Reports / Research Reports / 2012/2013 / Proteienbronne

Navorsingsverslag 2012/2013

4.

 

Proteïenbronne


Indeks


4.1

 

Internasionaal


4.1.1

 

Algemeen


Gedurende die verslagjaar was die produksie en aanbod van olie- en proteïenrykesade onderhewig aan wisselende klimaatstoestande, logistiese probleme en politieke inmenging in die mark.

Die internasionale eindvoorraad van die sewe belangrikste oliesade het vir die 2011-2012 seisoen te staan gekom op 66,1 miljoen ton wat 22,6 miljoen ton laer is as die eindvoorraad van die vorige seisoen (2010-2011). Sojabone was die hoofoorsaak vir die daling deurdat sy eindvoorraad met 21,1 miljoen ton gedaal het tot 54,1 miljoen ton vir die 2011-2012 seisoen.

Die eindvoorraad vir die 2012/2013 seisoen het te staan gekom op 75,3 miljoen ton nadat produksie vir die sewe oliesade gestyg het van 434,6 miljoen ton tot 459 miljoen ton vir die 2012/2013 seisoen. Die grootste styging het by die produksie van sojabone voorgekom met 'n toename van 27 miljoen ton. Katoensaad, sonneblom en canola het nie groot wisselinge getoon nie.

4.1.2

 

Sojabone


Aan die begin van die verslagjaar was dit verwag dat die Suid-Amerikaanse soja-oes, ten spyte van die laat reëns in Argentinië nog steeds 14 miljoen ton laer sal wees. Dit was verwag dat wêreldproduksie van sojas met 20 miljoen ton sou afneem teenoor die vorige jaar 2010/2011. Inderwaarheid was die totale wêreldproduksie van sojas vir 2011/2012 (Oktober / September) 26 miljoen ton laer as die ooreenstemmende periode in 2010/2011. Dit het meegebring dat wêreldvoorrade van sojas ook betekenisvol laer was teen einde Augustus 2012. Die totale produksie van sojas vir die 2011-2012 seisoen (Oktober / September) was 238,9 miljoen ton teenoor die 264,9 miljoen ton die vorige seisoen. Dit het aanleiding gegee tot 'n verstewiging van termynpryse aan die begin van die verslagjaar. 'n Daling in internasionale raapsaaden canolaproduksie het ook bygedra tot die prysstyging van sojas. Sojas het ook gedurende die verslagjaar strawwe kompetisie vir oppervlakte ondervind van ander gewasse, nie net in die VSA nie maar ook in ander produserende lande. Sjina byvoorbeeld het as gevolg van regeringsbeleid aangedui dat hul meer mielies gaan aanplant ten koste van sojas ten einde meer selfvoorsienend te word ten opsigte van grane.

Sojas handhaaf hom egter goed in die geveg vir grond as gevolg van die gunstige soja: mielieprysverhouding op die CBOT-termynmark wat op 8 Maart 2012 – 2,3:1 was (November sojas: Desember mielies) wat 'n groot verbetering is op die 2,1:1 verhouding aan die begin van Februarie 2012.

Wat die 2012-2013 (Oktober / September) seisoen betref is termynpryse van sojas ondersteun deur die oesrisiko's in Suid-Amerika en die groot vraag uit Sjina. Aanplantings van grane en oliesade is vertraag weens ongunstige klimaatstoestande. In Argentinië was 13 tot 16 miljoen hektaar landbougrond onder vloedwater of oormatig nat. Brasilië het probleme van 'n teenoorgestelde aard ervaar waar produsente te kampte gehad het met 'n lae grondvogsituasie op nagenoeg die helfte van die area wat vir sojas geoormerk was.

Gedurende die laaste week van Februarie 2013 het die termynpryse van sojas en soja-oliekoek verstewig hoofsaaklik as gevolg van die vertragings wat voorgekom het in die uitvoere vanaf Suid-Amerika. Soja-oliekoek het prysgewys die beste gevaar van die sojakompleks, terwyl soja-olie die swakste presteer het.

Die Argentynse regering het groot druk geplaas op produsente om meer aktief te bemark. Die regering wil die uitvoere van ou voorraad bespoedig aangesien hulle 'n dringende behoefte het aan die inkomste wat voortspruit uit die uitvoerbelastings. Die produsente se onwilligheid om van die ou voorraad ontslae te raak spruit voort uit die onaantreklike wisselkoers wat deur die regering vasgestel is en die hoë inflasiekoers van ten minste 30%. Die produsente wag vir 'n devaluasie en 'n nuwe wisselkoers wat nader sal wees aan die werklike waarde. Brasilië se oesverwagting vir die 2012/2013 seisoen sal nie so groot wees as aanvanklik verwag nie maar sal dit nog steeds 'n rekord oes wees. Oesskattings op daardie stadium het gewissel van 80,1 tot 81,2 miljoen ton. Die skattings is heelwat hoër as die vorige seisoen se 66,4 miljoen ton.

Brasilië se groot probleem is egter infrastruktuurbottelnekke en 'n tekort aan vragmotors wat daartoe aanleiding gegee het dat vervoerkoste na die hawes die hoogte in geskiet het. Plaashekpryse aan produsente het gedaal as gevolg hiervan en dan is pryse nog verder gesny as gevolg van 'n laer kwaliteit bone wat gelewer is weens 'n hoër voginhoud. Vervoerkoste van sentraal Mato Grosso na die hawe van Paranagua het byvoorbeeld met 60% tot 80% gestyg teenoor 'n jaar gelede. Redes wat aangevoer word vir die drastiese styging in die vervoerkoste is die swak toestande van die paaie, nuwe wetgewing deur die regering wat onder andere behels dat vragmotorbestuurders langer rusperiodes moet neem, hoër dieselpryse en 'n tekort aan vragmotors. Winsmarges van vervoer is te laag en het vragmotors nou na die suidelike deel van Brasilië verskuif waar die vervoer winsmarges hoër is.

