal die verteerbare aminosure, veral lisien en metionien, inkrementeel daal.

      Voedingsproewe voor die 1990's toe geformuleer is op totale aminosure toon almal dat groei verswak namate canola-oliekoek die soja-oliekoek vervang. Meer onlangse voedingsproewe waar op 'n verteerbare aminosuur basis formuleer word, in plaas van totale aminosure toon geen verskille wanneer canola-oliekoek die soja-oliekoek vervang.

      Ten opsigte van laer voerinnames by braaikuikens stel Dr Hickling voor dat ons moet kyk na die werk van Summers en Bedford. Die verwysing is "Summers, JD and Bedford, M (1994) – Canola meal and diet acid-base balance for broilers. Can. J. Anim. Sci, 74:335-339". Skynbaar toon hulle werk dat canolameel minder kalium (1,2%) as soja-oliekoekmeel (1,9%) bevat. Hulle wys verder daarop dat wanneer die totale katioon en anioon balans oorweeg word, die hoër swael-en- fosforinhoud in canola, die positiewe balans van rantsoen katione verder verlaag.

      Bogenoemde navorsers se werk het getoon dat voerinname van braaikuikens positief gekorreleer is met die katioon- en anioon balans van die rantsoen. Dit sal die moeite werd wees om hierdie waarneming met beide Prof Gous van die Universiteit van Natal en Dr Brand van Elsenburg op te volg.

      Dr Hickling beklemtoon weereens die belangrikheid om op verteerbare aminosure te formuleer eerder as op totale aminosure. Die verteerbaarheid van kern aminosure in canola soos lisien en treonien is laer as die in soja-oliekoek. Wanneer daar dus op 'n gelyke totale aminosuur basis formuleer word, sal canola rantsoene toenemend swakker presteer as sojaboonrantsoene namate die canola-oliekoek insluitingspeile verhoog.

      Wat akwakultuur betref, noem Dr Hickling dat Kanada groot hoeveelhede salm produseer en dat canola-oliekoek tot 15% in salmrantsoene ingesluit word.

      Volgens Dr Hickling word erte (pigeon peas) en canolasaad in Denemarke gemeng en dan na ekstrusie as proteïenbron in veevoere aangewend. Skynbaar absorbeer die erte die canola se hoë olie-inhoud en vul die aminosure mekaar uitstekend aan.

      Wat canolasaad in Kanada betref, is maatskappye soos Bayer, Monsanto en Pioneer die prominente verskaffers. Basters (Hybrids) maak reeds meer as 50% van die aanplantings uit en dit word verwag dat dit binnekort 60% sal wees.

      Dr Hickling wys ten slotte daarop dat canola se beste waarde in suiwelrantsoene lê – dit wil sê 80% van die waarde van soja-oliekoek. Hierdie mark vir canola is basies versadig. Sy bekommernis is dat namate biodiesel uit canola toeneem, meer canola-oliekoek sy heenkome in pluimveevoere gaan vind en dit die prys van canola-oliekoek gaan afdwing na 60% van die prys van soja-oliekoek.

      As gevolg van die stygende energiekostes word die vraag aan Dr Hickling gestel of canola-oliekoek nie uiteindelik verbrand sal word as bron van energie in die biodiesel vervaardigingsproses nie. Sy antwoord hierop was dat steenkool tans aangekoop kan word teen $60-$70 per ton.

      Dit word nie voorsien dat canola-oliekoek maklik hierdie vlakke sal bereik nie. Aan die ander kant mag canola-oliekoek verbrand word om tekorte te skep en op die wyse hoër pryse te bewerkstellig.

    3. Besoek aan Permolex


      Mnr Randy Cook (Bestuurder: Aankope, Verkope & Logistiek) en Mnr Bill Churchward (Algemene Bestuurder)

      Permolex vervaardig broodmeel, gluten en etanol vanuit koringstysel en het die firma API oorgeneem wat 2 jaar gelede gelikwideer is. Die aanleg maak van 'n droë maalproses gebruik en is 'n "Short Mill". Die broodmeel wat hy vervaardig, word hoofsaaklik vir die bak van "bagels" en hamburger broodrolle gebruik.

