Working Group Minutes / Sclerotinia / 18 Julie 2007
Notule

Sclerotiniawerkgroepvergadering

gehou op 18 Julie 2007 om 10:00 by die kantore van die PNS, Rivonia



  1. Opening

    Die vergadering word met gebed geopen deur Mnr GJH Scholtemeijer.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemeijer, heet almal teenwoordig welkom by die vergadering.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Dr P Caldwell Universiteit van KwaZulu-Natal
    Dr J de Kock PNS
    Mnr AJ de Villiers NWK
    Mnr A Erasmus Syngenta
    Dr D Fourie LNR-IGG
    Dr M Griessel PNS
    Mnr R Lochner Pannar
    Mnr CJ Louw GraanSA
    Mnr P Lübbe Agriocare
    Prof NW McLaren Universiteit van die Vrystaat
    Mnr K Pieterse Produsent
    Mnr FAS Potgieter OAK
    Mnr J Potgieter Pannar
    Mnr GJ Pretorius OPOT
    Me S Tweer Pannar
    Mnr H van der Westhuizen Philagro SA
    Mnr G Keun Hoof Uitvoerende Beampte
    Me E Harmse Sekretariaat

    Verskonings

    Mnr P Botha GraanSA
    Dr M Craven LNR-IGG
    Dr BC Flett LNR-IGG
    Mnr NG Hackland BASF
    Mnr H Havemann BASF
    Dr FJ Kloppers Pannar
    Prof AH McDonald LNR-IGG
    Prof ZA Pretorius Universiteit van die Vrystaat
    Mnr AJ van Vuuren NWK
    Mnr WF van Wyk PNS

  4. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar, na toevoeging van die volgende besprekingspunt:
    Item 7.4   Saad

  5. Goedkeuring van notule

    1. Notule van 28 Junie 2006

      Besluit:

      1. Dat die notule van die vergadering van die Sclerotiniawerkgroep gehou op 28 Junie 2006 goedgekeur word.
  6. Sake voortspruitend uit die notule van 28 Junie 2006

    1. Algemene Oorsig

      Die lede van die werkgroep word die geleentheid gegun om 'n algemene oorsig te gee oor hul bevindinge ten opsigte van die voorkoms van Sclerotinia op sonneblom en sojabone gedurende die afgelope seisoen. Tydens die bespreking word gemeld dat:

      • Klimaatstoestande ongunstig was vir die ontwikkeling van sclerotinia, met die gevolg dat geen voorkomste van sclerotinia op sonneblom in die bedieningsarea van NWK aangemeld is nie.
      • Te Greytown sclerotinia-besmetting baie laat in die seisoen op nagenoeg 25-30% van die geïnokuleerde proefaanplanting voorgekom het.
      • Sclerotinia op geen van die sonneblom-proewe, wat landwyd deur Pannar onderneem is, voorgekom het nie. Op Delmas, waar 100% infeksie die vorige seisoen voorgekom het, het daar in die afgelope seisoen geen sclerotinia-besmetting voorgekom nie.
      • Heelwat sclerotinia by sojabone onder besproeiing in die Brits-Koedoeskop omgewing voorgekom het.
      • In die omgewing van Piet Retief sclerotinia-besmetting op sojabone aangemeld is.
      • Besmetting van sojabone in die Bergville-omgewing op kommersiële aanplantings waargeneem is, en berig word gelewer dat daar onder een van die spilpuntproewe in die Winterton-Bergville area 'n besmettingsvlak van tot 45% voorgekom het, met 'n 15 tot 16% besmettingsvlak in die een droëlandproef.
      • Pannar poog om t.o.v. beide sojabone en sonneblom besproeiing sover moontlik uit te skakel as gevolg van probleme met sclerotinia-besmetting. Indien sclerotinia voorkom by die kweek van saad onder besproeiing word die hele oes afgekeur indien die drumpelwaarde van 0,5% oorskry word.
      • sclerotinia voorgekom het op die bemestingsproewe op die Universiteit van Pretoria se proefplaas. Dié proef is geplant op grond waarop daar vir die afgelope twintig jaar nie sojabone geplant is nie.
      • Volgens alle aanduidings die droogte-toestande in Mpumalanga en Gauteng sclerotinia-besmetting op sojabone voorkom het.

      Mnr Pretorius noem dat die voorkoms van sclerotinia in die Koedoeskop-area, wat in 'n warm klimaatstreek geleë is, indruis teen die algemene persepsie dat sclerotinia voorkom onder nat, koel of koue omstandighede, en opper die moontlikheid dat klammigheid die oorwegende faktor is by die voorkoms van sclerotinia al dan nie. Die Voorsitter vra die vergadering om kommentaar op Mnr Pretorius se waarneming. Prof McLaren rapporteer dat daar tydens die Ergo-proewe op sorghum waargeneem is dat die temperatuur op die land tydens besproeiing met soveel as 5°C teenoor die heersende temperatuur kan daal. Hy wys daarop dat die "canopy-effek" (blaredak) bydra tot die daling in temperatuur, en dat besmetting juis onder die blaredak voorkom. Hy meld dat die bykomende effek van verdamping 'n totale daling van minstens 7°C tot 8°C tot gevolg kan hê. Mnr van der Westhuizen noem dat daar in die laaste tyd 'n toename in die sg. koelweer-swamme waargeneem is. Hy noem die voorbeeld van botrytis-besmetting op grondbone wat voorheen nie as probleem ervaar is nie, en botrytis-besmetting op aartappels wat 'n probleem word. Hy beklemtoon dat die buite-temperatuur en die mikroklimaat waaronder die organisme groei nie met mekaar verwar moet word nie. Hy noem dat die nuwe chemiese swamdoders wat op veral grondbone en aartappels teen blaarsiektes gespuit word ten doel het om die maksimum blaarmassa te behou, en veel meer effektief is as chemiese middels wat vroeër gebruik is met 'n gevolglik veel digter blaredak en koeler mikroklimaat as in die verlede onder dieselfde verbouingsomstandighede. Dr Caldwell sê dat 'n maksimumtemperatuur van 22°C in die "dew chamber" as die optimumtemperatuur by inokulasie bepaal is. Sy noem dat daar nie 'n statistiese korrelasie bepaal kon word tussen "heat wetness" en temperatuur nie, maar dat die 48 uur "continuous heat wetness" wat toegelaat is, voldoende was vir die vestiging van sclerotinia-infeksie. Mnr Frans Potgieter wys daarop dat daar groot verskille was in dag- en nagtemperature gedurende die afgelope seisoen, en dat nagtemperature van ongeveer 22°C en laer algemeen was, en opper die moontlikheid dat dit 'n rol gespeel het by die voorkoms van sclerotinia in die warm Koedoeskop-gebied.

