Crops / Canola / Rsg Radio Program 2006 Canola

Inleiding

Dr Jos de Kock
Trustee, Proteïennavorsingstigting

Canola (Brassica napus) is 'n geneties verbeterde oliesaadraap (nie geneties gemodifiseer nie) met lae vlakke van erukasuur en glikosinolaat. Die naam "canola" is die geregistreerde naam deur die "Western Canadian Oilseed Crushers Association". Daar is ook verskeie ander Brassica spesies waarvan die belangrikste die volgende is: Brassica rapa en Brassica juncea. Na hierdie spesies wat nog nie in Suid-Afrika verbou word nie word ook verwys as raapsaad.

Canola plus raapsaad is die tweede grootste oliesadegewas in die wêreld naas sojabone en lewer tans nagenoeg 14% van die totale wêreld­produksie van oliesaad. Canola word tans in Suid-Afrika op tussen 35 000 ha en 40 000 ha hoofsaaklik in Wes- en Suid-Kaap verbou. Die gewas vul tans 'n belangrike rol in die gewasverbouingstelsels in die Wes- en Suid-Kaap. Om die rede is daar deur die Proteïennavorsingstigting (PNS) besluit om 'n reeks radiopraatjies te reël oor die mees prominente verbouingspraktyke en gebruike van canola. Die reeks vir 2005 en hierdie reeks vir 2006 is en sal op die webblad van die PNS beskikbaar wees op www.proteinresearch.net. Meer inligting kan verkry word vanaf die PNS by pns@proteinresearch.net of telefoon +27 11 803 2579.

Die bydraes vir die radioprogram is gelewer deur van die beste kundiges in Suid-Afrika en graag wil die PNS sy grootste dank en waardering teenoor hierdie persone uitspreek vir die waardevolle bydraes wat gelewer is.

Produksiekoste en winsgewendheid van canola in die Wes-Kaap

Mnr Deon Joubert
Vise-Voorsitter: Proteïennavorsingstigting (PNS)

Canola is 'n groeiende bedryf in die Wes-Kaap en lok dit groot belangstelling uit by voornemende produsente. Wat moet so 'n produsent alles in ag neem indien hy sou besluit om canola te plant?

Benewens die tegnies / biologiese aspekte waaroor in verlede jaar se radioprogramme baie gepraat is, moet 'n produsent hom ook vergewis van wat die produksiekoste en winsgewendheid van canola is. Verder moet hy ook weet hoe vergelyk die ekonomie van Canola met dié van die mededingende gewasse soos byvoorbeeld koring.


Ons weet dat al die produsente nie noukeurig rekords hou nie en dan beskik die voornemende produsente uit die aard van die saak ook nie oor ekonomiese gegewens oor Canola nie. Is daar enigsinds produksiekoste- en winsgewendheid gegewens beskikbaar?

Die Proteïennavorsingstigting het inligting by Agri-besighede in die Wes-Kaap bekom en inkomste- en kosteramings vir die Swartland, Rûens en Suid-Kaap opgestel van canola, lupiene en koring. Die inkomste- en kosteramings is in 'n standaard formaat opgestel en gebruikersvriendelik. Dit is gebaseer op aanbevole praktyke of studiegroep gegewens.


Is daar groot verskille in die produksiekostes tussen gewasse en tussen die gebiede?

As ons van produksiekoste praat bedoel ons eintlik totaal veranderlike koste wat gereelde arbeidskoste uitsluit. In die Suid-Kaap gebied wat eintlik die Swellendam-Heidelberg omgewing is, is die koste om 'n hektaar koring en canola te vestig, baie dieselfde ongeveer R1,200 per hektaar. In die Rûensgebied is dit heelwat meer en wissel dit van R1,900 tot meer as R2,300 per hektaar vir canola en koring. In die Swartland is die koste om 'n hektaar koring te saai egter heelwat hoër as die van canola. Hier praat ons van R1,300-R1,400 vir canola en R1,700 vir koring.


Hoe vergelyk die winsgewendheid van die vertakkings in die verskillende gebiede?

Die terme wat ons vir wins gebruik, is bruto marge en is dit die bruto inkomste per hektaar minus die totaal veranderlike kostes per hektaar. Vir al die gebiede is die bruto marge per hektaar van canola en koring positief. In die Suid-Kaap is die bruto marge per hektaar van canola en koring beide in die omgewing van R1,000. Dit is heelwat hoër as die bruto marges in die Rûens waar die bruto marge van canola wissel van R400-R500 per hektaar en koring R130-R200 per hektaar. In die Swartland vind ons dat die bruto marge van canola ongeveer R400 per hektaar is en koring wissel van R330-R650 per hektaar afhangende van die area. Die bruto marges is natuurlik bereken op grond van pryse wat gedurende die laaste kwartaal van 2005 gegeld het. Dan is dit ook belangrik om kennis te neem dat die wisselbouvoordele van canola nie in die brutomarges verreken is nie.


Waar kan produsente die inligting bekom?

Die inkomste- en kosteramings is in bundelvorm by die Proteïenavorsingstigting se kantoor beskikbaar of dit kan afgetrek word van ons webwerf, www.proteinresearch.net. Kan ook net noem dat al die canola radiopraatjies van 2005 ook in bundelvorm beskikbaar is asook op die webwerf. Produsente kan natuurlik ook inligting by hul onderskeie Koöperasies bekom.

Voordele van Canola

Dr Mark Hardy
Spesialis Navorser: Departement van Landbou, Wes-Kaap (DLWK)

Is daar 'n opbrengs voordeel in koringopbrengs na canola?

Ja, daar is beslis 'n opbrengs voordeel vir koring na canola. Ons wisselboustelsel navorsing oor die afgelope nege jaar het getoon dat daar 'n gemiddelde verhoging van vyftien tot twintig persent is in die opbrengs van koring wat na canola verbou word.


Het canola enige bydrae om wortelsiektes teen te werk?

Dr Sandra Lambrecht van die Plant Beskermingsnavorsingsinstituut te Stellenboch het 'n drie-jaar studie onderneem om daarna te kyk. Dié studie het gewys dat daar 'n laer insidensie van kroonvrot in koring voorgekom het wanneer koring na canola verbou word in vergelyking met stelsels waar koring na koring verbou word. Opbrengs verliese van tot vyftig persent kan verwag word in kroonvrot besmette koringlande. Dus is canola 'n belangrike gewas waar dit in wisselbou met koring gebruik kan word om sulke verliese te verminder.


Kan die insluiting van canola in die wisselboustelsel bydra tot die verbetering van onkruidbeheer in die koringstelsel?

Grasse is die belangrikste onkruide wat koringopbrengs kan beperk. In die eerste plek, aangesien canola 'n breëblaar gewas is, kan gewone grasdoders in canola gespuit word om grasse te beheer. Dit verhoed dat grassade tot die saadbank in 'n canola jaar toegevoeg word. Tweedens onkruiddoderweerstand, van veral raaigras, begin om ernstige negatiewe gevolge vir die graanbedryf in te hou. Om canola in die wisselbou in te bring kry produsente een van die min kanse wat hulle het om onkruiddoders met alternatiewe werking te gebruik waar weerstand vir spesifieke groepe onkruiddoders in 'n kamp of plaas reeds ontwikkel het. Maar, en seker van groter belang, as onkruiddoderweerstand nog nie op die plaas voorkom nie, is die verbouing van canola een van die beste opsies wat produsente het om onkruiddodergroepe van een jaar na die volgende te wissel om te voorkom dat onkruiddoderweerstand op die plaas wel ontwikkel.


Wat is die belangrikste voordele van canola wanneer dit ingesluit word in die wisselboustelsel?

Die belangrikste voordeel van canola is om boerdery risiko te verprei. Gedetailleerde langtermyn ekonomiese analises van produksie data afkomstig van ons wisselbouproef te Langgewens het gewys dat in vergelyking met koringmonokultuur:   1) 'n koring, canola, koring, lupien wisselboustelsel die beste opbrengs op kapitaal belegging in die langtermyn gegee het. Dié stelsel was gelykstaande aan die opbrengs van 'n koring / medic stesel;   2) produsente wat so 'n stelsel toepas se kontant vloei het ook die potensiaal om vinninger te herstel na 'n ramp jaar soos in 2003 waar koringopbrengs deur die droogte erg benadeel is.


Planttyd vir canola

Mnr Petrus Fouché
Canola Navorser: K2Agri Saad

Wanneer is planttyd vir canola?

Planttyd vir canola is nié vanaf 15 April nie. Met ander woorde, planttyd vir canola is nie 'n datum nie.

Inteendeel, die beste planttyd vir canola is met die eerste herfsreën. As daardie ±12 mm reën geval het, moet nie eers tyd gemors word om grond te bewerk vir ander gewasse ook nie. Canola se wei en oes potensiaal is soveel groter met daardie vroeë ontkieming. Bewerk en plant dus onmiddelik na reën voordat die bogrond kan afdroog na bewerking. Die vooropkoms onkruiddoder metazachlor werk ook die beste deur te spuit op 'n nat saadbed, indien geen opvolg reën voorkom nie.

Die grootste gevaar vir canola, en hoekom boere sê canola ontkiem moeilik, is omdat gewag word vir daardie middel April. Dan is die grond in die meeste gevalle klam, sodat sommige saad ontkiem terwyl die ander ontkiem met die volgende reën. Almal behoort reeds te weet wat die probleme is wat hiermee gepaard gaan, soos ongelyk blom, ongelyk rypwording en dus opbrengsverliese. Kom dus weg van plant volgens 'n plantdatum.


Kan canola in droë grond gesaai word?

Die antwoord is 'n definitiewe JA. Indien dit teen die sg middel April nog nie gereën het nie, is dit raadsaam om canola droog te saai. Dan meng jou koring plant nie in met die canola nie en kan die vooropkomsonkruiddoder vir canola net voor of in die reën gespuit word vir maksimum onkruidbeheer. Onthou ook om 'n breë spektrum insekdoder by te voeg indien nog nie met die voorsaai onkruidbeheer toegedien is nie, en veral waar die saad nie behandel is teen meer as die rooibeensandmyt nie.


Wat is die laatste plantdatum vir canola?

Die antwoord is eintlik kort – voor jy jou koring, hawer of lupiene plant.