Soja-oliekoekpryse is ook bevoordeel deur die laer oesverwagting vir sojas in Suid-Amerika gedurende die 2010-2011 seisoen. Die afname in etanolproduksie in die VSA het verder hiertoe bygedra omdat dit 'n laer aanbod van "Distillers Dried Grain with Solubles" (DDGS) tot gevolg gehad het.

4.1.3

 

Canola


Pryse van raapsaad en canola het ook gedurende die aanvang van die verslagjaar verstewig. Kanada het voordeel getrek uit die laer oeste in die ander lande deurdat die vraag na Kanadese canola toegeneem het. Dit het uit die aard van die saak laer voorraadvlakke in Kanada tot gevolg gehad teen die einde van die Kanadese seisoen. Die situasie sal egter na verwagting grootliks verander gedurende die 2012-2013 seisoen aangesien Kanadese en Australiese produsente aandui dat hul meer gaan aanplant.

Canola bly steeds die tweede belangrikste oliesaad in die wêreld en handhaaf 'n relatief konstante tonnemaat internasionaal.

Totale produksie die afgelope 3 jaar was –

2010/2011 61,8 miljoen ton
2011/2012 61,4 miljoen ton
2012/2013 63,9 miljoen ton

Eindvoorrade het egter afwaarts geneig van –

2010/2011 7,1 miljoen ton
2012/2013 5,3 miljoen ton

Die drie grootste produseerde lande was –

EU 19,65 miljoen ton
Kanada 14 miljoen ton
Sjina 12,5 miljoen ton

4.1.4

 

Ander


Internasionale sonneblomproduksie het die afgelope 3 jaar aansienlik gefluktueer hoofsaaklik as gevolg van klimaatsfaktore.

2010/2011 33.6 miljoen ton
2011/2012 39.56 miljoen ton
2012/2013 35.6 miljoen ton

Die drie vernaamste produserende gebiede het soos volg gepresteer –

2010/2011 2011/2012 2012/2013
EU 7.0 miljoen ton 8.3 miljoen ton 7.0 miljoen ton
Rusland 5.8 miljoen ton 9.5 miljoen ton 8.0 miljoen ton
Ukraine 8.0 miljoen ton 9.5 miljoen ton 8.4 miljoen ton

Globale vismeelproduksie vir die eerste ses maande van 2013 is tot 10% laer as vir 2012 Wêreldwye voorraad is laag, maar pryse daal weens die laer vraag na die produk, hoofsaaklik omdat Sjina se akwakultuurbedryf beïnvloed word deur onlangse swak weersomstandighede. Verder word alternatiewe vir vismeel, soos sojakonsentraat, nou in akwakultuur gebruik. Die globale vismeelproduksie vir die tydperk van Oktober 2010 tot September 2011, was 5.01 miljoen ton, terwyl dit 4.98 miljoen ton was vir 2011/2012 en deur Oil World geraam word op net 4.3 miljoen ton vir 2012/2013.

In Peru het vismeelproduksie tussen April en Junie 2013 afgeneem tot die laagste produksie in 10 jaar. Op 24 Julie 2013 was pryse VSA$1 450 (R14 500) vir FAQ-standaardmeel en VSA$1 600 (R16 000) vir Super Prime-meel.

Peru se visvangregulasies het verander. Net ansjovis wat gevang word vir gebruike anders as menslike gebruik, mag gebruik word vir vismeel. Vangste van klein vaartuie binne die 10 myl-sone word toegewys aan direkte menslike verbruik en tot 40% van dié vis word verwerk as vangste wat nie aangeteken word nie. Dit kan soveel as 100 000 tot 200 000 ton wees.

4.2

 

Plaaslik


4.2.1

 

Algemeen


Die vraag na vismeel en oliekoek was onderskeidelik 45 000 ton en 1 865 360 ton vir die bemarkingsjaar wat gestrek het oor die periode 1 April 2011 tot 31 Maart 2012. Geen ingevoerde vismeel word gebruik nie terwyl 1 089 433 ton (59%) oliekoek ingevoer was. Vir die voorafgaande periode 1 April 2010 tot 31 Maart 2011 was die ooreenstemmende verbruik 37 000 ton vismeel en 1 857 490 ton oliekoek. Gedurende 2011/2012 was daar 'n toename in die verbruik van vismeel van 21,6% terwyl daar 'n marginale afname van 0,1% was in die verbruik van oliekoek. AFMA se 2012 jaarverslag skat die verbruik van oliekoek vir die bemarkingsjaar 2012/2013 op 2 200 000 ton wat na die PNS se mening te hoog is en is dit afgeskaal na 1 900 000 ton.

Tydens die skryf van die verslag was 6 maande se werklike verbruiksyfers deur AFMA-lede bekend vir die 2012/2013 bemarkingsjaar. As dit opgeskaal word na 12 maande se verbruiksyfer kom dit te staan op 1 313 286 ton oliekoek verbruik deur AFMA-lede en 54 710 ton vismeel verbruik deur AFMA-lede. Op hierdie stadium is die vismeelverbruik deur AFMA-lede reeds meer as die totale vismeel verbruik (45 000 ton) van die vorige bemarkingsjaar. Dit kan toegeskryf word aan goeie visvangste gedurende die eerste deel van 2012 en die feit dat vismeel pryse relatief laag was (R6 500-R7 500 per ton). Soja-oliekoek pryse was daarenteen relatief hoog soos gemeld in 4.1.1 van die verslag.