      Die Voorsitter meld opsommend dat sclerotinia hierdie seisoen uit die aard van die saak baie min of waarskynlik glad nie onder droëland omstandighede voorgekom het nie, maar dat sclerotinia wél onder besproeiing voorgekom het.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word van die algemene oorsig insake sclerotinia besmetting.

        Lede


    2. Navorsing: Philagro, Mnr Van der Westhuizen


      (Besluite 6.1.1 tot 6.1.7 van die sclerotiniawerkgroep notule van 28 Junie 2007)

      Mnr Van der Westhuizen rapporteer op versoek van die Voorsitter oor die navorsing ten opsigte van sojabone en sonneblomme deur Philagro. Tydens die aanbieding word daar na die volgende aangeleenthede verwys:

      • Registrasie-status Sumisclex SC

        • Sumisclex SC is geregistreer vir korrektiewe beheer van sclerotinia (1,5l-2l / ha, toegedien met 'n trekkerspuit in 'n minimum van 500l water / hektaar);
        • Aansoek om registrasie is ook gedoen om die produk toe te dien deur die spilpunt. Voorlopige registrasie is bekom, verdere proewe is aangevra, afgehandel en ingehandig. Die registrasie sal na wat verwag word, bloot 'n formaliteit wees.
        • Aangesien produksiekoste 'n belangrike faktor vir die produsent is, is werk onderneem ten einde die rol van benatters te ondersoek. Registrasie word binnekort ingedien om die dosis Sumisclex SC met die helfte te verminder, met dieselfde resultate.
      • Resultate van proewe gedurende 2006/07 seisoen

        • Ten opsigte van Sumisclex SC saam met 'n benattingsmiddel is daar een suksesvolle proef saam met Break Thru te Winterton gedoen, met die bevinding dat byvoeging van Break Thru bydra tot beheer, en selfs beter presteer as die hoër of volle dosis Sumisclex SC, en aansoek om sodanige registrasie sal ingedien word;
        • T.o.v. die toedien van Sumisclex SC deur die spilpuntstelsel, is bevind dat die laer dosis van 1l/ha plus die benattingsmiddel deurgaans beter beheer gee as die hoër geregistreerde dosis Sumisclex SC van 1,5 tot 2l/ha op sy eie. Die resultate van hierdie proef is ingesluit ter bevestiging van bogemelde registrasie;
        • T.o.v. die S-kode produkte, wat tans nagevors word, is bevind dat die byvoeging van benatter meer effektiewe beheer oor sclerotinia bemoontlik as wat S kode 1 en S kode 2 sonder byvoeging van 'n benatter bemoontlik;
        • Hoewel statistiese ontledings nie gedoen is nie, is die proeftendense oor twee jaar geplot, en die numeriese tendens bevestig dat die byvoeging van die benattingsmiddel teen ongeveer helfte die geregistreerde dosis Sumisclex SC baie goeie resultate gee.
        • Die aanwending van die benatter 'n hoër opbrengs van 200-230kg pitte / ha tot gevolg het.
        • Aangesien sclerotinia nie die afgelope seisoen op sonneblom voorgekom het nie kon die Sumitomo produk nie by die sonneblomproewe ingesluit word nie, maar daar word beoog om nuwe Sumitomo produkte in die volgende seisoen by bogemelde proewe in te sluit. Sumitomo is ook geïnteresseerd om twee nuwe produkte in te sluit by die sojaboonproewe tydens die volgende seisoen. Hoewel Sumisclex SC as 'n standaard ingesluit mag word, word dié werk as afgehandel beskou.

        Die Voorsitter stel na afloop van die voorlegging die saak oop vir bespreking. Dr Caldwell sê hoewel die volgehoue numeriese neiging baie positief voorkom, kan die neiging slegs op grond van statistiese analise as lewensvatbaar beskou word.

        Mnr Pretorius vra om kommentaar na aanleiding van ongewenste resultate wat ná saadbehandeling op sonneblom verkry is. Mnr van Westhuizen meld dat daar t.o.v. sonneblom 'n onderskeid gemaak moet word tussen die vroeë fase en die later meer ernstige stadium van die kopfase, wanneer pitte gevorm word. Hy dui aan dat dit onprakties sou wees om te verwag dat saadbehandeling nog op die later stadium effektief sal wees. Hy sê dat die doel van saadbehandeling is om die saad skoon te maak, en dat die gebruik van Benomil, wat hoogs sistemies is, redelike beheer van sclerotinia vir 'n rukkie na ontkieming sal gee.