Onder droëland toestande is die laatste plantdatum vir canola met die eerste herfs / winterreën vir die seisoen. Dit kan selfs in Junie wees. Onder besproeiing kan so laat as Julie geplant word. Vir somer produksie van canola geld ander datums.


Wanneer die eerste herfsreëns wel voorgekom het en canola nie geplant is nie, geld dieselfde spelreëls: plant in die droë grond vir opkoms met reën?

Indien jy dit nié wil doen nie, plant eers canola en dan jou koring, want koring word dieper geplant as canola en sal steeds opkom van dieper af. Sodoende word verhoed dat die canola weer eens in suboptimale grondvog geplant word, met stadige en ongelyk opkoms.

Let wel canola kom maklik op; moenie dit moeilik maak en in swak klimaat plant nie.

Laastens – onthou canola het tans hoër winsmarges as koring – misbruik dit!

Is daar genoeg cultivars

Dr N Kotzé
Bestuurder: Saad – Agricol

Is daar genoeg canola kultivars om aan alle mark behoeftes te voldoen?

Ja, alhoewel daar nie 'n plaaslike teelprogram is nie, word die beste kultivars van reg oor die wêreld elke jaar evalueer om sodoende die mees aangepaste kultivars te kommersialiseer. Ek reken canola bied produsente heelwat bestuursopsies omdat daar juis heelwat verskillende tipe canola kultivars beskikbaar is. Ek verwys hier na die konvensionele tipes, triasien en imasamoks bestande cultivars. Veral die triasien bestande kultivars bied produsente die geleentheid om probleem onkruide met 'n totaal ander groep van chemie te beheer. Die imasamoks groep van kultivars kan weer gebruik word indien produsente bang is dat sulfonielurea skade mag voorkom agv oordraging vanaf vorige seisoene. Dan is daar ook 'n hele reeks van kort, medium en langer groeiseisoen kultivars in elkeen van hierdie groepe beskikbaar. Korter groeiseisoen kultivars word dus in laer reënval areas aangeplant of waar reënval soms vinnig ophou in die lente, terwyl die langer groeiseisoen kultivars weer beter vaar in die hoër reënval gebiede.


Watter kultivars val in hierdie onderskeie onkruiddoder bestande groepe?

Hierdie is 'n baie belangrike vraag aangesien ons gereeld hoor van produsente wat hul canola dood gespuit het omdat hulle nie geweet het dat slegs sekere kultivars teen spesifieke onkruiddoders bestand is nie. Ek wil dus vir sekerheidshalwe weer die kultivars noem wat in die groepe val.

Die triasien bestande kultivars het almal of 'n ATR voorvoegsel of TT agtervoegsel, dus varieteite soos ATR Hyden, ATR Stubby, Tornado TT, Thunder TT en Varola 600TT.

Die imasamoks bestande cultivars is 44C73 en 45C05. Die res van die ongeveer sewentien (17) beskikbare kultivars val in die konvensionele klas en slegs selektiewe grasdoders wat ook in medics en ander gewasse gebruik word, kan in hierdie geval gebruik word. Ek wil net verder noem dat die onkruiddoder bestande kultivars dmv konvensionele telingstegnieke ontwikkel is en nie Geneties gemodifiseerde organismes bevat nie, daar word geen GMO kultivars op hierdie stadium aangeplant nie.


Hoe besluit produsente watter kultivars is die beste aangepas in sy spesifieke area?

Ek wil graag die produsente daarop wys dat ongeveer twaalf (12) wetenskaplike kultivarevaluasieproewe in die wes en suid Kaap jaarliks in samewerking met die Departement van Landbou en die Proteïennavorsingstigting gedoen word. Hierdie resulate word dan in die Canola Fokus en ander populêre landboutydskrifte gepubliseer. Daar word ook heelwat lesings hieroor tydens voorsaai boeredae of by studiegroepe of boereverenigings gegee. Hierdie data gee vir ons 'n baie goeie aanduiding van watter kultivars die beste aangepas in die onderskeie produksie gebiede is. Indien produsente nog steeds onseker is, is hulle altyd welkom om die saad maatskappy, naaste agent of die Departement van Landbou te skakel.

Hoe word cultivars evalueer

Dr André Nel
Senior Navorser – LNR-IGG

Saaiboere ken die betekenis van die woord kultivar baie goed en is daarop gesteld om goeie kultivars te plant. Julle doen jaarliks kultivarproewe van verskeie gewasse. Wat is die nut van kultivarproewe en waarom moet kultivars jaarliks ge-evalueer word? As ons weet 'n kultivar vaar goed waarom hom oor en oor toets?

Die nut van kultivarproewe is om verskillende kultivars se prestasie in terme van opbrengs en ander belangrike eienskappe te vergelyk en dan die resultate bekend te maak. Dit dien dan as hulpmiddel vir boere om 'n keuse uit te oefen oor watter kultivars om te plant met die eindoel om die produksieproses so doeltreffend moontlik te laat verloop. Jaarlikse kultivarevaluasie is noodsaaklik. In die canolabedryf word tot soveel as 50% van die kultivars jaarliks met nuwes vervang. Dit is noodsaaklik om die nuwes te toets en met die oues te vergelyk.


Hoe word kultivarproewe gedoen en na watter eienskappe van canola word dan gekyk?

'n Kultivarproef is 'n statisties uitgelegde proef wat al die beskikbare kultivars bevat. Daar word gewoonlik gepoog om die kultivarproewe oor 'n verskeidenheid van grond en klimaatsones uit te voer en so word dit gewoonlik nie net tot proefplase beperk nie maar ook op plase van boere gedoen.

Die belangrikste eienskap waarna gekyk word is die opbrengs aangesien dit die eindresultaat van die kultivar se aanpasbaarheid, produksievermoë en siektebestandheid is. Ander eienskappe van belang is die lengte van die groeiseisoen. Indien omstandighede 'n boer dwing om laat te plant is dit voor die handliggend dat die keuse beperk is tot 'n kultivar met 'n kort groeiseisoen. Nog belangrike eienskappe is die vatbaarheid of voorkoms van sekere siektes, die planthoogte en geneigdheid tot omval wat weer belangrik is vir die oesproses.


Hoe word die kultivarevaluasie se resultate aangebied en hoe behoort dit gebruik te word?

Indien slegs enkele proewe beskikbaar is, dan is die beste wat 'n boer daaruit kan kry om bloot te kyk watter kultivars die beste in die geheel en ook in die proewe naby hom gevaar het. Die kultivars word dan gewoonlik in 'n ranglys geplaas wat dit eenvoudig en maklik maak om die bestes te eien.

Indien resultate van baie proewe beskikbaar is kan 'n regressielyn analise daarop uitgevoer word wat groot waarde tot kultivarkeuse bied aangesien dit ook die risiko of oesekerheid van die kultivars by verskillende opbrengspotensiale weergee. Op die wyse word nie net die kultivar se gemiddelde opbrengs in berekening gebring nie maar ook die "wispelturigheid" en by watter opbrengspotensiaal die kultivar die beste aangepas is.

Stikstofbemesting

Prof André Agenbag
Departementshoof: Plantproduksie – Universiteit Stellenbosch

Hoe vergelyk die stikstofbehoeftes van Canola met die behoeftes van ander gewasse?

Eerstens is dit belangrik om te onthou dat hoewel canola sy saad in peule dra is dit nie 'n peulgewas wat lugstikstof bind nie. Stikstofbemesting is dus noodsaaklik vir suksesvolle verbouing van Canola. Per ton oesopbrengs verwyder Canola sowat 40kg stikstof vanaf die land. Daar teenoor verwyder 'n kleingraangewas soos koring slegs sowat 30kg stikstof per ton oesopbrengs omdat die proteïeninhoud van kleingraan natuurlik veel laer is as die van Canola.


Beteken dit dat opbrengspotensiaal die enigste faktor is wat in aanmerking geneem moet word by berekening van die stikstofbemestingsbehoefte van Canola?

Nee, 'n ander baie belangrike faktor is die stikstofleweringsvermoë van die grond wat deur onder andere die grondtipe, gewasrotasiestelsel, metode van grondbewerking en klimaatstoestande bepaal word. Ongelukkig is hierdie hoeveelheid stikstof wat deur die grond voorsien word meestal nie bekend omdat dit moeilik is om te meet. Daar word egter tans gewerk aan 'n model om dit te voorspel met inagneming van grond en klimaatseienskappe, ten einde die stikstofbemestingsbehoeftes meer akuraat te bepaal. Verder moet die effektiwiteit van die stikstoftoediening ook by berekening van die bemestingsbehoefte in berekening gebring word. Om dit vir die produsent makliker te maak bestaan daar egter Tabelle waarvolgens die stikstofbemestings behoeftes afgelees kan word. Uit die Tabelle blyk byvoorbeeld dat indien canola op kleingraanstoppels verbou word, daar vir 'n opbrengsmikpunt van 2.5 ton, hoeveelhede van 80-110kg stikstof per hektaar in die Suidkaap en 110-130kg stikstof in die Swartland toegedien moet word.


Kan alle stikstof eenmalig toegedien word?

Indien die stikstof deur middel van die planter gebandplaas word, moet nie meer as 15-20kg stikstof per hektaar met planttyd toegedien word. Handhawing van hierdie hoeveelhede is veral belangrik indien die tussen-ry spasiërings meer as 250mm is en die grondvoginhoud met planttyd laag is. As die stikstof egter breedwerpig uitgestrooi word, kan soveel as 40kg stikstof per hektaar met planttyd toegedien word. Die res sal dan as bobemesting op 30-40 dae na plant toegedien word. In hoë reënval gebiede en waar na opbrengste van meer as twee ton per hektaar gestreef word op stoppelland, mag 'n verdere bobemesting op 60-70 dae na plant nodig wees. Dit is egter belangrik dat produsente hul Canola lande se opbrengspotensiaal moet beoordeel alvorens bogenoemde tweede bobemesting toegedien word, aangesien te veel stikstof op 'n gevorderde groeistadium die olie-inhoud van die Canolasaad mag benadeel en natuurlik ook produksiekoste verhoog.