Volgens die SA Vismeelbemarkingsmaatskappy was visvangste vir die periode Januarie 2013 tot April 2013 baie swak. Daar was reeds 130 000 ton meer vis gevang gedurende dieselfde periode die vorige jaar. Die binnelandse prys van vismeel huidig kom ook te staan op R12 000 tot R13 000 per ton. Die gevolge hiervan sal seker in die 2013/2014 bemarkingsjaar weerspieël word. Goeie vordering is gemaak met sojaproduksie plaaslik naamlik 560 950 ton in die bemarkingsjaar 2010/2011 (311 450 ha), 710 000 ton in die 2011/2012 bemarkingsjaar (418 000 ha), 650 000 ton in die 2012/2013 bemarkingsjaar (472 000 ha) en 851 000 ton vir die 2013/2014 bemarkingsjaar (516 000 ha oesskatting).

Dit verlig die druk op ingevoerde oliekoek en sal die verwagte oliekoek invoere vir 2012/2013, 981 820 ton wees teenoor die meer as 1 miljoen ton die vorige twee jare.

Die opgeskaalde oliekoek verbruik van AFMA-lede vir 2012/2013, 1 313 286 ton dui op 'n effense afname teenoor die werklike verbruik van 1 329 126 ton die vorige jaar. Afnames is hoofsaaklik as gevolg van verminderde gebruik van volvet sojas en sojaoliekoek. Faktore hiervoor verant­woordelik kan wees die gunstiger vismeel / sojaoliekoekprysverhouding asook die laer toename in plaaslike pluimveeproduksie wat die grootste verbruiker is van oliekoeke. Soja-oliekoek is nog steeds die vernaamste proteïenbron vir AFMA lede en het gedurende 2011/2012 bemarkingsjaar 75,9% van die totale oliekoek verbruik uitgemaak. Die geskatte persentasie verbruik vir die 2012/2013 bemarkingsjaar is 70,7%. Dit sluit volvetsojas in, wat omgewerk is na 'n soja-oliekoek ekwivalent.

4.2.2

 

Plaaslike produksie van proteïene


4.2.2.1

 

Sojabone


Daar is reeds hierbo vermeld van die effek wat die marksituasie gehad het op die pryse van sojas – en sojaprodukte. Soja-oliekoek was egter die prysleier in die verband en het op die Chicago Board of Trade (CBOT) vanaf middel Januarie tot Mei 2012 toegeneem met 44% tot US $435 per kort ton. Die effek hiervan op die gelande prys van 47% proteïen oliekoek te Durban is ook duidelik waarneembaar. Byvoorbeeld, op 5 Maart 2012, was die gelande prys van sojabone-oliekoek (47% proteïen) te Durban, R3 641 teen 'n wisselkoers van R7,55/US $. Op 2 Mei 2012 was dit R4 451 teen 'n wisselkoers van R7,72 /US $, 24 Julie was dit R6 000 per ton wat verder aangehelp was deur 'n swakker wisselkoers.

Pryse van ingevoerde soja-oliekoek het daarna effens verswak maar was nog steeds heelwat hoër as met die aanvang van die verslagjaar. Oktober 2012 was die gelande prys Durban, R5 860 per ton en begin 2013 ongeveer R5 500 per ton.

Met die 1ste oesskatting van Maart 2012 beloop die oppervlakte beplant met sojabone 472 000ha, met 'n verwagte opbrengs van 755 950 ton en verteenwoordig die grootste plaaslike oes nog ooit. Volgens die oesskattingskomitee is dit 45 950 ton, of ongeveer 6.5% meer as die vorige seisoen se skatting van 710 000 ton.

Volgens die Februarie 2013 syfers is slegs 650 000 ton geproduseer. As gevolg van grootliks nadelige landboutoestande is die gemiddelde opbrengs vir 2012 – 1.39 t/ha – 18.2% laer as die vorige seisoen se gemiddelde opbrengs van 1.7 t/ha en 0.34 t/ha as die vorige 5-jaar gemiddelde opbrengs van 1.73 t/ha en 0.33 t/ha minder as die vorige 10-jaar gemiddelde van 1.72 t/ha.

Die gemiddelde opbrengste in die vernaamste produserende provinsies vir 2011 en 2012 was soos volg –

2011 T/Ha 2012 T/ha
KwaZulu-Natal 2.71 2.40
Limpopo 2.50 2.30
Noordwes 2.50 1.50
Mpumalanga 1.55 1.30
Vrystaat 1.41 1.15

Hierdie is maar weereens 'n bewys van die geweldige invloed wat 'n seisoen se reënval en hitte op die kritieke stadium vir sojabone, gedurende Januarie tot Maart, uitoefen. Volgens die Februarie 2013 oesskatting is daar vir die 2012/2013 seisoen 515 000 ha sojabone aangeplant wat 'n toename van 9.1% verteenwoordig op die 2012 seisoen.

Volgens die oesskattingskomitee was die sojaboonaanplantings per provinsie teenoor die vorige jaar soos volg –

2012 2011 Verandering
Noord-Kaap 500 ha 500 ha 0 ha
Vrystaat 175 000 ha 135 000 ha +40 000 ha
Oos-Kaap 500 ha 1 000 ha -500 ha
KwaZulu-Natal 34 000 ha 34 000 ha 0 ha
Mpumalanga 200 000 ha 190 000 ha +10 000 ha
Limpopo 22 000 ha 23 500 ha -1 500 ha
Gauteng 19 000 ha 14 000 ha +5 000 ha
Noordwes 21 000 ha 20 000 ha +1 000 ha
Totaal 472 000 ha 418 000 ha +54 000 ha

Die PNS het reeds 'n paar jaar gelede die produksie van sojabone op een miljoen ton van 500 000 ha as mikpunt gestel het vir 2015, welke mikpunt, gesien teen die agtergrond van die huidige momentum in die plaaslike sojabedryf, reeds gedurende die 2013 aanplantings bereik kan word.

Die PNS het ook die doelwit van 33:67 soja:mieliesverhouding in 'n wisselboustelsel, dus 'n soja-oppervlakte van nagenoeg een miljoen hektaar, as nuwe mikpunt vir 2020 gestel het.