      In die ekstraksieproses word semels en koringkiem ge-ekstraeer wat ongeveer 25% beloop. Nadat die kiem en dop verwyder is, bevat die styselgedeelte 14% proteïen. Die koring wat in die maalproses gebruik word, bevat 12,5-13% proteïen. Die semels en kiem is ongeveer 25% van die koring en word aan voermaatskappye, voerkrale en melkbeesprodusente verkoop. Dit kan ook in 'n verpilde vorm verwerk word. In Red Deer omgewing word 400,000 beeste gevoer en in die staat van Alberta, 1 miljoen. Voerkrale se beesgetalle wissel van 30,000 tot 75,000. Meer beeste word in die Suide van die staat gevind waar die klimaat meer gematig is. Gars is die vernaamste voer gevolg deur koring.

      Die volgende produk wat vervaardig word is Etanol waaruit twee byprodukte ontstaan, naamlik 'n "syrup" en DDGS. Die "syrup" is 'n hoë waarde voer wat aan 5 verskillende varkprodusente verkoop word. Daar is 9-13% gesuspendeerde soliede materiaal in die "syrup" en beloop 450,000 L/dag wat teen 180°F uit die proses van etanol vervaardiging vrygestel word. Daar is een varkboer wat met 20,000 varke boer.

      Die DDGS wat vrygestel word bevat 30% proteïen op 'n gedroogte basis en word verkoop met 75% water inhoud. Mnr Cook bevestig dat hy geen probleem het om van sy residu ontslae te raak nie en verkoop alles in die omgewing.

      Daar is selfs 'n produsent wat sy eie tenk op die perseel opgerig het om te verseker dat hy 'n gereelde toevoer van die "syrup" het. Hy bevestig weereens die volgende statistieke:

      • 100,000 ton koring word per jaar verwerk;
      • 28 miljoen liter etanol word per jaar vervaardig;
      • 25,000 ton afval;
      • 30 ton DDGS per dag op 'n nat basis.

      Hy bevestig ook dat daar geen staatshulp betrokke is by die vervaardigingsproses nie.

      Die styselinhoud van die verskillende grondstowwe is soos volg:

      Mielies: 72%
      Koring: 62%
      Gars: 52%
      Rog: 62%

      Alhoewel hy slegs koring gebruik produseer hy net soveel etanol per eenheid koring as wat die geval is met mielies weens 'n spesiale proses wat hy nie met ons kon deel nie. Daar word ook navorsing in Saskatchewan gedoen om 'n koringkultivar te ontwikkel met 'n hoër stysel inhoud.

      Op 'n vraag waarom Kanada etanol uit 'n voedselkommoditeit soos koring vervaardig, terwyl Kanada 'n netto uitvoerder van energie is, meld hy dat die hoofdoel is om waarde toe te voeg tot 'n produk waarvan Kanada 'n surplus het. Kanada produseer 19 miljoen ton koring waarvan 74% uitgevoer word. Dit skep ook 'n alternatiewe mark vir koring.

      Hy meld ook dat weens die pryse van etanol en die inkoopprys van koring, die aanleg nog steeds winsgewend sal wees sonder inkomste vanuit die afvalprodukte. 'n Groot rede is dat hulle van die termynmark gebruik maak om hul grondstofkoste te verskans.

      Die grootste bedreiging wat hul sien is die monopolie van graanbemarking in Kanada, maar hulle het egter 'n ooreenkoms met die Kanadese Graan Raad wat 'n gereelde voorsiening van koring verseker. Mnr Cook meld dat hy 350L etanol uit 1 ton koring vervaardig en dat die aanleg uniek is in terme van die vervaardiging van afvalprodukte.

      Hulle werk ook daaraan om die "syrup" as 'n kunsmis geregistreer te kry. Daar is nog etanol aanlegte in Kanada wat etanol vervaardig uit koring. Ander produkte soos triticale kan ook aangewend word vir die vervaardiging van etanol.

      Ten slotte noem mnr Cook dat al sou hulle die aanleg verdubbel, sal hul nog steeds geen probleem hê om van die afvalprodukte ontslae te raak nie.