Onkruidbeheer

Mnr Chris Cumming
Voorsitter: AVCASA – Wes-Kaap, Stellenbosch

Wat moet oorweeg word as beplan word vir 'n canola onkruidbeheerprogram?

Canola is tans die belangrikste eenjarige wisselbougewas beskikbaar in die Wes-Kaap om die produsent alternatiewe te bied in sy stryd teen die toenemende probleem van onkruiddoderweerstand in eenjarige gewasse. Veral grasonkruide, waarvan raaigras die belangrikste is, kan doeltreffend met verskeie produkte beheer word wat ander metodes van werking het as die wat in kleingraan gebruik word.


Kan jy voorbeelde van hierdie produkte noem?

Ja. Die vooropkoms onkruiddoders wat oorweeg kan word sluit in Butisan S, simasien onder die handelsname Simazol of Simanex, Tylsimex wat 'n mengsel van twee triasiene is en Crew, wat voor of tydens plant ingewerk moet word. Dan is daar ook Kerb, wat vroeg na-opkoms gebruik kan word.


Wat kan die produsent doen om sy kanse tot sukses met hierdie middels te vergroot?

'n Ferm, onkruidvrye saadbed, sonder kluite en plantreste moet voorberei word vir die middels wat bo-op die oppervlakte toegedien word. Die tydsduur tussen die laaste bewerking, plant van die canola en spuit van die onkruiddoder moet so kort as moontlik wees. Reen kort na toediening om die middel in die ontkiemingszone in te loog, voor die onkruidsade ontkiem het, is ideaal. Produsente met geskikte planters wat minimum bewerking toepas sal Crew gebruik.

Strategie vir geïntegreerde onkruidbeheer

Dr PJ Pieterse
Senior Dosent – Universiteit Stellenbosch

Wat word bedoel met geïntegreerde onkruidbeheer?

Geïntegreerde onkruidbeheer is 'n kombinasie van verskillende onkruidbeheermetodes. Dit kan insluit meganiese, fisiese, chemiese of biologiese metodes. In 'n gewas soos canola kan meganiese beheer toegepas word waar onkruid d.m.v. voorsaai bewerkings beheer kan word. Fisiese beheer kan ook toegepas word deur optimum groeitoestande vir jou gewas te skep om soveel as moontlik met die onkruid te kompeteer. Dit kan gedoen word deur optimum bewerkingspraktyke, cultivarkeuses, saaitye, saaidigthede en bemestingspraktyke te kies. Hoe beter jou gewas groei, hoe beter sal hy kompeteer met die onkruid. Daar word gesê dat vir elke kilogram biomassa gewas wat ekstra op jou land staan, daar een kilogram minder onkruid biomassa sal wees. Chemies kan onkruid effektief en volhoubaar beheer word met onkruiddoders wat in canola geregistreer is, mits daar voorsorg getref word teen die ontwikkeling van onkruiddoderweerstand. Die geheim van geïntegreerde onkruidbeheer is om verskille van die metodes wat nou net genoem is so te kombineer dat die onkruide nie kan aanpas om 'n spesifieke beheermetode te kan oorleef nie.


Chemiese beheer was die afgelope dekade die mees effektiewe en ekonomiese metode om onkruide te beheer. Hoekom dan nou weer terug na die verlede met meganiese en fisiese metodes?

Dit is reg so, chemiese beheer het so te sê die enigste beheermetode vir onkruide in graangewasse geword. Ons het egter te afhanklik geraak van chemiese beheer. Onkruide, soos enige ander lewende organisme, is aanpasbaar en deur seleksie het daar onkruide verskyn wat weerstand bied teen sommige van die gewilde onkruiddoders wat in graangewasse gebruik word. Dit is onafwendbaar dat weerstand sal ontwikkel as slegs van chemiese beheer gebruik gemaak word, alhoewel dit soms baie lank kan neem om te gebeur. Die proses kan egter tot 'n groot mate vertraag word of selfs voorkom word deur die regte bestuursprogramme, wat insluit ander beheermeganismes soos bewerking, gewaskompetisie ens. Selfs al volhard jy net met chemiese beheer, kan die korrekte bestuur van jou chemiese beheerprogramme die voorkoms van onkruiddoderweerstand tot mindere of meerdere mate vertraag.


Hoe kan chemiese beheerprogramme bestuur word om die voorkoms van onkruiddoderweerstand te vertraag?

Eerstens moet daar gewaak word daarteen om onkruiddoders wat in dieselfde groep met betrekking tot meganisme van werking val, onbeperk na mekaar te spuit. Mens behoort nie 'n onkruiddoder in 'n spesifieke groep bv. die ACC-ase inhibeerders, of meer algemeen bekend as fops en dims, meer as een keer in 'n seisoen toe te dien nie en ook nie twee jaar na mekaar op dieselfde land nie. Wissel die onkruiddodergroepe af, nie die handelsname nie. Twee onkruiddoders met verskillende handelsname, of selfs verskillende aktiewe bestandele, kan nog steeds binne dieselfde groep val. Moet ook nie die fout maak om te dink middels wat bv. in koring geregistreer is om grasse te dood en middels wat in canola of medics geregistreer is om grasse te dood, behoort aan twee verskillende groepe nie. As daar in 'n spesifieke jaar 'n ACC-ase inhibeerder (fop of dim) gespuit is, probeer die volgende jaar 'n ALS inhibeerder (waaronder die SU's val) spuit, daarna miskien iets soos trifluralin en daarna triasien of simasien. Die groepe hoef nie noodwendig in daardie volgorde afgewissel te word nie. Dit is nie altyd maklik om dit reg te kry nie, maar as jy 'n goed beplande wisselboustelsel het is dit meer haalbaar as in 'n monokultuurstelsel. Die gebruik van canola wat bestand is teen triasiene of imazamoks onderskeidelik kan van groot nut wees in so 'n strategie. Voorsaaibespuitings met nie-selektiewe middels soos glifosaat of parakwat kan ook help om weerstand teen selektiewe middels te bekamp. Wees egter versigtig vir weerstand teen die nie-selektiewe middels ook, en wissel dit ook af. 'n Mens kan dus met oordeelkundige bestuur jou chemiese beheer program redelik volhoubaar maak, maar die heel doeltreffendste is maar steeds om ander nie-chemiese beheermetodes ook in te sluit. 'n Pamflet met baie meer gedetaileerde riglyne vir weerstandsbestuur is deur die Herbicide Resistance Action Committee (HRAC) opgestel en is beskikbaar by die Proteïennavorsingstigting of mense kan my skakel by 021-808 4805 om dit in die hande te kry.

Canola in die somerreëngebied

Dr André Nel
Senior Navorser – LNR-IGG

Canola is 'n bekende gesig in die wes en suid Kaap waar winterreën voorkom. Kan canola ook in die somerreënvalgebied verbou word?

Ja dit is moontlik om canola in die somerreenval gebied in die winter te verbou en 'n aantal boere het dit al in die verlede gedoen. Aangesien dit nie veel in die winter hier reën nie word dit onder besproeiing gedoen om te verseker dat die canola suksevol vestig en darem 'n aanvaarbare opbrengs gee.


Julle is tans besig met 'n navorsingsprogram waar julle na verskillende aspekte van canola kyk, kan jy vir ons vertel waarmee is julle besig?

Ons het reeds in 2001 met navorsing oor canola in die somerreënvalgebied begin. Eerstens het ons gekyk of dit wel hier in ons klimaat en grond aangepas is en wat van die graanopbrengste verwag kan word. 'n Tweede belangrike aspek is natuurlik watter tyd of maande die geskikste is om in te plant. Die werk is afgehandel en tans kyk ons na drie aspekte van canola. Die eerste is stikstofbemestingsbehoefte van canola aangesien stikstofbemesting so 'n grootdeel van die produksiekoste uitmaak. Die tweede aspek is die evaluasie van kultivars. Dit is 'n uiters belangrike aspek uit die boer se oogpunt – niemand kan bekostig om 'n kultivar te plant en dan uit te vind dat dit nie goed aangepas is nie. Die derde aspek waarna ons ook kyk is of daar enige wisselbou voordeel in canola steek. Die voordele wat wisselbou meebring is een van die redes waarom canola in die wes en suid Kaap verbou word en die vraag wat ons probeer beantwoord is of dit hier, in die stelsels wat hier toegepas word ook voordelig is.


Sal die resultate van julle werk in somerreenvalgebied ook toepasbaar wees in die Kaap?

Die wisselbou resultate gaan nie nut vir die Kaap se boere inhou nie aangesien die gewasse en produksie stelsels so baie verskil. Die resultate van die kultivar evaluasies wat in die somerreenval gebied en in die Kaap gedoen word vul mekaar natuurlik goed aan. Dit stel ons in staat om aan te toon watter kultivars 'n wye aanpasbaarheid het en watter by spesifieke omstandighede aangepas is. Wat die navorsing oor stikstofbemesting betref glo ek die resultate wat ons navorsing gaan lewer ook tot nut in die Kaap gaan wees.


Die eerste vraag wat 'n boer vra wat daarin belangstel om 'n nuwe gewas te plant is natuurlik watter opbrengste behaal kan word. Wat is julle ondervinding hiermee?

Ons het al opbrengste van meer as vier ton per hektaar behaal wat hoog is as ons in gedagte hou dat canola 'n oliesaadgewas is. Maar dan moet alles reg verloop vanaf plantdatum tot en met oesproses en die weer moet saam speel. Haalbare opbrengste onder besproeiing is in die orde van drie tot drie en 'n half ton per hektaar.


Beheer van Slakke

Dr SC Lamprecht
Senior Navorser – LNR-NIPB, Stellenbosch

Sandra, jy is sameroeper van 'n taakspan. Wat is die doel van die span en hoe is dit saamgestel?

Die taakspan vir beter vestiging van canola is deur die Proteïennavorsingstigting geinisieer nadat probleme met vestiging van canola in produksiegebiede in die Suid-Kaap ondervind is. Die taakspan is saamgestel uit lede van die Proteïennavorsingstigting, navorsers, voorligters, produsente en werknemers van privaat maatskappye. Die doel van die taakspan is om oorsake van swak vestiging by canola te identifiseer en projekte te inisieer om oplossings vir hierdie probleem te vind.