        Mnr Pretorius wys daarop dat daar verskeie redes is hoekom produsente aangemoedig moet word om sonneblom te plant, en dat hy dit wenslik vind om aan produsente praktiese wenke te voorsien d.m.v. die Landbouweekblad oor hoe saadbehandeling uitgevoer moet word, en welke stappe geneem moet word wanneer daar sonneblom geproduseer word in 'n gebied waar die voorkoms van sclerotinia redelik hoog is. Mnr Johan Potgieter bevestig dat praktiese wenke om die risiko van sclerotinia te verminder voor die toediening van chemikalieë verskaf kan word, maar sê dat dit onmoontlik is om kopvrot te beheer deur saadbehandeling. Hy noem die voorbeeld van wisselbou waar sonneblom afgewissel word met 'n grasgewas, soos mielies of sorghum. Hy beklemtoon die belangrikheid van vroeë plantdatum by sonneblom, met 'n gevolglike blomtyd in 'n tydperk wanneer daar nie so baie reën is nie. Hy sê dat blomtyd tydens Maartmaand se tipiese geelperskereën met later plantdatums sonneblom ook meer gevoelig maak vir sclerotinia. Hy is die mening toegedaan dat cultivars met 100% weerstand onwaarskynlik is omdat dit 'n baie komplekse multi-geen aksie behels, maar dat daar wél genetiese verskille tussen cultivars is en dat Pannar 'n nuwe cultivar geregistreer het met 'n genetiese weerstand wat 30% infeksie kry teenoor die 95 tot 100% infeksie wat ander cultivars kry. Dr de Kock sê in aansluiting hierby dat 'n soortgelyke artikel met praktiese wenke oor hoe sclerotinia op sojabone vermy kan word reeds deur Mnr van der Westhuizen geskryf is, en vra na die moontlikheid dat Mnr Johan Potgieter en Dr Kloppers dergelike artikel oor sonneblom, met insluiting van saadbehandeling kan opstel. Mnr Erasmus ondersteun hierdie inisiatief.

        Die Voorsitter vra om kommentaar rakende Mnr van der Westhuizen se sojaboonproewe. Mnr van der Westhuizen sê op navraag van Mnr Erasmus dat die benatterdosis 0,05% beloop. Dr de Kock beklemtoon die waarde van statistiese verwerking van die resultate, en versoek dat dit so gou doenlik afgehandel word. Hy versoek dat 'n artikel oor die aanwending van spilpuntbesproeiing om sclerotinia by sojabone te beheer geskryf word, met inligting oor die toediening van die middel en die benatter. Die Voorsitter reël dat verdere bespreking oor spilpuntbesproeiing en dies meer tydens Mnr Pieterse se aanbieding gevoer word.

        Mnr van der Westhuizen rapporteer dat die Registrateur na die beste van sy wete toestemming aan BASF gegee het om aan te dui dat die geregistreerde middel op sojaboonroes ook sclerotinia sal onderdruk en dat verdere probleme met Sumisclex SC opgevolg kan word. Die Voorsitter versoek dat Mnr Keun hierdie inligting sal bevestig. Mnr van der Westhuizen onderneem om die aangeleentheid insake Amistar met Syngenta op te volg. Die lede neem kennis van die artikels wat voortspruit uit die sclerotinia-navorsing en vervat is in Bylae G. Dr de Kock rapporteer dat die inligting rakende die voorspellingsmodel wat deur die Nasionale Instituut vir Plantbeskerming (NIPB) opgestel is, by die PNS-kantoor beskikbaar is. Die Voorsitter reël dat afskrifte van dié artikel beskikbaar gestel word aan Dr Caldwell en Prof McLaren.

        Besluite:

        1. Dat kennis geneem word van die sclerotinia-proewe en resultate ten opsigte van sojabone en sonneblomme deur Philagro die afgelope seisoen sowel as die beplanning vir die 2007/08 seisoen.

          Lede

        2. Dat 'n artikel oor die aanwending van spilpuntbesproeiing om sclerotinia by sojabone te beheer geskryf word, met inligting oor die toediening van Sumisclex SC en die benatter.

          Mnr Van Der Westhuizen

        3. Dat Mnr Van Der Westhuizen versoek word om die aangeleentheid insake Amistar met Syngenta op te volg.

          Mnr Van Der Westhuizen

        4. Dat bevestiging verkry word dat die Registrateur toestemming aan BASF gegee het om aan te dui dat die geregistreerde middel op sojaboonroes ook sclerotinia sal onderdruk en dat verdere probleme met Sumisclex SC opgevolg kan word.

          Mnr Keun

        5. Dat die inligting rakende die voorspellingsmodel wat deur die Nasionale Instituut vir Plantbeskerming (NIPB) opgestel is beskikbaar gestel word aan Dr Caldwell en Prof McLaren.

          Mnr Keun

        6. Dat 'n artikel met praktiese wenke oor hoe sclerotinia op sonneblom vermy kan word, met insluiting van saadbehandeling, deur Mnr Johan Potgieter en Dr Kloppers geskryf word.

          Dr de Kock
          Mnr J Potgieter


    3. Navorsing: Sojabone: LNR-IGG, Me M Craven


      (Besluite 6.2.1 van die Sclerotiniawerkgroep notule van 27/09/05)

      Die Voorsitter neem Bylae C ter tafel, en rapporteer dat Dr Craven tans met kraamverlof is. Prof McLaren rapporteer dat die probleme wat Dr Craven met die besmettingstegniek ondervind het, in sy voorlegging aangespreek sal word. Hy meld dat hy en Dr Craven 'n artikel 'Evaluation of soybean cultivars for resistance to sclerotinia stalk rot in South Africa' in Crop Protection (2007, doi:10.1016 / j.Cropro.2007.05.010) gepubliseer het, wat deur Dr Craven as haar finale verslag ingedien is.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word van Dr M Craven se terugvoering insake die navorsingsresultate van die 2006/07 seisoen.

        Lede


    4. Finale verslag: Navorsing: Sonneblomme: LNR-IGG, Dr D Fourie


      (Besluite 6.3.1 en 6.3.2 van die Sclerotinia­werkgroep notule van 28 Junie 2006)

      Die Voorsitter neem bylae D ter tafel, en meld dat Dr Fourie se finale verslag oor die navorsingswerk wat sy op sonneblomme ge­durende die 2005/2006 seisoen onderneem het in samewerking met Mnr Lodewyckx en Me Pholoholo in dié Bylae vervat is. Dr Fourie dui aan dat sy die verslag by die vorige vergadering voorgedra het, en versoek dat die besprekingpunt van die sakelys afgehaal word. Die Voorsitter stel die verslag oop vir bespreking.