  5. Enkele gevolgtrekkings en waarnemings

    1. Die vervaardiging van biobrandstowwe (biodiesel en etanol) het oor die afgelope paar jaar met rasse skrede gegroei en is die verwagting dat dit in die komende dekade teen 'n nog vinniger tempo kan toeneem.
    2. Alhoewel daar in Europa ook etanol vervaardig word, is die fokus op biodiesel en word dit ten doel gestel dat 5.7% van alle dieselverbruik teen 2010 afkomstig moet wees vanaf biodiesel. Die nuwe mikpunt vir 2015 is 'n 8% insluitingspeil wat die biodieselverbruik op 17 miljoen ton te staan sal bring.
    3. Die verwagting is dat die vraag na biodiesel wêreldwyd jaarliks met 3 miljoen ton sal toeneem terwyl dit in 2006/07 waarskynlik met 8-9 miljoen ton sal groei.
    4. Waar daar in die VSA aan die begin van 2000 minder as 7.5 biljoen liter etanol vervaardig is, is die projeksie vir 2006/07 bykans 20 biljoen liter. Beraamde DDGS wat gedurende 2005 vervaardig is beloop 7 miljoen ton terwyl die verwagte produksie teen 2010, 16 miljoen ton sal wees. Daar is tans 103 Etanol aanlegte in die VSA in produksie terwyl 'n groot aantal nog in die beplanningsfase of oprigtingsfase is.
    5. Gedurende 2000 is daar 7.5 miljoen liter biodiesel in die VSA vervaardig terwyl dit gedurende 2005 te staan gekom het op 284 miljoen liter. Sojas is by verre die vernaamste bron vir die vervaardiging van biodiesel. Gedurende 2001 het die aantal aanlegte te staan gekom op 9 teenoor die huidige aantal aanlegte van 65 met 'n kapasiteit van bykans 1500 miljoen liter. Daar word tans 50 addisionele aanlegte opgerig terwyl 9 aanlegte uitbreiding ondergaan.
    6. Die biobrandstofbedryf in Kanada het nog nie groot afmetings aangeneem nie. Kanada is 'n netto uitvoerder van energie. Daar is nog nie 'n biobrandstof program in plek van Regeringskant nie. Dit word verwag dat die Regering gedurende Oktober 2006 'n aankondiging in die verband sal maak wat waarskynlik 'n insluitingspeil van 5% vir Etanol en Biodiesel sal behels. Die Kanadese beskik ook nie oor 'n subsidiebeleid ten opsigte van die landbou soos die VSA en die EU nie.
    7. Biodiesel word in Kanada op 'n beperkte skaal vervaardig deur 'n paar klein biodiesel aanlegte wat nie noodwendig Canola gebaseer is nie. Etanol word ook op 'n beperkte skaal vervaardig hoofsaaklik van koring met die hoofdoel om waarde toe te voeg. In Kanada word 75% van alle graangewasse soos koring, durumkoring en gars uitgevoer.
    8. Kanada se canola produksie is ongeveer 8-9 miljoen ton waarvan 5.3 miljoen ton uitgevoer word. Die canola wat uitgevoer word is hoofsaaklik vir biodiesel doeleindes. Daar is selfs lande soos Dubai wat canola vanaf Kanada invoer, dit pers en dan weer die olie na Europa uitvoer vir biodiesel vervaardiging. Kanada se perskapasiteit is maar in die orde van 3.5 miljoen ton.
    9. Tydens gesprekke in Duitsland sowel as die VSA is dit bevestig dat die toename in vervaardiging van etanol sowel as biodiesel aanleiding sal gee tot surplusse van DDGS en Oliekoek. Daar word egter nie groot probleme voorsien om dit te benut nie. Indien dit nie deur die veevoermark in die betrokke lande geabsorbeer kan word nie, sal dit uitgevoer word of alternatiewelik verbrand word om energie te verskaf.
    10. Die toenemende vervaardiging van oliekoek sal egter druk plaas op die prys daarvan. Studies toon egter dat die groter vraag na olie daarvoor sal kompenseer wat selfs 'n toename in die prys van sojasaad tot gevolg sal hê. Omdat die oliekoek veral in die geval van sojas, 'n belangrike komponent van die totale inkomste uitmaak, speel dit 'n belangrike rol in die winsgewendheid van 'n biodiesel aanleg.

      In die VSA maak DDGS slegs 8% uit van die totale inkomste van 'n etanol aanleg en is die bemarking en prys daarvan nie so krities nie.