Watter vordering is reeds gemaak om vas te stel wat die oorsake van swak vestiging by canola is?

Swak vestiging van canola is veral 'n probleem waar produsente bewaringsboerderystelsels gebruik. In hierdie stelsels word stoppels op die grond gelaat, en word grond met plant, minimaal versteur. Alhoewel die hoof oorsaak van swak vestiging nog onbekend is, is daar reeds 'n hele aantal moontlike oorsake geïdentifiseer. Gedurende 2004 wou dit voorkom asof slakke hoofsaaklik vir swak vestiging verantwoordelik is, maar verlede jaar is ook gevalle van swak vestiging aangemeld en slakke was beslis nie die hoof oorsaak nie. Dit is duidelik dat dit 'n komplekse probleem is en dat insekte en plantpatogene ook 'n rol speel. Swak vestiging kom gewoonlik voor waar canola op klipperige grond teen koue, nat hellings, geplant word. Te diep plant van canola gee ook aanleiding tot swak vestiging.


Julle is tans besig met interessante navorsing op hierdie probleem. Kan jy moontlik uitbrei hierop?

Ons doen hierdie seisoen 'n veldeksperiment waarin 'n aantal faktore optimaal gehou word vir canola vestiging nl. optimale bemesting, plant teen korrekte diepte en behandeling van canola saad teen plantpatogene en sekere insekte. Ander faktore soos toediening van slakpille, toediening van insekdoder met plant en toediening van onkruiddoder na plant sal vir hulle effek op vestiging, getoets word. Die voorkoms van slakke en insekte, asook die oorlewing van saailinge sal elke drie dae vir ses weke gemonitor word. Die eksperiment word op vier lande in die Caledon distrik, waar bewaringsboerdery toegepas word, gedoen en behoort heelwat lig te werp op die oorsake van swak vestiging by canola in die Suid-Kaap. Behalwe vir hierdie eksperiment word produsente ook versoek om enige probleme met swak vestiging betyds by ons aan te meld sodat ad hoc ondersoeke gedoen kan word.

Beheer van erdvlooi en plantluise

Gert van Coller
Navorser – Departement Landbou, Wes-Kaap

Vertel ons van die beheer van erdvlooi en plantluise in canola.

Jong canola saailinge is geweldig kwesbaar vir insekskade. Om saailinge te beskerm teen erdvlooi, rooibeensandmyt en plantluise moet 'n doeltreffende saadbehandeling vooraf gebruik word. 'n Bespuiting van dimetoaat vroeg na-opkoms, indien skade simptome waargeneem word, kan ook doeltreffend wees. Gereelde monitering van canolalande tot die plante verby die 3 tot 4 blaar stadium is, is noodsaaklik. Daarna word die kanse vir ernstige skade minder.


Wanneer kom plantluise voor?

Plantluise kan enige tyd in die groeiseisoen voorkom, maar die periodes wanneer die grootste skade aangerig word is tydens vestiging en rondom die roset- en blomfases. Plantluise word veral 'n ernstige probleem tydens warm, droe periodes wanneer die populasie geweldig vinnig kan toeneem.


Is daar 'n drempelwaarde vir plantluis bespuitings?

Ja, ten minste 20% van die plante moet met 25mm of meer van die stingel besmet wees in die vegetatiewe groeistadiums. Enkele plantluise in die groeipunt vanaf die rosetstadium kan egter ernstige skade aanrig. As middels wat nadelig is vir bye tydens die blomstadium gebruik word moet die produsent die byeboere in die omgewing inlig om vrektes te voorkom.

Geïntegreerde beheer van ruitrug mot

Dr R Kfir / Mnr Emil von Maltitz
LNR-NIPB, Pretoria

Wat is die ruitrugmot?

Die ruitrugmot of "diamondback moth" Plutella xylostella is die skadelikste plaag insek op plante wat aan die Brassicaceae familie, wat mostert olies en hul glukosiedes bevat, behoort. Verboude gewasse waarop die ruitrugmot voed sluit in canola, kopkool, blomkool, broccoli, radysse, rape, brusselsespruite en so voorts. Daarby voed die insek ook op ander plante in die Brassica familie wat ons soms as onkruide beskou.

Die ruitrugmot is 'n kosmopolitiese insek, wat in al die soögeografiese gebiede van die wêreld voorkom, waar ookal koolgewasse verbou word. Dit is ook die mees universieel verspreide insek van die orde Lepidoptera – dit is motte en skoenlappers – en dit het die vermoë om oor lang afstande te migreer of te versprei. Motte in vlug kan vir dae lank aaneen vlieg en afstande van duisende kilometers aflê.

Die Mediterreense gebied kan beskou word as die gebied van oorsprong van die ruitrugmot, gebaseer op die feit dat die insek daar op die kool familie ontwikkel het en vandaar na Europa en die res van die wêreld met die verspreiding van verboude koolgewasse, versprei het.


Beskryf die plaag en sy lewenssiklus.

Die volwasse ruitrugmot is 'n donker grys mot met drie vaal driehoekige strepe op die binnesy van elke voorvlerk, wat 'n diamant- of ruit patroon vorm wanneer die vlerke toegevou is. Van vlerk punt tot vlerk punt is die mot maar 15mm lank.

Die motte is snags aktief. Teen skemer, direk nadat die motte uit die kokon van sy papiestadium tot volwassenes ontwikkel het, vind paring plaas waarna die wyfie, oor 'n tydperk van vier dae, eiers lê. Sowat 200 klein, ovaalvormige geel eiers word onderaan of soms bo-op die blare van die gasheer plante gelê, maar selde op takkies of stingels. Eiers word enkeld of in groepies na-aan die hoof- of syare van die blaar gelê.

Uit die eiers ontwikkel klein groen larwes (ruspes), sowat 2mm lank, wat dadelik begin voed. Die larwes voed gewoonlik net onderaan die blare. As hulle versteur word, wikkel hulle hulself na die rand van die blaar waar hulle dan afval, maar deur middel van 'n sy-draadjie, wat uitgeskei word tydens die val, aan die blaar geheg bly. Die ontsnappings gedrag is 'n manier van selfbeskerming teen natuurlike vyande. Larwes voed op die parenchiematiese weefsel onderaan die blaar sodat net die are en die boonste epidermis oorbly en so die kenmerke venstertjies op die blare vorm wat skeur en gate word soos die blaar groei.

Larwes is teen die vierde instar volgroeid en spin dan 'n kokon waarin hulle pupeer. Die kokon word of op die blaar waar hulle gevoed het, of onder by die basis van die plant gevorm. Die volwassene (mot) ontpop uit die papie teen laatmiddag, en het 'n kort leeftydperk. Die lewenssiklus tydsduur word deur temperatuur beinvloed.Van eier tot volwassene duur sowat twee weke in die somer, en drie tot vyf weke in die koeler temperature van herfs en lente en tot twee maande in die winter.


Wat is die ruitrugmot se plaagstatus?

Die ruitrugmot is die skadelikste insek op koolgewasse. Die koste van chemiese beheermiddels wat op koolgewasse buiten canola, gebruik word per jaar, word bereken op US$1 biljoen, en dit sluit nie die koste aan die gewas verliese in nie. Wêreld wyd word 42 miljoen ton kool, blomkool en broccoli deur ruitrugmot beskadig. In baie gevalle is die hele oes verloor. In Australië is die ruitrugmot die belangrikste plaag op canola.


Waarom het die ruitrugmot so 'n hoë ekonomies belangrike plaagstatus?

In vele lande het ruitrugmot met tyd weerstand ontwikkel teen bykans alle sintetiese plaagbeheermiddels, insluitende Bacillus thuringiensis (Bt) formulasies, wat in landerye teen die plaag toegedien is. Die ruitrugmot was die eerste landboukundige gewasplaag wat weerstand teen DDT getoon het (die eerste insekte was vliëe en muskiete). Ruitrugmot was ook die eerste insek wat weerstand teen Bt in die veld ontwikkel het. Teen vele nuwe plaagbeheermiddels wat ontwikkel is om die ouer oneffektiewe middels te vervang, het die ruitrugmot ook al weerstand ontwikkel. Die insek het ook kruis-weerstand en veelvoudige weerstand teenoor verskillende chemiese middels ontwikkel.

Die belangrikste redes tot die insek se ekonomiese plaagstatus is eerstens sy kort lewenssiklus en tweedens die misbruik van plaagbeheermiddels.

Die insek teel baie vinnig aan en kan 'n paar generasies in 'n jaar produseer. Dit is sigbaar onder optimale somer toestande in die veld waar die siklus van eier tot volwassene so min as 10 dae kan wees. Waar insek populasies dan gedurig blootgestel word aan plaagbeheermiddels, mag mutasies voorkom en weerstand ontwikkel. Vroëer, voor die weerstand, was dit redelik maklik om die plaag te bestry met relatief goedkoop plaagbeheermiddels, maar soos die insek weerstand ontwikkel het, is die dosis van die plaagbeheermiddel verhoog en toe dit nie meer effektief was, is meer toksiese middels gebruik en selfs kombinasies (of "cocktails") van verskillende middels. Dit is immers wat in verskillende tropiese en subtropiese lande in die wêreld gebeur het. In sekere lande in suidoos Asië waar koolgewasse die stapelvoedsel is, het boere op 'n gereelde basis tot drie maal per week teen ruitrugmot gespuit. Sodoende het die ruitrugmot weerstand ontwikkel en is die produk en die omgewing met plaagbeheermiddels besmet. Weens die onvermoë om die plaag te beheer en die hoë koste van plaagbeheermiddels, is baie boere geforseer om die verbouing van koolgewasse te staak. Die impak, veral op arm gemeenskappe op die rand van stedelike gebiede, waar veral kopkool ryk aan vitamines die stapeldieet is, het tot ernstige nagevolge gelei.


Wat is die vooruitsigte dat ruitrugmot 'n belangrike plaag op canola in Suid-Afrika kan word?

Ruitrugmot is wel 'n plaag op canola waar dit in Europa en in Kanada verbou word, maar dit is nie die belangrikste plaag nie. Ruitrugmot is egter 'n ernstige plaag op koolgewasse in Australië en is daar al groot infestasies op canola in Wes Australië aangeteken. Die canola varieteite wat in Suid-Afrika verbou word het sy oorsprong uit Australië. Wes Australië het ook 'n Mediterreense klimaat, soos in die Wes Kaap, en kan mens dus verwag dat ruitrugmot se plaagstatus op canola hier kan toeneem.