      Dr Fourie bevestig op navraag van Mnr Pretorius dat Benomyl (Benlate) die enigste middel is wat vir saadbehandeling op sonneblom in Suid-Afrika geregistreer is. Sy verduidelik dat die proef in Delmas onderneem is, waar ander siektes benewens sclerotinia en ook duiweskade voorgekom het, en dat dit die rede is vir die stelling dat 'Yields obtained, however, were poorly correlated with disease incidence (data not shown) indicating that other factors influenced yield'. Dr de Kock meld dat daar die vorige jaar gewag gemaak is van Switch, die produk van Syngenta, wat ingesluit is in die proef, en dat Dr Fourie aanbeveel het dat Switch verder beproef moet word. Hy bevraagteken die waarde hiervan, gesien in die lig van die Benomyl-resultate. Dr Fourie verduidelik dat dit die betrokke chemiese maatskappy se besluit sou wees. Die Voorsitter noem dat twee ongeregistreerde swamdoders, BASF 5160f en Sumisclex SC ook deur Dr Fourie aanbeveel is as belowend en dat sy die chemiese maatskappye aangeraai het om dié twee middels verder op die proef te stel. Hy vra of daar enige ander chemiese middels is wat tans getoets word deur die chemiese maatskappye. Mnr van der Westhuizen noem dat Philagro se twee nuwe produkte waarskynlik hierdie seisoen op sonneblom getoets sal word. Dr Fourie bevestig op navraag van Mnr Pretorius dat die Sumisclex SC en BASF 5160f spuitmiddels sclerotinia die beste beheer het oor 'n tydperk van twee jaar op die spesifieke lokaliteit en op 'n spesifieke cultivar. Mnr van der Westhuizen noem dat daar tans geen spuitmiddels geregistreer is op sonneblom nie, en dat slegs Benlate van DuPont geregistreer was vir saadbehandeling, dat produksie hiervan intussen opgeskort is, en dat die generiese produk Benomyl (Benlate) tans die enigste geregistreerde sonneblomsaadbehandeling teen sclerotinia wat beskikbaar is.

      Dr Griessel sê daar is reeds ver gevorder met sonneblomweerstand teen sclerotinia vanuit 'n genetiese oogpunt, en vra om welke rede dieselfde nog nie bereik is t.o.v. sojabone nie. Mnr Johan Potgieter noem dat sclerotinia op internasionale vlak reeds vir dekades 'n belangrike probleem was by sonneblom, en deur die jare deel gevorm het van die seleksie-kriteria. Hy spreek sy twyfel uit dat sclerotinia tot dieselfde mate as probleem by soja gemanifesteer het, en dat genetiese weerstand moontlik nou eers aandag geniet.

      Dr de Kock wys daarop dat vroeër gemeld is dat Syngenta versoek het dat Amistar geregistreer moet word vir sclerotinia-beheer op sojabone. Hy verduidelik dat die Registrateur beslis het dat op die etiket aangebring word dat Amistar 'n onderdrukkende effek het op sclerotinia indien dit vir roes gebruik word. Hy benadruk dat Amistar nie geregistreer is vir beheer op sclerotinia by sojabone nie, en indien die onderdrukkende effek nie na wense is nie, moet Sumisclex SC onmiddelik as 'n opvolgbeheermaatreël gebruik word.

      Besluite:

      1. Dat kennis geneem word van die terugvoering verskaf deur Dr D Fourie rakende die navorsingsprojek.

        Lede

      2. Dat voorts kennis geneem word van die inhoud van die finale navorsingsverslag, en dat die item van die sakelys verwyder word.

        Lede


    5. Navorsing: Sojabone: Universiteit van Natal, Dr P Caldwell


      (Besluite 6.4.1 en 6.4.2 van die Sclerotiniawergroep notule van 28 Junie 2006)

      Dr Caldwell rapporteer rakende die navorsing ten opsigte van sclerotinia op sojabone en meld dat daar tydens die afgelope jaar hoofsaaklik aandag geskenk is aan epidemiologie, wat vervat sal word in 'n model, bio-beheer en silika in vivo proewe, en chemiese in vivo en in vitro proewe met Sumisclex en BASF. Daar word tydens die voorlegging ook gewys op die in vivo saadbehandelingsproewe en analises wat afgehandel moet word alvorens die tesis geskryf kan word.

      Dr Caldwell meld dat effektiewe biobeheer bewerkstellig is deur die middel Eco77® as 'n blaarbespuitingsmiddel aan te wend, en EcoT® by die grond te voeg. Mnr Potgieter wys daarop dat dit belangrik is om EcoT® by die veldproewe in te sluit, en om vas te stel op watter stadium, hoeveel en hoe gereeld EcoT® toegedien moet word. Die Voorsitter versoek dat só 'n ondersoek onderneem word.

      Me Tweer verwys na Dr Caldwell se mededeling dat die silika as 'n bemestingsmiddel op suikerriet aangewend is, en opper die moontlikheid dat die aanwending van silika as grondbehandeling moontlik 'n meer effektiewe metode as blaartoediening mag wees om die silika deur die plante opgeneem te laat kry. Dr Caldwell onderneem om vas te stel hoe gereeld die silika toegedien is, en noem dat Me Nunkumar in haar proewe die silika twee keer 'n week in besproeiingswater toegedien het. Mnr van der Westhuizen noem dat trychoderma in korrelvorm baie effektief saam met chemikalieë in tabaksaadbeddens teen die black shank-siekte in Zimbabwe aangewend is, en onderneem om die naam van die persoon wat betrokke was by die produksie van die korrels aan Dr Caldwell te voorsien. Hy noem dat 'n biologiese middel wat oorsee gebruik is om sclerotia in die grond te beheer sonder veel sukses plaaslik in veldproewe getoets is.