Volgens verdere bespiegelinge is ook genoem dat 750 000 hektaar sojas, of 'n opbrengs van een miljoen ton sojas, benodig sal word teen 2015, indien die verwagte toename in perskapasiteit sou realiseer. In Februarie 2013 was 600 000 ton perskapasiteit reeds beskikbaar met aansienlike verdere uitbreidings in aanbou.

Grafiek

RSA: Sojabone Oppervlakte Beplant

2001-2013

Grafiek vir sojabone se oppervlakte beplant
Bron.  Nasionale Oesskattingskomitee

Die grafiek wat die oesskattingskomitee saamgestel het van die oppervlakte aangeplant onder sojabone sedert 2001 is baie insiggewend. Die PNS is veral trots op die jaarlikse styging wat vanaf 2008 plaasgevind het en steeds hoër neig. Die groter bewuswording van produsente ten opsigte van bewaringsboerdery en die belang­rikheid van sojabone in so 'n stelsel as wisselbougewas tesame met goeie pryse het die sojaboonbedryf ongetwyfeld die sterkste groeiende bedryf in die landbousektor gemaak die afgelope 6 jaar. Hierdie proses word aangehelp deur nuwe kultivars wat in Suid Afrika beskikbaar kom, nuwe saadmaatskappye wat toetree en veral nuwe toetreders tot die oliepersbedryf wat met die heel modernste toerusting in staat sal wees om dieselfde kwaliteit sojaboonmeel te produseer as dit wat ingevoer word hoofsaaklik van Argentinië. Die elite-sojaboonproewe wat 'n baie groot rol gespeel het in die volgehoue oplewing in die sojabedryf en wat deur die PNS geïnisieer is, word elders in hierdie verslag bespreek.

Die afgelope jaar was die Sojawerkgroep wat saam plaasgevind het met die Sojabone- en Sonneblomforum oor die algemeen baie goed bygewoon en het baie bygedra tot die bevordering van die sojaboonbedryf. Daar is ook gedurende die jaar goeie insette deur sprekers gelewer wat lewendige besprekings tot gevolg gehad het.

Goeie mediadekking van die Sojaboonbedryf het die jaar plaasgevind waarby die PNS baie betrokke was, en moet ons steeds poog om inligting op hierdie wyse uit te dra, veral na die Westelike gebiede waar daar groot belangstelling in sojabone is.

4.2.2.2

 

Canola


Die canolabedryf het die afgelope 2 jaar daarin geslaag om uit 'n posisie van stagnering uit te beweeg. Die PNS is dankbaar dat sy hernude pogings om die bedryf te stimuleer suksesvol blyk te wees.

Die jaar 2012 word deur verskeie hoogtepunte gekenmerk. Die belangrikste hiervan is 79 650 ton geproduseer met die hoogste gemiddelde opbrengs per hektaar nog ooit behaal, naamlik 1,79 ton per hektaar.

Grafiek

Canola – opbrengs en aangeplant

1992-2012

Grafiek vir canola se opbrengs per ha en ha aangeplant

Ondanks 'n bo-gemiddelde, goed verspreide reënvalseisoen, was dit baie duidelik dat hierdie prestasie wat behaal is, nie net aan die gunstige klimaatomstandighede gekoppel kan word nie, maar dat die eerste vrugte gepluk word van die PNS se belegging in die evaluering en doelstelling van die beste kultivars beskikbaar. Hiermee word die persepsie dat Suid-Afrika ondergeskikte kultivars plant, finaal die nek ingeslaan.

Die mikpunt van 75 000 ton op 50 000 ha teen 2015 is deels reeds oortref. Namate meer produsente canola aanvaar as 'n kontantgewas in eie reg sal die groei volhoubaar bly.

Die rol wat Prof André Agenbag speel in die oordrag van tegnologie en kundigheid moet nie gering geskat word nie. Dit is baie duidelik tydens plaasbesoeke dat hierdie kundigheid beter verbouingspraktyke en daarmee saam beter opbrengste tot gevolg het.

Die besoek van Phil Thomas, Mnr Canola, van Kanada, was een van die leersaamste, interessantste en opbouende buitelandse besoeke wat nog in die Wes-Kaap afgelê was. Beide produsente en adviseurs/kundiges in die canola bedryf, kon en het gedeel in hierdie deel van kennis. Die resultaat hiervan sal in die toekoms vrugte op lewer. Sy optrede tydens die SKOG dag te Langgewens op 6 September 2012 het wye belangstelling uitgelok.

"Relatiewe Winsgewendheid van Basiese Wisselboustelsels: Swartland", 'n ondersoek deur Mnr SG Ferreira, 'n kontrakteur van die PNS, bygestaan deur Mnr JSG Joubert en Mnr A Theron, beide Raadslede van die PNS, bevestig die potensiaal van canola, nie net as 'n wisselbou gewas nie, maar as 'n winsgewende, kompeterende kommoditeit in eie reg. Hierdie ondersoek fokus net op die Swartland, aangesien die canolataakspan van die PNS van mening is dat dit die gebied is waar daar op die korttermyn die grootste potensiaal is vir uitbreiding. Canola bied 'n baie koste effektiewe en winsgewende alternatief vir die koring-monokultuur-stelsel.

Verskeie ander wisselboustelsels, wat ook in hierdie gebied toegepas word, word ook geïdentifiseer en ondersoek. Bruto marges is afsonderlik bereken vir alternatiewe stelsels. Die stelsel waar canola jaarliks op 25% van die plaasoppervlakte verbou word, het die beste gevaar. Die uitkoms van hierdie verslag word positief deur produsente en rolspelers in die gebied ontvang en gebruik as bemarkingshulpmiddel. (Ander navorsingsprojekte wat die canolabedryf ondersteun, word in meer besonderhede hieronder bespreek).