Die vrees is dat canola boere breë-spektrum plaagdoders onoordeelkundig teen ruitrugmot gaan aanwend wat 'n versnelde tempo van weer­standontwikkeling in plaaslike ruitrugmot bevolkings tot gevolg mag hê.


Watter maatreëls is daar dan om ruitrugmot op canola in Suid-Afrika te beheer?

In baie dele van die wêreld is die gebrek aan effektiewe natuurlike vyande een rede tot die hoë plaagstatus van ruitrugmot. In baie lande, gepaard­gaande met die ontwikkeling van weerstand, het die onoordeelkundige gebruik van breë-spektrum plaagbeheermiddels bestaande natuurlike vyande van ruitrugmot uitgewis en die wanbalans veroorsaak.

Navorsers van die Landbounavorsingsraad se Navorsingsinstituut vir Plant Beskerming het hoë vlakke van weerstand teen verskillende plaag­beheermiddels by ruitrugmot in verskillende gebiede waar kopkool verbou word aangeteken. Aangesien canola plaaslik 'n relatiewe nuwe gewas is en daar nog nie grootskaalse spuitprogramme toegepas word nie, word aangeneem dat in die nuwe verbouingsgebiede, ruitrugmot populasies nog nie die hoë vlakke van weerstand teen plaagbeheermiddels ontwikkel het nie. Navorsers van die Instituut het ook die natuurlike vyande van ruitrugmot hier bestudeer en word ruitrugmot populasies deur middel van sintetiese feromoon valle gemonitor. Daar is aanduidings dat van die natuurlike vyande in Suid-Afrika wel effektief aangewend kan word en dat daar 'n goeie korrelasie tussen motvangstes met die feromoon valle en larf getalle op gewasse bestaan.

Daar word aanbeveel dat 'n strategie om die weerstandontwikkeling by die ruitrugmot te voorkom ontwikkel moet word voordat algemene chemiese spuitprogram aanbevelings gedoen word. Daar moet gewaak word teen die gebruik van breë-spektrum middels. Voorkomende beheer of kalenderspuitprogramme moet ook vermy word.

Om weerstandontwikkeling te vertraag, moet 'n spuitprogram waarin middels geroteer word en waaraan voorkeur gegee moet word aan biologiese middels soos Bt en Spinosad, versigtig toegepas word. Ekonomiese drempel vlakke moet eerstens bepaal word. Ruitrugmot populasies moet eers gemonitor word deur veldopnames ("scouting") vir larwes en/of die monitering van volwassenes met behulp van sintetiese feromoon valle waarna chemiese plaagbeheer slegs toegepas word wanneer aanbevole ekonomiese drempel vlakke bereik of oorskry word.

In verskillende wêreld lande is bewys dat ruitrugmot 'n mensgemaakte probleem plaag is. Normaalweg word 'n insek plaag deur sy natuurlike vyande onder beheer gebring, maar wanneer spuitprogramme, wat breë-spektrum middels bevat, toegedien word, word die natuurlike vyande eerste uitgewis en ontwikkel die plaag dan weerstand teen chemiese middels. Daar is heelwat natuurlike vyande van ruitrugmot in Suid-Afrika gevind, en word daar dus aanbeveel dat canola boere slegs plaagbeheermiddels spuit wanneer dit uiters noodsaaklik is om sodoende te verhoed dat bevolkings van natuurlike vyande uitgewis word en om die ontwikkeling van weerstand teen chemiese middels by die ruitrugmot te verhoed.

Beheer van bolwurm

Mnr Chris Cumming
Voorsitter: AVCASA – Wes-Kaap, Stellenbosch

Hoe groot 'n probleem is bolwurm by die verbouing van canola?

Alhoewel bolwurm as 'n sporadiese plaag beskou word, kan dit in sekere seisoene groot skade aanrig. Oesverliese van tussen 30 en 90 persent is nie ongewoond as die plaag nie tydig bestry word nie.


Wanneer doen bolwurm skade aan canola en hoe weet 'n mens wanneer om te spuit?

Bolwurm larwes val vrugte en peule aan, dus sal klein bolwurms hul verskyning maak laat in die blomstadium. Gereelde verkenning ( meer as een keer per week) is noodsaaklik en sodra 5 tot 10 larwes per vierkante meter getel word moet gespuit word. Hoe kleiner die larf, hoe makliker word dit beheer. Eerste vervelling larfies is net 1 tot 2mm groot maar sal binne een week 2 tot 3 keer vervel en tussen 10 en 15mm lank wees.


Wat word gebruik vir bolwurm beheer?

Produkte uit die sintetiese piretroied groep word aangewend vir bolwurm beheer – hulle is baie effektief teen larwes en relatief goedkoop. In sommige gebiede, veral die aangrensend aan vrugteverbouing, is daar 'n sensitiwiteitsverskuiwing van bolwurm teen die piretroiedes opgemerk, en in sulke gevalle kan 'n mengsel van methomyl en 'n piretroied gebruik word.

Vriendelike benadering tot bye

Mnr Chris Cumming
Voorsitter: AVCASA – Wes-Kaap, Stellenbosch

Is plaagbeheer in canola 'n risiko vir bye?

Ja. Vir 2 redes – canola blomme is 'n gesogte voedingsbron vir bye en hulle sal lang afstande (tot 5km) vlieg om te voed. Tweedens is die blomstadium wat oor 'n lang tyd duur ook die stadium wanneer veral plantluise, maar ook ruitrugmot en bolwurms, skade kan berokken en dus bespuitings gedoen word.


Wat kan gedoen word om die risiko te verlaag?

Die byewerkgroep van Croplife SA in samewerking met die Wes-Kaapse bye-vereniging het riglyne tov. middels en hul bye veiligheid opgestel. Hierdie riglyne word in die canola fokus gepubliseer. As al die partye betrokke kennis neem en daarvolgens optree kan die risiko tov. bye goed bestuur word.


Wie is die betrokke partye?

Eerstens is dit die canola produsent. Daar is bewyse dat bye bestuiwing 'n 8 tot 15 persent oesverhoging in canola opbrengs kan bydra. Tweedens is dit die plaagbeheer adviseur en alle ander insetverskaffers soos konsultante, saadhandelaars, spuitoperateurs ens. En derdens is dit die bye boer self. Wat belangrik is, is dat almal die verantwoordelikheid moet aanvaar en saamwerk om die bye risiko te verlaag.

Voorkoms van swartstam

Gert van Coller
Navorser – Departement Landbou, Wes-Kaap

Beskryf die voorkoms en ontwikkeling van swartstam op canola plante.

Swartstam word veroorsaak deur die swam Leptosphaeria maculans. Die belangrikste bron van infeksie is canola stoppels van die vorige jaar. In die begin van die groeiseisoen, na voldoende reën geval het, word spore vrygestel vanaf stoppels wat dan deur wind gedra word na canola saailinge. Die hoogste voorkoms van spore is binne 500m radius vanaf die canola stoppels. Die spore heg dan aan die saadlobbe en jong blare en infeksie vind plaas wat dan lei tot die kenmerkende blaarletsels. Die swam groei dan verder deur die blaarsteel tot binne-in die stam. Min of meer vanaf Augustus-maand af raak die swam patogenies en die kenmerkende stam- en kroonletsels verskyn. Kroonletsels is dikwels a.g.v infeksie wat plaasgevind het vanaf die saailing- tot die 4-blaar stadium, terwyl stamletsels wat hoër op geleë is dikwels ontstaan a.g.v. latere blaar-infeksie. Kroonletsels veroorsaak die grootste verliese a.g.v. swartstam, en tydens hoë siektedruk kan die hele oes hierdeur verloor word. Gedurende die groeiseisoen kan spore wat gevorm word in blaarletsels d.m.v. reën versprei na ander blare asook nabygeleë plante, wat dan lei tot verdere infeksie en verspreiding. Wanneer die peule geïnfekteer word, kan dit lei tot saad-infeksie. Saad-infeksie is die belangrikste manier hoe die siekte na ander areas en lande versprei word. Die swam oorleef tydens die somer op canola stoppels en so word die siklus in die volgende jaar herhaal.


Waarom is swartstam so moeilik om te beheer?

Die grootste faktore wat die bekamping van swartstam bemoeilik is die feit dat die swam baie effektief oor groot afstande versprei word, dat dit die vermoë het om geslagtelik voort te plant, en omdat daar van verskillende verbouings-praktyke en kultivars gebruik gemaak word. Al hierdie faktore dra daartoe by dat nuwe rasse van die swam ontwikkel en dat spesifieke rasse geselekteer word oor tyd. Wanneer genoeg tyd verloop het, kan hierdie rasse genoegsaam vermeerder om te lei tot hoë siektedruk wat groot skade kan veroorsaak. Daar is bereken dat daar tans potensieel 512 verskillende rasse van die swam wêreldwyd voorkom, en soos nuwe inligting versamel word, word nog verdere rasse geïdentifiseer. Omdat verskillende rasse nie noodwendig deur dieselfde beheermaatreëls bekamp word nie, bly swartstam 'n voortdurende probleem.


Watter praktyke kan gevolg word om swartstam te beheer?

Geïntegreerde siektebeheer is die mees effektiewe manier. Hier is die gebruik van weerstandbiedende kultivars die beste manier om swartstam te bekamp. A.g.v. redes wat in die vorige antwoord gegee is, moet daar egter onthou word dat die weerstandbiedendheid van kultivars nie noodwendig altyd behoue sal bly nie, daarom is dit beter om oor tyd van verskillende kultivars gebruik te maak. Chemiese beheer is nog nie in Suid-Afrika getoets nie en sal vorentoe aangespreek word. Die gebruik van 'n 4-jaar wisselbou siklus word ook sterk aanbeveel om genoeg tyd te gee vir die stoppels om af te breek en sodoende die siektedruk effektief te verminder. Verder is dit baie belangrik om slegs gesertifiseerde saad te plant, aangesien saad wat teruggehou word 'n groot risiko van saadbesmetting inhou. Koolagtige onkruide soos Ramenas en Wilde Mostert moet ook beheer word, aangesien die swam ook op hierdie plante oorleef.