      Dr Griessel noem dat die voordele van die toedien van silika nie tydens Dr Caldwell se voorlegging duidelik na vore gekom het nie. Dr Caldwell sê daar is gevind dat die silika baie effektief funksioneer indien dit twee keer 'n week toegedien word. Die Voorsitter wys daarop dat hierdie slegs aanvanklike waarnemings is, en dat daar in die toekoms meer volledige resultate sal wees.

      Dr Caldwell bevestig dat veldproewe onderneem sal word deur die PhD-student vanaf Ethiopië.

      Besluite:

      1. Dat kennis geneem word van die navorsingsresultate gerapporteer deur Dr P Caldwell sowel as die beplanning vir die 2007/08 seisoen.

        Lede

      2. Dat EcoT® by die veldproewe ingesluit word, en vasgestel word op watter stadium, hoeveel en hoe gereeld EcoT® toegedien moet word.

        Dr Caldwell


    6. Navorsing: Sojabone: Universiteit van die Vrystaat, Prof NW McLaren


      (Besluite 6.5.1 tot 6.5.3 van die Sclerotiniawerkgroep notule van 28 Junie 2006)

      Prof McLaren verwys tydens sy voorlegging na die volgende aangeleenthede insake die navorsing wat deur hom onderneem word:

      • Die doelwitte van die navorsing;
      • Probleme wat aangespreek is;
      • Evalueringskriteria en 'n analise van cultivar respons onder verskillende omstandighede;
      • Inokulasie-metodes;
      • Temperature en vog-regimes; en
      • Patogeniese ondersoeke.

      Prof McLaren meld dat voortgegaan is met die kwantifisering van weerstand in veldproewe. Hy sê dat die regressie-metodologie wat hy die afgelope paar seisoene toegelig het, neerslag gevind het in die artikel waarna hy verwys het tydens die bespreking van Dr Craven se verslag. Die Voorsitter versoek dat die artikel aangeheg word by die notule van die vergadering.

      Die Voorsitter reël dat Dr Craven se verslag en Prof McLaren se voorlegging saam bespreek word.

      Mnr J Potgieter vra om bevestiging dat die onderskeie cultivars verskillende reaksies sal toon tot die verskillende isolate, en noem die moontlikheid dat 'n spesifieke cultivar beter in Kinross as bv. Bethlehem sal presteer. Prof McLaren sê dat dié moontlikheid tans as deel van 'n MSc-studie ondersoek word, en dat verskillende reaksies tot bv. chemikalieë 'n rol sal speel in die stabiliteit van weerstand in verskillende lokaliteite. Dr Caldwell noem dat Me Visser se werk met cultivars onder verskillende omstandighede in die glashuis met elke herhaling ander resultate gelewer het. Die Voorsitter is die mening toegedaan dat die resultate nie betroubaar is nie, en noem met verwysing na Dr Craven se werk dat die resultate van plek tot plek en metode tot metode onseker is. Hy bevraagteken die rangskikking van cultivars volgens inligting wat nie geverifieer kan word nie. Prof McLaren verduidelik dat cultivars gelys word volgens siekte potensiaal, en dat die siekte potensiaal afgelei word van regressie-modelle, en as betroubaar beskou word. Hy sê dat die R-kwadrate van die regressielyne aandui dat cultivars oor seisoene en aanplantings redelik betroubaar reageer volgens die model. Volgens die regressie-model kan mens voorspel wat verwag kan word, en hoe die cultivar sal presteer onder die verskillende toestande, afhangende van die potensiaal van die area.

      Dr de Kock dui aan dat dit belangrik is om ter aanvang die siekte-potensiaal per area bepaal word, en dat daar hierna gebruik gemaak word van die beskikbare inligting. Hy is die mening toegedaan dat taamlik vordering gemaak is die afgelope drie tot vier jaar, op 'n vakgebied wat totaal verwarrend kan wees as al die faktore nie in berekening gebring word nie.

      Prof McLaren sê in antwoord op 'n vraag van Dr Griessel dat ondersoek tans ingestel word na die moontlikheid dat daar verskillende virulensies t.o.v. sclerotinia kan voorkom. Hy meld dat dit uit voorlopige data voorkom asof daar verskille kan wees n.a.v. werk wat in die glashuis onderneem is, maar dat daar nog nie duidelikheid is oor die skaal van die verskille nie. Die Voorsitter reël dat Dr Craven se verslag verwys word na die Tegnologiekomitee, aangesien daar nie veel korrelasie is tussen die veldproefdata in tabel 1.2.1 en die glashuisdata in tabel 2.1 nie. Hy stem saam met Dr de Kock se siening dat vordering gemaak word, maar dat die stadium waarop betroubare aanbevelings gemaak kan word, nog nie bereik is nie. Prof McLaren is die mening toegedaan dat Mnr Scholtemeijer nie 'n vergelyking tussen Greytown en Bethlehem kan maak nie, en dat hy nie die cultivarreaksies onder verskillende omstandighede in ag neem nie. Hy wys daarop dat daar nie 'n linieêre verhouding tussen cultivars bestaan nie, en dat die potensiaal in die glashuis verskil van dié in die veld.

      Dr de Kock noem dat die eerste deel van Dr Craven se verslag deel vorm van dit wat Prof McLaren voorgedra het. Die tweede deel is gerig op die resultaatrapportering van werk wat in die glashuis gedoen is, en werk wat met verskillende siektebeheermiddels gedoen is. Hy is die mening toegedaan dat Dr Craven se sclerotinia-werk gestaak kan word, aangesien dié werk opgevang word deur die werk wat deur Prof McLaren en Dr Caldwell gedoen word. Dr Fourie bevestig dat Dr Craven nie weer 'n aansoek sal indien vir sclerotinia-werk nie, aangesien hierdie haar finale verslag oor die projek is.