Die aksie van die PNS om canola te bevorder in die Wes Kaap, word grootliks ondersteun deur navorsers van die Departement van Landbou Wes Kaap (DLWK). Die voortgesette funksionering van die canolawerkgroep van die PNS wat bygewoon word deur navorsers van die LNR, DLWK, Landboumaatskappye, Koöperasies, Saadmaatskappye, produsente en ander, bly die ruggraat van rigtinggewing vir die canolabedryf. Hierdie werkgroepe word besonder goed ondersteun en die besprekings tydens sodanige vergaderings stimuleer ongetwyfeld meer belangstelling om die canolabedryf verder uit te brei. Die PNS gee ook graag erkenning aan die redaksie van die Canolafokus, 'n PNS geborgde inligtingsblad wat bestaan uit Mnre P Lombard, J Bruwer en Prof GA Agenbag.

Ander aksies om die canolabedryf breër bekend te stel vind gereeld plaas.

Op 2 en 3 Februarie 2012 het 'n Canola beplanningswerksessie plaasgevind waartydens alle landboukundiges van die Landboubesighede in die Wes-Kaap uitgenooi is om deel te wees van 'n beplanningsgesprek oor die pad vorentoe in elkeen se gebied en die rol wat hy of sy daarin kan speel, die bystand en hulpmiddels benodig en die rol wat die PNS kan speel.

'n Baie groter positiwiteit teenoor die canolabedryf is gevestig. Doelwitte en fokus areas vir die uitbouing van die bedryf is geïdentifiseer. Opvolggesprekke om die uitkomste te evalueer sal in die komende seisoen plaasvind.

4.2.2.3

 

Sonneblom


Sonneblom bly steeds 'n belangrike proteïenbron om aan die behoeftes van Suid-Afrika te voorsien. Tewens tot 2 jaar gelede, toe sojaboon­produksie die eerste keer sonneblomproduksie verby gesteek het, was sonneblom die grootste plaaslike bron van proteïen vir diereverbruik.

Die onderstaande grafiek toon aan dat sonneblom produksie 'n dalende tendens volg, maar dit word steeds aangevul met invoere.

Grafiek

RSA Sonneblom – oppervlakte aangeplant

2001-2013

Grafiek vir sonneblomme aangeplant
Bron.  Nasionale Oesskattingskomitee

Invoere van sonneblomoliekoek het die afgelope 2 jaar soos volg daar uitgesien –

2010/2011 57 159 ton ingevoer
2012/2013 165 000 ton ingevoer

Die sonneblombedryf sal ongetwyfeld in die nabye toekoms 'n ordentlike hupstoot benodig om dit in staat te stel om weer die status van die verlede te herwin.

4.2.2.4

 

Ander


Die verbruik van vismeel word uiteraard bepaal deur die prys van vismeel en mededingende produkte. Vismeel as proteïenbron is in steeds groterwordende mate vervang deur hoë gehalte sojaboonoliekoek. In die voorafgaande 2 jare, is slegs ongeveer 30 000 ton vismeel per jaar gebruik maar die syfer het in die 2012/2013 gestyg na 48 875 ton.

Local and Imported Fish Meal – 2010 to 2013
2010/2011 2011/2012 2012/2013
Local production: RSA ¹ 72 000 90 000 70 000
Namibia ¹ 10 000 5 000 5 000
Sub Total 82 000 95 000 75 000
Imports ² 0 0 0
Russian Trawlers ³ 12 000 10 000 10 000
Total fish meal available 94 000 105 000 85 000
Exports
South African product 35 000 45 000 35 000
Namibian product 10 000 5 000 5 000
Russian trawler product 12 000 10 000 10 000
Total available in SA and Namibia 37 000 45 000 35 000

¹  Estimate by Fish Meal Marketing Company, Oceana Afriproducts (Pty) Ltd, UFE & NAMSOV
²  Customs & Excise
³  All the Russian trawler meal and some local fish meal has been exported
Source.  AFMA Chairman's Report – 2012/2013

Die plaaslike vismeelproduksie vir Januarie tot Junie 2013 was 24 000 ton, wat aansienlik laer as was wat in die afgelope paar jaar aangeteken is.

Die Suid-Afrikaanse visbedryf het ernstige probleme ervaar met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye. Weens swak instandhouding was geen vaartuie beskikbaar. 'n Vaartuig binne die bedryf moet gehuur word vir die opnames om "Totale toegelate vangste (TTV)" en kwotas te bereken. Die 2013-visvangseisoen het laat begin omdat daar nie veel vis beskikbaar was nie. Die watertemperatuur was te hoog, wat skole vis uit die aangewese visvanggebiede gehou het.

4.2.3

 

Verwerking van peulgewas produkte


4.2.3.1

 

Volvetvervaardigers


Volgens die Voorsitter se verslag van AFMA vir 2012/2013 wissel die insluitingspyle van volvetsoja in rantsoene tussen 1 en 3%. Die gebruik in 2011/2012 het 165 000 ton beloop.

Volgens SAGIS se syfers is volvet die afgelope 3 kalender jare soos volg gebruik –

2010 160 300 tonne
2011 111 500 tonne
2012 114 600 tonne

Hierdie syfer sal waarskynlik in die nabye toekoms dramaties toeneem.

4.2.3.2

 

Oliepersbedryf


Volgens inligting van SAGIS en die Oesskattingskomitee van die Departement Landbou- Bosbou en Visserye, is daar die afgelope 10 jaar gemiddeld 111 300 ton sojabone gepers.

Met die ontwikkeling van die sojabedryf is dit egter 'n hele ander storie en is 'n aansienlike opwaartse tendens waarneembaar in die persbedryf.

Volgens SAGIS is die tonnemaat sojabone wat vir olie gepers is die afgelope 3 jaar soos volg –

2010 145 300 tonne
2011 192 400 tonne
2012 296 000 tonne

Groei in die sojameelverwerkingsbedryf het verder verstewig. Die beperking op die uitbreiding van produksie ten opsigte van produksiekapasiteit wat voorgehou is deur sojaboonprodusente het aandag geniet en is uitgeskakel tot ongeveer 2020.