Sclerotinia in canola

Dr SC Lamprecht
Senior Navorser – LNR-NIPB, Stellenbosch

Sclerotinia stamvrot is een van die belangrikste siektes van 'n hele aantal gewasse. Is dit ook 'n probleem by canola verbouing?

Sclerotinia sclerotiorum wat stamvrot veroorsaak is 'n belangrike patogeen van breëblaargewasse en het 'n baie wye gasheerreeks. Dit is een van die belangrikste siektes van canola in die res van die wêreld, maar gelukkig is dit nog nie 'n probleem by canola verbouing in die Suid-Afrika nie. Canola produsente behoort egter kennis te dra van die simptome van hierdie siekte en die faktore wat die siekte bevoordeel.


Sandra, kan jy kortliks die simptome van die siekte beskryf?

Simptome verskyn eers gedurende blomtyd en daarna. Die mees kenmerkende simptome van die siekte kom onder op die stamme van plante voor en ook later op die peule. In die geval van canola kan ligte, verbleikte kolle met 'n effense grys middel gedeelte gesien word – gewoonlik by die aanhegtingspunt van die blare of sytakke. Die swam vorm nie spore op die aangetaste plante nie, maar onder gunstige toestande word 'n digte bondel wit swamdrade gevorm waarin daar dikwels donkerbruin tot swart sclerotia gesien kan word. Sclerotia is ongeveer 1-4mm in deursnee. Hierdie sclerotia val op die grond vanwaar dit later ontkiem en dan spore vorm wat die plante infekteer. Swamdrade wat op die grond groei kan egter ander plante infekteer. Die siekte kom dus kenmerkend in kolle voor. Aangetaste plante word gewoonlik voortydig ryp en sterf af. Dit veroorsaak natuurlik laer opbrengs en saadgewig. Dit is belangrik om daarop te let dat sclerotia dikwels in en op peule gevorm word, en gekontamineerde saad kan dus die siekte oordra.


Watter toestande bevoordeel Sclerotinia stamvrot en is daar metodes om hierdie siekte te beheer?

Warm, vogtige toestande bevorder die ontwikkeling van die siekte. Soos reeds genoem is sclerotia die belangrikste bron van inokulum van die swam en die swam kan tot sewe jaar in die grond oorleef. Dit beteken dat gewasse wat deur hierdie swam aangeval word nie in kort rotasiestelsels opmekaar moet volg nie. Die neiging om canola bv na lupiene te plant om sodoende stikstof wat deur die lupiene agtergelaat is te benut, kan groot probleme veroorsaak.

Behalwe vir wisselbou met graangewasse en die gebruik van gesertifiseerde saad moet daar ook aandag gegee word aan onkruidbeheer in die bestuur van die siekte. Hoë onkruidpopulasies verhoog vogtigheid tussen plante sodat toestande meer gunstig is vir siekte ontwikkeling. Dit is ook belangrik om daarop te let dat kultivars wat tans gebruik word nie weerstandbiedend is teen die siekte nie, en daar is ook tans geen chemiese middels plaaslik geregistreer om hierdie siekte by canola te beheer nie.


Kwaliteit van canola

Mnr J Bruwer
Akkerboukundige – Sentraal Suid Koöperasie Swellendam

Waarna word gekyk as Canola gradeer word?

Wanneer canola gradeer word, word daar hoofsaaklik na die volgende aspekte gekyk:

  • Vogpersentasie word bepaal
  • Ander graansade en/of sifsels word bepaal
  • Chlorofiel (Groen pitte)
  • Hitte beskadiging (Bruin pitte)
  • Uitloop persentasie
  • Muwwe pitte

By die graderingspesifikasies wat genoem is, is chlorofiel (groen pitte) die belangrikste, want dit kan in 'n mate deur produksiepraktyke beïnvloed word. Wanneer canola te vroeg platgesny word, kan dit groen pitte tot gevolg hê. Die saad is nie fisiologies ryp nie. Daar word net 'n sekere persentasie toegelaat. Normaalweg sny ons canola plat wanneer saad tussen 40-70% saadverkleuring het. Hou van 55-60% saadverkleuring.

Te veel groen pitte gee 'n groen kleur aan die olie. Die proses om dit te verwyder is baie duur. Ek moet net sê dat as ons van groen pitte praat, verwys ons na die binnekant van die saad, nadat dit stukkend gerol is.

Sekere klimaatstoestande soos vroeë ryp en warm en droë toestande tydens saadvulperiode, kan ook groen pitte tot gevolg hê.


Wat beïnvloed olie-inhoud?

Die verwerker van canola stel tog belang in die persentasie olie-inhoud en ek dink daar gaan in die toekoms op grond van persentasie olie-inhoud betaal word. Negentig tot vyf-en-negentig persent van die finale olie-inhoud word bepaal deur die omgewingsfaktore en die balans deur die kultivars se genetiese potensiaal.

Vroeë saaitye gee ook hoër olie-inhoud, maar dit hang af van die tyd van reën en ryp. Olie is die laaste komponent van saadontwikkeling wat vasgelê word, so vogstres, ryp vanaf middelblom tot middel van saadvulperiode kan die olie-inhoud nadelig beïnvloed.

Wanneer plantdigthede te hoog is, oorkompenseer die canolaplant vir water en voedingstowwe en dit lei tot laer opbrengs en olie-inhoud. Optimum plantdigthede wissel tussen 20-60 plante per vierkante meter vir droëland en 60-80 plante per vierkante meter vir besproeiing.

Hitte-stres veroorsaak blomafspening en dus 'n verlaging in opbrengs, maar het geen invloed op olie-inhoud nie.

Stikstof is belangrik, maar laat toedienings teen hoë kg/ha kan "haying off" veroorsaak en 'n verlies aan opbrengs en olie-inhoud tot gevolg hê. Fosfaat is belangrik vir wortelontwikkeling en swawel vir selwandstrukture en planthormone. As tekorte voorkom, kan beide graanopbrengs en olie-inhoud daal.

Soos u kan sien is daar 'n hele klomp faktore wat olie-inhoud kan beïnvloed. Canola is dus verseker nie 'n afskeepsgewas nie. Produksiepraktyke moet dus reg gevolg word.


Oestegnieke

Mnr Piet Lombard
Navorsing Tegnikus – Departement van Landbou, Wes-Kaap

Canola kan platgensy word of direk gestroop word. Watter metode word tans meer algemeen gebruik in Wes- / Suid-Kaap?

In die Suid-Kaap het baie van die produsente reeds die toerusting om plat te sny omdat daar natuurlik ook baie gars in die streek verbou word. Die klimaatstoestande in die Suid-Kaap vereis ook meer dat daar van hierdie metode gebruik gemaak word aangesien die canola baie stadiger ryp word as gevolg van die feit dat temperature effens koeler in die streek is en daar ook dikwels reën voorkom tydens die oestyd.

In die Swartland is die situasie effe anders en het nie al die boere toegang tot platsnyers nie en is die canola ook geneig om vinniger en meer egalig ryp te word met die gevolg dat baie van die canola wel direk gestroop word. Van die produsente wat redelik groot aanplantings in die gebied het, sal natuurlik neig om hul canola eerder plat te sny omrede dit die druk so effe verlig tydens oestyd.


Wat is die voordele van platsny?

  • Meer uniforme rypwording, veral by ongelyke stande en waar grondtipes verskil;
  • Sneller en meer uniforme uitdroging van plante, verminder vogprobleme by lewering;
  • Makliker en vroeër oes van die gewas verminderde saadverliese tydens rypwording en oes van die gewas.

Is daar enige belangrike aspekte waarna gelet moet word wanneer daar platgesny en opgetel word.

Die snyhoogte moet bokant die vertakking van die plante wees, om 'n mik te vorm waarin die windry kan lê, sodat dit nie deur wind gewaai kan word of te diep in die stoppel insak nie. Beter lugvloei word verseker en die hoeveelheid materiaal wat deur die platsnyer en stroper gehanteer moet word, is ook minder. Daar moet ook verkieslik saam met die normaalweg heersende windrigting gesny word en verkieslik van die kant waarna die peule lê, opgetel word.

Wanneer die canola opgetel word na platsny moet die opteller so horisontaal as moontlik gestel word, sodat die windry so min as moontlik versteur word. Die spoed van die opteller moet stadiger wees as by kleingrane anders word die materiaal tot by die hoof awegaar ingetrek, met gepaardgaande saadverliese. Indien moontlik moet die opteller se spoed dieselfde wees as die grondspoed van die stroper. Die mat bokant die opteller moet ook hoër gestel word, aangesien die canolawindry 'n groter volume as kleingraanwindrye het. Kyk ook na die vervaardigers se spesifikasie vir canola of rape wat betref dromspoed, konkaafopening en wind verstellings.

Oesstadium van canola

Mnr Piet Lombard
Navorsing Tegnikus – Departement van Landbou, Wes-Kaap

Ons het nou gehoor dat platsny die mees algemene oesmetode in die Wes en Suid-Kaap is. Op watter stadium moet die plante platgesny word en hoe word dit bepaal?

Platsny behoort plaas te vind wanneer 40–60% van die sade verkleur het. Die canolaplant word egter van onder af ryp met die gevolg dat sade op 'n sekere hoogte gebruik word om die rypheidstadium te bepaal. Genoegsame peule aan die middel van die plant moet gemonster word. Ook, moet op verskillende plekke in 'n land gemonster word om die korrekte gevolgtrekking te maak. Sade moet ferm wees wanneer dit tussen die vingers gerol word en die voginhoud moet tussen 30% tot 35% lê.

Te vroeg platsny kan verliese in terme van opbrengs, oliepersentasie, proteïeninhoud en die kwaliteit van die olie meebring. Waar te veel groen sade voorkom kan dit lei tot te hoë vlakke chlorofil wat geneig is om die olie te laat donker word wat natuurlik onaanvaarbaar vir die verbruiker is.


Hoe lank na blomstadium word die korrekte stadium vir platsny bereik en hoe lank na platsny kan die plante opgetel en geoes word?