      Besluite:

      1. Dat kennis geneem word van die inhoud van die voorlegging van Prof N McLaren insake die navorsing deur die Universiteit van die Vrystaat.

        Lede

      2. Dat die artikel 'Evaluation of soybean cultivars for resistance to sclerotinia stalk rot in South Africa' in Crop Protection (2007, doi:10.1016/j.Cropro.2007.05.010) by die notule van die vergadering gevoeg word.

        Mnr Keun

      3. Dat Dr Craven se verslag verwys word na die Tegnologiekomitee.

        Mnr Keun


    7. Navorsing: Xenocor Bioworx


      (Besluite 6.1.(b).1 en 6.1.(b).2 van die Sclerotiniawerkgroep notule van 28 Junie 2006)

      Die Voorsitter reël dat die saak rakende Xenocor as afgehandel beskou word, aangesien geen terugvoer rakende die resultate van hulle sclerotinia-navorsing op sonneblom ontvang is nie.

      Besluit:

      1. Dat die saak rakende Xenocor Bioworx as afgehandel beskou word.

        Lede


    8. Saadbehandeling van sojabone


      (Besluite 6.6.1 en 6.6.2 van die Scerotiniawerkgroep-notule van 28 Junie 2006)

      Die Voorsitter meld dat daar vroeër gesprek gevoer is oor die saadbehandeling van sojabone, en Mnr van der Westhuizen bevestig het dat geen saadbehandelingsmiddel vir sojabone geregistreer is nie.

      Die Voorsitter versoek die lede om kommentaar te lewer op die moontlikheid dat sclerotinia oorgedra kan word d.m.v. saad. Mnr Johan Potgieter dui aan dat die kans so laag as 0,05% is, en dat sonneblomsaad boonop met chemiese middels teen sclerotia behandel kan word. Hy sê dat die ideaal is om geen sclerotia in die saad te hê nie. Mnr Pieterse meld dat daar by hom as saadteler tot op hede nie sclerotinia in enige saadmonsters gevind is nie. Mnr Louw noem dat GraanSA deur die LNR 'n saadkwaliteitmoniteringsprojek ondersteun, waar ondermeer vir sclerotinia-spore gemonitor word, en dat daar tydens dié jaar se monitering geen sclerotinia op saad gevind is nie.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word dat GraanSA deur die LNR 'n saadkwaliteit moniteringsprojek ondersteun, dat sclerotinia­spore ondermeer gemonitor word, en dat daar in dié jaar se monitering geen sclerotinia op saad gevind is nie.

        Lede


    9. Gebruik van besmette saad vir veevoer


      (Besluit 7.1.1 van die Sclerotiniawerkgroep notule van 28 Junie 2006)

      Die Voorsitter herinner die lede dat die gesprek gegaan het om sclerotinia in sojabone, dat genoem is dat toksiene in sclerotinia voorkom, en dat besluit is om monsters aan Prof McLaren te versend sodat analises gedoen kan word om te bepaal of daar enige negatiewe effek sou wees indien saad wat met sclerotinia besmet is vir veevoer gebruik word. Dr Griessel doen aan die hand dat die saak as afgehandel beskou word, en noem dat hy na heelwat ervaring in die veevoerbedryf geen kennis dra van mikotoksienes wat in sclerotinia voorkom en wat 'n negatiewe effek op die diere sal hê nie.

      Besluit:

      1. Dat die saak rakende die gebruik van besmette saad vir veevoer as afgehandel beskou word.

        Mnr Keun

  7. Aanvullende sake

    1. Artikels


      (Besluit 6.1.5 van die Sclerotinia-werkgroep notule van 28 Junie 2006)

      Die Voorsitter neem Bylae G ter tafel, en bedank die outeurs van die betrokke artikels. Dr De Kock versoek dat erkenning gegee word aan Dr R Kloppers van Pannar vir die gebruik van sy foto's in die artikel 'sclerotinia peul- en stamvrot in sojabone' wat gepubliseer is in SAGraan, November 2006.

    2. Projekvoorlegging: 'Molecular strategies towards sclerotinia sclerotiorium resistance in sunflowers, Dr D Oelofse, LNR-Roodeplaat


      (Besluit 8.2.2.1.1 van die navorsingsprioriteitskomitee-notule van 7 Mei 2007)

      Die Voorsitter stel Dr Dean Oelofse se projekaansoek ter tafel. Hy meld dat Dr Oelofse beplan om die OxOx-geen, wat geregistreerde eiendom is, in dié projek te gebruik. Hy stel die saak oop vir bespreking. Mnr Johan Potgieter wys daarop dat die OxOx-geen nagenoeg nege jaar gelede by die Internasionale Sonneblomkongres in Toulousse, Frankryk gerapporteer is, en dat geen cultivar wat dié geen bevat, sedertdien die lig gesien het aangesien die geen nie effektief is nie. Hy sê dat die beste resultaat verkry is deur die geen te gebruik in 'n cultivar met 'n natuurlike weerstand teen sclerotinia. Hy noem dat die geen gepatenteer is, en dat daar 'n sg. 'gentleman's agreement' in die sonneblombedryf is dat sonneblom so lank as moontlik GMO-vry gehou sal word. Hy wys daarop dat sonneblomolie 'n premie verdien in die Europese mark, en ook wêreldwyd, omdat sonneblomolie die enigste olie is wat GMO-vry is. Mnr Johan Potgieter is die mening toegedaan dat finansiering van 'n projek waar die wiel herontwerp gaan word, en waar vroeër bewys gelewer is dat die geen nie effektief is nie, goed deurdink moet word, en dat hy onseker is of hy dergelike saad sou wou hanteer. Die Voorsitter bedank Mnr Johan Potgieter vir die kommentaar. Dr de Kock dui aan dat Mnr Johan Potgieter se stelling dat hy nie sou belangstel in dergelike saad nie, vir hom die belangrikste is. Hy is die mening toegedaan dat die ander saadtelers ook nie belang sou stel in die saad nie, en sê met verwysing na bladsy vyf van die aansoek dat verteenwoordigers van Syngenta en Pioneer hom op navraag meegedeel het dat die werk wat hulle met die OxOx-geen onderneem het, op die rak gesit is, omdat die resultate wat in die glashuis en in die veld verkry is, geweldig verskil het. Die saak word as afgehandel beskou.