Die verwerking van sojabone vir menslike verbruik bly relatief konstant en bedien 'n klein, maar belangrike NIS-mark binne dié sektor van die bedryf. Gebruik van sojabone vir menslike verbruik het 27 000 ton beloop in 2012. Dit is minder as die 30 000 ton wat vir die vorige jaar aangedui is. In Suid-Afrika is sojabone wat nie geneties aangepas is nie, nie beskikbaar nie en dit het 'n probleem geword vir sekere verwerkers in kleiner NIS-markte. Dié bedryf het potensiaal vir konstante groei.

Verwerking van volvetsoja het in 2012 afgeneem weens die onvermoë om mee te ding met sojaboonmeel wat hoog in proteïen is. Die afname is egter marginaal en die verwerkte volume van 145 000 ton in 2012 lyk of dit konstant sal bly. Aansienlike addisionele volvetsojaverwerkings­kapasiteit is beskikbaar indien nodig, maar die prysverhoudings tussen volvetsoja en sojameel met 'n hoë proteïeninhoud, asook soja-olie, bepaal verbruik.

Sojaboonmeel wat geproduseer word met behulp van meganiese olie-ekstraksie het gegroei en dit beteken dat 'n addisionele NIS-mark, wat meeding met volvetsoja, gevestig is. Die balans tussen proteïen en energie maak dit geskik vir verskeie diëte as vervanger van sojaboonmeel. Nuwe aanlegte is in Suid-Afrika gevestig en die voordeel van die aanlegte is dat dit nie kapitaalintensief is nie. Die nadeel daarvan is egter die relatiewe lae doeltreffendheid vergeleke met aanlegte waar ekstraksie met behulp van oplosmiddels gedoen word. Die aanlegte kan behou word en 'n rol speel in die bedryf, maar die sektor sal na verwagting nie noemenswaardig groei nie.

Die grootste sektor vir sojaboonverbruik is sojaboonmeel wat geproduseer word deur middel van ekstraksie met oplosmiddels (heksaanaanlegte). Dié sektor het dramaties gegroei. In 2012 was die perskapasiteit vir sojaboonmeel met 'n hoë proteïeninhoud 600 000 ton en dit sal na verwagting toeneem tot 2 100 000 ton in 2014, 'n toename van 250%. Tussen 2012 en 2014 is drie nuwe aanlegte in gebruik geneem en twee verdere aanlegte is op groot skaal uitgebrei. Kapasiteit wat geskep is, is hoofsaaklik van 'n hoë standaard en die uiteindelike doel is om invoere van Argentynse sojaboonmeel uit te skakel. Dié doelwit kan net behaal word indien sojaboonmeel vervaardig word van bone wat behoorlik ontdop is, 'n hoë proteïeninhoud het en 'n hoë vlak van konstantheid gehandhaaf kan word.

Die gehalte van sojaboonmeel is van die uiterste belang vir die bedryf om te voldoen aan die behoefte om ingevoerde Argentynse sojaboonmeel te vervang. Gehalte begin by voedingswaarde van die sojabone en die bestuur daarvan, asook om sojabone behoorlik te ontdop om veselvlakke te beperk en om die regte hitte toe te pas tydens verwerking om te verseker dat die maksimum antivoedingsfaktore vernietig word sonder om proteïengehalte te benadeel. 'n Bepaalde infrarooitegnologie word toegepas om 'n roetinetoets te ontwikkel, wat sal bepaal of sojabone oormatig verhit is. Die tegnologie om optimale hittebehandeling te meet met behulp van 'n hoë spoed ontledingsproses moet nog ontwikkel word.

Dit is 'n opwindende tydperk in die sojaboonverwerkingsbedryf en ons sal waarskynlik nooit weer die geleentheid hê om dieselfde mate van kapasiteitstoename in die persbedryf oor so 'n kort tydperk te ervaar nie. Ons sien daarna uit om binne die afsienbare toekoms te sien hoe 'n beduidende hoeveelheid ingevoerde sojaboonmeel vervang word met plaaslik vervaardigde hoëproteïenmeel.

4.2.3.3

 

Ander proteïenbronne


Soos vroeër gesê was sonneblom vir baie jare die belangrikste bron van proteïen vir diere verbruik. Volgens die Voorsitters verslag 2012/2013 van AFMA, het AFMA-lede gedurende 2012/2013 in totaal 290 000 ton sonneblom oliekoek gebruik en het die totale hoeveelheid wat beskikbaar was in die mark, 400 000 ton beloop.

4.2.4

 

Verbruikers van proteïen


4.2.4.1

 

Veevoervervaardigers


'n Totale hoeveelheid van 1,877 miljoen ton oliekoek was beskikbaar vir die veevoerbedryf gedurende die afgelope jaar. Hiervan is slegs 760 321 ton plaaslik geproduseer en 1,117 350 ton ingevoer. Die feit dat meer as 728 000 ton sojaoliekoek ingevoer is, spreek boekdele vir die werk wat die PNS tans doen om sojabone ten alle koste te bevorder om hierdie ingevoerde proteïen te vervang met plaaslik geproduseerde proteïen. Meer inligting in hierdie verband is onder verskeie opskrifte in hierdie verslag beskikbaar.

In 2012/2013 het die moeilike ekonomiese omstandighede in die ontwikkelde wêreld die minder ontwikkelde ekonomieë beïnvloed. Die Suid-Afrikaanse ekonomie het aanvanklik relatief goed gevaar, maar die negatiewe globale gevolge wat oorgespoel het van ontwikkelde en ontwikkelende lande het 'n direkte invloed gehad op die Suid-Afrikaanse bedryf vir lewende hawe en veevoer.