    11. Die motivering vir die vervaardiging van biobrandstowwe word amptelik geskoei op die hoë ru-olie pryse, ru-olie voorrade wat 'n beperkte leeftyd het en omgewingsfaktore. Waarnemings van die studiegroep dui egter daarop dat die hoofrede landbou gebaseer is. Landbou subsidiëring raak onbekostigbaar en is dit ook teenstrydig met WHO-beleid. Daarteenoor is dit nie teenstrydig met WHO-beleid om brandstofaanlegte te subsidieer nie. Uit sommige gesprekke het dit ook duidelik na vore gekom dat weens die gunstige grondstof-biobrandstof prysverhouding daarin geslaag word om waarde toe te voeg tot 'n basiese kommoditeit soos byvoorbeeld mielies. In Duitsland byvoorbeeld het 'n etanol aanleg eienaar dit onomwonde gestel dat hul etanol van rog vervaardig omdat die subsidie op rog uitgefaseer is.
    12. 'n Belangrike waarneming is dat Regeringsbeleid duidelik geformuleer en in plek moet wees vir die biobrandstof bedryf om op 'n volhoubare grondslag suksesvol te kan wees. Elemente van Regeringsbeleid sluit in subsidiëring en finansiering van aanlegte, belastingtoegewings en die verpligte inmenging van biobrandstowwe.
    13. Staatsondersteuningsmaatreëls tussen lande verskil uit die aard van die saak, maar binne 'n land soos die VSA kan ondersteuningsmaatreëls verskil van gewas tot gewas. Dit is een van die hoofredes waarom Canolaproduksie ten spyte van gunstige klimaatstoestande nie in die Noorde van die VSA posgevat het nie. Daar is byvoorbeeld nie 'n "loan deficiency payment" skema in plek vir Canola soos wat die geval is met sojas nie.
    14. In die geval van Duitsland maak die regering 'n eenmalige belegging in die vorm van 'n subsidie ten opsigte van die oprigting van 'n aanleg, maar dan verplig die regering maatskappye om biobrandstowwe in te meng, wat 'n goeie prys vir grondstowwe verseker. 'n Volgende stap wat nou beoog word is om biodiesel te belas wat dan die regering van 'n konstante stroom van inkomste verseker. Dit staan teenoor 'n landbousubsidie wat voorheen aan die landbousektor oorbetaal moes word.
    15. Soos die vraag na biobrandstowwe toeneem is dit duidelik dat dit 'n impak op die grondgebruikspatroon sal hê. In die VSA word gesê dat sojagronde omskep gaan word tot mieliegrond terwyl die sojaboonbedryf weer die teenoorgestelde beweer. Die feit is dat daar kompetisie gaan wees. Sojaboonorganisasies in die VSA is bekommerd oor die impak van DDGS en gaan daar 'n konferensie gedurende 2007 gehou word. In Europa sal grond vir oliesade sterk kompeteer met gronde wat tans onder grane is wat aanleiding kan gee tot 'n vermindering in graanproduksie en hoër pryse van laasgenoemde. Wêreldwyd kan die tendens aanleiding gee tot hoër voedselpryse.
    16. Waarnemings dui ook daarop dat logistiese oorwegings by die oprigting van 'n aanleg belangrik is vir die winsgewendheid daarvan. 'n Etanol aanleg in Duitsland is besoek waar die aanleg opgerig is op die perseel van 'n groot olieraffinadery wat aan BP, Shell en Total behoort. Die rede is dat die nodige infrastruktuur soos watervoorsiening en elektrisiteit reeds bestaan. Dit vergemaklik ook die inmeng van die etanol in die petrol. Met die oprigting van 'n aanleg word daar benewens die infrastruktuur ook gelet op afstande vanaf die produksiegebied van die grondstof asook vanaf die verbruikers van DDGS of oliekoek.
    17. Die afvaardiging van die Proteïennavorsingstigting beskou DDGS as 'n proteïenbron en vanweë heelwat onsekerhede oor die aanwending daarvan in verskillende veevoerrantsoene behoort die PNS daarby betrokke te raak.
    18. Baie voedingskundiges is huiwerig om DDGS in veevoerrantsoene te gebruik as gevolg van die groot variasie in kwaliteit wat in die produk voorkom. Baie fabrieke se doelstelling is maksimum produksie en word soms oormatige temperature aangewend. Oorverhitte DDGS het 'n donkerder kleur en is 'n aanduiding dat die Maillard reaksie kon plaasgevind het. Die verteerbare lisien in sulke produkte is normaalweg heelwat laer en die kwaliteit dus swakker.
    19. Met die verlies van stysel in die fermentasie proses is die nutriënt inhoud van die DDGS drie keer hoër as die van die oorspronklike mielies. Hierdie konsentrasie effek is ook van toepassing op kontaminante soos mikotoksienes wat nie deur die fermentasie proses vernietig word nie.
    20. Uit gesprekke met navorsers by die Universiteit van Minnesota het dit duidelik geword dat DDGS sekere tekortkominge het soos 'n lae lisien inhoud. Volgens voedingkundiges egter het die gebruik van DDGS sekere besondere voordele waaronder groter werpselgroottes, die voorkoming van ileitis by varke asook die voorkoming van melksuur asidose by melk- en voerkraalbeeste.
    21. Navorsers by die Universiteit van Minnesota se resultate toon dat behoorlik geprosesseerde DDGS teen die volgende peile suksesvol aangewend kan word vir die verskillende klasse vee:
      Melkbeeste 20-26%
      Voerkraalbeeste 25-30%
      Dragtige sôe 50%
      Lakterende sôe 20%
      Groei- en Afrondingsvarke 20%
      Braaikuiken aanvangsrantsoene 6%
      Braaikuiken afrondingsrantsoene 15%
      Lê-henne 15%