Canola is gewoonlik gereed vir platsny op sowat 14 tot 28 dae nadat die blomstadium voltooi is en dit is wanneer minder as 10% van die blomme nog sigbaar is en die peule oorwegend klaar gevorm het.

Platgesnyde canola is normaalweg binne 7 tot 10 dae, sodra die voginhoud van die saad benede 8.5% gedaal het, reg om opgetel en geoes te word. Dit hang natuurlik ook af van die heersende omgewingstoestande soos dagtemperature, wind en die hoeveelheid dou wat daar snags mag voorkom. Waar drogingsfasiliteite beskikbaar is kan dit selfs by 'n hoër voginhoud opgetel word.


Canola kan ook direk gestroop word. Op watter stadium kan dit gedoen word?

Goeie sukses kan ook met direk-stroop behaal word. Noukeurige en tydige monitering van die stand vir rypheid tydens die oesproses is van kardinale belang. Canola is gereed vir oes sodra die peule geel verkleur het, die sade donker van kleur is en ritsel in die peule as dit geskud word. Indien drogingsfasiliteite beskikbaar is kan daar vanaf 14% vog gestroop word. Canola kan egter slegs benede 8% vog geberg word. Genoeg peule moet op verskillende sytakke van die plant op verskillende dele van die land gemonster word. Sodra die canolaplant volwasse is, raak dit gewoonlik baie vinnig ryp en kan optimum oestydperk so kort as slegs enkele dae wees. Rypwording begin by die basis van die stingel en beweeg opwaarts. Moenie wag totdat die plante doodryp is, voordat die oesproses begin nie, aangesien dit kan lei tot groter saadverliese en selfs die olieinhoud nadelig kan beïnvloed. Ignoreer dus moontlike groen peule aan die top van sekere plante.

Die maak en breek van al hierdie tegnieke is die voginhoud asook die relatiewe humiditeit van die omgewing. Navorsing toon dat die tyd van die dag wanneer daar gestroop word bitter belangrik is, aangesien dit die voginhoud van die canola bepaal en die vog inhoud hou weer direk verband met die persentasie oesverlies wat daar mag voorkom.


Waarde van canola as veevoer

Dr Tertius Brand
Spesialis Navorser – Departement van Landbou, Wes-Kaap

Watter produkte en/of neweprodukte van kanola kan in dierevoeding gebruik word?

Eerstens moet daar 'n onderskeid getref word tussen volvetkanola – naamlik die ongeprosesseerde saad en kanola-oliekoek – die residu nadat die olie meganies uit die saad gedruk is. Beide die produkte is hoë kwaliteit produkte, wat baie goed deur plaasdiere benut word.


Wat is die voedingswaarde van kanola vir plaasdiere?

Die proteïeninhoud van plaaslik geproduseerde volvetkanola is ongeveer 24% met 'n olie-inhoud van 36%. Kanola-oliekoek wat in Suid-Afrika beskikbaar is het 'n proteïeninhoud van 36% met 'n olie-inhoud van ongeveer 9%. Die sogenoemde verbyvloeiproteïenpersentasie van kanola-oliekoek is ongeveer 28% en vergelykbaar met die waarde vir sojaboon oliekoek.


Hoe kan kanola in die diete van plaasdiere gebruik word?

Studies wat by Elsenburg sowel as die Universiteit van Pretoria uitgevoer is dui daarop dat die ideale insluitingsvlak van volvetkanola ongeveer 12% in die volvoer van lammers en 6% in die volvoere van melkkoeie is. Kanola-oliekoek kan teen 15% in die volvoere vir skape en 12% in die volvoere van melkbeeste gebruik word.

Wat enkelmaagdiere betref is die ideale insluitingspeile van volvetkanola en kanola-oliekoek in diëte van varke 12-18%. Vir volstruise is dit ongeveer 10% en vir hoenders blyk die maksimum insluitingsvlakke tussen 5 en 10% te wees.

Dit is interessant om te weet dat met die insluiting van volvetkanola in die diëte van hoenders, varke en melkkoeie, 'n gesonder vet en melkvet profiel verkry is – dit is 'n hoër konsentrasie onversadigde teenoor versadigde vette.

Dit is verder belangrik om te onthou dat die beste benutting van volvetkanola verkry word indien die kanola saad met die graan vermeng word tydens die maalproses.


Wat is die ekonomiese waarde van kanola as grondstof in veevoere?

Die relatiewe geldwaarde van volvetkanola is 90-95% van die waarde van sojaboon oliekoek en die geldwaarde van kanola-oliekoek ongeveer 70% van die waarde van sojaboon oliekoek.

Biobrandstowwe

Mnr JSG Joubert
Vise-Voorsitter: Proteïennavorsingstigting (PNS)

Jy was lid van 'n PNS-afvaardiging wat Duitsland, die VSA en Kanada besoek het om meer inligting oor die Biobrandstofbedryf en die impak daarvan op die veevoermark in te win. Wat is jou indrukke oor die ontwikkelinge in die betrokke lande?

Die biobrandstofbedryf in die betrokke lande is baie groter in omvang as wat ek aanvanklik gemeen het en groei steeds teen 'n vinnige tempo. Byvoorbeeld in die VSA is daar in 2000 minder as 7,5 biljoen liter etanol vervaardig, terwyl die projeksie vir 2006-07 ongeveer 20 biljoen liter is. Daar is tans 103 Etanol aanlegte in die VSA in produksie, terwyl 'n groot aantal nog in die beplanningsfase of oprigtingsfase is.


Wat is die situasie ten opsigte van biodiesel?

In Duitsland is die hoof fokus op biodiesel wat vanuit canola vervaardig word en is dit die mikpunt dat teen 2010, 5.7% van alle dieselverbruik biodiesel moet wees. Die nuwe mikpunt vir 2015 is 'n 8% verpligte insluitingspeil wat die biodieselverbruik op 17 miljoen ton te staan sal bring. In die VSA word biodiesel hoofsaaklik van sojas vervaardig en is daar gedurende 2000 7.5 miljoen liter biodiesel vervaardig. Gedurende 2005 was dit al soveel as 284 miljoen liter. Die aantal biodieselaanlegte in die VSA het ook van 2001 gegroei vanaf 9 tot die huidige 65.


Jy het nog niks gesê oor die biobrandstofbedryf in Kanada nie.

Die biobrandstofbedryf in Kanada het nog nie groot afmetings aangeneem nie. Kanada is 'n netto uitvoerder van energie en is daar ook nog nie 'n biobrandstofprogram in plek van regeringskant nie. Dit word verwag dat die Kanadese regering gedurende Oktober 2006 'n aankondiging in dié verband sal maak wat volgens spekulasie 'n insluitingspeil van 5% vir etanol en biodiesel sal behels. Etanol word tans op beperkte skaal van koring vervaardig asook biodiesel, maar laasgenoemde nie noodwendig van canola nie.


Wat is die hoofredes vir die snelgroeiende biobrandstofbedryf in daardie lande?

Die hoofmotiverings wat uit die gesprekke na vore gekom het, is gebaseer op ru-oliepryse, kwynende ru-olievoorrade en dan omgewingsfaktore. Maar wat interessant is, is dat die vernaamste rede, landbou gebaseer is en dit word nie openlik genoem nie. Subsidies op landbouprodukte is nie meer so bekostigbaar nie, dit is in stryd met WHO-beleid, nuwe markte moet gevind word vir grane en dan speel waarde toevoeging ook 'n belangrike rol.


Volgens jou, wat is die kritiese faktore vir die sukses van 'n biobrandstofbedryf?

Die grondstof byvoorbeeld mielie- etanolprysverhouding asook 'n konstante toevoer van die grondstof. Tweedens is dit baie belangrik dat 'n Regeringprogram / beleid in plek moet wees. Elemente van so 'n program moet onder andere behels 'n verpligte insluitingspeil en 'n subsidie belastingbeleid. Derdens is logistiese aspekte belangrik. Hier dink ek aan die plasing van die aanleg naby die produksiegebied van die grondstof, asook binne bereik van die afnemers van die finale produkte, naamlik die brandstof, DDGS en oliekoek. Laasgenoemde twee is natuurlik baie belangrik vir die veevoermark.

Benutting van neweprodukte van biobrandstof as veevoer

Dr M Griessel
Voorsitter: Tegnologiekomitee (PNS)

Ons het by 'n vorige geleentheid gesels oor die omvang van die biobrandstofbedryf asook die byprodukte naamlik Oliekoek en DDGS wat uit hierdie bedryf beskikbaar kom vir die veevoermark. Oliekoek is alombekend as 'n goeie proteïenbron maar wat is DDGS?

Hennie, DDGS is die afkorting van "Distillers Dried Grain with Solubles". Wanneer grane soos mielies, koring, gars of rog gefermenteer word deur sekere giste en ensieme, word die stysel omskep na etanol en koolsuurgas. In die proses ontstaan daar twee afvalprodukte naamlik "Distillers Grain" en 'n meer oplosbare fraksie "Distillers Solubles".

Hierdie twee fraksies word dan vermeng en gedroog en staan dan bekend as "Distillers Dried Grain with Solubles".


Het u 'n idee van wat die omvang van oliekoek- en DDGS produksie in die wêreld is?

Gedurende 2005/2006 sal daar wêreldwyd 321 miljoen ton oliesade gepers word wat na raming 220 miljoen ton oliekoek en 82 miljoen ton plantaardige olie sal voorsien.

Van die 321 miljoen ton oliesade wat gepers word maak sojabone 58% uit (186 miljoen ton) en raapsaad (canola) 13% (43 miljoen ton).

Ek is nie seker van wat die wêreld se DDGS produksie is nie. Ek weet egter dat alhoewel etanol in Europa vervaardig word, hulle fokus op biodiesel is.

In die VSA egter neem DDGS produksie fenomenaal toe.

So byvoorbeeld was DDGS produksie in

  • 1990 – 1,8 miljoen metrieke ton
  • 1995 – 3,0 miljoen metrieke ton

en word die produksie vir 2005 en 2010 respektiewelik geskat op 7.0- en 16 miljoen ton.


Wat is die proteïeninhoud van DDGS?

Die proteïeninhoud van DDGS sal afhang van die graan wat gebruik word, maar die proses speel ook 'n belangrike rol.