Teen 11 miljoen ton veevoer, is Suid-Afrika in 2012 beskou as 22ste op die wêreldranglys vir die grootste veevoerbedrywe.

Duur grondstof vir veevoer bly 'n knelpunt. Die Suid-Afrikaanse mielieprys het stabiel gebly tussen April 2012 en April 2013, en het slegs 'n marginale daling vanaf R2 235 per ton tot R2 155 per ton ervaar. Terselfdertyd het die prys vir sojaboonmeel gedurende dieselfde tydperk aansienlik gestyg van R4 200 per ton tot R5 200 per ton, met 'n hoogtepunt van R6 200 per ton sojaboonmeel wat in September 2012 behaal is.

Verbruik van soja-oliekoek (volvetsoja ingesluit) onder AFMA-lede het gedaal van 1 008 760 ton in 2011/12 tot 892 480 ton in 2012/13. Dit is 'n afname van 14.45%, hoofsaaklik weens 'n verskuiwing na vismeel en ander oliekoek. Die voerbedryf het gedurende die tydperk 728 150 ton ingevoerde soja-oliekoek verbruik.

Tussen 2011/12 en 2012/13 het AFMA-voerverkope met net 0.5% tot 6 176 151 ton toegeneem, hoofsaaklik danksy hoër verkope van varkvoer wat tipies verskuif na die formele voerbedryf vanaf tuismengsels wanneer grondstofpryse baie hoog is. Binne die pluimveebedryf dui die daling van produksie van 1.6% en 4% vir braaikuiken en teelhoendersvoer op die huidige uitdagings binne die pluimveebedryf weens die hoër invoer van hoendervleis en die stygende koste van grondstowwe.

Nasionale voerverkope vir 2012/13 is bereken teen 11,146 miljoen ton, 'n toename van 0.54% vergeleke met die vorige jaar. AFMA verteenwoordig 59.77% van die nasionale voerverkope gedurende die tydperk.

Skakeling met die registrateur oor veranderde regulasies in Wet 36 van 1947 wat die veevoerbedryf sal beïnvloed het konstant aandag geniet en is van die allergrootste belang. Die Suid-Afrikaanse veevoerbedryf is goed verteenwoordig deur AFMA by die Internasionale Voerbedryfsfederasie (IFIF) asook by die vierde internasionale konferensie oor voer en voedsel wat by Sun City aangebied is.

Die handelsomgewing vir die voerbedryf bly onder druk weens besondere uitdagings.

4.2.4.2

 

Menslike verbruik


Volgens SAGIS is die 10 jaar gemiddelde gebruik van sojabone vir menslike verbruik slegs 19 080 ton.

Die afgelope 3 jaar is die volgende hoeveelheid sojabone verwerk vir menslike verbruik, per kalender jaar –

2010 22 200 tonne
2011 21 700 tonne
2012 21 100 tonne

4.2.4.3

 

Ander verbruikers


Gedurende die jaar waaroor verslag gedoen word, het die vark- en pluimveebedrywe in Suid-Afrika, hulle stryd teen hoë insetkoste en die invoer van goedkoop produkte voortgesit. Ten spyte daarvan dat albei bedrywe groot rolspelers is in die boerderybedryf, lyk die regering nie gewillig om in te tree om die uiters moeilike omstandighede wat ontwikkel het te verlig nie.

Die 2012-jaar was een van die moeilikste jare in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf. Bevrore hoenderprodukte uit Brasilië en die EU, hoë voerpryse weens die koste van mielies en sojabone, asook die verhogings van brandstof- en arbeidskoste, het 'n uiters groot krisis veroorsaak in die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf. 'n Dramatiese oorvoorsiening binne die plaaslike mark, wat veroorsaak is deur die invoer van hoenders, het daartoe gelei dat baie maatskappye nie hulle produksiekoste kon verhaal nie. Verskeie produsente moes hulle plase sluit.

In 2012 is 4 097 000 ton voer gebruik. Die gemiddelde voerprysverhoging vir 2012 was 30%. Die braaihoendervoerprys was gemiddeld R4 355 per ton. Die braaihoenderbedryf het ongeveer 3.57 miljoen ton voer verbruik. Die braaikuikenprodusente het 521 000 ton voer verbruik. In 2012 is 404 163 ton pluimveevleis ingevoer. Dit behels 'n toename van 15.4% vergeleke met invoere in 2011. Van die ingevoerde produkte word 56.16% ingevoer uit Brasilië en 34% uit die EU.

Die braaihoenderbedryf onderhandel op die oomblik met regeringsowerhede om pluimvee-invoertariewe te verhoog.

In 2012 is 18.79 miljoen braaihoenders weekliks geslag wat 0.7% meer is as in 2011. Die per kapita pluimveeverbruik in 2012 was 36.2 kg, beesvleis 16.45 kg en vark 4.61 kg. Van die pluimvee wat verbruik is, verteenwoordig ingevoerde pluimveevleis 21.4%. Die per kapita verbruik van eiers het toegeneem van 150 in 2011, tot 156 in 2012, oftewel 9.61kg.

Die varkvleisbedryf het aansienlik verlaagde kleinhandelpryse van tot R4 per kg beleef. Dit het beteken dat die koste van produksie tussen R1.00 and R1.50 per kilogram meer was as die varkvleisprys. Die relatief lae koste van hoendervleis het 'n baie groot invloed gehad op die varkvleisbedryf. Hoender word nou grootliks gebruik om varkvleis te vervang in verwerkte kossoorte. Die netto gevolg is dat baie boere nou uit die bedryf gedwing word. Die boere wat oorbly is verbind tot die bedryf en het onlangs kapitaal bestee aan meganisasie om produktiwiteit te verhoog en arbeidskoste te verlaag. Dié proses sal lei tot 'n verdere nadelige invloed op werkloosheid in die toekoms.