    3. Effektiewe bestuur van sclerotinia: Mnr K Pieterse


      (Besluit 10.3.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 1 Maart 2007)

      Die Voorsitter noem dat Dr de Kock die PNS se sclerotinia-inisiatief hanteer, en sê dat die produsente moet voortgaan met die produksie van gewasse en hulle praktiese vernuf en kundigheid moet aanwend om sclerotinia onder die knie te kry, terwyl die navorsers poog om antwoorde en oplossings vir die probleem van sclerotinia te verkry. Hy rapporteer dat besoek afgelê is by Mnr Koos Pieterse te Koedoeskop, wat vroeër ernstige probleme met sclerotinia op sojabone ondervind het, en wat met effektiewe bestuurs- en beheermetodes die probleem suksesvol hanteer het. Hy stel Mnr Pieterse aan die woord.

      Mnr Pieterse meld dat hy nie oor formele landbou-opleiding beskik nie. Hy sê dat hy in die lugmag betrokke was by die bou van vegvliegtuie, maar het weens sy vader se siekte hom by sy vader se boerdery aangesluit. Hy sê dat hulle met sojaboon-verbouing begin het, en op daardie stadium slegs 1,5t na 2t/ha sojabone geoes het. Aangesien só 'n opbrengs nie voldoende is om 'n ekonomies volhoubare bestaan te voer nie, hy begin het om bemesting toe te dien in die vorm van die enigste blaarvoedingmiddels wat destyds beskikbaar was, nl. Multifeed en Superfeed. Hy rapporteer dat hy vinnig resultate behaal het hiermee en dat hy teen die laat negentigs 'n opbrengs van 5,5t/ha sojabone op strookproewe gelewer het. Op daardie stadium het sclerotinia, waaroor daar destyds nie veel kundigheid bestaan het nie, op die sojaplante posgevat. Hy noem dat hy op daardie stadium besef het dat 'n produsent voortdurend moet waarneem wat in die omgewing aangaan. Mnr Leon Weber, landboukundige van MGK, en Dr Schalk van Wyk het hom aangeraai om sy lande met 'n inversieploeg te bewerk. Hierna het hy begin om vas te stel waar sclerotinia in die lande voorkom. Die eerste plek waar sclerotinia posvat is waar die bone opmekaar lê, omdat die plante te dig opmekaar geplant is. Hy het rywydtes aangepas na 60cm, met 'n plantdigtheid van 250 000 na 300 000 plante per hektaar. Plante moet so gou as moontlik na besproeiing of ná 'n reënbui afdroog, aangesien sclerotinia ontwikkel wanneer plante lank natbly. Entstowwe is met water natgemaak, die saad is behandel, en in die planterbak gegooi. Hy het hierna inligting probeer opspoor oor grondbehandeling, en na 'n jaar of wat besef dat gesonde grond dié grond is waar gesonde plante wat goeie vrugte dra groei. Dit het duidelik geword dat mikro-organismes in die grond baie belangrik is, en dat mikro-organismes nie sonder voldoende koolstof in die grond kan funksioneer nie. Hy het hierna die entstof aangewend deur tenks wat op die planters gesit is, met pypies wat tot in die plantvoor afloop, en ook die entstof verdubbel. Hy het ook met elke planttyd 2l/ha koolstof toegedien. Hy het waargeneem dat die plante egalig opkom, en mooi groei. Hy het intussen nie weer probleme met sclerotinia-besmetting ondervind nie, en kry die afgelope vyf jaar baie goeie resultate.

      Mnr Pieterse wys vervolgens op die verskil tussen waterbestuur en besproeiingskedulering. Met waterbestuur kan 'n daaglikse lesing van grondvog geneem word. Hy benadruk dat daaglikse lesings op dieselfde tyd geneem moet word sodat 'n volledige grafiek getrek kan word. 'n Reënbui van bv. 10mm moet in berekening gehou word, en nie as bonus beskou word nie. Faktore soos wolke en wind moet ook in gedagte gehou word. Hy benadruk dat enorme hoeveelhede geld verloor word deur verkeerd water te gee, en dat oorbesproeiing skade veroorsaak weens die versuiptoestande wat dit kan veroorsaak. Hy gebruik slegs koring en sojabone in 'n wisselbouprogram. Hy noem dat hy 'n produsent wat probleme met sclerotinia op 'n naburige plaas ervaar het, aangeraai het om sy plantestand van 800 000/ha af te bring na 'n plantestand van 300 000/ha. Voorts is 'n waterbestuurprogram toegepas, en is Hit (generiese Sumisclex) voorkomend deur die spilpunt gespuit met blomtyd en met peulvorming, en baie min sclerotinia het voorgekom. Hy berig dat hierdie produsent gemiddeld 4,2t/ha sojabone gelewer het tydens die afgelope seisoen.

      Mnr Pieterse noem ook dat hy hierdie jaar sojabone onder 'n 6cm laag koring geplant het, en dat daar nie 'n teken van sclerotinia was nie. Die entstof is dus nooit blootgestel aan lig nie.