Die tipiese proteïeninhoud van DDGS afkomstig van mielies is 27-28%.

Ek kan interessantheidshalwe noem dat tydens ons besoek aan die VSA ons verneem het van aanlegte in Iowa en Minnesota waar daar DDGS geproduseer word met 'n proteïeninhoud so hoog as 40%. Hier egter word mielies gebruik waarvan beide die kiem en semels verwyder word voor fermentasie.


Kan DDGS in die nat vorm gebruik word?

Ja, ons inligting is dat 40% van alle DDGS wat tans in die VSA bemark word in die nat vorm is.

DDGS bevat nagenoeg 75% vog en om dit te droog is 'n duur proses. Die nat DDGS word dus hoofsaaklik in melkbeeskuddes en voerkrale gebruik wat naby die etanol aanlegte geleë is.

Verafgeleë diereproduksie eenhede moet liefs die gedroogde produk gebruik anders word dit 'n baie duur manier om water na diere te vervoer.

Ook moet ek noem dat die houvermoë van die nat produk maar beperk is. 'n Verottingsproses kan intree indien die nat produk nie vinnig genoeg gebruik word na vervaardiging nie. Gedurende die somermaande is dit nagenoeg 3 dae en gedurende die wintermaande kan dit waarskynlik rek na 7 dae.


Ek neem aan dat etanol en DDGS in die VSA hoofsaaklik van mielies geproduseer word?

Hennie ja, om jou 'n idee te gee in 2005 is daar 282 miljoen ton mielies geoes van 30,4 miljoen hektaar. Dit wil sê 9,28 ton per hektaar.

In dieselfde jaar is daar 40 miljoen ton mielies gebruik vir etanol produksie, met ander woorde nagenoeg 14%. Die verwagting is dat hierdie syfer sal verdubbel by die jaar 2010.


U het genoem dat daar tans ongeveer 7,0 miljoen ton DDGS in die VSA geproduseer word. Word die 7,0 miljoen ton alles in die VSA verbruik?

Hennie nee, dit is aan ons genoem dat op hierdie stadium ongeveer 1,3 miljoen ton uitgevoer word terwyl die res soos volg benut word:

  • 44% deur melkbeeste
  • 37% deur vleisbeeste
  • 16% deur varke, en
  • 3% deur hoenders verbruik word.

Ons weet dat oliekoek oor 'n lang periode 'n belangrike bron van proteïene in voerrantsoene is. Wat is die situasie ten opsigte van DDGS?

Weens kwaliteitsprobleme wat voedingkundiges in die verlede met DDGS ondervind het is baie van hulle huiwerig om dit te gebruik. Ander weer gebruik beperkte hoeveelhede in rantsoene.

Baie navorsing word egter gedoen en het dit vir my duidelik geword dat indien streng by sekere ooreengekome vervaardigingspraktyke gebly word, DDGS tot groot voordeel in die veevoerbedryf gebruik kan word.


U verwys na kwaliteitsprobleme – wil u 'n bietjie uitbrei?

Ja, in die eerste plek moet dit aanvaar word dat jy nie 'n kwaliteit DDGS kan produseer as jy met lae kwaliteit grane begin.

Ek het vroeër verwys hoe die stysel in grane omskep word na etanol. Met die verwydering van die stysel in die vervaardigingsproses word die konsentrasie van die ander nutriente in die graan soos proteïen, vet, vesel, minerale en vitamienes drievoudig vermeerder teenoor die van die oorspronklike graan. Met ander woorde, as ons begin met mielies met 9% proteïen sal ons eindig met 27% proteïene. Soortgelyk as die vet-inhoud 3% is sal ons eindig met 9% vet in die DDGS.

Dieselfde geld ook vir mikotoksienes. As jy begin met swam besmette mielies wat mikotoksienes soos aflatoksiene, zearalenone of fumonosins bevat, eindig jy met DDGS waar hierdie mikotoksienes drievoudig vermeerder het. Hierdie mikotoksienes word nie in die fermentasie proses vernietig nie.

Dit is dan ook hierdie verksynsel wat baie voedingkundiges huiwerig maak om die produk te gebruik.


In die vervaardigingsproses wat bepaal die kwaliteit?

Hennie, etanol aanlegte se hoof doelstelling is om maksimum produksie te bewerkstellig en gevolglik word oormatige temperature gebruik om die DDGS vinniger te droog. Oorverhitte DDGS het 'n donkerder kleur wat 'n aanduiding is dat die "Maillard" reaksie kon ingetree het. Die verteerbare aminosure in sulke produkte is normaalweg heelwat laer en die kwaliteit dus swakker.

By die Universiteit van Minnesota het hulle 'n goeie korrelasie gekry tussen beskikbare lisien en die kleur van die DDGS.

Ek het ook vroeër genoem dat "Distillers Dried Grain with Solubles" 'n mengsel van "Distillers Grain" en "Distillers Solubles" is. Dit moet onthou word dat die "Distillers Solubles" 'n baie hoër vet inhoud het as die "Distillers Grain". Aan die anderkant het die "Distillers Grain" weer 'n hoër proteïeninhoud as die "Distillers Solubles". Dit is dus voor die handliggend dat indien hierdie twee produkte nie in 'n konstante verhouding vermeng en gedroog word nie, aansienlike variasie in die eindproduk sal voorkom.

Dit was duidelik aan die studiegroep dat daar groot variasie tussen fabrieke voorgekom het.

Om dus seker te maak dat bestendige kwaliteit DDGS aangekoop word sou dit my aanbeveling wees dat die verbruiker en vervaardiger van DDGS skriftelik ooreenkom op sekere kwaliteitstandaarde en vervaardigingspraktyke.


Die navorsing waarna u verwys toon dit ook aan hoeveel DDGS in verskillende rantsoene gebruik kan word?

Ja, die navorsing by die Universiteit van Minnesota is baie insiggewend.

Ooglopend sal die insluitingsvlak van DDGS afhang van die beskikbaarheid van ander grondstowwe asook die relatiewe prys van DDGS teenoor die van die ander grondstowwe.

Navorsers by hierdie Universiteit het egter getoon dat wanneer goeie kwaliteit DDGS gebruik word, optimale resultate verkry kan word met die volgende insluitingsvlakke vir verskillende klasse vee:

Melkbeeste 20-26%
Voerkraalbeeste 25-30%
Dragtige sôe 50%
Lakterende sôe 20%
Groei- en afrondingsvarke 20%
Braaikuiken aanvangsrantsoene 6%
Braaikuiken afrondingsrantsoene 15%
Lêhenne 15%

Is daar enige ander eienskappe in DDGS wat u dink die veevoerbedryf kennis moet van neem?

Wel, ek het die volgende drie eienskappe interessant gevind:

  1. Verskeie navorsers het ons meegedeel dat die voorkoms van ileitis by varke aansienlik minder is wanneer rantsoene DDGS bevat. Dit word gespekuleer dat die voordelige uitwerking van DDGS op dermweefsel toegeskryf kan word of aan sy onoplosbare veselinhoud of aan die oorblywende giste in die DDGS wat so hoog as 4% kan wees.
  2. Wanneer dragtige sôe en lakterende sôe se rantsoene DDGS insluit wil dit voorkom dat hierdie sôe se werpsels gemiddeld een varkie per werpsel groter is as die van kontroles.
  3. Dan wil ek in die derde plek noem dat voedingkundiges dit dikwels moeilik vind om hoë melkproduserende koeie se energiebehoeftes, kort na kalwing, te bevredig. Die rede is dat hoë innames van hoë energie rantsoene (hoë mieliemeel inhoud) kort na kalwing dikwels aanleiding gee tot melksuur asidose (suurpens).
    Omdat DDGS 'n relatiewe hoë energieinhoud het, asook die feit dat die stysel na etanol omskep is, kan die risiko van suurpens aansienlik verminder word deur 'n groot deel van die mieliemeel te vervang met DDGS.

Wat sal die situasie in die RSA wees met die beoogde etanol aanlegte wat opgerig gaan word?

Ek verstaan dat daar beplan word om 8 aanlegte in Suid-Afrika op te rig wat elk 375 000 ton mielies per jaar sal kan verwerk. Dit wil sê 'n totaal van 3 miljoen ton mielies per jaar.

As in aanmerking geneem word dat van een metrieke ton mielies:

  • 402 liters etanol
  • 323kg DDGS, en
  • 323kg Koolsuurgas

vervaardig kan word, sal

  • 3 miljoen ton mielies
  • 1,2 biljoen liters etanol
  • 969 000 ton DDGS, en
  • 969 000 ton Koolsuurgas lewer.

Die eerste vraag wat ontstaan is of Suid-Afrika jaarliks 969 000 ton DDGS kan gebruik.

Deur gebruik te maak van 'n rekenaar model het die PNS saam met die UOVS onlangs bepaal dat die aanwendingsvlakke van DDGS in veevoer rantsoene uiters prys sensitief is. As die prys van DDGS teen onrealistiese vlakke vasgestel gaan word, sal ons definitief surplus probleme ondervind.

Dit is ook interessant om daarop te let dat die DDGS hoofsaaklik mielies en sonneblomoliekoek in die rantsoene verplaas.


Wat is die belangrikste aspekte waarna die vervaardigers van etanol en dan die DDGS moet kyk?

  1. Hennie, in die eerste plek moet daar 'n regeringsbeleid in plek wees om die langer termyn produksie van biobrandstowwe te verseker. Hier dink ek aan verpligte insluitingspeile van biobrandstowwe, belastingsbeleid en ander insentiewe.
  2. Die aankoopprys van mielies en die verkoopprys van etanol (insluitend insentiewe) moet sodanig wees dat 'n bevredigende rendement op kapitale belegging verkry word.
  3. Die aanleg moet naby 'n produksiegebied wees en daar moet seker gemaak word dat daar nie alleen 'n konstante toevoer van graan sal wees nie, maar ook skoon vars water.
  4. Om vervoerkoste te beperk moet die aanleg naby afnemers van beide DDGS en etanol wees.
  5. Om 'n goeie gehalte DDGS te produseer moet die kwaliteit van graan altyd bo verdenking wees.
  6. Goeie vervaardigingspraktyke moet ten alle tye gehandhaaf word en daar moet gewaak word teen oorverhitting.