Navorsing in die varkbedryf is oor die afgelope ses jaar verbeter omdat fondse vir navorsing beskikbaar gestel is deur die statutêre heffing wat varkprodusente betaal het. Ses jaar gelede is byna geen navorsing oor die varkbedryf in die land gedoen nie, maar fondse word nou spesifiek elke jaar vir navorsing toegewys. Die getal beursstudente en navorsingsprojekte word elke jaar meer. Die navorsing wat gedoen word, is kreatief en hou baie waarde in vir die varkbedryf. Dit is verblydend om te sien hoe belangstelling in navorsing oor varkproduksie toegeneem het omdat daar nou fondse beskikbaar gestel word vir die navorsing.

Die situasie in die pluimveebedryf is nie so positief nie. Om die waarheid te sê, gaan fdie langverwagte bron van fondse vir navorsing van SAPV waarskynlik verdwyn voordat dit enige invloed gehad het op die navorsingsomgewing in Suid-Afrika. Buiten die vestiging van die Leerstoel vir Pluimveegesondheid en -produksie by die Universiteit van Pretoria, die verbetering van die fasiliteite by dieselfde universiteit vir die Agentskap vir Pluimveesiektes en die relatiewe klein bedrae wat bestee word aan kapitaalitems by sekere van die ander universiteite in die land, was daar geen poging om navorsing aan te moedig, die getal nagraadse studente te vergroot of om voorgraadse studente te inspireer om in die pluimveewetenskap te studeer nie. Die pluimveebedryf kon aansienlik baat by al dié aspekte. In plaas daarvan is dit uiters onwaarskynlik dat die bedryf vanjaar die statutêre heffing sal hernu en dit beteken dat geen soortgelyke inisiatiewe in die toekoms beskikbaar sal wees nie.

Die pluimveebedryf kan beswaarlik bekostig om die inisiatief in die verband te verbeur. Die uiterste tekort aan akademici, navorsers en nagraadse studente wat belangstel in pluimveewetenskap, sal in die toekoms 'n baie nadelige invloed op die bedryf hê.

4.2.5

 

Projeksies 2015, 2020 en 2025


Die hooffokus van die Proteïennavorsingstigting (PNS) is om meer plantaardige proteïen plaaslik te produseer ten einde ingevoerde oliekoek so ver moontlik te vervang. Vervanging van ingevoerde oliekoek met plaaslike geproduseerde oliekoek het valuta besparings tot gevolg, bevorder werk­skeppingsgeleenthede, verminder risiko's vir die veevoerbedryf en gevolglik voedselsekuriteit. Om sy bevorderings- en navorsingsaksies te kan bestuur is dit vir die PNS nodig om te kan weet wat die toekomstige behoefte aan plantaardige proteïen naamlik oliekoek gaan wees. Vir die rede word daar op 'n gereelde grondslag projeksies gemaak van toekomstige behoeftes aan oliekoek vir diereverbruik.

Gedurende die verslagjaar is projeksies gemaak van oliekoekbehoeftes binne die raamwerk van vier scenario's naamlik teen 'n hoë inkomstegroei en laer inkomstegroei met invoertariewe op lewendehawe produkte wat in plek gehou word en alternatiewelik uitgefaseer word. Projeksies van die mees waarskynlikste scenario naamlik, 'n relatief hoër inkomstegroei waar beskermende tariewe in plek gehou word, is vir hierdie doel aanvaar. Gegewe hierdie scenario is die projeksies van oliekoekbehoeftes vir 2015 – 2 116 377 ton, vir 2020 – 2 355 727 ton en vir 2025 – 2 632 604 ton. Dit dien daarop gelet te word dat die plaaslike geproduseerde oliekoek as persentasie van totale verbruik gemiddeld vir die vier seisoene 2008/2009 tot 2011/2012 te staan gekom het op 37,3% – inderdaad 'n groot agterstand om in te haal.

Vordering met die produksie van oliekoek plaaslik word gemaak. Die plaaslike produksie van oliekoek gedurende 2010/2011 was byvoorbeeld 624 912 ton, in 2011/2012 was dit 766 927 en die verwagting is dat dit 918 180 ton gedurende 2012/2013 sal wees. Hierdie toename in plaaslik geproduseerde oliekoek is hoofsaaklik te danke aan die groei wat ervaar word in die sojabedryf. Hektare geplant met sojas het toegeneem van 237 750 in 2008/2009 tot 516 500 gedurende 2012/2013 terwyl die opbrengs toegeneem het vanaf 516 000 ton tot 'n verwagte 851 000 ton oor dieselfde periode. Mikpunte wat die PNS gestel het ten opsigte van sojas kom te staan op 1 miljoen ton sojas wat geproduseer kan word teen 2015 (500 000 ha teen 2 ton/ha) en 2,5 miljoen ton sojas teen 2020 (1 miljoen ha teen 2,5 ton per ha). Dit blyk dat die 2015 mikpunt ten opsigte van opbrengs reeds op 'n vroeër stadium bereik sal word. Die 500 000 hektaar mikpunt word alreeds op hierdie stadium oorskry.

Die aandeel wat soja-oliekoek uitmaak van die totale oliekoek verbruik het toegeneem oor tyd. Huidig is dit 69% van totale oliekoekverbruik. Indien die aanname gemaak word dat dit 75% gaan uitmaak van oliekoekverbruik in 2015 dan impliseer dit dat 1 587 282 ton soja-oliekoek benodig gaan word in 2015. Vir 2020 en 2025 sal die benodigde soja-oliekoek 1 766 795 en 1 974 453 ton onderskeidelik wees. Omgeskakel na sojabone sal dit 1 984 103 ton in 2015 benodig terwyl dit vir 2020 en 2025, 2 208 494 ton en 2 468 066 ton sojas onderskeidelik benodig. Dit sluit nie sojabone vir menslike verbruik en uitvoere in nie.