      By vervangingsverse op droë weidings is DDGS baie geskik as aanvullende voer.

    22. Van 1 metrieke ton mielies kan die volgende produkte vervaardig word in 'n etanol aanleg:

      402 liters etanol
      323 kg DDGS
      323 kg Koolsuurgas

    23. Rou sojabone word met groot sukses as supplement op droë weidings vir vleisbeeste in Missouri aangewend. Hierdie praktyk het ook 'n groot verbetering in kalfpersentasies teweeg gebring.

      Rou sojabone word nie as 'n reël gebruik in suiwelrantsoene nie, maar meeste voedingkundiges is dit eens dat insluitingspeile van 5% in suiwelrantsoene gedurende die eerste 100 dae van laktasie en 10% daarna met voordeel aangewend kan word.

    24. Die afvaardiging van die Proteïennavorsingstigting neem verder kennis van nuwe tegnologie in Iowa en Minnesota ten opsigte van die produksie van DDGS met 'n proteïeninhoud so hoog as 40%. Hierdie hoë proteïeninhoud word verkry wanneer die semels en vet van mielies verwyder word voor die fermentasie proses.
    25. Onlangse werk by verskeie oliepersers in Kanada het aan die lig gebring dat canola oliekoek 'n baie hoë kwaliteit en uniforme produk is totdat dit die "desolventising toasting" proses bereik. Gedurende laasgenoemde proses word proteïen- en lisien verteerbaarheid aansienlik verlaag. Heelwat navorsing het aan die lig gebring dat temperature van 105°C in die "desolventising toaster" proteïen beskadiging veroorsaak. Maksimum temperature van 95°C verbeter egter die lisien beskikbaarheid aansienlik.
    26. Nadat olie uit canola saad ekstraheer is, bevat die oliekoek slegs 1% olie. Om die lae energie-inhoud van die canola-oliekoek te verbeter word "gomme en soapstocks" terug geplaas in die "desolventising toaster" om die olie-inhoud na 3.5% te verhoog.
    27. Verskeie proewe wys daarop dat canola gesupplementeerde suiwelrantsoene ongeveer 1 liter meer melk per koei per dag produseer as kontroles. As daar na die aminosuur samestelling van melk en mikrobiese proteïene gekyk word, dan wil dit blyk asof hierdie voordelige effek toegeskryf kan word aan canola se hoë histidien inhoud.
    28. Namate die insluitingsvlakke van canola in rantsoene toeneem, word dikwels gevind dat voerinnames en prestasie verswak. Daar is die ongegronde persepsie dat canola toksies en onsmaaklik is. Glukosinolate is bitter en hoë vlakke in raapsaad sal voerinname belemmer. Canola meel met sy lae glukosinolaat inhoud het egter 'n neutrale smaak.

      Dit moet egter besef word dat die verteerbaarheid van aminosure, veral lisien en metionien in canola-oliekoek, laer is as dieselfde aminosure in sojaboonoliekoek. Voedingsproewe wat voor die 1990's geformuleer is op totale aminosure, toon almal dat groei verswak namate canola-oliekoek die soja-oliekoek vervang. Meer onlangse voedingsproewe by varke waar op 'n verteerbare aminosuur basis formuleer word, toon geen verskille wanneer canola-oliekoek die soja-oliekoek vervang.

      Ten opsigte van laer voerinnames by braaikuikens op canola rantsoene moet gekyk word na die rantsoene se katioon-anioon balans. Canola het 'n laer kalium inhoud as soja-oliekoek terwyl sy swael en fosfor inhoud hoër is.