      Die Voorsitter stel Mnr Pieterse se verslaggewing oop vir bespreking. Mnr Johan Potgieter noem dat dit sinvol is om waterbestuur toe te pas, en dat 'n deklaag voorkom dat die apotheke, wat uitgestoot word en die spore uitgooi wanneer sclerotia ontkiem, deurkom. Dr de Kock noem dat koring en soja een van die beste wisselboustelsels is, indien vrotpootjie nie op die koring voorkom nie. Mnr Pieterse noem dat vrotpootjie wél in die Koedoeskopgebied voorkom, maar dat dit met waterbestuur oorkom kan word. Mnr Pieterse sê dat hy 'n tipe harkplanter ontwikkel het, waardeur die koring weggehark word voor plant en teruggehark word nadat die saad op die grond geplaas is. Mnr van der Westhuizen sê dat die mikroklimaat waarin die organisme groei en nie die lugtemperatuur in gedagte gehou moet word, en dat die verminderde plantestand ongunstig is vir die ontwikkeling van die swam. Die temperature is hoër, die stamme en grond droog vinniger af, en die toepas van behoorlike waterbestuur verhoed dat dammetjies water om die stamme van die sojabone staan, waar besmetting juis voorkom. Die Voorsitter noem dat hierdie riglyne belangrik is vanuit 'n navorsingsoogpunt. Prof McLaren doen aan die hand dat dit oorweeg word om agronomiese proewe t.o.v. sclerotinia te onderneem, en dat faktore soos die effek van rywydtes en plantestand en dies meer op die voorkoms van sclerotinia-besmetting ondersoek word. Die Voorsitter versoek Dr de Kock om die voorstel in gedagte te hou.

      Mnr Pieterse noem verder dat hy van voorneme is om 380mm rywydtes met dieselfde plantestand hierdie jaar te gebruik en dat hy 'n planter ontwikkel wat die koring ook in die strooi gaan plant.

      Mnr Pieterse beklemtoon vervolgens die belangrikheid van cultivarkeuse. Hy bevestig dat sy cultivarkeuse verband hou met plantdigtheid en rywydtes. Die Voorsitter sê dat dit ook in gedagte gehou moet word by praktiese navorsing. Hy vra om kommentaar oor die aanwending van koolstof. Prof McLaren noem dat verhoogde biodiversiteit die ontkieming van sclerotia en ander siektes onderdruk. Die toedien van koolstof maak gevolglik vir hom baie sin, waarmee Drs Griessel en Caldwell in ooreenstemming is.

      Dr de Kock bevestig dat koolstof in grond gemeet kan word. Hy sê dat die tipe grond op Mnr Pieterse se plaas tipies laag is aan humusinhoud, en dat die byvoeg van koolstof en die gebruik van 'n deklaag die situasie verbeter. Prof McLaren noem dat daar met navorsing bevind is dat biodiversiteit in die grond afneem met die toedien van landbouchemikalieë. Hy noem dat dit interessant sou wees om die verhouding tussen biodiversiteit en bv. sclerotinia te bepaal. Die Voorsitter reël dat hierdie voorstel na die Tegnologiekomitee verwys word.

      Mnr Pieterse sê op navraag dat hy ondersoek ingestel het na die waterkwaliteit en dat probleme ondervind word met die hoë vlakke van magnesium wat in die water voorkom, en dat die stikstofbron wat in die uitskietjare effektief was, stikstofbronne met 'n swaelinhoud was. Hy het die afgelope vier jaar 'aquamasters' in die pyplyne gebruik het om beter waterkwaliteit te bewerkstellig, en dat besproeiingsneerslag op die plante hierdeur effektief aangespreek is. Hy is die mening toegedaan dat waterkwaliteit 'n enorme rol speel.

      Mnr Lübbe sê dat koolstoftoediening ook by 'n produsent wat aan hom bekend is goeie gevolge gelewer het. Koolstof word deur die mikro-organismes uit die bogrondse materiaal gehaal met die sg. 'no till' tegniek. Hy het uit meer as een oord gehoor van die effektiwiteit van koolstof.

      Mnr Potgieter noem dat die rivierwater wat te Beestekraal verkry word van so 'n swak gehalte is dat die sojabone ophou groei. Daar word bevestig dat 'n oormaat magnesium negatief is vir sojaboonverbouing.

      Dr Griessel verneem na die tipe bemesting wat deur Mnr Pieterse toegedien word. Mnr Pieterse noem dat hy nie vooraf NPK-bemesting toedien nie, en dat hy slegs Omniboost-blaarvoeding teen 8l/ha gebruik, wat al die mikro- en makro-elemente bevat plus 'n klein hoeveelheid NPK. Hy dien nie alles op een slag toe nie. Voorts dien hy 100kg/ha ASN toe, hoofsaaklik met die oog op die swael-inhoud, net na blomtyd. Die Voorsitter bedank Mnr Pieterse vir sy uiters interessante voordrag.

      Dr de Kock versoek dat Mnr van der Westhuizen, Dr Caldwell, en Prof McLaren hulle navorsingsprotokolle teen einde September op die laaste aan mekaar en aan die kantoor moet voorsien, en dat aansoeke om befondsing teen einde Julie ingedien moet word.

      Besluite:

      1. Dat dit oorweeg word om agronomiese proewe t.o.v. sclerotinia te onderneem, en dat faktore soos die effek van rywydtes, plantestand, cultivars en dies meer op die voorkoms van sclerotinia-besmetting ondersoek word.

        Dr de Kock

      2. Dat die moontlikheid om navorsing oor die verhouding tussen biodiversiteit en sclerotinia te onderneem, gesien in die lig van die feit dat biodiversiteit in die grond afneem met die toedien van landbouchemikalieë, na die Tegnologiekomitee verwys word.

        Tegnologie-komitee
        Mnr Keun

      3. Dat Mnr van der Westhuizen, Dr Caldwell, en Prof McLaren versoek word om hulle navorsingsprotokolle teen einde September op die laaste aan mekaar en aan die kantoor moet voorsien, en dat aansoeke om befondsing teen einde Julie ingedien moet word.

        Dr de Kock

  8. Datum van volgende vergadering

    Die volgende vergadering van die Sclerotinia-werkgroep word geskeduleer vir Woensdag, 23 Julie 2008.

  9. Afsluiting

    Aangesien daar geen verdere sake vir bespreking is nie verdaag die Voorsitter die vergadering om 14:10.